2025-UJ-debuutprys vir Afrikaans vir Een voet innie kabr deur Gaireyah Fredericks: commendatio

  • 0

Boekomslag: Kwela

Die wenner van die 2025-UJ-prys is Gaireyah Fredericks vir haar roman Een voet innie kabr (Kwela). Hier is Karen de Wet en Earl Basson se gesamentlike commendatio by oorhandiging van die prys.

Dit is vir my ’n besondere eer om vanmiddag Gaireyah Fredericks se bundel korttekste, Een voet innie kabr, vir die 2025-Universiteit van Johannesburg Debuutprys vir Afrikaans aan te beveel.

Ek doen dit deur twee kort inskattings van die bundel as vertrekpunt te neem, dié van medebeoordelaars, Bibi Burger van die Universiteit van Kaapstad, en Mercy Kannemeyer, kollega aan die Universiteit van Johannesburg.

In die tweede deel van die commendatio stel ek dan Earl Basson van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, wat ongelukkig nie die geleentheid kon bywoon nie, aan die woord.

I

In haar beoordelingsverslag vir Een voet innie kabr skryf Bibi Burger:

Wat die leser beïndruk is nie net hoe behendig en vlugvoetig Fredericks se stem is nie, maar ook hoe uiteenlopend haar verhale en karakters. Deur hierdie uiteenlopendheid, en met dié dat die verhale soms oorkruis en op mekaar inspeel, word ’n hele wêreld in die bundel geteken.

.......
Wat die leser beïndruk is nie net hoe behendig en vlugvoetig Fredericks se stem is nie, maar ook hoe uiteenlopend haar verhale en karakters. Deur hierdie uiteenlopendheid, en met dié dat die verhale soms oorkruis en op mekaar inspeel, word ’n hele wêreld in die bundel geteken.
........

Die herkenning van en ook waardering vir ’n behendige, vlugvoetige skryfstem, wat uiteenlopende verhale en karakters skep wat ook op mekaar inspeel en waardeur ’n hele wêreld geteken word, is ’n belangrike merker en aanknopingspunt. Want dit sou die grootste onguns wees as die skrywer, Gaireyah Fredericks, en hierdie bundel korttekste, Een voet innie kabr, net maar gemerk word as ’n bydrae tot die Afrikaanse lettere wat as vernuwend beskou word, omdat dit ’n bepaalde kultureel en godsdienstig ingebedde leefwyse oopskryf. So ’n benadering wat mens onthou as tipies van sekere kensketsings uit die vorige eeu. Hoe maklik is daar nie tevore aangekondig dat Elisabeth Eybers die “vroulike aanvulling” tot Dertig is nie, dat Olga Kirsch die Joodse stem is, soos wat Sheila Cussons se poësie opgemerk is vir die mistisisme daarvan en die neerslag van die Rooms-Katolieke geloof. Tereg plak Lynthia Julius dan, in hierdie eeu, in hierdie dekade, ná die aanvanklike resepsie van haar debuut (Uit die kroes, 2020) ’n foto op haar Facebook-bladsy van haar met ’n handgeskrewe kennisgewing wat die indruk van ’n betogersplakkaat skep: Ek is nie ’n bruin digter nie. Antjie Krog het dit ook, en in ’n sin dalk namens Eybers en almal wat ná haar as digters op die voorgrond getree het én vroue was, duidelik gestel: Ek is nie ’n vrouedigter nie. Dit is ’n protesteer teen vereenvoudigende veralgemening en tipering wat lei tot stereotipering: nie ’n Joodse digter, ’n Rooms-Katolieke digter, ’n protestantse/Calvinistiese digter, gay digter, Moesliemskrywer nie. Hiermee word die voorkoms, neerslag of doelbewuste vooropstelling van ’n tematiese fokus of gemoeidheid in skryfwerk hoegenaamd nie ontken nie, en ook nie die verband wat dit mag hê met onder andere identiteit, herkoms, kultuur, religie of gender nie.

