
Dan Patlansky is terug met ’n splinternuwe album in opvolg van verlede jaar se Dear silence thieves. Daar’s genoeg vuurkrag hier om ’n pantserkar te penetreer. Die openingsalvo’s word gevuur met “Run” (wat ook as enkelsnit uitgereik word).
Clint Falconer (baskitaar) en Andy Mauritz (tromme), is puik in hul ondersteuningsrolle en om by te bly by Dan se vurige Strat. Indien jy dink die dae van die “rock power trio” á la Jimi Hendrix Experience is lankal getel, kan jy gerus na die album luister.
Kritici sal van nature ooreenkomste identifiseer met SRV en Hendrix, maar Dan is beslis nie ’n nabootser nie. Hy het al die snitte geskryf. Die materiaal is oorspronlik, vars en opwindend. Die kitaarspel is van wêreldklasgehalte - een oomblik sag, melodieus en lig, dan bars alle hel skielik los en dreig dit om buite beheer te raak.
Introvertigo sluit af met “Queen Puree” opgedra aan Dan se jong dogtertjie, Sofia. Hy word dalk ook as ’n jong talent in blues/rock geledere beskou, maar sy blueskitaarklanke is nou op almal se radar en hy’s beslis die een wat dopgehou moet word.
Dan en sy trio toer gedurende Mei en Junie deur Brittanje en Europa.
Uitstaande snit: “Western decay”.
Opgeneem en geproduseer deur Theo Crous by Bellville Studios in Kaapstad.

