7 Days in Entebbe: ’n filmresensie

  • 0

7 Days in Entebbe
Regie: José Padilha
Draaiboek: Gregory Burke
Spelers: Rosamund Pike, Daniel Brühl, Eddie Marsan, Nonso Anozie, Angel Bonanni, Andrea Deck, Lior Ashkenazi

As die kompleksiteite van Suid-Afrika se woordestryd oor wie se land dit is ’n mens wil oorweldig, gee hierdie film oor Israel/Palestina nogal perspektief. Waar ons ten minste nog ’n debat het, is daar nie eens meer sprake van gesprek in dié gekwelde land nie, net voortgesette geweld.

7 Days in Entebbe fokus op ’n hoofstuk uit dié geskiedenis en speel af in Junie 1976 (skaars ’n week ná die deurslaggewende Soweto-opstand in Suid-Afrika). Die vorming van die Joodse staat in 1948 is begroet deur Palestynse verset, met die Palestynse Bevrydingsleër (PLA) wat mettertyd ondersteun is deur diverse militante individue en organisasies soos die Duitse Baader-Meinhof-groep. Twee uit dié losse groepering, Brigitte Kuhlmann (Rosamund Pike) en Wilfried Böse (Daniel Brühl), was deel van die ingewikkelde PLA-operasie wat in die film uitgebeeld word: kaap ’n vlug van Air France wat ’n klomp Joodse passasiers insluit in Athene en vlieg na Entebbe-lughawe in Uganda, waar president Idi Amin sy samewerking beloof het om ’n eie politieke agenda te bevorder. In Tel Aviv woed ’n stryd tussen premier Yitzhak Rabin (Lior Ashkenazi) en Shimon Peres (Eddie Marsan), minister van verdediging. Rabin wil onderhandel, terwyl Peres aandring op ’n gewaagde reddingspoging, Operation Thunderbolt.   

Die sterk punt van die film is dat dit ’n hele verskeidenheid gesigspunte weergee, eerder as dat dit eensydig kant kies. Wat ’n mens oplaas bybly, is dít: As ’n oog vir ’n oog vergeld word, is die hele wêreld uiteindelik blind. Hierdie ewewigtige benadering word versterk deur ’n besonder treffende verteltegniek: die film open met ’n groep dansers wat repeteer met kenmerkende Joodse volksang as begeleiding, terwyl die finale vertoning op dieselfde tyd as die redding plaasvind, en met dié kunsgreep word die gebeure in ’n universele konteks geplaas.

Hoog aanbeveel vir denkende fliekvlooie.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top