Aardklop 2018: ’n Toeganklike en prikkelende boekeprogram

  • 0

Theo Kemp vertel vir Yolanda Wessels van vanjaar se boekeprogram by Aardklop.

Hoe word die boekeprogram saamgestel?

Dit is baie belangrik om ’n goeie balans te kry tussen kommersiële boeke en meer literêre werke, of niefiksie wat aktualiteite aanspreek, en sodoende te verseker dat die aanbiedinge tot soveel as moontlik lesers spreek. Jy wil met die keuse van aanbiedings lesers se aandag trek en prikkel, en ook skrywers nader bring aan hulle lesers.

Kyk jul net na nuwe publikasies?

Ons kyk grotendeels na nuwe titels, maar nie uitsluitlik nie. Daar is boeke wat al vroeër in die jaar verskyn het, maar wat groot byval vind by die publiek en waaroor daar nog baie gesels kan word.

Wat is die vereistes vir boeke om deel te kan vorm van die program?

Daar is nie ’n spesifieke vereiste vir boeke om te kwalifiseer nie. Ons kyk wel na boeke wat in aanvraag is by lesers, en skrywers wat belangrike werk lewer om by die program te betrek.

Wat vind jy self, as organiseerder, interessant?

Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord, want die aanbod is so uiteenlopend en daarom ook onvergelykbaar. Ek is tans besig met die lees van Olga Kirsch se biografie deur Egonne Roth en vind dit ’n grootse werk met uitstekende navorsing. Maar dan sien ek ook uit na die digters se optredes, die aktualiteitsbesprekings in die oggende, en om met die skrywers en boekwurms by die ATKV-Boeke-oase te kuier.

Wat lees jy self?

Ek lees so wyd as moontlik – van poësie tot niefiksie en fiksie. Op hierdie stadium is, buiten die Olga Kirsch-boek, ook Ronelda Kamfer se Hammie op my bedkassie, en wink Bibi Slippers se Fotostaatmasjien ook vir my. Ek probeer inhaal op boeke wat ek nog moet lees!

Enige patrone of tendense op vanjaar se program?

Vanjaar is daar heelwat meer niefiksie-titels op die program as vantevore. Ons het gevind dat die meeste van die feesgangers wat die ATKV-Boeke-oase bywoon, graag wil saamgesels oor sake van die dag.

Hoe is vanjaar se program anders as verlede jaar s’n?

Ons het vir die eerste keer ’n Vlaamse besoeker aan die fees, Jan de Kinder. Hy is ’n baie bekende kinderboekskrywer wie se werk ook in Afrikaans beskikbaar is. De Kinder sal tydens die fees met Philip de Vos en Carin Krahtz gesels oor kinderboekskrywing.

In watter opsig groei/verskil die jaarlikse program om besoekers aan te hou trek?

Die sukses van die jaarlikse program is juis om vir besoekers so ’n groot verskeidenheid as moontlik te gee. Daar is spanningsverhale met skrywers soos Irma Venter; ons kyk saam met Ton Vosloo terug op sy lewe in die mediawêreld; daar is boeke oor die Anglo-Boereoorlog; Ruda Landman gesels oor haar stories van mense; daar is kookboeke wat bekendgestel word; en vele meer.

Waarna kan feesgangers spesifiek vanjaar uitsien?

Om vanjaar baie bekendes daar raak te loop. Amore Bekker van RSG is daar om te gesels oor die boek Toe-val-lig; Rian van Heerden praat oor daardie dinge wat hy nie moes gesê het nie; die Steinhoff-debakel word kaalvuis aangepak; die komediant Schalk Bezuidenhout is daar; Wilhelm Verwoerd gesels oor ’n lewe in Suid-Afrika as die kleinkind van HF Verwoerd; en Albert Blake praat oor die wit terroriste van ouds.

Wat kos die boekeprogram by Aardklop?

Goeie nuus is dat die aanbiedinge heeltemal gratis is! Dit is dus heeltemal toeganklik vir almal.

Klik hier vir die volledige boekeprogram.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top