28ste Kanna-toekennings luisterryk in Franschhoek gevier

  • 0

Blaai na onder om na die aand se foto’s te kyk, of klik hier.

Die 2024-Kannas is Donderdagaand by Leopard’s Leap in Franschhoek oorhandig en die inklusiwiteit van die fees is deur verskeie Kanna-ontvangers beklemtoon. Foto’s: Clifford Roberts

Die 2024-Kannas is Donderdagaand by Leopard’s Leap in Franschhoek oorhandig en die inklusiwiteit van die fees is deur verskeie Kanna-ontvangers beklemtoon. Selfs die seremoniemeester, die bekroonde joernalis Marianne Thamm; die uittredende doktor Ismail Mahomed, direkteur van die KKNK; en Crispin Sonn, voorsitter van die KKNK-direksie die afgelope sewe jaar, het verskeie male gesê dat hulle ná jare van distansiëring nou trots hul betrokkenheid by die fees verkondig. Die fees doen werk van onskatbare waarde om die plaaslike gemeenskap by die kunste te betrek, maar ook om aan jong akteurs en musikante nuwe geleenthede te skep.

Ismail het gesê die fees het gegroei uit ’n fees van angs na ’n fees van geleenthede vir almal.

........
Ismail het gesê die fees het gegroei uit ’n fees van angs na ’n fees van geleenthede vir almal.
........

Mahomed en Sonn het albei spesiale Kanna-erkennings as direksielede ontvang.

“Daar was vanjaar meer as 100 produksies op die fees te sien, waarvan 40 debuutwerke was. Die fees het werk aan meer as 1000 mense verskaf en benewens die viering van kuns, is die ekonomiese inspuiting in die dorp en streek ook reusagtig,” het Thamm vertel.

Die Kanna-trofee vanjaar was ’n geraamde kunscollage van Karoo Kaarte, die KKNK se bekroonde multidissiplinêre kunsteprogram.

Drie debuutproduksies wat by vanjaar se KKNK, geborg deur Absa, op Oudtshoorn te sien was – Die stoele, Die swartmerrie en Patmos – is elk vir ses Kanna-pryse benoem en het ook skoonskip gemaak toe die wenners aangekondig is.

Die stoele, ’n tragi-klug deur Eugène Ionesco, is benoem vir beste tegniese bydrae (Marthinus Basson se stel en kostuums), beste toneelaanbieding, beste debuutwerk, beste manlike speler in ’n hoofrol (Chris van Niekerk), beste vroulike speler in ’n hoofrol (Antoinette Kellermann) en beste regie (Marthinus Basson).

Dit wen beste manlike speler, beste vroulike speler en beste toneelaanbieding. Chris van Niekerk vertel aan die gehoor met ontvangs van die trofee dat almal wat met teater gemoeid is, die braafste mense is wat hy ken. “Mag die muse ons almal van nou tot in die toekoms seën.”

Oor ’n glas wyn later, vertel hy vir my dat die rol in Die stoele sy moeilikste rol nog was. “Maar dat niemand ’n teks kan ontleed soos Marthinus Basson nie en Antoinette ’n wonderlike medespeler was.” Sy wen ook die Kanna as beste vroulike byspeler in ’n ondersteunende rol as mishandelde vrou en ma, in Philip Rademeyer se Goed wat wag om te gebeur.

Die swartmerrie, ’n plekspesifieke drama van die KKNK se bekroonde Karoo Kaarte-projek, is benoem vir uitnemende literêre bydrae, beste toneelaanbieding, beste debuutwerk, beste manlike speler in ’n hoofrol (Theo Witbooi), beste vroulike speler in ’n hoofrol (Chantell Phillipus) en beste regie (Neil Coppen). Dit wen beste debuut en beste regie.

Willem Anker se Patmos is benoem vir beste ensemble, twee benoemings vir beste tegniese bydrae (Pierre-Henri Wicomb vir musiek en Jaco Bouwer vir ontwerp), beste debuutwerk, beste vroulike speler in ’n hoofrol (Tinarie van Wyk Loots) en beste regie (Jaco Bouwer). Willem Anker ontvang (in absentia) die Spesiale NATi-prys vir hierdie werk en Jaco vir uitnemende tegniese bydrae.

Twee dramas is elk vir vyf Kannas benoem. Philip Rademeyer se Goed wat wag om te gebeur is benoem vir beste ensemble, uitnemende literêre bydrae, beste toneelaanbieding, beste manlike speler in ’n hoofrol (Gideon Lombard) en beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol (Antoinette Kellermann), wat laasgenoemde wen. Philip ontvang die Kanna vir uitnemende literêre bydrae.

Monsters, ’n eksperimentele drama deur Niklas Rådström, is benoem vir beste ensemble, beste manlike speler in ’n ondersteunende rol (Ntlanhla Kutu), twee benoemings vir beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol (René Cloete en Michele Burgers) en beste regie (Tinarie van Wyk Loots). Dit wen beste ensemble. René praat namens die span en sê dit was elke keer aaklig om op die verhoog te gaan weens die swaar inhoud van die stuk, maar dis wonderlik om erkenning vir die werk te kry.