Voorts kan die geneigdheid om debuutskrywers of nuwe publikasies te verwelkom deur te fokus op enige vorm van vernuwing wat bespeur kan word, as ’n dreuning in resensies oor Afrikaanse boeke gehoor word. Mens kan gerus ook waaksaam daarteenoor staan. Wanneer nog nie tevore, in die kort bestek van gepubliseerde Afrikaanse lettere, oor ’n bepaalde onderwerp geskryf is nie, verwag mens dat ’n aanduiding soos vernuwend nie die enigste waarmerk van die waarde en bydrae van die teks sal wees nie en dat die aandag ook gevra word vir die tegniek en vaardigheid van die skrywer, die vermoë om ’n storie te vertel, die leser mee te sleur en uit te daag. Ja, Een voet innie kabr is deel van daardie boeke in Afrikaans wat ’n eerste is: eerste literêre publikasie, eerste bundel kortverhale in Moesliemafrikaans geskryf, een van die enigstes wat ’n blik gee op die gemeenskap en kultuur van sprekers van Moesliemafrikaans. “Fredericks skryf ’n wêreld oep wat min gesien wôd in Afrikaans, en nog minner soe intimately en honestly,” skryf Nathan Trantraal op die agterplat. Hierby sluit Mercy Kannemeyer aan wanneer ook sy wys op die bydrae wat die gebeure en karakters in die verhale maak tot die sukses en impak van die boek:

Afgesien van die taalgebruik en die gemeenskap, kultuur en geloof waardeur die leser op reis geneem word deur die oë van die karakters, alles deel van hoe die boek daarin slaag om ’n opwindende rigting in die Afrikaanse letterkunde oop te maak, is dit die stories, die gebeure, die karakters en hul wel en weë in die verhale in Een voet innie kabr wat die leser bybly.

Ook Kannemeyer wys op die onontbeerlike rol van taal in die verhale en die gevaar dat dit die aandag wat die verhale verdien, mag oorskadu:

Taal speel ’n belangrike, integrerende rol in hierdie boek. Moesliemafrikaans en Kaaps kom hier voor. Dis verrykend. Dit is ook jammer dat dit deesdae nog steeds vir ’n uitstaan-oomblik in Afrikaans sorg, want dit voel asof ons al verder moes wees.

Ons is inderdaad al “verder” – die groei van publikasies in taalvariante is indrukwekkend, soos ook die eersdaagse publikasie van Die Drietalige Woordeboek van Kaaps. En voorts moet mens opmerk dat Fredericks, ook ’n adviseur vir die Suidooster-reeks, in drie tale skryf en vertaal: Kaaps, Afrikaans en Engels.

Om Fredericks se skrywerskap en die sukses en impak van haar debuut slegs op te hang aan die taal waarin sy skryf en die mense en gemeenskap oor wie sy skryf, veral wanneer hierdie leefwyse en religieus-kulturele gewoontes oor wie sy skryf moontlik vroeër onbekend aan lesers was, sal nie net ’n onguns wees teenoor hierdie skrywer nie, maar ook ’n onreg.

Een van die terugkerend geslaagde kenmerke van Fredericks se verhale, waarvoor mens die impak van die stories onthou, die sterk en verrassende slotte. Kragtig. Kannemeyer sê: “[...] skielik tref dit jou vierkantig tussen die oë – en die skrywer eis hard en duidelik: moenie wegkyk nie!” Dit is inderdaad wat gebeur – die teks maak aanspraak op die leser, nie slegs op grond van die storie en enige moontlike emosionele of sosiopolitieke vereenselwiging of distansiëring nie, maar omdat die verhaalgegewe so onopvallend slim aangebied word.

Nie al die verhale is op dieselfde patroon gesny nie en hierdeur verhoed Fredericks dat eenselwigheid in die bundel ontstaan: Nes die leser wil begin verwag dat die slot met ’n onverwagte kinkel gaan aanbreek, word hierdie verwagting met ’n handgreep, soos onderbeklemtoning, gefnuik. In Kannemeyer se woorde:

Verhale van gewone mense op die kantlyn laat mens as leser besef hoe universeel die spesifieke kan word, en veral in die hande van ’n bedrewe skrywer. Gaireyah Fredericks is ’n bedrewe skrywer.

