Abraham Phillips (1945–)

  • 0

Gebore en getoë

Abraham Nicolas Phillips is op 20 Mei 1945 in Potestraat in Worcester in die Suid-Kaap gebore. Hy was die vierde van 11 kinders van Pieter Moses en Rosina Phillips – vyf seuns en ses dogters. In 1956 word die gesin verskuif na ’n woonbuurt met die naam die Witblokke aan die westekant van Worcester.

Abraham, of Ronnie soos sy ma hom genoem het, onthou: “Ons huisie was op die hoek van die eerste ry; aan die suidekant was ’n groot vleiland waar ek later voëls sou vang om met die verkope daarvan vir mamma Rosina te help. Nader aan ons huis aan die suidekant en voor ons huis was groot biesiesvelde en ’n klein skooltjie met ’n oop stuk grond waarop ons krieket gespeel het” (biografiese skets by Naln).

In 1958 verander Abraham se lewe eensklaps. Sy pa word, net soos dié se ma en twee van sy broers, getref deur die geheimsinnige oorerflike “lamsiekte”. Hy is verplig om die skool in die middel van standerd 4 (graad 6) te verlaat en die verantwoordelikheid van die huishouding op hom te neem. Hy onthou verder: “Maandae was darem goeie dae. Dan was daar vis van die viswinkel waar my tante gewerk het. Verder was dit brood, suiker en soms koffie. Maar nooit kos as ons soggens opstaan nie. Dit was die ergste, om soggens honger te wees.”

In 1956 en 1957 werk Abraham se pa by Kuun’s, die fietswinkel. Sy pa koop gereeld Die Burger en Abraham was ’n baie ywerige leser van die koerant. Dit het hom opgeskerp om dinge raak te sê. In sy wildste drome het hy egter nooit gedink dat hy as skrywer bekend sou word nie. Hy lees nog altyd Die Burger, en Sondae Rapport.

As 14-jarige seun was Abraham die broodwinner van die gesin. Om sy familie te help, het hy voëls gevang in die vleiland naby die dorp wat hy dan aan ’n oom, Koos April, verkoop het. Hy vertel aan Willemien Brümmer (By, 8 Maart 2014): "Jy sit die lokvoël in ’n hokkie en dan sal hy roep en dan sal daai voëls kom en dan slaat jy die knip toe."

Eenmaal was sy hok vol voëls toe vyf wit seuns met ’n windbuks oor die draad klim, vertel Abraham verder. Die grootste seun het gesê: “Hei jy, hotnot. Wie gee vir jou die reg om hier voëls te vang?”

Abraham was vreesbevange. En toe is hy aangesê om vir hulle "baas" te sê, maar dít kon hy nie regkry nie. “Ek kan die woord net nie uitkry nie en [een van hulle]  kom nader na my toe en hy klap my hard hier teen my kakebeen. Hy klap my uit die grond uit dat ek seil, en ek gly daar tussen die riete en dis koud. Die ergste is nie die hou of so nie. Dis toe hulle die hok vat en hulle laat al my voëltjies wegvlieg. Toe bars ek uit van die huil.”

Die seuns het hom laat gaan eers nadat hy gesê het: “Ja, oukei baas.”

Toe hy terugkom by hulle heldergeel huis in die Witblokke, was hy in trane omdat daar niks vir die pot was nie. Mamma Rosina (wat in 2007 oorlede is) het hom getroos: “Toemaar, my kind, daar waar dit invaar, daar vaar dit weer uit.” Eers later jare het hy agtergekom wat daai woorde beteken, vertel hy: “Dinge sal regkom, die Here sal  regmaak.”

Later ontmoet en trou Abraham met Klara Monte en uit hulle huwelik word ses kinders gebore: een seun en vyf dogters. In 1974 vestig die gesin hulle in die nuutgeboude Riverview-woonstelle, waar hulle vir 22 jaar sou bly. Gedurende dié jare is twee van sy broers en twee van sy susters ook aan die oorerflike lamsiekte oorlede, en een ander broer en suster ly ook daaraan. Sy oudste en jongste susters is vroeg oorlede.

Sy een seun is onderwyser en ’n ander dogter het haar BCom aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf. In 1997 deel die gesin hulle dogter Ronel, ’n onderwyseres, se huis in Victoria Park.

Verdere studie en werk

Toe breek 1988 aan – ’n jaar wat Abraham se lewe vir die tweede maal op ’n dramatiese wyse sou verander. Sy broer, Selula Mejavie, verdwyn. Selula het gedrink om te vergeet en elke dag op sy fiets werk toe gery om vir sy ma en jonger kinders te sorg. Op hierdie spesifieke dag kom hy egter net nie huis toe nie. Die polisie het hom glo opgelaai vir dronkenskap. Die familie rapporteer hom as vermis by die polisie en hy word as sodanig gelys. Vir weke het die gesin rondgevra, maar niemand wou help nie. Selfs die hulp van ’n prokureur is ingeroep, maar dit het ook op niks uitgeloop nie. Na ongeveer vier maande is Selula se erg ontbinde lyk in ’n diep gat ongeveer 18 km vanaf Worcester langs ’n rivier op ’n plaas gevind.

