Van den Heever se “Werkstaking by die kleigat”: Regtig nodig in Die Afrikaanse kortverhaalboek?

  • 24

Die sewende, hersiene uitgawe van Die Afrikaanse kortverhaalboek, saamgestel deur Braam de Vries, het onlangs onder ons albei se aandag gekom. Dis ’n boek om op trots te wees: amper 700 bladsye van die keur van die Afrikaanse kortverhaalkuns, saamgestel deur iemand wat nie slegs met gesag daaroor kan oordeel nie, maar self bekend staan as een van Afrikaans se mees bedrewe kortverhaalskrywers. Op die agterflap word JC Kannemeyer aangehaal waar hy beweer dat hierdie boek dieselfde rol in die Afrikaanse kortverhaalkuns speel as wat Opperman en later Brink se Groot verseboek in die Afrikaanse digkuns gespeel het. “Daarmee,” sê Kannemeyer, “is De Vries die belangrikste kanoniseerder van die Afrikaanse kortverhaal."

Dit is akkolades waarmee ’n mens graag akkoord wil gaan. Dit is egter teen die agtergrond van sulke grootliks welverdiende lof dat ons nie anders kon as om uit die veld geslaan te wees oor die besluit (waarskynlik reeds van toepassing in vorige uitgawes) om Toon van den Heever se “Werkstaking by die kleigat” in so ’n voortreflike bloemlesing op te neem nie.

Hierdie verhaal, wat gedateer word as geskryf in 1948 (ironies en betekenisvol!) is ’n verhaal wat nie in ’n bundel van hierdie statuur tuishoort nie. Die rede daarvoor is dat dit, watter moontlike literêre waarde dit ook al mag hê, blatant rassisties en paternalisties is. Terwyl niemand kan ontken dat sulke verhale wel in Suid-Afrika se geskiedenis geskryf en gepubliseer is nie, bevraagteken ons die wysheid daarvan om so ’n verhaal in te sluit in ’n bundel met die ooglopende prestige van Die Afrikaanse kortverhaalboek.

Ons is hoegenaamd nie besig om ’n vorm van sensuur ten opsigte van Van den Heever se verhaal te bepleit nie; in ’n demokrasie kan mense skryf wat hulle wil, solank dit nie haatspraak is en geweld aanhits nie. Al wat ons wil doen, is om kritiese vrae te vra oor die wysheid en wenslikheid daarvan om ’n verhaal wat kennelik so deurdrenk is van rassistiese houdings en stereotipes, en wat swart mense se vermeende minderwaardigheid so gemaklik en onkrities aanvaar, steeds in ons dag en datum in so ’n prestige-bundel op te neem. Anders gestel: Wat is die regverdiging daarvoor om juis hiérdie verhaal deel te maak van die “kanon” van Afrikaanse kortverhale, gegee die manier waarop die verhaal op ’n bewuste, dog onkritiese manier uitdrukking gee aan ’n waarde-oriëntasie wat apartheid in een van sy kruuste vorme, indien nie propageer nie, dan wel kritiekloos artikuleer? Loop die opname van hierdie verhaal in hierdie bundel nie die ooglopende gevaar om persepsies (reg of verkeerd) oor Afrikaans as taal se innige verbondenheid met die apartheidsbedeling ooglopend te bevestig nie?

Voor ons iets verder ter motivering aanvoer, net eers die buitelyne van waarom die verhaal gaan, sowel as enkele aanhalings om ons bewerings te staaf.

Die verhaal is op die oog af ’n gemoedelike vertelling deur ’n jong Afrikaanse boerseun (sy naam word nie vermeld nie) wat vertel van die wêreld van sy grootworddae op die Hoëveld. (Van den Heever het ook ’n treffende gedig oor die Hoëveld geskryf). Die verhaal handel dan veral oor hierdie seun (moontlik Van den Heever self?) se interaksie met ’n jong swart beeswagter genaamd Pens – duidelik iemand wat saam met hom speel op die plaas waar hulle albei help om skape op te pas. Die verhaal handel onder andere oor Pens se maak van ’n aantal klei-osse (“Afrikaners”) en sy verbeeldingspel as hy hulle “aandryf”.

