Agtervolger is 'n voorgeskrewe boek vir Afrikaans Huistaal-leerders. Vicky Davis het die boek tot verhoogstuk verwerk. Sy is die skrywer van die dramateks en regisseur van die produksie by die US Woordfees vanjaar en vertel vir Naomi Meyer waarom leerders Saterdag 'n plan moet maak om te kom kyk.
Hallo Vicky, is Agtervolger ’n maklike manier om voor te berei vir jou graad 8-Afrikaans Huistaal-eksamen?
Soos met enige voorgeskrewe boek is dit van kardinale belang dat jy as student wel altyd die boek eers lees – die toneelstuk sal jou dan help om ’n visuele verbeelding van die literatuur te skep en so die materiaal en gebeure beter te kan onthou. As jy die boek gelees het, sal jy ook die verwerking meer geniet. Mense wat nie die boek ken nie, sal dit egter ook geniet, want die boek is tot toneelstuk verwerk om losstaande van die oorspronklike teks te kan funksioneer en vermaaklik te kan wees sonder dat die gehoor noodwendig agtergrondkennis benodig.
Hoe het Agtervolger jou pad gekruis, op jou spoor gekom – hoekom het jy Johann van Lill se boek tot teks verwerk en boonop ook die regie behartig?
Ek het voorheen betrokke geraak by die Hoërskool Bellville Nasionale Toneelspel Kompetisie vir Hoërskoolleerders in 2011 toe ek en Francois Bloemhof die ruimtelike teaterstuk Hel op Hemel en aarde geskep het en ek die regie behartig het vir daardie jaar se KKNK. Toe die organiseerders weer op soek was na iemand om Johan se boek te verwerk en die regie te behartig, was ek seker ’n ooglopende keuse, omdat ek beide die verwerking en die regie kon behartig. Ek het dit baie geniet om in 2011 met die studente te werk en ons stuk het goeie aftrek gekry, dus was ek bly om weer ’n geleentheid te kry om met die leerders te kan werk.
Jy het ’n voorgeskrewe boek tot teks verwerk. Hoe het jy dit reggekry om karakters se gedagtes wat mens net in die boek kan lees, op die verhoog te laat lewendig word?
Dit is altyd ’n uitdaging om gedagtestroom in dialoog om te sit, maar dit is maar iets wat met oefening kom – dis altyd belangrik om seker te maak die kern van wat oorgedra moet word aan die gehoor, word dan óf visueel uitgebeeld óf die dialoog word so aangepas dat die inligting uitkom, sonder dat dit geforseerd klink. Ek het al die hoofkarakter se terugflitse verfilm en bied dit as oudiovisuele beeldmateriaal op ’n skerm tussendeur tonele aan, en daarby het ek van die karakters in tipiese Survivor- of Big Brother-styl in kamera "confessions" laat doen oor hoe hulle oor mekaar voel en hoe hulle die staptog (die jong karakters gaan op ’n staptog deur Bain’s Kloof in Wellington) ervaar. Dit het lekker gewerk om die binnewêrelde van die karakters so te kon weergee aan die gehoor en die intrige vorentoe te laat beweeg.
Is Agtervolger net vir leerders bedoel? Sal ouer en jonger mense dit ook kan kom kyk?
Dit is beslis vir almal bedoel – alhoewel die boek voorgeskryf is vir leerders, het ons met die aanbieding gepoog om ouderdom-inklusief te wees - tieners en ouer garde sal dit geniet en ons raak nie net jongmensprobleme aan nie – dit is ’n universele storie waarmee almal sal kan vereenselwig.

Wat was vir jou as regisseur die lekkerste van hierdie toneelstuk? En die moeilikste?
Die lekkerste was om die jong akteurs te sien floreer van bangerige skoolkinders tot jong, sterk, professionele akteurs. Die vertolkings wat Theodore Jantjies en Kim Cloete op film gegee het, het ook my tone laat krul. Ek het dit baie geniet om binne ’n multimedia-opset te werk – ook om die studente die geleentheid te gee om voor die kamera en op die verhoog te kan speel en daardie ondervinding te kry. Ek raak ongelooflik opgewonde as ek dink aan die talentvolle mense saam met wie ek kon werk – van die akteurs tot die span jong filmmakers wat aan die videomateriaal gewerk het, en natuurlik Schalk Joubert en Ronan Skillen, wie se lewendige musiekvertolking en komposisies die stuk tot ’n volgende vlak verhef.
Lees ook hier ’n onderhoud met die toneelgeselskap.

| Agtervolger ’n Hoërskool Bellville Nasionale Toneelspelkompetisie-inisiatief, in samewerking met US Woordfeesen Suidoosterfees Met Theodore Jantjies, Dealen Fredricks, Llewellyn Steenkamp, Elandre Schwartz, Nicolette van Schalkwyk & Kim Cloete. Vervaardig deur Herman Pieters. Musiek: Schalk Joubert. Teks en regie: Vicky Davis Neville het nie oop kaarte met die ander drie gespeel nie. Hulle hoef mos nie te weet hoekom hy regtig op die staptog wou gaan nie. Wanneer te veel vreemde dinge gebeur, besef die vier jong mense dis ’n staptog soos geen ander nie en geeneen sal dié ervaring kan vergeet nie. ’n Boeiende spanningsdrama, gebaseer op Johan van Lill se boek. 15 Maart 10:00 & 12:30 | kykNET Hoërskool Stellenbosch | 60min | R60 |

