“Werkstaking by die kleigat”: Willie Burger lewer kommentaar

  • 1

Willie Burger (Foto: Naomi Bruwer)

Van Niekerk en Koopman se reaksie op die insluiting van Toon van den Heever se merkwaardige verhaal, “Werkstaking by die kleigat” in Die Afrikaanse kortverhaalboek is om minstens twee redes betreurenswaardig.

Eerstens berus die twee here se beskouing van die verhaal ongelukkig op ’n onversigtige en oppervlakkige, oorhaastige lees daarvan – wat al die ironie miskyk en daarom ’n verhaal wat eintlik merkwaardig vir sy tyd was en wat veral vir vandag relevant is, mislees. Die wyer konteks van die verhaal is kennelik ook nie in ag geneem nie en daarom is tot hulle oorhaastige gevolgtrekking gekom.

Tweedens word die belang van hierdie verhaal binne die bundel in sy geheel ook nie deur hulle kontekslose beoordeling raakgesien nie.

Die twee beswaardes maak tereg die belangrike opmerking dat Van den Heever se kortverhaal juis in 1948, die jaar waarin Afrikaner-nasionalisme ’n sekere mylpaal bereik het, verskyn. Dit maak hierdie verhaal des te meer merkwaardig, omdat dit, anders as wat hierdie oppervlakkige interpretasie aandui, en anders as die meeste ander Afrikaanse literatuur van dié tyd, juis ’n sensitiewe bewustheid van die rasseproblematiek in die land registreer. Dat die wit kind kan droom om ’n generaal te word, maar sy swart speelmaat nie toegelaat word om dieselfde te droom nie – hy durf hoogstens daarvan droom om die generaal se agterryer te word – wys binne die vorm van ’n oënskynlik rustige, byna nostalgiese vertelstyl op die onreg in ons land en voorspel die onrus wat dit tot gevolg gaan hê. (Hier onder sal ek aantoon waarom dit net oënskynlik ’n rustige, nostalgiese vertelstyl het.)

’n Versigtiger lees van die verhaal, wat eintlik tot die teenoorgestelde bevinding as Van Niekerk en Koopman s’n sou kom, sou so kon lyk:

In "Werkstaking by die kleigat" word vertel van twee seuns wat op ’n plaas speel. Die wit seun van die plaaseienaar speel saam met sy swart maat. Hulle gunstelingspeelplek is ’n kleigat waar hulle kleiosse maak. Die twee seuns is in talle opsigte gelyk: hulle het elkeen ’n werk op die plaas: die wit seun is die skaapwagter en die swart seun die beeswagter. Al twee van hulle voel eintlik maar misken deur die baas van die plaas: die swart seun voer (wanneer hy dink niemand hoor hom nie) ’n denkbeeldige gesprek met die "Oubaas" waarin hy weier om die “Oubaas” se bevele uit te voer en sélf besluite neem. Hy droom dus van ’n opstand wat hy nooit in werklikheid sal kan deurvoer nie. Die wit seun voel eweneens onderdruk deur sy pa; hy is ook moeg daarvoor om bloot bevele uit te voer en is nie lus om langer die skape op te pas nie. Hy droom daarom daarvan om weg te loop. Al twee die seuns voel dus dat hul waardigheid deur die plaaseienaar onderdruk word en al twee droom van opstand daarteen: die swart seun in die vorm van ’n konfrontasie waarin hy weier om langer onderdanig te wees; die wit seun van roem en erkenning in die buiteland wat uiteindelik tot sy pa se vernedering (of ten minste verleentheid) sal lei.

Die wit seun raak verveeld met die kleispelery, eintlik omdat hy gefrustreerd raak as sy kleiosse nie so mooi soos die swart seun se kleiosse is nie. Sy jaloesie op die swart seun se groter vaardigheid lei daartoe dat hy ophou met die spel en eerder begin droom. Hy vertel hy wil van die plaas af wegloop en in die buiteland beroemdheid verwerf as ’n generaal en dan met ’n koning of ridder se dogter trou. Daarna wil hy terugkeer na hulle dorp, waar almal hom ’n helde-ontvangs gee voordat sy pa agterkom dit is eintlik hy. Op hierdie manier sal hy sy pa se miskenning kan wreek.