Die kort verhaaltjie (slegs twee bladsye) neem ’n wending na die einde toe. ’n Gesprek tussen die verteller-boerseun en Pens vind plaas. Die verteller voer aan dat hy moeg is vir skape oppas; hy wil koers kies na ’n vreemde plek waar hy ’n gevierde militêre aanvoerder wil word wat die “Kakies uitmekaar jaag” en die “tjaainies [Chinese?] laat spaander”. Daarna, dagdroom hy, sal hy as gevierde generaal trou met die dogter van ’n ridder (“knight” en “naait” in die verhaal). Daarna volg nog ’n verbeeldingsvlug oor hoe hy almal sal verras wanneer hy as beroemde generaal terugkeer huis toe.

Direk op laasgenoemde fantasie volg dan ’n passasie wat ons woordeliks wil aanhaal:

“Ek wil ook wegloop” begin Pens met geesdrif, “en dan dink almal ek’s dood. Dan sê hulle: ‘Dis goed, die blikskottel is tog niks werd nie!’ Dan hoor hulle naderhand van ’n groot kommandant of ’n generaal wat die rooinekke …”

“Maar jy’s dan ’n kaffer!” val ek [die boerseun-verteller] Pens in die rede.

“Ja wragtaag” [sic] sê Pens, langsaam en terneergeslae. “Wat kan ek dan word?”

“Ek sal jou sê” kry ek ’n blye inval, “jy kan my agterryer word.”

“Jou agterryer? Jou verstand!”

Hierdie verhaal is waarskynlik ’n instansie van die “gemoedelike lokaal-realisme” van die tradisionele (dws voor-1950’s) Afrikaanse prosa waarvan Van Wyk Louw in sy Vernuwing in die prosa (Academica 1973) praat. Tog maak ’n mens ’n ernstige fout om hierdie soort verhaal bloot te lees as tiperend van die onskuldige naïwiteit van ’n verbygegane era.

Hierdie soort verhaal, en met name die gedeeltes wat volledig aangehaal is, bevestig stereotipes wat almal wat dit goed bedoel met, en wat hulself beywer vir, ’n nierassige en sosiaal en ekonomies regverdiger Suid-Afrika, se pogings opnuut in die wind slaan. Hierdie verhaal is veel meer as “gemoedelike lokaal-realisme”. Dit is ’n weerspieëling van gesindhede en samelewingstrukture wat blatant en uitgesproke rassisties was.

Afgesien van die gebruik van die gewraakte k-woord in ’n konteks wat duidelik maak dat, as jy dan nou ’n k----r is, dan is jy minderwaardig en moet jy jou plek ken, skrei twee ander aspekte van die aangehaalde passasie uit hierdie verhaal ten hemele. Die eerste is dat Pens (hoekom die naam?) op die oog af dit glad nie bevraagteken waarom die verteller se ambisie hom (Pens) nie beskore is nie. “Ja, wragtaag …” is sy enigste reaksie. Asof hy wil sê: “Jammer dat ek dan nou darem nie daaraan gedink het nie! Ek is mos maar net ’n arme k----r; hoe kon ek gedink het dat ek iets meer kan vermag in die lewe?”

En dan volg die wit seun se skreiende paternalistiese “troos”: “Jy kan darem my agterryer word …!”

Al wat ’n mens positief van hierdie verhaal kan sê, is dat laasgenoemde “troos” selfs vir Pens ’n bietjie dik vir ’n daalder is: “Jou agterryer? Jou verstand!”

Dit is seker so: die verhaal weerspieël ’n mentaliteit en ’n vorm van sosiale diskriminasie wat oral aan die orde was op ’n sekere tyd in Suid-Afrika se geskiedenis. Dit help sekerlik nie om dit te ontken nie.

Ons vraag is egter aan De Vries: Wat word daarmee bereik om so ’n verhaal aan die groot, prominente, openbare en prestigeryke klok van Die Afrikaanse kortverhaalboek te hang? Die eerste uitgawe van hierdie bloemlesing was in 1978. Miskien was sensitiwiteite in daardie stadium nog nie genoegsaam opgeskerp om die onverantwoordbaarheid van so ’n insluiting in te sien nie. Maar ons praat van ’n bundel wat so onlangs soos 2012 hersien en heruitgegee is!

