Riette Rust vergelyk en resenseer twee boeke - in albei hartverskeurende verhale staan die ma-figuur sentraal: Pastoor en Die hart van 'n ma.
Pastoor is ’n verhaal wat vertel móés word.
Titel: Pastoor
Skrywer: Pat Stamatélos
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 978-0-624-06326-1
Pastoor is die ware verhaal van Kleintjie Zinman (skuilnaam) en haar worstelstryd met haar donker verlede. Haar biologiese ma het haar as baba aan aanneemouers afgestaan. Later word dit duidelik dat albei alkoholiste is. Kleintjie se aanneempa verwerp haar en probeer homself vergas, terwyl haar ma met selfdood dreig en geestelik afwesig is. Kleintjie vind eers op 15 uit dat sy aangeneem is, boonop toevallig. En al wat sy wil hê, is aandag en liefde. Só beland sy in ’n veel ouer pastoor se vernietigende kloue.
Pastoor is ’n hartverskeurende, ontstellende verhaal wat Stamatélos goed en boeiend vertel. Dié skrywer is aan ons bekend vanweë haar eg menslike stories, waaronder Kroes, waarmee sy in 2005 gedebuteer het, Die val van die dice (2007) en Vier begrafnisse en ’n troue (2010).
Pastoor word uit verskillende perspektiewe vertel: dié van Kleintjie se man, Fred; dié van Wanda Vollenhoven, die sielkundige wat in feetjies glo; en ook Kleintjie se eie perspektief. Met die oog op “’n boek” hou sy dagboek. Fred ontdek haar aantekeninge en leer sy vrou só beter ken. Hy sê egter: “Daar is Kleintjie se kant van die storie, die sielkundige s’n en myne.”
’n Groot deel van die roman speel in Wanda se kantoor af. Kleintjie het op dié sielkundige afgekom via ’n pamflet wat teen haar tuinhekkie vasgewaai het. Wanda is ’n fassinerende vrou wat boheemse klere dra wat by die binneversiering van haar kantoor pas! Wanda moet probeer sin maak van Kleintjie se depressie en verlede. Dit neem ’n geruime tyd om vas te stel wat die eintlike rede vir haar ineenstorting as volwassene is. Selfs Kleintjie is nie seker hieroor nie, want sy sê: “My lewe voel soms soos ’n tapisserie van verkeerde mense, verkeerde besluite, regte vrese. Daar is so baie dinge.”
Tussendeur kry die leser ’n kykie in die sielkundige verslae en is dit duidelik dat Kleintjie se stukkende verlede ’n ingrypende effek op haar het. Die skuldgevoelens oor haar aanneemma, en veral oor haar verhouding met die pastoor, weeg swaar; sy is erg depressief en toon tekens van grenslyn-persoonlikheidsversteuring. Dit word deur onder meer emosionele onstabiliteit gekenmerk. Kleintjie het ook ’n erge vrees vir verwerping en alleenwees. Haar aanneemma ly weer aan indirekte Münchhausensindroom: sy maak Kleintjie seer omdat sy self aandag van ander wil hê. Haar aanneemma vertel haar ook dat haar biologiese ouers dood is. Maar dié ma jok (en steel) voortdurend, en Kleintjie besluit om tóg na haar biologiese ma te gaan soek. Sy visualiseer selfs hoe hulle twee saam klavierspeel.
Kleintjie se aanneemma moedig haar as kind aan om by hul pastoor vir berading aan te klop: “Gaan, Kleintjie, jy het iemand nodig om mee te praat ... Iemand om jou rigting in die lewe te gee. Pa is so besig, ek werk ook nou. Pastoor sal vir jou leer hoe om die klavier te speel; hy sê dis deel van jou berading.”
Stamatélos kry dit goed reg om die kompleksiteit van ’n verhouding tussen ’n pedofiel en sy slagoffer uit te beeld – dis allesbehalwe eensydig. Kleintjie vind in haar pastoor “’n beskermheer, liefdevolle pa en goedige oupa”, iemand wat haar bang verdryf, wat dink sy is mooi. Tydens die beradingsessies by Wanda spreek Kleintjie die pastoor direk in haar kop aan: “(Jou glimlag was) vol, breed en warm ook, met goddelike beloftes ... Tussen kerkgangers het ek jou oë gesoek, die verruklike plooie om jou mondhoeke, die skulp van jou ore ... Jy was my lewe ... Ek was so lief vir jou.” Maar later dink sy: “Ek haat jou, Pastoor. Ek háát jou. Ek hááát jou!” En noem sy “liefde” drakonies en veragtelik. Hierdie direkte aanspreekvorm werk uitstekend, omdat dit die leser behoorlik by gebeure intrek.