Die boek vra egter wel tolgeld. Lesers wat nie vertroud is met die taal nie, Moesliemafrikaans, woorde met Arabiese herkoms, frases, sinne en aanhalings uit gebede en die Koran, moet bereid wees om sin te soek en mede te skep (immers soos met enige literêre teks van waarde), maar spesifiek ook om te sorg dat woordbetekenisse kan kommunikeer. Dit is tog deel van ’n natuurlike leesproses in enige taal – nie net, terwyl ons nou ook vanmiddag die UJ-prys vir vertaling kan toeken, wanneer jy lees in ’n taal wat nie jou moedertaal is nie, maar ook wanneer skrywers woorde gebruik wat jy nie onmiddellik presies ken nie. Ek kan hoegenaamd nie Marlene van Niekerk, van Triomf tot Agaat tot Kaar, sonder ’n woordeboek lees nie. Of Charl-Pierre Naudé, of Willem Anker – al drie voormalige UJ-pryswenners, en ook nie die Hertzogpryswenner en ’n gewaardeerde vorige beoordelaar, Johan Myburg, nie. En dit is nie ’n aanklag nie; dit is ’n kompliment. Die groot gevaar wat Fredericks en haar baanbrekende boek loop, is dat lesers nie bereid is, of bly, om hulle leesaandag op die betekenis van woorde en frases toe te spits nie en daarom dan nie deur die stories bereik gaan word nie, of die boek mag neersit. Terselfdertyd is die groot wins van wat die skrywer vermag het, dat die stories só geskryf is dat die leser daarby betrokke gehou word. Dít is wat meebring dat lesers onvertroud met Moesliemafrikaans die moeite nie ontsien nie om na die woordelys te blaai: Die stories hou jou vas en daag jou daarom uit tot sinsoek, waarby betekenis uitvind ingesluit is. Mens het eenvoudig nodig om te verstaan, die woordbetekenisse te verstaan, omdat jy midde-in die storie is en nie ’n enkele gedaante van die betekenis en beskrywing en nuanses en impak wil prysgee nie; nie kan bekostig om die verloop, die uiteinde, die uitkoms van die stories te moet ontbeer nie. Dit geld natuurlik veral lesers soos meeste van ons vanmiddag hier in die noorde van Suid-Afrika en ver van die Kaapse bakermat van Afrikaans en die bydrae van Arabiese Afrikaans tot Kaaps en die steeds aktiewe sprekers van Moesliemafrikaans.

Dit is opvallend dat die boek nie ’n apologeet vir kulturele en religieuse gewoontes en gedrag is nie, soos wat dit ook nie ’n kritiek daarvan is nie. Dit is gewoon nie die doel van die boek nie. Die stories wys mense. Mense wat leef, struweling kry, ontbering ly, in opstand kom, keuses maak, verwerp word, verneder word, toevlug soek en vind en telkens voor die dood te staan kom. Die verhaling van die stories dui op ’n verbeeldingryke, woord- en belewenissensitiewe waarnemer en skrywer. Om mee af te sluit, ’n enkele voorbeeld ter illustrasie. Die perspektiewe van ’n andersins redelik geseglike, dog duidelik denkende, ondersoekende kinderverteller word in haar eie stem aangebied. Die skrywer verwoord die verteller se belewenis van en ook haar reaksie op die onrustige wakker maak vir gebed voor die son opkom – elke, élke liewe oggend. Dis geneem uit die verhale “Yaseen” en “Drie virre rand”:

“Sakeena, Majiet, Fazlin, Fawaaz – soeboeg [eerste oggendgebed]!” skrie Mammie kliphat. Sy vaar soese wind in ôs kame en ruk ôs yt ôs slaap yt.

“Ek is yt Mammie!” skrie ek veêglik trug, maa oek oppe tone wat haa nie lat stop ennie moeite doen om my gou ’n handage life-lesson dai tyd vannie oggen te gie nie. (bl 74)

En later weer:

“Majiet, Sakeena! Op!” soes ou gewoonte, bas Mammie innie kame en skrie mens yt mens se geloef wakke. Jy moet ampe wee jou shahadat vat!