Abraham vertel in ’n onderhoud met Elza Pople in Huisgenoot van 29 Oktober 1992 dat hy die seer van sy broer se dood nooit vergeet het nie. “[Ek] het oor baie dinge begin dink. Oor hoe die drinkery sy eie skuld is. Jy kan nie apartheid vir al jou ellende blameer nie. Oor hoe almal weet wie [my] broer opgelaai het, maar [ek] kan niks daaraan doen nie. Buitendien, niks gaan [my] broer terugbring nie.”

Die feit dat dit duidelik was dat die polisie sy broer vermoor het, asook die feit dat daar niemand in Suid-Afrika was wat hom en sy ma kon en wou bystaan nie, was die dryfveer agter Abraham se besluit om die verhaal neer te skryf. Hy het in September 1991 vir sy dogter ’n swart aantekeningboek gevra en begin om die storie neer te pen.

Abraham het vier maande met ’n swart pen aan Die verdwaalde land geskryf. Hy het sommer doodgekrap, bo-oor geskryf en gehoop hy spel hier en daar ’n woord reg. Hy het die boek toegedraai en begin navraag doen oor die adres van André P Brink, aan wie hy die manuskrip wou stuur. Iemand vertel hom dat prof Brink by die universiteit werk en so word die manuskrip aan “die universiteit” gestuur met die volgende briefie by: “Proff Brink, soos u sal lees is êk maar standerd 4 uit die skool dis my handskrif en spelling nie altyd reg nie maar êk vra u asseblief om die storie sorgvuldig en met geduld deur te lees en waar woord spellings wat verkeerd is reg te maak ek het baie van u gelees daar om het ek besluit dat u die enigste mens is om die storie na te stuur en om in boek vorm te probeer uit gee.”

André Brink het gelees en weer gelees. Hy vertel aan Elza Pople: “Ek kry gewoonlik so ’n hol kol op my maag as hier ’n nuwe manuskrip aankom. Want hier kom baie aan, en ’n mens kry kwalik tyd vir jou eie werk. Maar toe ek die bruin koevert oopmaak en ek begin lees, het iets my geraak. Iets in die direkte eenvoud en opregtheid waarmee die man skryf. So uit sy hart en sy derms, sonder tierlantyntjies. Hy het nie die storie geskryf vir die effek nie, hy het nie bybedoelings gehad nie; hy het geskryf om ’n las van sy hart af te kry. Binne een sitting het ek sy storie gelees en toe geweet: dit moet gepubliseer word. Gewoonlik het ’n skrywer wat gepubliseer word skoling in die een of ander rigting, maar hier was niks. Die man kan amper gesien word as die mondstuk vir alle gewone mense wat nog altyd te skaam was om hul storie te vertel. En dis nie eens ’n politieke storie nie.”

Brink kontak vir Hettie Scholtz van Queillerie-utgewers en in 1992 verskyn Die verdwaalde land. Die res is geskiedenis. Die verdwaalde land is ’n blitsverkoper: 400 eksemplare is binne twee weke verkoop – en die reaksie was wyd en meestal positief.

Joan Hambidge beskryf in Beeld (28 September 1992) Verdwaalde land as ’n eenvoudige storie wat deur ’n gewone man geskryf is. In die verhaal noem hy homself Ronnie en stel hy homself voor as ’n karakter "wat van buite na die waansin van die gegewe kyk".

Vir Hambidge lê die trefkrag van die verhaal "in die feit dat die man net standerd vier het, maar op ’n wonderbaarlike manier die bruin gemeenskap se angste en lewensverwagtinge verwoord. Waarom, vra Ronnie, moet bruin kinders skool toe gaan as daar geen toekoms vir hulle in dié “verdwaalde land" is nie? Deurgaans bly ’n mens bewus van die sosiale onreg: gestel hierdie man het ’n deeglike skoolonderrig ontvang; sou hy dan ’n groot skrywer kon word? Nêrens is daar enige verbittering te bespeur nie, trouens, die skrywer maak dikwels bruin mense die verwyt dat hulle al te maklik alle blaam op apartheid plaas, terwyl daar self verbrou word. As ’n sosiale dokument is dié teksie ’n skamele 58 bladsye ter sake vir diegene wat die verskille tussen die ou en nuwe Suid-Afrika wil opteken.

"In die voorwoord noem Brink hierdie teks ’n ongeslypte diamant en hoewel die skrywer hom versoek het om die taal te  verander, het beide hy en Hettie Scholtz, die uitgewer, besluit: laat die teks soos hy is. Op die manier kan dit direk spreek tot die leser wat nie mag vergeet nie. Soos Brink dan afsluit: 'Die wolfdoring staan en bloei: laat dit staan en staan in ons ore.'

"Dis ’n teks wat ’n mens vinnig lees, maar die nawerking hiervan is lank. Dit is stellig die beste bewys van die geslaagdheid daarvan. Die skrywer is die meester van die understatement en ofskoon hierdie boekie geskryf is om sin te maak uit die oorrompelend pynlike ervaring, word ’n mens veral getref deur sy vergifnis. In die voorwoord verneem ons ook dat die uitgewer die dokumentasie van die geregtelike ondersoek bestudeer het; en die feite klop met Abraham Phillips se 'fuksie', soos hy dit noem."

