Aan rusland met liefde: antwoord aan Bettina Wyngaard

  • 2

Foto: Khusen Rustamov Pixabay

“Hoekom rook jy?”

“Ag, ma, almal in my klas rook!”

Van tieners tot politieke diskoers – relativering is ALTYD ’n slegte argumentstrategie en ALTYD sleg vir die bevordering van openhartige en eerlike debat. Dis bedoel om ’n gesprekstopper te wees, en op ’n manier is dit ook. Dis ontwapenend, maar altyd op ’n boelie-agtige manier wat niks met goeie argumenteringsvaardighede te doen het nie. Relativering as antwoord is gewoonlik afkomstig van iemand wat haarself in die spervuur van kritiek bevind; ’n korrupte regering se amptenaar of ondersteuner. “Daar’s korrupsie in julle regering.” “Maar daar’s korrupsie in alle regerings, oral ter wêreld,” is die antwoord. Einde van die storie. Maar is dit werklik? Word daar gevra of daar dieselfde mate van korrupsie in alle lande is? Na hoe korrupsie gemeet word?

’n Slegte sekondêre effek van relativering is dat dit as regverdiging gebruik word. Dit dien om skuldiges van blaam te ontneem.    

“Poetin is ’n wrede diktator wat ’n brutale oorlog in Oekraïne voer.” Die relativerende antwoord? “Amerika is skuldig aan dade wat kers vashou by enigiets wat poetin mee vorendag kom.” Die enigste wat ons van hoor, is dat Guantánamo en polisie-optrede op die Meksikaanse grens “net so erg soos enigiets wat poetin kan uitdink” is. Werklik? Soos om die vernietiging van ’n onafhanklike, soewereine buurland en die uitwissing van haar mense te verkondig en te inisieer? Soos om missiele in woonstelblokke te laat vasskiet? Soos om kinders vanuit die besette gebiede te laat deporteer? Wat in Guantánamo en op die Meksikaanse grens gebeur, is verwerplik, maar die skaal moet darem baie skeef staan om ekwivalensie daartussen en die russiese inval in Oekraïne aan te dui.

Maar gestel dit is so. Die VSA se inval in Irak was byvoorbeeld gebaseer op baie twyfelagtige beweegredes. Beteken dit as ons nou, vandag, die ontketening van ’n oorlog vir onsinnige redes en vergelykbaar met Nazi-Duitsland se oorlog ervaar, ons kan hande vou en sê, “die Duitsers of Amerikaners het dieselfde gedoen,” soos die relativeringstrategie voorstel?     

’n Nog slegter aspek van relativering is dat dit, net soos “neutraliteit”, uitgebuit word deur rusland as ’n teken van steun. Wie weet hoeveel druk daar vanuit die kremlin op SA is om wapens te verskaf? En ’n mens hoef nie lank te dink om te raai watter reaksie daar in die regering gaan wees nie. Die jongste is blykbaar dat poetin vir Ramaphosa Oekraïne toe wil stuur om vir hulle te gaan vertel wat hulle met hulle grondgebied moet doen.

Gevries in tyd? ANC-lede is glo so goed behandel destyds in die USSR – en daar’s geen rede om te twyfel daaraan nie, maar rusland vandag en die sowjetunie is totaal verskillende dinge. Tog bly die sentimente ten gunste van rusland gevries in tyd, net soos poetin se denke, vasgevang in die verlede. Kom ons gaan dan terug na die verlede, vanuit vandag se perspektief: rusland se militêre optrede en sosio-kulturele mobilisering vandag toon baie sterk ooreenkomste met Nazi-Duitsland, hieroor is geskiedkundiges dit eens. Dus as jou wantroue teenoor en haat vir die Weste vir jou vertaalbaar is in onvoorwaardelike steun vir rusland, beteken dit jy steun iets op dieselfde vlak as Nazi-Duitsland in die tweede wêreldoorlog.

Maar blykbaar is die SA regering se “historiese bande” so diep dat hulle nie hersienbaar is nie. “Bloedbande”, soos jy dit stel; ’n uiters ongelukkige woordkeuse en tog ongelukkig ook waar!  

Lees asseblief die artikel deur Anna Solodkina, ’n Moskou-inwoner, om te verstaan hoe die lewe in rusland nou daar uitsien; geen kommunistiese utopie nie, massiewe korrupsie, onvryheid en vrees, ’n ware totalitêre nagmerrie.