Dan begin die swart seun ’n soortgelyke dagdroom vertel, maar hy word kortgeknip deur die wit seun se opmerking dat hy nie ’n generaal kan word nie omdat hy swart is. Hy kan hoogstens die wit seun se agterryer word. (Die feit dat die wit seun se droom ’n onmoontlike fantasie is – die tyd van konings en ridders is byvoorbeeld lankal verby – is belangrik. Hiermee word juis die omvang van uitsluiting van swart mense bevestig – dat hulle selfs nie eens kinderfantasieë gegun word nie.)

Hierop breek ’n bakleiery uit wat onbeslis eindig omdat hulle skielik besef dat die diere wat hulle moes oppas, weggeloop het. (Boonop is dit die wit verteller wat aandui dat hy aan die bakleiery moes onttrek omdat hy na die skape moes gaan omsien – met die suggestie dat hy nie kans gesien het om die geveg tot die bitter einde deur te voer nie, selfs vrees dat hy die geveg sou verloor.) Vir ’n hele paar dae daarna was hulle kwaaivriende en het hulle nie by die kleigat gespeel nie – vandaar ook die titel van die verhaal.

Hierdie verhaal waarin die veldslag onbeslis eindig, is eintlik stroomop, teen die algemene gees van die tyd, waarin die uitsluiting van swart mense as vanselfsprekend aanvaar is – ’n aanname wat eintlik nog voortspruit uit ’n veel ouer koloniale beskouing dat die "inheemse bevolkings" van die kolonies minderwaardig is – slegs geskik om agterryers te wees.

Eintlik vra hierdie verhaal ’n ongemaklike vraag oor die toenemende uitsluiting van swart mense. Die twee seuns is immers gelyk (die swart seun selfs kunstiger/vaardiger met die klei), maar hulle durf nie dieselfde drome hê nie. Vir ’n swart seun word die droom om ’n generaal te kan word, ondenkbaar geag.

Deur hierdie beperking op swart mense se drome aan die kaak te stel, word die onregverdigheid van uitsluitende nasionalisme blootgelê. Ook die sielkundige skade wat so ’n stelsel aanrig, blyk duidelik: wanneer die wit seun die swart seun daarop wys dat hy nie ’n generaal kan word nie omdat hy swart is, word laasgenoemde se reaksie só beskryf: “‘Ja wragtaag!’ sê Pens, langsaam en terneergeslae. ‘Wat kan ek dan word?’” Hy aanvaar dus dadelik dat hy om daardie rede nie ’n generaal kan word nie – ’n kolonisering van die denke wat duidelik blootgelê word.

Soos in die meeste Afrikaanse prosawerke van 1920–1950 oorheers die plaasruimte ook hier. Maar tóg: anders as Van Niekerk en Koopman se bewering dat die verhaal glr-prosa is, word die plaasruimte waaraan Afrikaner-identiteit so nou geknoop is en wat so dikwels in talle werke byna idillies uitgebeeld is, in hierdie verhaal gekompliseer:

Die eerste paragraaf van die verhaal bestaan uit drie lang vraagsinne. Die leser word direk aangespreek: "Was jy al op die Hoëveld na die eerste reëns geval het …" Hierdie uitgerekte vraagsinne maak ’n aanspraak op die leser, betrek jou by ’n nostalgiese verlange na die goeie ou dae op die plaas, waar die skape wei in groen grasvelde met botterblomme, blou lug en singende voëls. ’n Pastorale, idilliese bestaan word vir die leser opgeroep. ’n Vertroudheid word tussen die verteller en die leser bewerkstellig.

Dit word dan gevolg deur ’n grap. Die swart seun word uitgevang word waar hy sy denkbeeldige opstand teen die boer opvoer en klem word daarop gelê dat hy, ten spyte van sy verleentheid, nie kan bloos nie omdat hy swart is. Hierdie "grappie" bring die (wit) verteller en (wit) leser nóg nader aan mekaar. Wanneer die seuns se gesellige kleiosmakery hierna beskryf word, word die leser verder gesus in die nostalgiese verlange na ’n idilliese, en bekende plaasbestaan.

