Agtervolger by die Suidoosterfees

  • 1

’n Groepie jongmense is op ’n staptog in die berge. Wanneer die donker hulle oorval, soek hulle skuiling in ’n ou bouval. Maar iets is nie pluis nie. Daar is ’n geheimsinnige man op hul spoor. En wat is die praatjies oor iets begrawe ...?

Agtervolger, vanaf 2014 die nasionale voorgeskrewe werk vir graad 8-leerders, word spesiaal vir die Suidoosterfees op die planke gebring.

Naomi Meyer vra drie van die akteurs, almal vanjaar in hulle eerste jaar op universiteit, om van hul ervarings in die produksie te vertel. Aan elkeen is dieselfde vrae gestel.

Baie dankie vir die geleentheid om te gesels. Hoe lyk jou drama-agtergrond – neem jy al lankal drama en speel jy gereeld toneel?

Elandré Schwartz: Ek het nog nie so ‘n groot projek soos Agtervolger aangepak nie. Sover het my toneelgeskiedenis net so ver gestrek soos skool- en kerkkonsertjies.

Safe to say, my drama-ondervinding het verbeter van net 'n bruin beer in die agtergrond. Alhoewel my passie musiekteater is, is slegs die drama in hierdie storie baie meer uitdagend.

Nicolette van Schalkwyk: Ek het sowat drie jaar gelede begin toneelspeel toe ek drama as vak gekies het. Ek het meestal in skoolproduksies gespeel, maar Agtervolger is die eerste professionele produksie waarin ek speel.

Dealan Fredericks: Ek het drama as 'n vak op skool gehad vanaf graad 8 tot in matriek. Ek het eers in graad 10, in 2011, begin om in tonele deel te neem. My eerste toneel was Klein Prinsie wat ons opgevoer het by die Namakwaland-tienertoneelfees, en ook by die ATKV-kompetisie in George, en het brons ontvang vir spel en was die hoofkarakter. In 2012 was ek in die produksie Krismis van Map Jacobs. Dit is 'n voorgeskrewe boek vir graad 12, en ek het die rol van apostel George vertolk. Dit was by baie verskillende feeste, soos die ATKV-kompetisie in George en Namakwaland-tienertoneelfees, en dit is ook by die Klein Libertas Teater opgevoer. Ek het vier goue toekennings ontvang en een silwer. Ek neem ook elke jaar aan die Nasionale Tienertoneel kompetisie deel.

Wat is jou rol in Agtervolger?

Elandré: Ek vertolk die rol van André.

Nicolette: Ek vertolk die rol van Emma. Sy is een van die vier vriende wat op 'n staptog in Wellington se berge gaan. Emma het 'n baie goeie verhouding met al drie vriende en 'n romantiese verhouding ontwikkel tussen haar en die karakter Zander.

Dealan: My karakter is Neville, die seun, wat deur baie dinge gaan en wat soveel dinge moet hanteer.

Ek wil nie hê jy moet te veel van die toneelstuk verklap nie, maar Agtervolger klink vir my nogal spannend. Is dit ook soos wat jy die toneelstuk sou beskryf? Hoe beleef jou karakter die storie?

Elandré: Die ligsinnigheid en humor wat deurlopend onder die vriende is, skep 'n groot kontras wanneer elke karakter innerlik uitgedaag word en die gehoor 'n dieper kant van die karakters ondervind wanneer tragedie die vriende tref. Die storie is beslis spannend en daar is "game changes" agter elke boom en draai..

Nicolette: Ja, Agtervolger het 'n baie sterk spanningslyn. Die spanning bou voortdurend deur die vier vriende se onsekerheid oor wie hul agtervolg. Emma se innerlike konflik dra by tot die spanning in die verhaal. Die geheime rakende haar verlede dra by to die algehele spanning in die drama.

Dealan: Dit is baie spannend. My karakter is die een wat net een rigting volg waarby hy wil uitkom, en hy probeer so hard om sy ma te help en om afhanklik te wees van sy pa. Hy is altyd in sy eie wêreld en sy vriende ken hom nie eintlik goed nie, omdat hy nooit uitpraat oor wat met hom aangaan nie. Hy maak nie maklik oop nie, omdat hy probeer om sterk te wees.

Wat is vir jou die grootste uitdaging van jou karakter – jou medekarakters of die toneelstuk self? En wat is die lekkerste?

Elandré: André is 'n ewig-honger, oorgewig, ligsinnige grapjas. André se tekort om in te
pas word vermom deur sy onophoudelike eetgewoontes. Hy bring 'n humoristiese aspek in tussen die liefdestruwelinge en drama op die staptog.

André is in soveel persoonlike opsigte die teenoorgestelde van my. Hy is glad nie gepla oor sy voorkoms nie. Ek dink enige karakter is 'n uitdaging om aan te pak, siende dat jy saam met jou kostuum 'n nuwe "mens" aantrek. Soos in die storie het ons groepie akteurs agter die skerms regtig boesemvriende geword wat die vriendskapverhouding op die planke baie meer natuurlik laat voorkom.

Nicolette: Emma het 'n ongelooflik borrelende persoonlikheid, maar sy het terselfdertyd ook 'n baie hartseer verlede. Ek vind dit nogal uitdagend om te alle tye beide hierdie aspekte van haar karakter te openbaar. Die vriendskap wat ons as spelers op die verhoog en van die verhoog af het, is ongelooflik lekker.

Dealan: Die groot uitdaging vir my karakter is om leiding te neem en terselfdertyd nog steeds sterk te bly, en om teen sy pa op te staan en om dinge te aanvaar wat gebeur het met hom en sy ma.

Vergeet vir ‘n oomblik die feit dat die boek ‘n voorgeskrewe boek is, hoewel dit seker nogal sal help om die teks beter te verstaan as mens dit nou moet lees. Waarom sou jy die toneelstuk kom kyk as jy nie daarin gespeel het nie?

Elandré: Baie tieners kan hul vereenselwig met die fases waarin elkeen van die karakters hulle bevind, of dit nou selfbeeld, liefdes of huisprobleme is. Die toneel is saamgeweef deur 'n uitstekende span akteurs, skrywers en vervaardigers wat beloof om 'n puik produk op die verhoog na vore te bring.

Nicolette: Ek sou Agtervolger kom kyk het vir die opvoedkundige waarde wat dit inhou. Dit leer kinders oor, onder andere, die gevare van sosiale netwerke asook oor wat ware vriendskap behels. Dit is 'n genotvolle stuk wat beide oud en jonk se aandag sal behou. Die stuk bevat 'n goeie balans van komedie en ernstige oomblikke.

Dealan: Net die naam van die toneelstuk vertel al baie. Dit gee nie baie besonderhede waaroor die toneelstuk gaan nie. Dit maak dat jy wil weet wat aangaan in die stuk en waaroor dit gaan. En jy wil onmiddellik weet wie of wat is die "agtervolger" is. Dit maak dat ek dan die toneelstuk wil kyk.

Agtervolger word opgevoer op Dinsdag 28 Januarie om 15:00, Woensdag 29 Januarie om 15:00, Donderdag 30 Januarie om 10:00, Vrydag 31 Januarie om 10:00, Saterdag 1 Februarie om 9:30 en Sondag 2 Februarie om 10:00 by die Kunstekaap Arena. Kaartjies kos R75 en kan by Kunstekaap of Computicket gekoop word.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top