Jy’s reg, dis nie so eenvoudig soos ’n keuse tussen Amerika en rusland nie – dus ’n morele keuse: Vír beskaafde waardes en respek vir lewe, of daarteen.    

As dit dan nou nog so ’n “gekompliseerde” saak is vir die ANC-regering, hier is ’n voorbeeld so reg uit Moral Philosophy 101 om die saak te help oordink:     

Jou ou skoolvriend van jare gelede, wat jou eendag van verdrinking gered het, en wat jy nog gereeld kontak mee het, het intussen ernstige sielkundige probleme ontwikkel. Hy’s gediagnoseer met psigopatie en ontvang hulp, maar sy toestand is wisselvallig. Gisteraand klop hy aan jou deur. Julle gesels soos altyd lekker oor die ou dae en hy vra ewe terloops of hy jou jaggeweer kan leen vir die naweek (vergeet lisensie-aspekte en so aan, om die morele probleem duideliker te illustreer). Jy weet hy gaan tien teen een iemand vermoor. Wat gaan jy doen?

Dis waar dat Amerika nie ’n lid is van die Internasionale Strafhof nie, rusland en Oekraïne is ook nie. Lidlande het die reg om ’n nie-lidland te verwys vir wandade wat teen daardie land (militêre inval, volksmoord, ensovoorts) gepleeg word, en die saak sal oorweeg word as die nie-lidland die jurisdiksie van die hof aanvaar. Oekraïne het laasgenoemde in 2014 aanvaar. Meer as 20 lande het Oekraïne na die hof verwys. Lidlande het dus die reg om Amerika te verwys, byvoorbeeld, vir die inval in Irak. Dat dit nog nie gebeur het nie, beteken nie dat dit nie mág gebeur nie.

Maar dink ook wat dit sal beteken vir SA om sy lidmaatskap van die hof op te gee, watter boodskap dit aan die res van die wêreld en aan ander Afrika-lande sal gee! En veral ook aan wat dit vir SA se toekoms sal beteken.       

SA geboelie deur Amerika? Sanksies teen rusland is tog al ter sprake vir meer as ’n jaar lank?  Sanksies waaroor ooreengekom is deur die EU, die VK en Amerika, SA se belangrikste handelsvennote. Dit impliseer strafmaatreëls vir enige regering of organisasie wat daardie sanksies omseil. Waarom sal SA ’n uitsondering wees? Of liewer, hoekom beteken hierdie vraag in SA dat die land “geboelie” word deur Amerika? SA is tog vrywilliglik handelsvennote van daardie lande, of nie?

Dis vir my interessant hoe die SA regering nou, meer as ’n jaar ná die begin van die oorlog, iets doen wat hom sanksies op die hals kan haal (as die aanklag van wapenvoorsiening waar is). Vir my dui dit op ’n geboelie van ’n wanfunksionele regering vanuit ’n ander oord. As jy weet hoe relativering en “neutraliteit” in die kremlin misbruik word om steun te werf, sal jy verstaan watter oord dit is.

Lees ook:

Aan Rusland met liefde

Russia: One year later

Russians: Hostages of our own state

  • 2

Kommentaar

  • Chris Erasmus

    Die huidige regime moet volgens my eerstens probeer om die haglike gemors te probeer regstel waarin hulle die land in bestuur/gedryf het. Daar is duidelik geen begrip/kennis van diplomatieke en buitelandse protokol of beleid nie. Die enigste element van die SA bevolking wat nog nie aanbeweeg het nie, is die lot wat hulself as politici of leiers uitgee. Die Westerse moondhede het die regime aan bewind help bring en is ek seker hulle is te trots of skaam om te erken hulle het een groot fout begaan. Die geskiedenis van Afrika spreek boekdele, wat sou die landjie nou anders gemaak het.

  • Hans Richardt

    Westerse moondhede het boikotte en sanksies ingestel voor 1994, maar skynbaar net sportboikotte geskrap. ANC se hoofkantoor was in London, nie Moskou nie.
    Verder, was Dulcie September, hoof van ANC se Franse Parys kantoor, ook daar vermoor in sluipmoord. In New York en Den Haag was ook kantore van die ANC. Maw, die ANC is met Westerse mediasie aan bewind geplaas. Nêrens het USSR rol gespeel nie, behalwe dat die ANC mbv Westerse geld donasies wapens in USSR Voentorg militêre winkels gekoop het.
    Geen Eben Viktor of wie ookal, gaan my oortuig dat ons Oekraïene "lojaliteit skuld" nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top