Die Kanna-paneel se sameroeper Felicia Lesch het aan die gehoor vertel dat die paneel 127 produksies gesien het en soms moes verdeel, sodat hulle betyds vir alle vertonings kon wees.

Sy het gesê dat Karoo Kaarte die afgelope drie jaar gegroei en regmatig deel van die KKNK geword het. “Ons as paneel wil hierdie projek wat soggens vroeg reeds met begeleide staptoere begin het, maar ook visuele kunsuitstallings, ’n toepassing, ’n grafiese roman én ’n uitmuntende plekspesifieke teaterproduksie ingesluit het, uitsonder. Dit is voorwaar ’n voorbeeld van hoe egte gemeenskapsbetrokkenheid in die kunste en by kunstefeeste móét gebeur,” het sy vertel.

Sy het ook kinderteater uitgelig en gesê: “Dit was ook hierdie jaar opvallend dat daar soveel meer kinderteaterproduksies op die feesprogram was, asook die hoë gehalte daarvan. Dit wys die genre is besig om te groei en ons is dankbaar daaroor, want dit beteken ons kweek nuwe gehore.

“Die terugkeer van dansteater met onder andere ikoniese Suid-Afrikaanse choreograaf en danser, Dada Masilo, asook Figure of 8 Dance Collective het ook inhoud vir jonger gehore bevorder.” Figure of 8 Dance Collective wen vanjaar die Herrie-prys (meer hier onder).

Die res van vanjaar se onafhanklike Kanna-paneel was Frazer Barry, Amelda Brand, Diane de Beer, Ilza Roggeband, Marianne Thamm en Haddad Viljoen.

Sihaam van Schalkwyk van Absa het ook vertel hoe trots die bankgroep is om al vir 22 jaar die borg van die fees te wees.

Toe Elzabé Zietsman haar Kanna vir beste aanbieding: musiek vir Vier Panado’s en ’n Chardonnay gaan ontvang, sê sy dat sy vir 15 jaar nie opgetree het nie, maar “die Ziets is terug!”, wat dawerende applous ontlok het.

Die klug Su’walla Kassam, een van die US Première Teaterfees-wenproduksies van 2023, is twee keer benoem vir beste opkomende kunstenaar of nuweling (Angelo Bergh vir sy spel en Mikyall Harris vir sy teks), beste komedie-aanbieding en beste manlike byspeler in ’n ondersteunende rol (Angelo Bergh). Dit stap weg met die Kanna vir beste komedie en Mikyall vertel dat hy altyd ’n bruin klug wou skryf en nie kan glo hy het en dat dit wen nie. Die hele span is op die verhoog en oorstelp met vreugde.

Roem: ’n musiekverhaal, deur Deon Meyer en Coenie de Villiers, is benoem vir beste opkomende kunstenaar of nuweling (Nelandi Boshoff), beste tegniese bydrae (Stefan Benadé en Nicole Holm vir stelontwerp) en beste manlike speler in ’n ondersteunende rol (Eldon van der Merwe). Eldon is ook benoem vir beste manlike speler in ’n hoofrol vir Fietsry vir dommies; hy wen die Kanna vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol vir Roem. Eldon sê daar was baie kostuums-ruil agter die skerms vir al die rolle wat hy vertolk het, maar dit was vet pret.

Beste Lucky Pakkie-aanbieding is een van die nuwe kategorieë vir Kannas wat vanjaar bygevoeg is om erkenning te gee aan dié korttekste van 15 minute. Karli Heine wen hier dié Kanna.

’n Spesiale Kanna vir diens aan die KKNK en ’n Kanna vir uitsonderlike tegniese diens aan die KKNK is ook tydens die geleentheid oorhandig.

Die spesiale diens aan die KKNK is aan Kobus Spies toegeken. Die Kanna vir uitsonderlike tegniese diens is deur Pieter-Jan Kapp aan Dawid van Eeden oorhandig wat al 28 jaar deel van die KKNK is.

Die Herrie is ook aan die Figure 8-dansgeselskap oorhandig vir Set in motion en Grant van Ster het aan die paneel en gaste gesê dis wonderlik dat dans as kunsvorm gesien en erken word.

  • Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, word van Dinsdag 1 tot Sondag 6 April 2025 op Oudtshoorn aangebied. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Die volledige lys Kanna-wenners is as volg:

  • Kanna vir beste opkomende kunstenaar of nuweling: Angelique Filter (The old man who thought he had a dog – teks, regie en spel);
  • Kanna vir beste aanbieding: visuele kuns: Richard Specs Ndimande en Dineke Orton (Becoming animal – groepuitstalling);
  • Kanna vir beste ensemble: Monsters;
  • Kanna vir uitnemende tegniese bydrae: Jaco Bouwer (Patmos – ontwerp);
  • Kanna vir uitnemende literêre bydrae: Philip Rademeyer (Goed wat wag om te gebeur);
  • Kanna vir beste aanbieding: musiek: Vier Panado’s en ’n Chardonnay;
  • Kanna vir beste aanbieding: toneel: Die stoele;
  • Kanna vir beste aanbieding: Lucky Pakkie: Karli Heine;
  • Kanna vir beste aanbieding: kinderteater: Bounced;
  • Kanna vir beste aanbieding: komedie: Su’walla Kassam;
  • Kanna vir beste debuutwerk: Die swartmerrie;
  • Kanna vir beste manlike speler in ’n hoofrol: Chris van Niekerk (Die stoele)
  • Kanna vir beste vroulike speler in ’n hoofrol: Antoinette Kellermann (Die stoele)
  • Kanna vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol: Eldon van der Merwe (Roem: ’n musiekverhaal);
  • Kanna vir beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol: Antoinette Kellermann (Goed wat wag om te gebeur); en
  • Kanna vir beste regie: Neil Coppen (Die swartmerrie)
Kyk die foto’s hier:

Televisie-aanbieder en aktrise, Marciel Hopkins-Lourens, en Margit Meyer-Rödenbeck by die geleentheid afgeneem. Die Kannas-geleentheid is vir die kykNET-program Bravo! opgeneem en word op 23 Mei om 21:00 uitgesaai. (Foto: Clifford Roberts)

Elzabé Zietsman ontvang die Kanna vir beste musiek vir Vier Panado’s en ’n Chardonnay en Antoinette die Kanna vir beste vroulike speler in ’n hoofrol vir Die stoele en beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol vir Goed wat wag om te gebeur. (Foto: Clifford Roberts)

Gideon Lombard is benoem vir beste manlike speler in ’n hoofrol vir Goed wat wag om te gebeur en Ludwig Binge vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol vir Veelhoek. (Foto: Clifford Roberts)

Chantell Phillipus is genomineer vir die Kanna vir beste vroulike speler in ’n hoofrol vir Die swartmerrie. By haar staan haar man William. (Foto: Clifford Roberts)

Die swartmerrie wen die beste debuutwerk. Van links is Theo Witbooi (manlike hoofrol), die resensent, Diane de Beer, Chantell Phillipus (vroulike hoofrol), Tiffany Saterdaght wat die teks behartig het en Neil Coppen, regisseur. (Foto: Clifford Roberts)

Elzabé Zietsman wen die Kanna vir beste musiek. (Foto: Clifford Roberts)

Richard Specs Ndimande (links) en Dineke Orton wen die Kanna vir beste aanbieding: visuele kuns (Becoming animal – groepuitstalling). By hom staan Sihaam van Schalkwyk van Absa. (Foto: Clifford Roberts)

Chris van Niekerk ontvang die Kanna vir beste manlike speler in ’n hoofrol vir Die stoele, wat ook die beste toneelaanbieding gewen het. (Foto: Clifford Roberts)

Antoinette Kellermann wat twee Kannas ontvang het, by die Kanna-paneelsameroeper, Felicia Lesch. (Foto: Clifford Roberts)

Die klug Su’walla Kassam stap weg met die Kanna vir beste komedie en Mikyall Harris, teksskrywer, tweede van links, vertel dat hy altyd ’n bruin klug wou skryf en nie kan glo hy het en dat dit wen nie. Heel links staan die Kanna-borg vir dié afdeling, Maryke Visser van Checkers. (Foto: Clifford Roberts)

Ismail Mahomed, direkteur van die KKNK, en Crispin Sonn, voorsitter van die KKNK-direksie die afgelope sewe jaar, wat albei vanjaar uittree, het albei spesiale Kanna-erkennings as direksielede ontvang. By hulle staan Lizane Basson en Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. (Foto: Clifford Roberts)

Monsters wen die Kanna vir beste ensemble. Van links is Ntlanhla Kutu, Michele Burgers, René Cloete, Crispin Sonn, uittredende voorsitter van die KKNK-direksie, en die stuk se regisseur, vertaler, vervaardiger en aanpasser, Tinarie van Wyk Loots. (Foto: Clifford Roberts)

Neil Coppen ontvang die Kanna vir beste regie vir Die swartmerrie met Lisa Sonn en Marianne Thamm in die agtergrond. Die prys is deur Crispin en Lisa geborg. (Foto: Clifford Roberts)

Nita Cronjé van die ATKV oorhandig die prys vir kinderteater aan die span van Bounced. (Foto: Clifford Roberts)

Die Kanna vir uitsonderlike tegniese diens is deur Pieter-Jan Kapp (links) aan Dawid van Eeden oorhandig wat al 28 jaar deel van die KKNK is. (Foto: Clifford Roberts)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top