In Die Burger van 18 Augustus 1992 het George Weideman Verdwaalde land bespreek in die vorm van ’n brief aan FW de Klerk en Nelson Mandela: "[E]k wil julle van Abraham Phillips se verdwaalde land vertel. Ek weet nie of julle resensies lees nie – dié is ’n brief wat skuilgaan as resensie maar ek hoop iemand stuur jul ’n kopie van Die Verdwaalde Land. Die verskyning daarvan keer alle definisies van 'boek' en 'skrywer' om. Sien, Phillips is nie ’n skrywer nie, en Die Verdwaalde Land ook nie ’n boek nie. Dis wel Abraham en sy mense – almal wat nie mag het nie (wat nog te sê die mag van die woord) – se storie. En dis ’n aanklag teen magmisbruik. Daar is sulke boeke in Afrikaans wel, min of meer. (...)

"Nou; FW, Nelson julle wat geskiedenis 'maak' sal daar ’n dag kom wanneer dit nie nodig mag wees om so ’n verskriklike dokument die lig te laat sien nie? Die titel sê veel van hoe Suid-Afrika beleef is en nog beleef word. Net soos ’n verdwaalde weg van sy mede-skape, so het die land die maghebbers losgeraak van die mense. Die relaas is pront, eenvoudig en word met onderbeklemtoning vertel. Naïewe vertelkuns, sal party sê: onopgesmuk (buiten waar ’n geleerder hand sigbaar is) en eerlik word vertel van die gesin Mejavie se wedervaringe sedert die vyftigs. Dit gaan nie bloot oor die verdwyning van Selula Mejavie nie, maar word ’n stille getuienis teen die 'oormag van die polisie': 'Daarom het Ronnie gehoop dat daar eendag iemand sal wees wat hierdie storie van Selula sal lees en ook hierin reg en geregtigheid sal laat geskied.'

"En vir dié soort bemagtiging, FW, Nelson, behoort ’n mens die uitgewer en die bemiddelende Brink dankbaar te wees. Boipatong en strafkampe is nie net smette op die name van mense waarin ’n mens veronderstel is om te glo nie; dit benadruk die noodsaak dat meer en meer gewone mense kanale moet vind om hul stories te vertel. Veral omdat getuienis so maklik verdwyn.

"Nou weet ek nie of 'leiers' tyd het om iets anders as lêers, verslae of toesprake te lees nie. Maar dit neem skaars ’n halfuur om Abraham Phillips se relaas van onmag, teleurstelling en frustrasie, maar ook van hoop oor die verdwyning van apartheid, ’n oproep tot vergifnis en ’n onwrikbare geloof in die krag van Afrikaans te lees. Dit dek ’n lewe van onreg, en dit pleit vir ’n toekoms waarin versoening moontlik is. Almal wat so losweg of vir magsgewin van 'the people' of 'die volk' praat, vergeet Brink se rol – hier is die stem van die gewone mens. Ignoreer dit, en demokrasie is ’n klug."

Abraham en Rosina was baie na aan mekaar. Hy was haar kind én haar vriend. Nadat hy die boek geskryf het, het sy gesê dat sy gelukkig kon sterf. Die boek was ‘n uitroep – nie vir wraak nie, maar sodat iemand sou hoor en sou sê dat hulle sy broer vermoor het en om vergifnis vra. “As ek dit nie geskryf het nie, dan gaan dit net so verby. Dan worry niemand oor niemand nie.”  

In 1993 verskyn Erfenis van die noodlot. Abraham vertel in ’n onderhoud met Antjie Krog in DSA van November/Desember 1993: “Met die tweede boek, om die waarheid te sê, wou ek iets bewys het. Die mense hier praat onder mekaar of André Brink my dalk nie gehelp het met die boek nie. [...] Nou moet ek dink waaroor ek wil skryf, en toe dink ek ek het net die breë raam van die bruin gemeenskap aangespreek in die eerste boek en nie op die binnekant ingegaan nie. Ek wil nou ingaan en dan probeer om ’n storie daarom te bou. [...] Die nuwe boek het ek drie keer oor geskryf. Ek verander dan van die woorde en kyk presies wat hulle beteken. Ek sal ’n gelykenis gee: ek kyk nou die aand vir professor Brink op TV. Hulle sê sy boek se naam is Inteendeel, die Engels is On the contrary. En ek wonder presies wat beteken die woord. Daardie volgende dag hoor ek weer daardie woord in Egoli en so kan ’n mens jou taal oplei. So het ek ook die woord 'inherente' gebruik. En dis woorde wat ek nodig het, maar wat nie is in die taal rondom my nie. Ek probeer ’n balans handhaaf tussen die, kan ’n mens nou maar sê, twee tale. Eintlik drie tale, want die tale van die dobbelhuise sou ek nie normaalweg gebruik nie.”

Hans du Plessis was net so beïndruk met Erfenis van die noodlot as met Die verdwaalde land:. "Oor een ding hoef ’n leser ná hierdie tweede prosawerk van Abraham Phillips nie meer te twyfel nie: hierdie ou is ’n skrywer, en hy is ’n goeie skrywer! Erfenis van die noodlot loop ook so lekker soos Verdwaalde land geloop het. Miskien is Verdwaalde land se storie ’n mooier storie, maar albei werke maak ’n dimensie van Afrikaans oop wat ons selfs met Adam Small of Philander of Snyders nie so heeltemal oop gekry het nie. 