Is hierdie verhaal die gesig van Afrikaans wat ons tog asseblief nie wil vergeet nie? Hoekom is dit belangrik om in ’n toonvenster van die Afrikaanse letterkunde – daardie letterkunde waaroor deesdae so hoog en laag gesweer word dat dit “inklusief” wil wees, dat dit die bydrae van soveel meer as rassistiese Afrikaners wil verreken – hierdie soort verhaal op te neem?

Ons kan seker die verlede nie vergeet nie. Maar waarom aan hierdie verhaal van rassisme en growwe paternalisme status verleen deur dit ook in hierdie besondere bundel op te neem? Waarom hierdie verhaal nie toelaat om rustig te verdwyn in die vergetelheid wat dit so ryklik verdien nie?


 

Anton van Niekerk (professor in filosofie en direkteur: Sentrum vir Toegepaste Etiek, Universiteit Stellenbosch)

Nico Koopman (viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, Universiteit Stellenbosch)

Hierdie artikel is geskryf in hul persoonlike hoedanigheid en verteenwoordig nie die siening van die Universiteit Stellenbosch nie.


Lees kommentaar op hierdie bydrae:

“Werkstaking by die kleigat”: Willie Burger lewer kommentaar

Willie Burger
Menings

"Eerstens berus die twee here se beskouing van die verhaal ongelukkig op ’n onversigtige en oppervlakkige, oorhaastige lees daarvan – wat al die ironie miskyk en daarom ’n verhaal wat eintlik merkwaardig vir sy tyd was en wat veral vir vandag relevant is, mislees."

“Werkstaking by die kleigat”: Braam de Vries lewer kommentaar

Braam de Vries
Menings

"Toon van den Heever se 'Werkstaking by die kleigat' is die klassieke begin van juis die 'weerstandsmotief' (weerstand teen onregte) in die Afrikaanse kortverhaal."

“Werkstaking by die kleigat”: John Miles lewer kommentaar

John Miles
Menings

"Die titel van Van den Heever se skets maak die leser reeds bedag op die moontlikheid van ironiese afstand. ’n Werkstaking by kinders se speelplek. “Werk” teenoor “speel”, politiek by die spel!"

  • 24

Kommentaar

  • Braam de Vries

    Ek sal hierop antwoord as dit hoegenaamd nodig is en ek 'n artkel oor Adam Small klaar het wat ek die samestellers beloof het. Lees inmiddels Thomas Francois Burgers se Toneelen uit ons dorp (in Afrikaans vertaal deur Wium van Zyl) en Jan Rabie se "Droogte" in 21. Of sê iemand in die Dept. Afrikaans/Nederlands moet vir u verduidelik hoe interpretasie die tyd verdiskonteer waarin 'n kunswerk afspeel. Wat in daardie verhaal staan, is presies wat u volledig mislees.

  • Interpreteer die verhaal in die konteks van die tyd waarin dit geskryf is - bykans 70 jaar gelede. Van Niekerk en Koopman ontpop nou as die twee groot literêre sensors van die 21ste eeu.

  • Wat het ons hier? Twee professore van wie 'n mens minstens 'n kontekstuele lees verwag, het 'n klok hoor lui. Verstommend as jy in ag neem dat hulle voortdurend as meningsvormers aan ons voorgehou word. Ek antwoord graag uitvoeriger, later.

  • Ag nee menere, ek vind hierdie resensie baie bitterbek. "Haatspraak en geweld" was nog redelik onbekend in skrywes circa 1948. Is dit regverdig om 1948 se skryftaal met 2017 te vergelyk , of het ons nerwes te dun gerek?

  • Die here Van Niekerk en Koopman bevestig wat ek al lank reeds vermoed: ideologiese / polities korrekte lesers lees dikwels oppervlakkig en altyd humorloos.

  • Die kinders in Toon van den Heever se verhaal voer 'n parodie op van die destydse volwasse wêreld. En parodie sonder humor is ondenkbaar.

