
Komplottery (Die einde van ’n wêreld): Die tweede keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh
Tweede verslag: Komplottery (Die einde van ’n wêreld)
Die verhaal lees nou baie lekkerder, en daar is nog net ’n bietjie skaafwerk oor.
Hoekom het jy die titel verander? Ek dink die eerste titel was baie beter, dit werk subtiel met ’n dubbele betekenis omdat dit ’n sametrekking is van twee vaste uitdrukkings: die einde van die wêreld en die einde van ’n era. In hierdie verhaal is dit dus “die einde van ’n wêreld” vir die verteller, naamlik sy vriendskap met Klaas wat amper verlore was, terwyl dit ook die eggo dra van “die einde van die wêreld”, wat die obsessie van alle conspiracy theorists is.
Wat die tydsvorme (verlede tyd en historiese presens) betref, het dinge ’n bietjie verkeerd gegaan. Laat ek meer volledig verduidelik: in Afrikaans word ’n storie by default in die historiese presens vertel, met terugflitse en herinneringe in die verlede tyd. Maar as laasgenoemde as volledige tonele uitgebeeld word (met ander woorde, as dit lank word), word verlede tyd aan die begin gebruik om te wys dit gaan oor iets wat werklik in die verlede gebeur het. Slaan dan so gou as moontlik oor na die historiese presens (dis eintlik ’n baie natuurlike oorgang wat die meeste skrywers maklik aanvoel) en vertel die res van die toneel in die historiese presens.
Jy moet dus by die volgende twee plekke van die verlede tyd na die historiese presens oorslaan:
Bl. 3:“Brandon, aangenaam,” sê hy te midde van [verander dit na met] ’n besonders [skrap die s] stywe handdruk en oë wat stip in myne kyk. Verander wat volg in die historiese presens tot by: “Ons het ’n vraag vir julle,” sê Brandon met ’n strak gesig.
Bl. 5: Hierdie moet ook in die historiese presens wees – kyk hoe natuurlik het jy by die laaste sin oorgeslaan na die historiese presens om die gesprek uit te beeld: Twee gesprekke het my tot die besef gebring dat dit my vriendskaplike plig teenoor hom en my burgerlike plig teenoor die samelewing is, om in hierdie situasie op te tree. Ek besluit om my gat in rat te kry en om nie meer passief te wees nie. Die eerste gesprek was tussen my en Klaas. Dit speel op ’n laat Vrydagmiddag in my koshuiskamer af ...
Nog iets waarop jy moet let, is te hoogdrawende taal – die padlangse uitdrukking is gewoonlik die beste, behalwe as jy hoogdrawendheid spesifiek satiries wil gebruik, byvoorbeeld om iemand te tipeer of belaglik te maak. Hier is ’n paar voorbeelde met onderstreping:
- Natuurlik wou hy my ook van al hierdie skrikwekkende dinge oortuig. Eendag sit ons langs die swembad en beer shandy drink en hy vertel my van sy gewaarwording by Sondagskool ... – ek stel voor jy verander dit as volg om dit eenvoudiger te maak: Natuurlik wou hy my ook van al hierdie skrikwekkende dinge oortuig. Op ’n lekker sonnige dag langs die swembad sal ’n gesprek tussen ons só verloop ...
- Een aand is daar ’n braai by een van ons gemeenskaplike vriende se huis gehou. – maak dit bloot: Een aand braai ons by gemeenskaplike vriende se huis. Let daarop dat dit in die historiese presens moet wees.
- Divan staan daarvoor bekend dat hy oordryf ... – maak dit eerder: Ons almal weet Divan oordryf ...
- Later die aand, toe Klaas reeds sy opwagting by die aangeleentheid gemaak het, daag Nina en Brandon daar op ... – maak dit eerder: Later die aand, toe Klaas al daar is, daag Nina en Brandon op.
In lang spreekbeurte dui ’n mens so gou as moontlik aan wie die spreker is, jy plaas dit nie aan die einde van die spreekbeurt nie: “Die ding is, as ’n mens so hard na tekens gaan soek, gaan jy dit kry,”sê ek. “Gaan kyk bietjie 23 van Jim Carrey. Dit beeld hierdie einste ding baie goed uit. En ás dit waar is dat hierdie tekens nie toevallig is nie, hoekom sit hulle dan die tekens op plekke waar mens dit kan sien?” vra ek. – skrap dit. Kyk vir ander gevalle en korrigeer dit ook.
Daar is nog ’n paar kleiner goed wat verbeter kan word, maar dit kan oorstaan vir die redigeerfase. Nog net twee dinge:
- ’n Glock is ’n pistool, nie ’n geweer nie.
“Dit het die oorspronklike gewatermerkte wapen van die Illuminati en Vrymesselaars op” – kyk in HAT wat die verskil is tussen waarmerk en watermerk. Hier moet dit watermerk wees, as volg gebruik: “Dit het die oorspronklike wapen van die Illuminati en Vrymesselaars op, watermerk en al”.
• Lees die tweede weergawe: "Komplottery (Die einde van ’n wêreld)"
• Lees die eerste weergawe: "Komplottery (Die einde van ’n wêreld)"
• Lees die eerste keurverslag oor "Komplottery (Die einde van ’n wêreld)"
• Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