“Is wakke Mammie!” reply ek instinctively, soelat sy at least hoo ek respond. Is ek ’n slegte dogte om te wonne of daa nie ’n bietere way is om iemand wakke te maakie? For real man, al was ek klaa wakke, maa joh, maybe nie soe violently demanding ie. Ja Allah, shukr [dankie] vi thoughts, as die nou yt was, met sound was, was ek nou ’n groot touba [naberou] skullag. (bl 79)

Maar in die tweede beweging van “Yaseen” lê die verteller en luister na hierdie selfde ma:

Daa is niks inni liewe mee soothing as Mammie wat Yaseen batcha nie [...] Haa voice echo dee my geraas, en maak my stil. [...] Isse plesier om haa elke oggen an te lyste. Ek kan haa nou even picture sit met haa doek voo vasgemaak onne haa ken soesie ou tieties it dra. In haa twin set-pajamas innie kooi sit sy tienie headboard regop mettie Yaseen soerat in haa hanne en lies. [...] My siblings slaap nog daityd. Hulle hoorie haa beautiful melodius laagoe nie. Sy klink divine. Die opposite as toe sy ôs wakke geskrie et. Funny hoe daa so baie versions van dieselle mens in een vel kan exist. Laat ’n mens wonne wat annestes mens oek kan ontpop. Majiet het vi hom in sy kombês soese roeti toegedrai, maa hy maak hom permie laat as hy dink hy gan bly slaap. (bl 77)

En hiermee bereik ons dan die tweede deel van hierdie commendatio en oorhandig ek die woord aan Earl Basson.

II

Gaireyah Fredericks se kortverhaalbundel Een voet innie kabr is ongetwyfeld een van die hoogtepunte in die Afrikaanse literêre landskap van 2024.

Fredericks debuteer hier met ’n merkwaardige kortverhaalbundel waarin sy die simbiotiese verhouding tussen lewe (en om te lewe) en dood vanuit verskillende hoekpunte teen die agtergrond van Islam en die leefwêrelde van Kaapse Moslem-karakters vasvang. Oor die jare is daar ’n groeiende versameling van kulturele produksies waar die leefwêrelde van Kaapse Moslem-karakters uitgebeeld word, byvoorbeeld die teaterproduksie Ghoema (2005), die Iziko Museum se Ghoema en Glitter-uitstalling, die TV-program soos Suidooster en die film Barakat (2020). Maar soos Trantraal tereg op die agterblad opmerk – Fredericks plaas hier die kollig op ’n gemeenskap wat ’n deurslaggewende rol in die ontwikkeling van die Afrikaanse taal gespeel het.

Uit Fredericks se pen vloei ’n dig verweefde tapestry van die lewens van mense in ’n gemeenskap waarin ek grootgeword het. Fredericks doen eintlik naalwêk in die hierdie bundel; elke verhaal is versigtig en vaardig – sonder knoeiery – aanmekaar ge-stitch. Haar tegniese vernuf om die daaglikse bestaan van mense in besondere detail en met eerlikheid en deernis te capture maak dit ’n meevoerende en sensoriese leeservaring. Elke verhaal lees asof dit in die Batik-styl geskryf is, wat uiters funksioneel gebruik word om die leefwêrelde van die karakters op ’n authentic manier uit te beeld. As geheel lees die bundel soos ’n anthology series met karakters wat praat en lag soos mense wat jy ken, maar terselfdertyd op ’n meer intieme manier leer ken. Ek het al vir Yaseen onder sy asem in hulle gameshop hoor kla: “Ôs. Altyd ôs”, maar hy sê dit sag genoeg want ons almal weet van bietere as om vir sy ma te backchat. Tog hoor Yaseen ook die skoonheid in daai selle stem wat hom nou net deurmekaar geskree het.

Die sentrale tema van die kortverhaalbundel hou verband met die simbiotiese verhouding tussen die lewe en die dood en die wyse waarop die karakters teen die agtergrond van Islam geloof gebruik om hierdie simbiotiese verhouding in hulle daaglikse bestaan te navigate. Die woord kabr beteken graf. Met een voet in die graf, word die idee van dood onmiddellik as deel van die lewe voorgehou. In die ontroerende verhaal “Zackareyah en Zaghrah” onthou die spreker haar ouma se woorde: “Asse vrou geboorte gie, staan sy met een voet innie kabr.” Hierdie oomblik omvat as’t ware die kern van hierdie bundel.