  • Dit is voorwaar 'n uitmuntende stuk satire! Dit illustreer die soort emosionele oorreaksie wat deesdae getoon word teenoor enige iets wat die betrokke kommentator nie kan of wil probeer verstaan nie, maar waar rondom maklik gevoelens opgesweep kan word.
    Die betrokke objek word eerstens gedekontekstualiseer, gesteun deur die mantra-agtige herhaling van 'n slagspreuk en etlike onbewysbare opinies wat gewoon tot waarheid ingeseën word (vergelyk bv. die gedeelte oor die lokale realisme, waar hierdie vals argumentasie uitmuntend uitgebeeld word). Hierna word die objek as "offensive" ge(brand)merk, met verwydering/vernietiging as die logiese volgende stap.
    Die slengbegrip hiervoor is "manufactured outrage" (definisie by http://www.urbandictionary.com/define.php?term=Manufactured%20Outrage), wat vertaal kan word as "gefabriseerde verontwaardiging". Dit word tipies gedoen ter wille van politiese selfposisionering voor 'n skare.
    Graag bedank ek die twee dominees vir hierdie uitmuntende stuk tong-in-die-kies-kommentaar. Dit vereis groot dapperheid om sulke loutere twak kwyt te raak asof 'n mens dit eerlikwaar glo!
    Hierdie kortverhaal, en sy belang by die postkoloniale en postapartheid-kritiek, is darem al uitvoerig aangeteken in etlike besprekings en akademiese publikasies. Selfs die Vrouekeur het al 'n gawe analise deur Willie Burger, bekende literator, gehad, waaruit ek ter afsluiting aanhaal:
    "Die vestiging van Afrikanernasionalisme het met die toenemende uitsluiting van swart mense gepaardgegaan. Hierdie verhaal is dus eintlik stroomop teen die algemene gees van die tyd, waarin die uitsluiting van swart mense as vanselfsprekend aanvaar is – ’n aanname wat eintlik nog uit ’n veel ouer koloniale beskouing voortspruit dat die “inheemse bevolkings” van die kolonies minderwaardig is en slegs geskik om agterryers te wees. Eintlik vra hierdie verhaal ’n ongemaklike vraag oor die toenemende uitsluiting van swart mense. Die twee seuns is immers gelyk, maar hulle durf nie dieselfde drome hê nie. Vir ’n swart seun is die droom om ’n generaal te word, ondenkbaar. Deur hierdie beperking op swart mense se drome aan die kaak te stel, word die onregverdigheid van uitsluitende nasionalisme blootgelê."

  • Ek vind dit absoluut ongelooflik dat twee professore 'n verhaal so verkeerd kan lees en dan ewe dapper op LitNet daaroor 'n briefie skryf. As jong akademikus is hierdie mense figure na wie ek nog altyd opgekyk het en die brutale verdagmakery wat in hierdie skrywe te vinde is, laat my verstom. Want ek weier om te glo dat twee hoogs intelligente akademici regtig-egtig nie oor die vermoë beskik om 'n heel eenvoudige kortverhaal te snap nie - dit gaan duidelik hier oor politieke agendas en geslypte byltjies. Meer nog: het ons dus 'n teoloog hier wat nog nooit gehoor het van die kontekstuele lees van 'n teks nie? 'n Man wat ek self al uitsprake hoor maak het oor die kontekstualisering van sommige onverdraagsame en bloeddorstige gedeeltes van die Ou Testament binne 'n bepaalde historiese tydgreep.

  • Die jeugboek Nagloper deur Jan G Altena is 'n moderne weergawe van interrassige vriendskap. Die tema is met empatie ontgin, en die stereotiepe onderskeie vaders word effektief aangewend om die tweespalt oor die nalatenskap van apartheid by die twee tienerseuns te illustreer.
    Ek wonder hoe sal dit oor 70 jaar beoordeel word.

  • CORNELIS POTGIETER

    " Ag shame"... sulke kritiese denkers. Ek's bevreeslik julle sal baie fynkamme nodig hê om dié literatuur te "suiwer". En ontken die geskiedenis! Dis kleinserigheid in ’n vergrotende/oortreffende trap!

  • ... en die Xhosa's het nooit die Pioniers aan die Visrivier aangeval nie, so daar was nooit 'n Groot Trek nie, en Dingaan het nooit Piet Retief en sy kommando vermoor nie.
    Herskryf die geskiedenis, dan het dit nooit gebeur nie!
    Die twee menere wil 'n liberale leuen probeer vestig en die goeie verhoudings wat talle blankes en hul swart mede-temmers van hierdie land elke dag gelééf het, paternalisme dan ten spyt, probeer versuur. Hoed af vir De Vries!