"Hierdie nuwe roman van Abraham Phillips oortuig omdat die mense waarom dit in die werk gaan, as mense met die leser kommunikeer. Miskien kan die karakters nog ronder geteken word, maar in die algemeen identifiseer ek as leser met Saartjie en haar mense. As ek sê dit kon ronder geteken gewees het, bedoel ek die leser sou graag meer van Karel en Omers as mense wou weet. Jy kom nie van hulle binnekant genoeg agter nie, en dan is jou deernis uiteindelik te veel met Saartjie.

"Aan die ander kant kan dit juis wees wat Phillips wou doen, want in Saartjie, trouens in die hele boek, sien ek sterk ooreenkomste met Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie: dieselfde soort perspektief van die kind, en hierdie gevalle die meisiekind van die jare vyftig. In albei verhale beleef ’n mens die wêreld deur die oë van ’n jong meisie. Albei meisies, Gertie van Ons is nie almal so nie en Saartjie van Erfenis van die noodlot, vertel uit die mindergegoede gemeenskap, maar albei oortuig jou van hulle lieflike menswees. Die verskil lê natuurlik daarin dat Gertie ’n ek-verteller is, terwyl Erfenis in die derde persoon vertel word, en daar is ’n reusagtige verskil tussen die twee gemeenskappe ... of is daar? Moet nou net nie dink ek wil die twee boeke teen mekaar afspeel nie. Ek bedoel maar net Phillips hou tred met wat nou in die Afrikaanse letterkunde gebeur. ’n Mens sou ook ’n ooreenkoms kon aantoon tussen Erfenis en Klaas Steytler se jongste werk. 

"Die opvallende andersheid van Phillips se roman lê egter juis in die omgewing waaroor hy skryf: ’n omgewing wat weens die politiek van die jare vyftig juis vir my as wit leser so vreemd is, al is ek ook deel van Saartjie se taalgemeenskap, maar ons het van mekaar nie regtig geweet nie, want: 'Behalwe vir speurder Viljoen en Oubaas Jannie was dit die eerste keer dat Saartjie met ’n wit mens gepraat het' (p 93).

"Hierin sit die wonder van Phillips se werk (albei van hulle): vir die eerste keer weet ’n mens nie almal juig as die Springbokke ’n rugbytoets wen nie; vir die eerste keer weet jy wat jy seker maar diep ondertoe geweet het: as iets verkeerd loop met jouself, loop haal jy dit uit op hulle wat nie juis die mag of die middele het om te keer nie, want ná die verloortoets moet jy uit Potestraat bly as jy nie gevang wil word nie, net omdat ’n rugbywedstryd nie afgeloop het soos wat dit vir ’n deel van die mense moes nie.

"Die roman maak ’n leefwêreld oop wat altyd daar was, maar wat almal van ons nie kon sien nie, of wou sien nie, of nie toegelaat is om te sien nie. Die prosa van Phillips word dan beduidend deel van die oopmaak wat vir ’n nuwe gemeenskap in wording juis noodsaaklik is. En dit is nie ’n bitter boek nie, selfs speurder Viljoen is deeglik in wat hy doen. As ek iets anders wou hê, sou ek wou hê die storie self moes vinniger sy loop kry. Die speurverhaal vat te lank om te kom. Die tempo van die verhaal kan dus vir my gevoel vinniger wees. Maar oor een ding twyfel ek nie: jy moet hierdie boek lees om net weer ’n slag by jouself en by jou eie gewete uit te kom. Soos met Ons is nie almal so nie, gaan Erfenis van die noodlot ook oor onse eige mense – iets wat ons in hierdie tyd van Liefde op aarde nogal broodnodig het."

George Weideman het sy resensie in Die Burger (7 Desember 1993) só afgesluit: "Net soos Die verdwaalde Land is hier dus ook ’n dokument wat ’n ander perspektief op die geskiedenis gee; net soos Phillips se eerste werk benadruk die verskyning hiervan die belangrikheid van die optekening van streek- of lokale geskiedenisse. Erfenis van die Noodlot dien as korrektief op die verswyging van wat die flapteks noem 'ONS lewe geskryf in ONS Afrikaans'. Phillips is nie ’n 'ordenende skrywer' nie, hy is ’n gebore verteller wat netjies binne die beperkings van sy vertelling bly. Desondanks dokumenteer hy sosiale patrone op ’n manier wat mens wil laat bly hoop dat sy pionierswerk aansteeklik sal inwerk op ander wat wil uitdrukking gee aan streek- of persoonlike belewenisse."

Abraham skryf op enige plek – in die kamer, op die bank, op die bed. Soos reeds uit sy vertelling hier bo geblyk het, het dit met sy eerste boek vinnig gegaan, maar met die tweede boek het hy meer gedink. “Die agterkant van die storie het ek uitgedink, maar die storie self het gebeur met die skryf. [...] Dis waarom ek myself nie vat as ’n skrywer nie. Omdat ek nog nie ’n werk gelewer het wat uitgedink is in die toekoms nie.”

