Filmresensie: Dear White People

  • 0

dearwhitepeople650

Dear White People

Draaiboek en regie: Justin Simien

Spelers: Tessa Thompson, Tyler Williams, Dennis Haysbert, Kyle Gallner, Teyonah Parris, Brandon Bell

Die gesprek oor ras en rassisme is klaarblyklik springlewendig, en nie net hier in ons gekwelde land nie. Ons had onlangs twee voorvalle waar swartgesmeerde wit studente partytjie hou, maar ons is glad nie uniek nie. Aan die einde van Dear White People word foto’s gewys van soortgelyke partytjies wat jaarliks op Amerikaanse kampusse plaasvind. Soos een karakter dit stel: Wat ís dit met ons swart mense en die wittes? En van die wit mense met die swartes? Wat, inderdaad?

Die fliek ontleen sy titel aan die kampusradioprogram van Sam White (Tessa Thompson), waarin sy haar wit medestudente inlig oor swart standpunte. Soos: “Dear white people, the minimum requirement of black friends needed to not seem racist has just been raised to two. Sorry, but your weed man, Tyrone, does not count.”

Rondom die bekkige Sam, wat terloops van gemengde afkoms is, sentreer ’n hele klomp kampuspolitiek en verhoudings wat op een of ander manier deur ras beïnvloed word. Die buitestander is Lionel (Tyler Williams), ’n swart joernalistiekstudent én gay. Hy is die “objective observer”, en deur sy beriggewing vir die kampuskoerant word die konflik van verskillende kante af belig.    

Hierdie fliek is beslis die kyk werd. Dis snaaks en ernstig tegelyk en dit gee ’n paar antwoorde, maar om oplossings te kry is vir die kyker se eie rekening.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top