Deur die oë van sy gemeentelede is die getroude pastoor ’n ware Godsman wat jeugberading gee. Maar agteraf beoefen hy seksuele dade met kinders, selfs binne-in die kerk. Vandaar ook die ontstellende, maar treffende, voorblad van ’n man se broek en gordel wat oor ’n kerkbank lê.
Kleintjie wil nie net die effek van haar vernietigende verlede ongedaan maak nie, sy het ’n allesoorheersende behoefte aan ’n eie klavier. Toe sy ‘n kind was, het haar ouers altyd net geld vir drank gehad. Die klavier word simbool van alles wat Kleintjie nie gehad het nie, maar begeer. Wanda waarsku haar egter dat dié musiekinstrument nie al haar probleme sal oplos nie. In haar sielkundige vind Kleintjie vir ’n wyle die ma-figuur waarna sy so hunker.
Pastoor vlek die kanker van pedofilie in ons samelewing, ja, self in die kerk, oop. En dít terwyl ’n slagoffer se naastes dikwels wéét wat aangaan. Maar stilbly.
Kleintjie se verhaal móés vertel word. Stamatélos draai nie doekies om nie, maar sy bied ook nie die roman sensasioneel aan nie. As jy emosioneel sterk is, lees dit beslis.
Daar is vele soos Ellen Pakkies
Titel: Die hart van ’n ma
Skrywer: Abraham Phillips
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-5952-4
Koop Die hart van ’n ma by Kalahari.com.
Die hart van ’n ma ondersoek die mens se uitlewering aan magte buite homself en sy stryd om geregtigheid. Net soos in Pastoor se geval, is Die hart van ’n ma ’n hartverskeurende verhaal waarin die ma-figuur sentraal staan.
Die gemeenskappe van Doringdal en Helshoogte in die Wes-Kaap word deur armoede geteister. Hul omstandighede is uitsigloos, en dít lei tot die smokkel en misbruik van tik. Met verreikende gevolge. Wanneer die ma’s van die gemeenskap besluit genoeg is genoeg en hulle die rafels van verwoesting moet probeer optel, is daar tog hoop.
Abraham Phillips skryf met groot deernis oor die yslike tikprobleem in veral bruin plattelandse gemeenskappe. Die skrywer kén sy materiaal en neem jou tot in die hart van die gemeenskap waar “Hierdie ding, tik ons harsings opvreet ...” Die storielyn is eenvoudig: Maria Stokkies se seun, Roy, vermoor sy tikverslaafde pa en beland in die gevangenis. Maria se suster, Stienie, en haar twee tieners trek by haar in. Ook hulle en hul buurvrou Bettie moet magteloos toekyk hoe die tikmonster hul huise en lewens binnedring. Tog is daar oorgenoeg aksie, veral onder die gangsters, om die leser behoorlik mee te sleur.
Soos met Pastoor, móés hierdie storie vertel word. Die boodskap is duidelik: daar word hopeloos te min gedoen om tikverspreiding en -verslawing hok te slaan. Die netwerk kring al wyer uit. Met katastrofiese gevolge.
Phillips is inderdaad die stem van die stemloses. Reeds met sy debuut, Die verdwaalde land (1992), is hy só genoem. André P Brink het toe dié roman beskryf as “’n Klein boekie met ’n groot hart”. Sedertdien het Phillips verskeie romans geskryf, onder meer Erfenis van die noodlot, Die Messiasbende en Die evangelis van Kaggelsberg. In 2008 het hy die Patrick Petersen-gedenkprys van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) ontvang. Die doel daarvan is om, in die woorde van Willem Fransman jr, “die ongeregtighede van die verlede reg te stel”.