In 1997 verskyn Die Messiasbende (ook by Queillerie), wat handel oor ’n “bende” spiritusdrinkers met "Bellvillestasie”, ’n gewilde busstop op die dorp, as hulle bymekaarkomplek.

Ena Jansen (Beeld, 26 Mei 1997) skryf sy kon in Die Messiasbende duidelik sien dat Abraham Phillips besig is om sy voete as skrywer te vind. Hierdie verhaal van Sussie, Tommie, Lena, Doy en Gutsieboy en hulle verslawing aan spiritus en die skemerwêreld waarin hulle leef, word oortuigend beskryf en ná die lees hiervan sou baie lesers anders dink oor hierdie lewe.

Herman Wasserman (Die Burger, 23 April 1997) was van mening dat Phillips die verhaal van die groepie hawelose mense met deernis vertel en sonder om ’n oordeel te vel. Vir Wasserman is die verhaal plek-plek oordrewe sentimenteel en dit "doen afbreuk aan die eerlikheid van die verhaal – dit maak die wel en wee van die haweloses soetlik en werk lesersidentifikasie teë. Die karakterontwikkeling vind ook nie glad plaas nie, en die gemanipuleerde toevallige ontmoetings met familielede uit die verlede doen geforseerd aan.

"Die Messiasbende neigdus na ’n tragiese tydskrifstorie sonder veel dieptegang. Nietemin is dit egter ’n poging om die lotgevalle te verwoord van diegene wat té gereeld randfigure in die Afrikaanse prosa is, en om daardie rede alleen al prysenswaardig."

In die laat negentigerjare verskyn drie boekies vir nuutgeletterdes uit Phillips se pen: Ysterman van die WitblokkeDie roos van Doringdal en Die avonture van Rocky Roy.

Abraham lewer ook gereeld bydraes tot Die Burger oor die lewe van die bruin mense soos deur sy oë gesien. In 1994 by ’n skrywersbyeenkoms op Ronnie Belcher se plaas naby die Paarl vra hy dat Afrikaans gepraat moet word, sodat die taal kan bly voortleef. Hy woon ook die Nasionale Taalberaad in September 2006 op Stellenbosch by, waar hy ’n passievolle pleidooi lewer dat Afrikaanses die hef in die hand moet neem en nie ’n tree moet terugstaan om die regte op te eis wat die owerheid aan alle minderheidstale in Suid-Afrika beloof het nie.

Op 13 Mei 2007 is Abraham se ma oorlede en vir hom sal die moord op sy broer “vir altyd in my siel die uitgangspunt wees in my soeke na reg en geregtigheid, veral na sy ma se dood wat dit nooit ervaar het nie”.

In Oktober 2008 word die Patrick Petersen-gedenkprys aan Phillips toegeken. Die motivering lui: “Hy is een van die onwaarskynlikste mense om ’n skrywer te word. Gegewe sy agtergrond as vroeë skoolverlater, het hy, ten spyte van dié groot agterstand, skrywer geword. Nie net dien hy as rolmodel vir hulle wat uitsigloos is nie, maar hy motiveer juis dat met talent en ’n ysterwil lewensideale verwesenlik kan word. Phillips skryf, soos ’n paar skrywers voor hom, teen die 'wit' bestel van toe ... die geskiedenis dan, in. Hy bring taboe-wêrelde tot binne die binnekamers van wit Suid-Afrika en hy teken sy karakters as heelmense. [...] En soos maar dikwels uit die bruin gemeenskap, word sy skrywerskap juis vanuit eie gemeenskap bevraagteken, maar Phillips skop vas en antwoord kritici op die beste manier wat hy ken ... dmv sy skryfwerk. [...] Dit bly egter vir Phillips nie net by die skryf van boeke nie. Hy is ook ’n vurige deelnemer aan die Afrikaanse taaldebat in koerante en tydskrifte. Ook hier is hy die een wat die 'geveg' vir die 'klein mense' aanvat en probeer wen. Sodoende raak hy ’n stem vir die stemloses.” 

Abraham was uiteraard baie ingenome met sy Patrick Petersen-toekenning: "Dié toekenning beteken vir my geweldig baie. Dit laat my baie trots voel omdat ek al baie slegte ervarings gehad het, maar die Here het my beloon met dié prys."

In September 2012, 20 jaar ná die eerste publikasie van Die verdwaalde land, is Abraham Phillips by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere in Pinelands vir sy baanbrekerswerk gehuldig. By die geleentheid het André Brink gesê: "Phillips het vir Suid-Afrika ’n nuwe sleutel gegee om in te sing en te dink. Die verdwaalde land het verskyn in ’n tyd wat dinge vir Afrikaans begin moeilik raak het. Ons moet aanhou om daardie pad te loop sodat dit nie tot niet gaan nie."

In sy toespraak by hierdie geleentheid het Phillips gesê: "My waarskuwing teen die magsug van die land se leiers bly steeds van toepassing. Apartheid was net die naam van ’n onderdrukkende stelsel. Daar is steeds net sulke groot gevare wat nou in die samelewing skuil. Die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, die vermindering van provinsies, aanvalle op die regstelsel en kader-ontplooiing kan die deur oopmaak vir magsmisbruik en korrupsie."

