007 in ’n wynkelder: ’n onderhoud met Paul Loeb van Zuilenburg

  • 0

https://lourensford.co.za/events/james-bond-sco/

007 in ’n wynkelder. Paul Loeb van Zuilenberg praat met Naomi Meyer oor die Stellenbosse Stadsorkes en ’n vertoning wat binnekort plaasvind.

Paul, jy's dirigent van ’n paar Suid-Afrikaanse stadsorkeste. Kan jy iets van hierdie konsep vertel?

Ja, ek is tans artistieke direkteur van die Stellenbosse Stadsorkes asook die Bloemfonteinse Filharmoniese Orkes (BFO). Wat dit maar eintlik beteken, is dat ek elke projek waarby die twee orkeste betrokke is, van die grond af opbou tot by die uitvoering, wanneer ek dit dan ook dirigeer. Daar is ook planne vir ’n nuwe stadsorkes vir Pretoria, die Capital City Orchestra, waarvan die eerste uitvoering op 11 Oktober by die Voortrekkermonument gaan wees. Die stadsorkeskonsep is basies ’n gemeenskapsprojek waar amateur- en professionele musikante vir projekte bymekaar kom en dan toeganklike repertoires uitvoer: dink Andrew Lloyd Webber, Queen, ABBA, filmmusiek ens!

Binnekort tree die Stellenbosse Stadsorkes by Lourensford-wynplaas op in ’n 007-musiekvertoning. Wat het jou die idee hiervoor gegee?

Ek moet erken dit was nie my eie oorspronklike idee gewees nie. Ek hou maar orkeste oor die hele wêreld dop om te sien watter nuwe idees hulle mee vorendag kom en ek het op Facebook gesien dat die Melbourne-simfonieorkes ’n James Bond-konsert aangebied het wat baie suksesvol was. Daar het die idee vandaan gekom, en toe het ek die plaaslike weergawe daarvan ontwikkel met die hulp van drie Suid-Afrikaanse verwerkers.

’n Paar jaar gelede het DStv ’n hele maand lank al die James Bond-films vertoon wat daar is. Baie interessant om dit te kon volg. Het jy ’n gunsteling-Bond-lied? Of ’n gunsteling-Bond-fliek?

Ek moet erken dat ek nie die ou Bond-films baie goed ken nie, en omdat ons van die videomateriaal van die films saam met die musiek vertoon, was dit nogal interessant om te sien wat Sean Connery en Roger Moore met die karakter gedoen het in vergelyking met die latere akteurs soos Timothy Dalton en Daniel Craig. Ek moet sê, na die uitvoerings van die BFO ’n maand gelede is dit seker die temalied van Casino Royale en ook For your eyes only wat by my uitstaan; seker ook omdat ek laasgenoemde self as solo op trompet speel tydens die konsert. Ek het nie regtig ’n gunsteling-Bond-film nie.

Na watter nommers kan die gehoor op die program uitsien? En wie sing die liedere?

Ons het twee fantastiese soliste: Juju Domingo en Jarrad Ricketts, albei boorlinge van die Kaap. Op die program dink ek is seker al die gunsteling-Bond-treffers. Ek het nou Casino Royale genoem, maar ou bekendes soos die temas uit Diamonds are forever, Live and let die, The world is not enough, A view to a kill en dan nuweres soos “Writing’s on the wall” en “Skyfall”.

Laat weet asseblief ’n paar praktiese besonderhede – waar koop mens kaartjies, wat kos dit, wanneer vind die uitvoerings plaas?

Goed! Kaartjies is beskikbaar by Computicket en Checkers. Die konserte vind plaas op 23 en 24 Augustus om 19:30 in die fantastiese Lourensford Wynkelder net buite Somerset-Wes. Soos genoem, speel ons uittreksels uit die films tydens die opvoering. Kaartjies vir volwassenes kos R230, met konsessies vir skoliere, pensionarisse, groepe en studente.

Naskrif

Die Stellenbosse Stadsorkes (SCO), in samewerking met die Good Hope Singers beplan ’n epiese konsert (Classics from the Silver Screen) in die Kaapstadse Stadsaal op die 19de September. Die beplanning is om ’n koor saam te stel uit sangers wat nie gewoonlik tyd het om deel van ’n gewone koor te wees nie. Die projek begin Sondagmiddag 15 September en teen Donderdagaand 19 September word ’n volledige program van filmklankbane uitgevoer. Voornemende koorlede kan ’n kaartjie koop by Computicket en dan word die musiek outomaties aangestuur sodat dit vooraf ingestudeer kan word. Hannelize du Plessis sal die koorafrigting vooraf waarneem op die Sondag, waarna die orkes vanaf die Maandagaand bykom. Die Hoërskool Bellville-skoolkoor neem ook aan die projek deel. Klankbane wat in die program gesing gaan word sluit in Star Wars, Conquest of Paradise, ABBA, Crimson Tide, Sogno di Volare en vele meer. Kaartjies vir koorlede kan  bespreek word by  https://events.computicket.com/events/3642  en die gehoor kan ook by Computicket kaartjies kry.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top