Met Die hart van ’n ma het Phillips se skryfwerk ryp geword. Tog vertél hy soms te veel, eerder as om die leser te laat belééf. Maar dis net soms. Ander kere maak hy staat op clichés, soos “Die duiwels dans in daai oë” en “Sy kyk Meisie met trane in haar oë aan.” Partykeer dra die dialoog boodskappe aan die leser oor, pleks dat lesers dit behoort af te lei, soos wanneer ’n karakter sê: “Ons moenie oordeel nie, hulle was slagoffers van hul omstandighede.” Of: “Wat de hel gaan aan met ons mense ...? Hulle kyk liewers weg.” Tog is die karakters volrond. Maria Stokkies – jy kan haar die gewete van die gemeenskap noem – is ’n voorbeeld. Asook sommige gangsters, binne en buite die gevangenis: daar is die magtige, ryk Dolf Pistoors, oftewel Groot Beer van Kokkerotjiedorp, en die grillerige Die Priester en Pappielon in die tronk. Daarteenoor is kaptein Wielieboy Mathabola die teenvoeter wat werklik ’n verskil probeer maak.
Die tonele wat binne die gevangenis afspeel, laat die hare rys. Jy lees van verkragting, daggasmokkelary en geweld. ’n Sin soos hierdie ruk jou tot stilstand: “Baie mense in Doringdal het nie venaand sulke kos nie, dink hy, dis hoekom die inmates die tronk hulle huis noem.”
Deur die hartseer en diefstal van hul besittings vir tikgeld hou die ma’s van die gemeenskap die fort deur verbete aan hul geloof vas te klou. Tog keer dit hulle nie om te vra: Is dit ék wat my seun na tik toe gedryf het? Was ek te oorbeskermend? Het ek nie genoeg aandag gegee nie?
Die roman handhaaf ’n stewige pas vol kinkels. Wie die verklikker, oftewel die “piemper”, binne die gemeenskap is wat die tiksmokkelaars waarsku dat die polisie, “die honne”, op pad is, is ’n reuse-verrassing.
Die dialoog en taalgebruik is heerlik. Indien jy nie altyd die gangstertaal verstaan nie, raadpleeg die lys woordverklarings agter in die roman. Daar leer jy woorde soos “dala” (die ding uitbaklei), “bloed vat” (doodmaak) en “dikding” (‘’n vername man tussen die gangsters). Daar is ook ’n lys woorde en uitdrukkings wat algemeen onder plattelandse bruin mense (skrywer se woorde) ingespan word, soos “in die mix wees” (by wees), “kopbeen vreet” (baie hartseer wees) en “wat klap so?” (wat is dit, wat het hier gebeur?).
Die gangsters se name is eweneens gepas. Sommiges, soos Muisvoël en Popeye, laat jou glimlag. En dalk wil jy ook weet hoekom iemand ’n gangster word. Dié vraag word wel beantwoord: oor jy “gerespek word”. Jy’t ’n naam, almal wéét van jou.
Tik ken geen ouderdom nie, kom jy agter. Want as jy nie self in sulke hopelose omstandighede daaraan verslaaf raak nie, kan jou kind of kleinkind se verslawing jóú lewe in hel verander. Soos wat met Herklaas Blom gebeur het. Sy bynaam, “Groot Drink”, wat sedert sy jeug kleef, sorg vir welkome komiese afwisseling. Só ook ’n sin soos “(D)it maak nie saak hoe dronk jy is nie, jy’s soos ’n duif. Jy weet waar jou huis is.”
Soos met Pastoor, is Die hart van ’n ma nie vir sensitiewe lesers bedoel nie. Maar dis belangrik dat dit wél gelees word. Want die tragiese gebeure laat jou moedeloos wonder: Moet soveel ma’s eers hul kinders verloor? Moet ’n oupa eers sy kleinseun vermoor? Moet ’n seun eers sy pa vermoor voor daar iets aan die tikpandemie gedoen word? Soos Maria vra: “Waar is die maatskaplike dienste wat ons en ons kinners teen hierdie ellende moet beskerm?” En wat van die polisie, die politieke leiers, die kerk, die skool? wil jy byvoeg.
Álmal sal moet saamstaan. Ons durf nie meer wegkyk nie. Dís wat die roman sê.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