In die verskillende verhale waar dood ter sprake is, onthul dit telkens iets oor menslikheid en living a life. Soos Fredericks self in ’n onderhoud sê:

As djyrie dood ennie dooie met soeveel respek moet handle, dan issit net logical dattie living even more so met dai en beyondit getreat moet wôd. Die tema “dood” is actually nie ’n ytgesonderde eventie; is life en is in sy essence die living viewpoint van life.

Die aangrypende kortverhaal “Die mayet” (die oorledene/afgestorwene) bied ’n intieme blik op die begrafnisritueel, waarin Fredericks se religious life philosophy vir die leser uitspeel. In die verhaal gee ’n afgestorwene ’n gedetailleerde beskrywing van die stappe wat die vrouens in haar lewe volg om haar op ’n dignified manner te ruste te lê. Alhoewel die spreker voel dat sy ’n nobody is, word sy deur die mayet weer herinner aan die liefde en respek wat haar gemeenskap vir haar het. Wanneer die spreker op die katel bo die koppe van haar gemeenskap gedra word en sy oorval word moet ’n gevoel van affirmation en respect van haar community, voel sy gerus om afskeid te neem. Hierdie verhaal illustreer mooi Fredericks se viewpoint of life en dit word telkens op ander maniere in die res van die bundel aangebied.

Jy sien die menslikheid in hoe die spreker rou oor haar gestorwe kind in “Kinnes van Jannat” (kinders van die hemel). Die pyn in die laaste reël van die verhaal: “Maa ’n ma kan nooitie umbilical cord completely geknip kry nie” is so teer en dit het vir dae by my gebly. Die hartverskeurende verhaal “Zackareyah en Zaghrah” vertel van die pyn van ’n ma en ouerskap en die moeilike besluite wat jy soms vir jou kinders moet neem. In die verhale “King cello” en “Portrait” om die spreekwoordelike dood van verwagtinge wat jong Moesliemvrouens soms moet konfronteer, aan bod. In “King cello” besluit Fahima om teen die tradisionele norme van ’n Moesliemhuishouding te gaan en weg te stap van die ideale wat tradisioneel vir haar voorgeskryf is. Terwyl Ghoemeira in “Portrait” telkens die tradisionele norme van ’n Moesliemvrou uitdaag, met haar uitgesprokenheid, haar parenting style en die manier hoe sy trauma verwerk.

.......
Hierdie bundel lewer ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse taal op verskillende maniere. Dit is ’n toevoeging tot ’n groeiende versameling van letterkunde wat in omgangsvariëteite soos Kaapse Afrikaans geskryf is. Fredericks gaan egter verder en sluit ook spesifiek Moesliemafrikaans in. Op hierdie manier word die Afrikaanse taalvorm nog verder uitgebou.
........

Hierdie bundel lewer ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse taal op verskillende maniere. Dit is ’n toevoeging tot ’n groeiende versameling van letterkunde wat in omgangsvariëteite soos Kaapse Afrikaans geskryf is. Fredericks gaan egter verder en sluit ook spesifiek Moesliemafrikaans in. Op hierdie manier word die Afrikaanse taalvorm nog verder uitgebou. Een voet innie kabr is ’n waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse literatuur en ’n waardige wenner van die UJ-debuutprys vir 2025.

III

Hier dui die agterplat so liries en waar aan: “Hier hoor jy die klanke vannie gemeenskap, musky en soet soes ryke uit die Jannat.”

Dames en here, ons beveel hiermee graag aan dat die UJ-debuutprys vir Afrikaans vir 2025 toegeken word aan Gaireyah Fredericks vir haar bundel Een voet innie kabr.

Lees ook:

Een voet innie kabr: ’n onderhoud met Gaireyah Fredericks

Persverklaring: Wenners van die 2025-UJ-pryse vir Afrikaans

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top