Vir hom is die verdrukking van Afrikaans ook een van hierdie gevare: “Deur Afrikaans te vervang, sal die hele bruin gemeenskap ontgogel word en sal dit baie pyn en hartseer tot gevolg hê” (Die Burger, 3 September 2012).

Ná die publikasie van die drie boeke vir nuutgeletterdes is daar ’n skrywerstilte van ongeveer 10 jaar by Abraham Phillips. Dan word in 2009 Die evangelis van Kasselberg by LAPA uitgegee. In hierdie roman word ’n arm gemeenskap waar tik al hoe meer verwoesting en hartseer tot gevolg het, uitgebeeld. Drie ma's wat deur hierdie dwelm geraak word, wil weet wie skuldig is en wie pa sal staan vir geregtigheid. Eers verloor Maria haar man en seun, asook haar suster Stienie, en hulle buurvrou Bettie se lewens en huise word deur hierdie nuwe dwelm geraak.

Hulle voer almal ’n sukkelbestaan en teenoor hulle word die luukse lewenstyl van die gewetenlose bendeleier Dolf Pistoors, die Groot Beer, gestel. Maar gelukkig is daar darem die een silwer randjie aan die donker wolk in die persoon van kaptein Wielieboy Mathabola, wat aan die vrouens se kant is.

Die uitgewer noem dit ’n "onthutsende roman oor die mens se uitgelewerdheid aan magte buite homself en sy stryd om geregtigheid. Wat in die media slegs koerantberigte is, kry onrusbarende gestalte in Phillips se outentieke uitbeelding."

Vir Leon Rousseau is dit “’n ontstellende en eerlike beeld van ’n gemeenskap wat deur tik geteister word”.

Theo Kemp resenseer Die evangelis van Kaggelsberg op LitNet en vir hom is die boek net so goed soos Die verdwaalde land. "Dié klein boekie (darem effens dikker as Verdwaalde Land!) met sy treffende omslagontwerp vertel ’n grootse verhaal van die inwoners van Kaggelsberg wat in die onpersoonlike woonstelblokke (gemerk van A tot Z) 'vasgevang is in die bloedige gangster-gevegte tussen die Scorpions en die Bornfree Kids' (6). Die leser word ingetrek by die haglike omstandighede van ’n gemeenskap wat gebuk gaan onder armoede, werkloosheid, alkoholisme en ’n uitsiglose toekoms. Die mense van Kaggelsberg is weerloos teen misdaad en vrees vir hulle lewens in die 'flatse' waar die een lyk na die ander gevind word. Een van die karakters, Spasie, se uiting: 'Ag Here, wie gaan weer vanaand dood?' (9) word ’n pleidooi deur die boek. Die korrupte polisie se onbeholpenheid en bydrae tot die moordpleging onderstreep die wanhopigheid en uitgelewerdheid van die Kaggelsbergers. In skrille kontras met die gevoel van vasgekeerdheid is die spreeus in die lug waarvan die verteller deurentyd melding maak. Dit is dan ook tekenend dat voëls op ‘n telefoondraad soveel prominensie op die voorblad verkry.

"Die verhaalgegewens word gesentreer rondom die hoofkarakter, Jaffie Buffels, en sy gesin. Na sy pa en suster se dood word Jaffie die evangelis wat sowel sy gesin as sy gemeenskap teen misdaad wil beskerm. Met sy lang jas, sy boggelrug en die Bybel, herinner hy aan ’n mitiese heldefiguur wat sy mense deur geloof van ’n uitkoms wil oortuig. Jaffie word as ’t ware die metafoor vir die enkeling wat met ’n obsessiewe verbetenheid ’n verskil in sy kwynende gemeenskap wil maak.

"Die leser ontmoet kleurryke karakters soos Ouvark, Sammie, Bommer en die eens gevaarlike bendeleier Abselon, wat geen ander lewe ken as vergelding nie. Dit is veral met die eiesoortige taal van die flatse – met woorde soos dala, masse kind, en rofryter – dat die meeste lesers ingelei sal word in ’n onbekende Afrikaanse leefwêreld. Hierdie taalgebruik bring ’n interessante tekstuur tot die boek en sjarmeer die leser enduit. Méér flatse-woorde sou moontlik die dikwels geykte en ietwat sentimentele taalgebruik kon neutraliseer.

"Alhoewel van die karakters nog nie heeltemal uitgeskryf is nie, kan die leser nie anders as om simpatiek teenoor selfs die mees geharde bendeleier te staan nie. Die trefkrag van Phillips se verhaal is juis opgesluit in sy deernisvolle blik op die weerloosheid van die mensdom.

"Sekerlik een van die hoogtepunte van die boek is dat dit as ’n soort spanningsverhaal lees. Sodoende verkry Die Evangelis van Kaggelsberg ’n heel nuwe dimensie wat nie in Abraham Phillips se vorige boeke ter sprake was nie. Die leser word selfs meer ingetrek in die verhaalgegewens, en die verrassende slot sal ’n mens lank bybly.

"Kortom: alhoewel daar sekere voorbehoude is, is Die Evangelis van Kaggelsberg Abraham Phillips se belangrikste werk naas sy debuut in 1992. Met hierdie boek bevestig hy sy onmisbare plek in die Afrikaanse letterkunde, en ’n mens kan net hoop dat meer toekennings soos die Patrick Petersen-prys in 2008 Phillips sal erken as een van dié stemme wat sal aanhou om ongeregtigheid aan te spreek en nooit stilgemaak behoort te word nie."

