
Herman Binge-filmprys 2025
Wenner: PJO Jonker vir Die Onsigbare (Tafelberg)
Commendatio: Kerneels Breytenbach
Diep in die nag het dit gereeld gebeur. Hy droom hy val.
So begin PJO Jonker se roman, Die Onsigbare.
Aan die einde van die verhaal lees ons: Binne in hom is alles skielik stil. Hy voel vry. En daar is geen vrees meer nie. Niks. Net blydskap. Hy staan op.
Vriende, medelesers, PJO Jonker se roman Die Onsigbare is ’n boek van hoop. Een wat jou laat sien: mense, ellende, misplaasde drome. Een wat jou laat ruik: die Karooveld, die klipkraal se skaapdrolle, geweerolie op die metaal van ’n vuurwapen, die kombuisvloer en die hond wat die alleenloper-plaasboer nie onder sy oë laat wegkom nie. ’n Roman oor ’n man met ’n spraakgebrek, maar wat in sy siel voel hy wil praat, hy wil getuig. Nou skryf hy met potlood op papier. Woorde: Vry. Val. Jakkalse het gate. Voëls het neste. En word die roman ’n viering van dít wat mens ’n goeie storie sou kon noem, sowel as ’n metafoor wat lesers konfronteer met hulle eie vrese vir die toekoms van Suid-Afrika.
Die Onsigbare het nie net die Afrikaanse letterkunde verruim nie. Dit het ook bewys dat daar nog lesers in hul derduisende is wat nie terugdeins vir ’n boek wat tot hul spreek oor hul toekoms nie. Ons almal kan droom ons val. Ons kan ook weer opstaan, sonder vrees.
Jada Olivier, die spraakstramme jong boer van Erfdeel, onderneem ’n epiese reis. Die uiteenlopende ruimtes van sy pad – van die droë vlaktes en stofpaaie van die Karoo tot die lawaaierige agterstrate van Kaapstad – skep ’n besonder sterk visuele raamwerk en dit is presies wat Die Onsigbare se aanspraak op die Herman Binge-prys so sterk gemaak het. Jy wil nie net die storie verbeel nie. Jy wil dit sien. Want sien is glo.
Die roman ondersoek universele temas – geloof en twyfel, skuld en vergifnis, liefde en verlies – op ’n manier wat in enige kultuur resoneer. Hoewel dit diep gewortel is in die Suid-Afrikaanse werklikheid – met verwysings na grondbesit, sosiale ongelykheid, en die spanning tussen gemeenskappe – spreek dit ook tot universele menslike ervarings: die soeke na identiteit, die behoefte aan verbondenheid, en die hoop op verlossing, wat die verhaal juis uitnemend verfilmbaar maak vir beide plaaslike sowel as internasionale gehore.
Uit die verhaal spring fisieke dinge letterlik na die silwerdoek om metafore sigbaar te maak. Daar is die rooikat, die spoorlyn, die kiepersol. En die bergkrans, waar Jada sy vrees gaan aflê. Dít, voorspel ek nou, sal een van die ikoniese tonele in die Afrikaanse rolprentkuns word.
Uit ’n filmiese oogpunt gee die veelvoud unieke karakters aan ’n rolprentregisseur ’n merkwaardige kans om ensemble-spel te verfyn. Jada, met sy innerlike worstelinge en sy strewe na betekenis, is ’n protagonis met diepte en kompleksiteit. Daarby skep sy dinamiese verhouding met Katryn (die “Meisiekind” wat hy uit die stad probeer red), sowel as met Anys, sy lojale bondgenoot, dramatiese en emosionele hoogtepunte waarvan ’n akteur maar net kan droom.
Die narratief is gebou op ’n klassieke U-struktuur waarmee soveel filmregisseurs, van die Japanse Nagiso Oshima tot die Griekse meester Theo Angelopoulos uit eenvoudige menswees universaliteit geskep het: ’n aanvanklike toestand van stabiliteit, ’n afdaal in chaos en verlies, en uiteindelik ’n herstel van hoop en betekenis. Hierdie boog skep natuurlike draaipunte en klimakse wat Die Onsigbare sonder groot aanpassings kan volg.
Met hierdie boek, PJO Jonker se eerste, het hy ’n verhaal geskep wat tydloos is. Op die silwerdoek sal dit onvergeetlik wees.
Lees ook:
Die onsigbare deur PJO Jonker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

