21 nuwe tekste word vanjaar by Teksmark voorgelê

  • 0

Laai die program af: Teksmark 2021 - Afrikaanse program

***

Die sesde aanbieding van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se bekroonde Teksmark, vind van 17 tot 19 November by die Baxter-teatersentrum in Kaapstad plaas.

Teksmark word in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxter-teatersentrum aangebied, ondersteun deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Wes-Kaapse Regering se Departement van Kultuursake en Sport.

Teksmark bied 'n geleentheid aan teksskrywers om hul idees in die vorm van uittreksels te toets, wanneer dit as leesteater voorgelê word. Vanjaar word 21 tekste aangebied waarvan 13 tekste deur 'n onafhanklike paneel gekeur is uit die aansoeke wat ontvang is, drie tekste uit Première Atelier van die Universiteit Stellenbosch se Dramadepartement, asook vyf van die Suidoosterfees NATi Jong Sterre-projek.

Vanjaar se is voorstelle is: An Enchanted History of Jeanne Baret deur Klara van Rooyen, Arm.Alarm deur Wilken Calitz, Blood Bonds deur Vuyokazi Ngemntu, Brand asem deur Bauke Snyman, Change Chameleon, Change deur Lee Doubell, Dankie, maar nee dankie deur Stephren Saayman, Die tafel van die ongewenstes deur Henry Jacobs, Casper Lourens en Maryke van der Walt, Die kontemporêre kunskomplot deur Philip Theron, Grope-vir-jou en Juliet deur Frances Bruwer en Minke Marais, iDlozi la Manga deur Tshegofatso Mabele, Koning van die Diereriem deur Marí Borstlap, Maanskyn en dorings deur Heloïne Armstrong, Met liefde, Vincent deur Melissa Myburgh, Nipped in the Butt deur Nisa Smit, Oom Bey, my pa deur Henque Heymans, Semels deur Miandra Hayward, Sleeping with the Enemy deur Lwanda Sindhaphi, Space on Long Street & The Imitation of a Noise deur Loryn Dyan Thomas, Staan uit die water uit deur Mercy Kannemeyer, The Dawn deur Jane Mpholo en What happens in Russia ... deur Michaela Weir.

"Belangstellendes kan Teksmark bywoon deur hul plek aanlyn te bespreek. Maar omdat spasie beperk is as gevolg van COVID-19-protokol wat streng gevolg word, sal die sessies ook regstreeks gestroom word vir dié wat nie die geleentheid kan bywoon nie om aanlyn aan te sluit," vertel Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Volgens Theart sien hulle uit na 'n terugkeer tot die verhoog van vele akteurs en regisseurs, waaronder Brendon Daniels, Lara Bye, Wilhelm van der Walt, Milan Murray, Stian Bam, Nicole Holm, Antoinette Louw, Veronique Jepthas, René Cloete, Ira Blankenberg, Charlton George, André Roothman, Amalia Uys, Noxolo Bodlani, Basetsana Motloung, Mthuthuzeli Zimba, Tankiso Mamabolo en Zamah Nkhonyeni om 'n paar te noem.

"Ons het nou – meer as ooit – nodig om ons stories te vertel. Ons het skrywers en die kunste nodig en ek glo dat daar uit vanjaar se aanbod 'n oes van stories is waarin daar vir verdere ontwikkeling belê gaan word," vertel hy. Theart vertel ook dat Teksmark vanjaar uitgebrei is met Teksmark Oudtshoorn, spesifiek daarop gefokus om stories uit die streek te ontgin en aan storievertellers en skrywers van hier 'n platform te bied. " 'n Internasionale sustersprojek, oftewel TEKSTMARKT, het ook die lig gesien, wat skrywers van Suid-Afrika en Nederland byeenbring om stories vir internasionale gehore te ontwikkel."

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê toe Teksmark ses jaar gelede begin het, sou hulle beswaarlik kon voorspel hoe groot die impak op die teaterbedryf sou wees. "En hier is ons nou, een pandemie later, besig met die sesde aanbieding en die tekste stroom steeds in. Dit is baie duidelik dat ons skrywers nou éérs baie het om te sê en te vertel. Dit is, soos altyd, vir NATi 'n geweldige voorreg om weer betrokke te wees by die Teksmark."

Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxter, sê ondanks die uitdagings en verliese wat die wêreldwye koronaviruspandemie tot gevolg gehad het: op kunstenaars, teaters, feeste en die kunstesektor, het Teksmark – soos die Baxter – volhard. "Ons is opgewonde om deur hierdie veerkragtigheid uit te sien na die sesde Teksmark."

Tydens Teksmark word kort uittreksels uit tekste as leesteater opgevoer, waarna daar gesprekke oor die teks gevoer word. Hier word die gehoor uitgedaag en begrip word tussen individue van verskillende agtergronde en opinies gekweek.

"Spasie in die teater is beperk, maar ons verwelkom graag rolspelers en betrokkenes in die teaterindustrie asook publiek by die Baxter-teatersentrum se Golden Arrow Studio van 17 tot 19 November. Alle COVID-19-riglyne word gevolg," sluit Theart af.

Bespreek jou plek op die KKNK se webblad by www.kknk.co.za/teksmark.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top