Vir Stoffel Cilliers (Volksblad, 4 Junie 2009) is Phillips suksesvol in sy poging om ’n hele armsalige en ellendige gemeenskap voorop te stel en die fokus op hulle te hou. "Slegs na enkele karakters keer hy nie weer terug nie. Volrond is hulle nie almal soos Jaffie Buffels, ’n komplekse karakter, nie. Tog onthou ’n mens die meeste met genoegdoening soos hulle met enkele sinne opgetower is.

"Die dialoog is besonders, werklik natuurlik. Dit verleen kleur aan die verskeidenheid karakters. ’n Nuttige woordverklaring werp lig op bendetaal. Om “'loed te vat' beteken om dood te maak. As iemand 'wit bene' is, is hy dood.

"Die evangelis van Kaggelsberg is beslis die sterkste roman van hierdie Worcesterse skrywer wat met sy ruimhartige deernis vir die armstes onder die armes vir hom lankal ’n eie plek in die Afrikaanse letterkunde oopgeskryf het."

Phillips volg Die evangelis van Kaggelsberg op met Die hart van ’n ma in 2013. Dit handel oor die dwelm tik en die verskriklike uitwerking wat dit op gemeenskappe het. "Dis so na aan die werklikheid as wat jy kan kry," sê Abraham aan Willemien Brümmer (Die Burger, 8 Maart 2014).
"Net die name is verander. In ’n kwessie van ’n maand is hier vanjaar vier mense vermoor. Twee daar by die Roodewal-flatse as jy Robertson toe ry. Tik-gebruikers, al twee in die kop geskiet deur die gangsters.

“Net meer as ’n week tevore is twee erg ontbinde lyke op die Villiersdorp-pad gekry. Twee tikgebruikers wat blykbaar die tikbaas geskuld het.

“Verlede week is daar wéér twee geskiet hieronder. Een dood en een hospitaal toe. Ek sal vir jou sê, op die platteland is dit sekerlik baie erger as op die Kaapse Vlakte. Die enigste manier om tik te oorwin, is deur mense se omstandighede te verander," sê hy.

“As jy dan nie kokkerotte in jou kas wil hê nie, maak skoon die kas. Jy kan gif gooi, maar hulle gaan keer op keer terugkom. Ek noem daar in die boek die tikgebruikers is soos ’n lyk op twee bene.”

Abraham gaan voort teenoor Brümmer: "Want al is die demokrasie al byna net so oud soos my skrywersloopbaan, is die flatse stééds soos ’n buitepos van die gevangenis. Die mense wat hier bly, is net so goed soos in die tronk. En daai gangster binne-in die tronk weet presies wat buite aangaan en wat sy maats doen.”

Die vrees wat hy as kind gehad het, is nog altyd binne-in hom: “Ek vrees nou vir my lewe as sodanig, vir my kinders se lewens, vir my kleinkinders se lewens. Wanneer almal nie in die huis is nie, kan jy nie slaap nie en jy weet daai misdadiger kom niks oor nie, en jy kan niks sê of niks doen nie, want netnou stap daai selfde misdadiger weer voor jou huis verby.

“Daar’s g’n vryheid met dié demokrasie nie. Daar was nog nooit volkome vryheid nie. Daar’s ’n song van Kris Kristofferson, “Me and Bobby McGee”, waar hy sing: ‘Freedom is just another word for nothing left to lose’. Daarvanaf kan jy maak wat jy wil.”

In Die Burger van 10 September 2013 vertel Abraham verder oor Die hart van ’n ma: "Die hart van ’n ma moet gesien word vir wat dit régtig is. Hier word nie geskryf oor mense wat nie belangrik is nie. Daar moenie na dié boek ­gekyk word soos na gewone fiksie nie. Dit is geskryf met ’n doel, en die doel is dat ons ­nader aan mekaar kan kom, sodat ons mekaar kan help.

"My etiese kern en betrokke uitkyk in sy werk kom van my ma, Rosina. Maria in Die hart van ’n ma en ook Katrina Buffels in Evangelis van Kaggelsberg is suiwer op haar gevoelens gebaseer, op hoe die wêreld vir haar gelyk het en hoe sy ons grootgemaak het.

“Hoe kan ek anders as om betrokke te wees by die ­gemeenskap waarin ek grootgeword het? Oor dié mense en ons omstandighede skryf ek byna vanself, uit my hart en siel. En ek hoop só dat daar iets van sal kom, iets wat ons ­mense se lot sal verlig. Daar is geen probleem op aarde wat nie opgelos kan word nie.”

Op LitNet skryf Riette Rust dat Phillips se skryfwerk met hierdie roman "ryp geword" het: "Tog vertél hy soms te veel, eerder as om die leser te laat belééf. Maar dis net soms. Ander kere maak hy staat op clichés, soos 'Die duiwels dans in daai oë' en 'Sy kyk Meisie met trane in haar oë aan'. Partykeer dra die dialoog boodskappe aan die leser oor, pleks dat lesers dit behoort af te lei.

