Die Laaste Tango is nie háár laaste tango nie

  • 0

Die Laaste Tango se premières vind op 18 en 20 Junie in onderskeidelik Kaapstad en Johannesburg plaas. Antoinette Louw het met Naomi Meyer gesels voor die fliek - maar tog ook ’n paar geheime gehou.

Antoinette, ek kyk op YouTube hoe jy die tango demonstreer.

Al ooit, voor jy vir hierdie rol genader is, iets vir hierdie vorm van dans gevóél?

Nog nooit nie. As kind het ek ballet en Spaanse danse geneem, maar die tango is iets anders. Dis sensueel, en beeld die warm verhouding tussen man en vrou uit. Dis speels en tergend. Dis wonderlik!

Het jy Scent of a Woman gekyk terwyl jy voorberei het? Of enige ander films of vertonings bygewoon? Of in jou karakter se vel ingeklim en haar haar eie tango laat interpreteer?

Nee, ek het nie gekyk nie. Ek wou my eie ding doen. Ek het wel baie tango-musiek geluister wat in my vel geklim het. Op daardie manier het ek dit my eie gemaak.

Die tango staan in skrille kontras tot die baie bloed wat ons in die voorskou van die film sien.

Wat oorheers vir jou in die storie: die aksie of die emosie?

Die emosie. Alhoewel daar bloed is, is dit nie dryfkrag van die storie nie. Beide karakters se emosionele lewe dryf die storie. Dis waarom ek so van die teks gehou het – dit het meer dimensie as net ooglopende “skop, skiet en donner”.

Twee dinge wil jou karakter doen. Die een is tango. Wat is die ander? (Ek raai jy gaan my nie vertel nie. Vertel my dan maar iets anders ...)

Dit kan ek definitief nie verklap nie, want dis iets wat Louw Venter se karakter ook moet ontdek. Al wat ek kan sê, is dat daar nog nooit ’n karakter in ’n Afrikaanse fliek was wat dit wou gehad het nie! Dus: my geheim.

Ons almal wil natuurlik ook weet: hoekom die laaste” tango? En wie s’n? (Nog ‘n vraag wat jy nie gaan wil antwoord nie ...?)

Mmmm ... ook my geheim. En wie weet, dalk is my karakter nie so onskuldig soos wat sy lyk nie ...  

Vertel my dan eerder of ook: Waarmee is jy nou weer besig? Ek sien jy vervaardig produksies by die Vryfees, wat spoedig in Bloemfontein afskop.

Ja, ek het die bekende Children of a lesser godvertaal en verwerk na Kinders van stilte. Ek vervaardig dit en speel ook self daarin. En al die dowe karakters word deur dowes gespeel. Die vroulike hoofrol word deur Vicki Fourie (voormalige Mej Dowe Suid-Afrika) vertolk. Zane Meas speel die manlike hoofrol. Baie opgewonde, want so iets is nog nooit in Afrikaans gedoen nie. En ons wil graag ’n bydrae lewer tot die bewusmaking van doofheid in Suid-Afrika. Daarby gaan ’n persentasie van die kaartjieverkope na die NID (Nasionale Instituut vir Dowes).

Die tango is duidelik nie Antoinette Louw se laaste een nie.

Kyk foto's van die film se openingsaand in Kaapstad.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top