Titel: Die Evangelis van Kaggelsberg
Outeur: Abraham Phillips
Uitgewer: LAPA-uitgewers
ISBN: 9780799344394
Bladsye: 176 bladsye
In die vroeë negentigerjare het Abraham Phillips met die verskyning van sy debuutroman, Verdwaalde Land, ‘n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde geword. Met dié oënskynlik beskeie boekie het Phillips stem gegee aan die stemloses; aan bruin mense wat deur ‘n apartheidsregering hulle identiteit en waardigheid ontneem is. Met die verwarring van die oorgangstydperk in ons land en die meegaande identiteitsoeke van Suid-Afrikaners kon Verdwaalde land nie op ‘n beter tyd die lig gesien het nie.
Met die daaropvolgende romans, waaronder Erfenis van die noodlot (1994), Die messiasbende (1997), en die twee leesboeke vir nuutgeleerdes, Die roos van Doringtal (1997) en Die avonture van Rocky Roy (1999), het Phillips ook probeer om die verontregting en wanhoop van sy mense aan te teken.
Op ‘n vraag aan Phillips of hy homself as ‘n gevestigde skrywer sien, het hy op ‘n keer gereageer: “Dis interessant dat jy dit vra, want net gisteraand sit ek en my dogter en gesels en toe sê ek vir haar ek wonder of veral wit mense die waarde besef van die boeke wat uit my pen verskyn het, want dit is absoluut waarmee hulle vorentoe te doen sal hê: die groot meerderheid mense van die land woon in armoede en ons sal daaroor moet skryf.”
En dit is juis oor hierdie verbete op- en oopskrywing van ‘n onderbeligte deel van die Afrikaanse gemeenskap dat Phillips bygedra het tot die diskoers oor skrywers se rol as dokumenteerders van die lot van hulle mense. Dat die skrywer nie anders kan as om die burgerlike armoede en korrupsie neer te pen nie. Al hoe meer skrywers, soos AHM Scholtz en EKM Dido, het na 1994 die sluier help lig oor die sosiopolitieke stand van die "gewone" bruin Afrikaanssprekende. Sodoende is ook ‘n heel nuwe groep lesers vir die Afrikaanse letterkunde gewen.
Alhoewel Phillips se latere boeke daarom ‘n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het, moet dié leser bieg dat niks só oortuigend eerlik my teen die bors kon slaan soos sy debuutwerk nie.
Totdat ek Die Evangelis van Kaggelsberg gelees het. Soos met Verdwaalde Land slaag die skrywer daarin om die leser enduit te boei. Dié klein boekie (darem effens dikker as Verdwaalde Land!) met sy treffende omslagontwerp vertel ‘n grootse verhaal van die inwoners van Kaggelsberg wat in die onpersoonlike woonstelblokke (gemerk van A tot Z) “vasgevang is in die bloedige gangster-gevegte tussen die Scorpions en die Bornfree Kids” (6). Die leser word ingetrek by die haglike omstandighede van ‘n gemeenskap wat gebuk gaan onder armoede, werkloosheid, alkoholisme en ’n uitsiglose toekoms. Die mense van Kaggelsberg is weerloos teen misdaad en vrees vir hulle lewens in die "flatse" waar die een lyk na die ander gevind word. Een van die karakters, Spasie, se uiting: “Ag Here, wie gaan weer vanaand dood?” (9) word ‘n pleidooi deur die boek. Die korrupte polisie se onbeholpenheid en bydrae tot die moordpleging onderstreep die wanhopigheid en uitgelewerdheid van die Kaggelsbergers. In skrille kontras met die gevoel van vasgekeerdheid is die spreeus in die lug waarvan die verteller deurentyd melding maak. Dit is dan ook tekenend dat voëls op ‘n telefoondraad soveel prominensie op die voorblad verkry.
Die verhaalgegewens word gesentreer rondom die hoofkarakter, Jaffie Buffels, en sy gesin. Na sy pa en suster se dood word Jaffie die evangelis wat sowel sy gesin as sy gemeenskap teen misdaad wil beskerm. Met sy lang jas, sy boggelrug en die Bybel, herinner hy aan ‘n mitiese heldefiguur wat sy mense deur geloof van ‘n uitkoms wil oortuig. Jaffie word as‘t ware die metafoor vir die enkeling wat met ‘n obsessiewe verbetenheid ‘n verskil in sy kwynende gemeenskap wil maak.
Die leser ontmoet kleurryke karakters soos Ouvark, Sammie, Bommer en die eens gevaarlike bendeleier Abselon, wat geen ander lewe ken as vergelding nie. Dit is veral met die eiesoortige taal van die flatse – met woorde soos dala, masse kind, en rofryter – dat die meeste lesers ingelei sal word in ‘n onbekende Afrikaanse leefwêreld. Hierdie taalgebruik bring ‘n interessante tekstuur tot die boek en sjarmeer die leser enduit. Méér flatse-woorde sou moontlik die dikwels geykte en ietwat sentimentele taalgebruik kon neutraliseer.
Alhoewel van die karakters nog nie heeltemal uitgeskryf is nie, kan die leser nie anders as om simpatiek teenoor selfs die mees geharde bendeleier te staan nie. Die trefkrag van Phillips se verhaal is juis opgesluit in sy deernisvolle blik op die weerloosheid van die mensdom.
Sekerlik een van die hoogtepunte van die boek is dat dit as ‘n soort spanningsverhaal lees. Sodoende verkry Die Evangelis van Kaggelsberg ‘n heel nuwe dimensie wat nie in Abraham Phillips se vorige boeke ter sprake was nie. Die leser word selfs meer ingetrek in die verhaalgegewens, en die verrassende slot sal ‘n mens lank bybly.
Kortom: alhoewel daar sekere voorbehoude is, is Die Evangelis van Kaggelsberg Abraham Phillips se belangrikste werk naas sy debuut in 1992. Met hierdie boek bevestig hy sy onmisbare plek in die Afrikaanse letterkunde, en ’n mens kan net hoop dat meer toekennings soos die Patrick Peterson-prys in 2008 Phillips sal erken as een van dié stemme wat sal aanhou om ongeregtigheid aan te spreek en nooit stilgemaak behoort te word nie.