"Tog is die karakters volrond. Maria Stokkies – jy kan haar die gewete van die gemeenskap noem – is ’n voorbeeld. Asook sommige gangsters, binne en buite die gevangenis: daar is die magtige, ryk Dolf Pistoors, oftewel Groot Beer van Kokkerotjiedorp, en die grillerige Die Priester en Pappielon in die tronk. Daarteenoor is kaptein Wielieboy Mathabola die teenvoeter wat werklik ’n verskil probeer maak.

"Die tonele wat binne die gevangenis afspeel, laat die hare rys. Jy lees van verkragting, daggasmokkelary en geweld. ’n Sin soos hierdie ruk jou tot stilstand: 'Baie mense in Doringdal het nie venaand sulke kos nie, dink hy, dis hoekom die inmates die tronk hulle huis noem.' (...)

"Die roman handhaaf ’n stewige pas vol kinkels. Wie die verklikker, oftewel die 'piemper', binne die gemeenskap is wat die tiksmokkelaars waarsku dat die polisie, 'die honne', op pad is, is ’n reuse-verrassing.

"Die dialoog en taalgebruik is heerlik. Indien jy nie altyd die gangstertaal verstaan nie, raadpleeg die lys woordverklarings agter in die roman. (...) Die gangsters se name is eweneens gepas. Sommiges, soos Muisvoël en Popeye, laat jou glimlag. (...)

"Die hart van ’n ma [is] nie vir sensitiewe lesers bedoel nie. Maar dis belangrik dat dit wél gelees word. Want die tragiese gebeure laat jou moedeloos wonder: Moet soveel ma’s eers hul kinders verloor? Moet ’n oupa eers sy kleinseun vermoor? Moet ’n seun eers sy pa vermoor voor daar iets aan die tikpandemie gedoen word? Soos Maria vra: 'Waar is die maatskaplike dienste wat ons en ons kinners teen hierdie ellende moet beskerm?' En wat van die polisie, die politieke leiers, die kerk, die skool? wil jy byvoeg. 

“Álmal sal moet saamstaan. Ons durf nie meer wegkyk nie. Dís wat die roman sê."

Abraham Phillips is ook, soos reeds genoem, ‘n uitgesproke kampvegter vir Afrikaans. In Die Burger van 10 Desember 2011 het hy in sy artikel "Aanslag teen Afrikaans" sy betoog só afgesluit: "Die vyandige aanslag teen Afrikaans het inderdaad verreikende gevolge. Dit eindig nie by bogenoemde gevalle of die onderrig op akademiese vlak nie. Dit het geestelike en sielkundige gevolge; dit ruk die psige van veral sy arm sprekers aan flarde. My moeder, mamma Rosina, kon soos derduisende van haar arm Afrikaanssprekende landgenote nie Engels praat of verstaan nie. Haar groot vreugde was om Afrikaanse TV-programme te kyk, maar haar groot vreugde is deur mense wat nie haar menswees wou erken nie, van haar weggeneem. Engels is deur die televisieskerm aan haar opgedwing. Sy was verpletter en het letterlik voor my oë weggekwyn.

"Apartheid was vir haar louter hel, maar die nuwe demokrasie ’n verskriklike nagmerrie. Selfs een van haar gunsteling-programme, die Afrikaanse oorklanking van die sepie Rustelose Jare, is summier van die televisie afgehaal en deur die Engelse weergawe vervang. Mamma Rosina, wat geen kwaad in ander mense – of hulle wit, swart of bruin was – gesien het nie, is in 2007 as ’n gebroke mens oorlede.

"Dis een ding om ’n taal in arm mense se keelgat af te dwing of hulle van ’n beter lewe te weerhou deur die vyandige aanslag op hul moedertaal; dis gans en al ’n ander saak om die gevolge daarvan te dra en te hanteer. Dit wil voorkom asof die gesegde 'een vir almal en almal vir een' vir die arm Afrikaanssprekende bruin mense maar net ’n droewige droom sal bly."

Publikasies:

Publikasie

Die verdwaalde land

Publikasiedatum

  • 1992
  • 1993

ISBN

 1874901023 (sb)

Uitgewer

Somerset-Wes: Queillerie

Literêre vorm

Biografiese roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Erfenis van die noodlot

Publikasiedatum

1994

ISBN

1874901147 (sb)

Uitgewer

Groenkloof: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Messiasbende

Publikasiedatum

1997

ISBN

1874901449 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ysterman van die Witblokke

Publikasiedatum

1997

ISBN

9781874932314 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Viva Books

Literêre vorm

Leesboek vir nuutgeletterdes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die roos van Doringdal

Publikasiedatum

1997

ISBN

0958417415 (sb)

Uitgewer

Hatfield: Stimela

Literêre vorm

Leesboek vir nuutgeletterdes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die avonture van Rocky Roy

Publikasiedatum

1999

ISBN

9781919755960

Uitgewer

Kaapstad: Nasou/Via Afrika

Literêre vorm

Leesboek vir nuutgeletterdes

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die evangelis van Kaggelsberg

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780799344394 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die hart van ’n ma

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780798159524 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels deur Abraham Phillips beskikbaar op die internet

Artikels oor Abraham Phillips beskikbaar op die internet

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top