  • WERKSTAKING is en was 'n verskuilde verset teen die Afrikanerideologie van apartheid. Die verhaal (reg gelees) laat ons vandag nog beskaamd staan dat 'n enkele woord die mooi verhouding van gelykheid tussen twee kinders kan venietig. Sonder hiedie verhaal sal die Afrikaanse skaamteprosa baie armer wees. Mooi so Braam.

  • Die erns van die bakleiery tussen die twee seuns (albei veewagters wat nie skoolgaan nie) word deur die agternaperspektief van die volwasse verteller soos volg gerelativeer: "Daardie slag sou miskien beslissend gewees het, een van die keerpunte in die geskiedenis van ons land. Maar helaas, skape is vir sulke aangeleenthede net so blind soos die Voorsienigheid."

    Dit wil dus lyk of die swart seun die oorhand gekry het - anders sou dit nie 'n keerpunt in die geskiedenis kon wees nie. Maar die blinde noodlot (Voorsienigheid) laat hom nie beïnvloed nie. Daardie geskiedkundige keerpunt het eers vyftig jaar na die verskyning van die verhaal plaasgevind.

    Relativeringsvermoë is wat die twee polities verblinde professore kort. Dalk moet hulle die verhaal eerder uit 'n teologiese oogpunt interpreteer en probeer verklaar waarom die Voorsienigheid so lank op Hom laat wag het!

  • Helize van Vuuren
    Helize van Vuuren

    Lees vir 'n moderne parallel, Antjie Krog se gedig in MEDEWETE: "voor-verkiesingspraatjies" en die boer-pa wat vir sy werkers vra:
    "gaan julle grond kry na die verkiesing?” ... en:
    "as ek kom vra, watse werk sal julle my gee?" Petrus se antwoord: “skaap oppas ... Ander werkers se antwoord: “nee die baas moet iets anders doen!”/“melk!”
    Die vers eindig met die terugkeer na die harde werklikheid van voor die verkiesing (vergelyk met Toon van den Heever se verhaal):
    Pa kom stadig agter die trekker uit bewerig kom een/
    vir een in die stoor se oprit sit asof meteens op 'n rant tastend/
    na die onsigbare (...)
    Sowel Van den Heever as Krog skryf in en oor oorgangstye, op die keerpunt van oorgangstye in die geskiedenis, “gekenmerk deur politieke onbestendigheid, spanning, geweld, die aftakeling van die waardesisteme van die vorige regime" (Aucamp 1998:34).

  • Ek dink menere Van Niekerk en Koopman mis die punt dat die afkeer en weersin van een ras in 'n ander, reeds so ver terug as 1948, kinderlike onskuld en kinderdrome kon bederf, soos in hierdie verhaal aangetoon. Dit wat Pens in onskuld kwytraak, is dinge wat hy by grootmense geleer het. En dit wat sy swart vriend sê, is bewys van versugtinge wat tot vandag toe nog bestaan. Menswees, gelykheid, broederskap. Dit is dalk waarin die meriete van die verhaal lê. Selfs 'n leek soos ek kan dit raaksien.

  • Gert van der Westhuizen

    Mens sou hierdie interaksie tussen mense met die 19 spreekbeurte rondom die vraag of 'n verhaal in 'n kortverhaalbundel hoort, as 'n gesprek kon sien - maar dis nie duidelik wat die eintlike gespreksvraag is nie. Wat begin het as 'n mening, bly 'n mening, en die reaksies daarop was nog menings, en jammer om te sê, persoonlike aanvalle - dis nie goeie gesprek nie?
    'n Goeie gesprek begin met 'n vraag wat die moeite werd is om oor te praat - in hierdie geval miskien die vraag: hoe verstaan mens vandag al die historiese tekste in Afrikaans wat oënskynlik rassistiese uitsprake bevat? Of: Kan Afrikaanse lesers die toekoms ingaan sonder om tekste van die apartheidstyd te lees? Of: Behoort tekste met ras-stereotipes op skool gelees te word?
    LitNet wil dalk verby die meningsblad-vorm gaan, waar debatte en persoonlike aanvalle bestaan uit ek skiet na jou, jy skiet terug, ek herlaai, en skiet weer.
    Ondersoekende gesprekke begin by 'n vraag wat die moeite werd is om gesprek oor te voer, en bestaan uit beurtneming waar deelnemers hulle eie ervarings wat lig kan werp op die vraag, ondersoek, en wat elkeen daaruit leer, met mekaar deel. Dan wil deelnemers hulle bes doen om ander se ondersoeke te verstaan, daarmee empatiseer, en sien wat hulle saam uit hulle ondersoek kan leer om 'n kollektiewe antwoord op die oorspronklike vraag uit te kom.
    Gesprekke wil nuwe antwoorde formuleer!

