ABSA Chain: Alexander Strachan in gesprek met Rachelle Greeff

  • 0
  1. Is die honde-opgewondenheid nog in jou stem?

    Meer blaf, meer byt, meer teef, skerper slagtande, maar ja, Zander, soms tog nog. En nou praat ek van my praatstem en nie my skryfstem nie, hoewel mens maar doof is vir jou eie beide.  

  2. In jou studentedae het jy grappenderwys in die dramadepartement die prys gewen vir die mooiste borste in Stellenbosch. Hoe voel jy deesdae oor lyflikheid?

    Sien, jy’s ‘n skrywer, jy vorm die werklikheid om in die body stocking van jou storie te glip. Dit was in die dramadepartement, nie die hele dorp nie, en dit was sommer in ‘n vervelige oomblik in die HB Thom se kleedkamers tydens ‘n periode-toneelstuk. Hardly worth mentioning. Alle jong meisies het mooi borste, dan nie? Maar dit sal jy seker beter weet as ek. Terloops, jou (skewe) stelling hou geen verband met jou vraag nie. Intussen, laat die sagte vlees van die lyf maar val waar sy/hy wil. Myne, en joune.

  3. Jy en die Kaap het altyd 'n affair gehad. Hoekom sal jy nêrens anders in die land gaan bly nie? Is die berg vir jou belangrik? Dit verveel ander mense. Hoekom is dit vir Kapenaars so besonders?

    As jy ‘n joernalis was, sou jy nie drie vrae in een gevra het nie. Maar ek vergewe jou. Vergewe jou altyd. Jy ken tog die ding van die berg … die Khoisan se moeder, ensovoorts. Ek het nie veel van ‘n issue met die berg nie. Hy’t toevallig net in my agterplaas gestaan waar ek grootgeword het en staan nou in my voorplaas. Wáár ek is, raak al minder belangrik. En waar kom jy daaraan dat ek nêrens anders sal gaan bly nie? Weer jou eie verbeeldingsvergryp.

  4. Op watter soort man raak jy verlief? Was jy byvoorbeeld al verlief op 'n karakter in jou eie skryfwerk?

    Lekker soek jy nou skoor. Maar okei, jy onthou tog die verliefde jong Huisgenoot-joernalissie wat daai stomme liefdesbriewe in jou eie Jakkalsjagter geskryf het. Jy’t haar geken. Toe was ek seker maar verlief op só ‘n soort man. Maar hy sou ‘n vrou verniel het, stem jy nie saam nie? Terloops, hoewel jy en jou destydse uitgewer, Charles Fryer, my toestemming vir daardie briewe gekry het, kon jy vir my maar ‘n bottel Moët gekoop het. O nee, ek het tóg iets gekry. Ek het as’t ware op jou geoefen. Was mos lank voor ek begin skryf het. Wat jou tweede vraag betref: absoluut. Gaan soek vir Dirk in Hanna. Byvoorbeeld. Onthou ook verlief op bl 1007 van die Verklarende Afrikaanse Woordeboek, agste hersiene en uitgebreide uitgawe, staan direk onder verliederlik en knap bo verlies. Hoekom skryf jy nie sommer so ‘n kortverhaal nie – "Verliederlik"? Hoeka tyd dat jy weer ordentlike kortverhale skryf.

  5. Het jy jou illusies verloor? Noudat jy boekeredakteur van Rapport geword het? Is jy verveeld met skrywers en hulle werke? En is jy self besig om te skryf?      

    Vier vrae dié keer. Jy moet dus gestraf word met net een antwoord: nee! (Illusies, by the way, is nie ryp vye aan ‘n boom vir die vrot en die voëls nie, maar laat ek nou nie so aangaan nie, nêma lê jy my weer tussen jou blaaie neer.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top