  • Ek het Werkstaking by die Kleigat opgespoor in my Hoogtepunte in die Afrikaanse Verhaalkuns (let wel, 'verhaal-' en nie 'kortverhaal-' nie; die rede hiervoor word in die voor-verantwoording bespreek), byeengebring deur AP Grové, en met aandag herlees.
    Kan ons die 'Kleigat' werklik as kortverhaal klassifiseer? Dis eerder 'n skets, slegs 'n uittreksel uit 'n groter skrywe. Dat dit dus as kortverhaal literêre meriete sou hê is volgens my betwisbaar, en ek wil gevolglik saamstem dat dit daarom nie in die bundel tuishoort nie. Die hele kwessie van hedendaags-aanstootlike rassisme (en dis onteenseglik daar) kon vermy gewees het deur bloot die eintlik niksseggende nostalgie in die vergetelheid te laat verdwyn.

  • Tom McLachlan

    Daar is waarheid in die idioom "Skoenmaker, hou jou by jou lees", ook ten opsigte van senior hoogleraars. Daarom spreek ek my nie uit oor die literêre waarde, al dan nie, van die Van den Heever-verhaal of die meriete van opname in die bundel nie.

    Die here Van Niekerk en Koopman vra, enigsins beskuldigend, "Wat word daarmee bereik om so ’n verhaal aan die groot, prominente, openbare en prestigeryke klok van 'Die Afrikaanse kortverhaalboek' te hang?"

    My vraag is eenvoudig wie se klok nou die grootste, prominentste en "openbaarste" gelui laat weerklink het: Is dit die bladsye van 'n kortverhaalbundel of die kuberbladsye van LitNet?

  • Kan mense nie meer iets in konteks lees nie? In die idioom van die tyd? As al sulke skryfwerk net eenvoudig uitgevee (verwyder) word beteken dit tog nie dat dit nie gebeur het nie. Hoe kan mens die foute wat ons volk gemaak het net sommer so vergeet? Ons kan nie, ons moet praat daaroor, sê ja, dit het gebeur, maar kyk net hoe het ons intussen ontwikkel. Deur alles net uit te haal, het ons nooit ’n geskiedenis nie. Moet ons wat sulke tye beleef het, dit nou ook uit ons geheuebank uit verwyder? Ons net verbeel en sê nee, ons was nie so nie, terwyl ons weet ons was.

  • Koos Holtzhausen

    Meer as sestig jaar gelede het ek die die kortverhaal herhaaldelik herlees in " Gerwe " ('n voorgeskrewe boek vir my ouer broer). As self 'n denkende tiener in die Transvaalse Hoëveld, binne die stelsel van wit oorheersing was daar iets wat my aangegryp en ongemaklik laat voel het. Dit was veral die laaste paragraaf wat my deur die jare bygebly het:
    "En daar is die middag 'n hewige slag gelewer langs die kuil bo in die vlei. [...] Daardie slag sou miskien beslissend gewees het, een van die keerpunte in die geskiedenis van ons land. Maar helaas, skape is vir sulke aangeleenthede net so blind soos die Voorsienigheid. Daar het 'n koel windjie oor die brand gekom en het met hom die geur van oopgaande botterblomme gebring. Maar vir 'n paar dae was daar 'n werkstaking by die kuil, waar mens teen die wal sulke gawe blou potklei uithaal."
    Was dit dit die subtiele verwysing na "keerpunte in die geskiedenis van ons land" en die “koel windjie oor die brand” en die “werkstaking by die kuil” wat my aangespreek het?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top