Die grap kry later ’n ironiese betekenis by. Die implikasie dat die swart seun minderwaardig is omdat hy nie kan bloos nie, ’n minderwaardigheid wat later bevestig word as hy ook nie durf droom van hoër aspirasies as om ’n agterryer, bediende, ondergeskikte te wees nie, word ondermyn deurdat hy veel beter kleiosse maak as die wit seun.

Die nostalgie word uiteindelik ironies ondergrawe. Pens kom in opstand teen die idee dat hy net ’n agterryer durf wees, maar die bakleiery is nie deurslaggewend nie. Dit kan nie die verloop van die land se geskiedenis verlê nie en lei hoogstens tot ’n paar dae se spanning tussen die twee seuns. Die nostalgie wat by die leser opgewek is, word ondergrawe. Daardie verlange na ’n idilliese plaas en rasverhoudings gebaseer op wit meerderwaardigheid en swart minderwaardigheid wat in die 1940’s meestal as vanselfsprekend aanvaar is in Afrikaanse literatuur, kan ná hierdie veldslag nie meer ongekompliseerd wees nie.

Juis daarom is hierdie verhaal so ’n belangrik binne die konteks van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis, en ook binne hierdie kortverhaalbundel. Dit is een van die vroegste voorbeelde van ’n Afrikaanse verhaal waarin die vanselfsprekende uitsluitingsprosesse deur Afrikanernasionalisme blootgelê en tot probleem gemaak word.

Dalk is dit ook belangrik om in gedagte te hou dat Toon van den Heever, hoewel hy in 1951 die Hertzogprys vir poësie ontvang het, eintlik ’n baie skraal oeuvre gelewer het. In 1919 het hy gedebuteer met Gedigte. Hierdie bundel is verwerk en later heruitgegee as Eugène en ander gedigte (1931). Daarna het net nog een digbundel van hom verskyn, Die speelman van Dorestad (1949). In sy gedigte is Van den Heever dikwels in opstand teen sy gemeenskap se aanvaarde opvattings oor die Afrikanervolk, oor godsdiens en oor die menslike bestaan. In sy “Die beeld van oom Paul” is daar weinig tekens van hoop vir die Afrikanervolk. Sy pessimisme oor die Afrikanervolk, sy idees oor godsdiens en sy twyfel oor die sin van menslike bestaan het sommige van die destydse kritici ontstel en hy is selfs beskuldig van “volksvreemdheid”. Iets van hierdie stroomop (volksvreemde) beskouing blyk ook uit “Werkstaking by die kleigat”, omdat rasproblematiek tot tema gemaak word, op onthutsende manier, ’n manier wat die rustige, lokale, nostalgie ondermyn en juis nie die oppervlakkige gemoedelikheid (volgens Van Niekerk en Koopmans se beskouing) aanvaar nie, maar dit ontwrig. Van Wyk Louw het met “gemoedelik” in sy gewraakte uitdrukking “gemoedelik-lokale realisme” aangedui dat die ongemaklike vrae oor politiek, bestaan en godsdiens nie gevra word nie, maar dat daar eerder gemoedelik oor die skadelose aspekte gepraat word. Hierdie verhaal ondermyn juis daardie gemoedelikheid deur die aandag op ’n sentrale probleem in die samelewing te vestig.

Lees hier Anton van Niekerk en Nico Koopman se opinie, asook ander kommentaar:

Van den Heever se “Werkstaking by die kleigat”: Regtig nodig in Die Afrikaanse kortverhaalboek?

Anton van Niekerk, Nico Koopman
Menings

"Ons kan seker die verlede nie vergeet nie. Maar waarom aan hierdie verhaal van rassisme en growwe paternalisme status verleen deur dit ook in hierdie besondere bundel op te neem? Waarom hierdie verhaal nie toelaat om rustig te verdwyn in die vergetelheid wat dit so ryklik verdien nie?"

“Werkstaking by die kleigat”: Braam de Vries lewer kommentaar

Braam de Vries
Menings

"Toon van den Heever se 'Werkstaking by die kleigat' is die klassieke begin van juis die 'weerstandsmotief' (weerstand teen onregte) in die Afrikaanse kortverhaal."

“Werkstaking by die kleigat”: John Miles lewer kommentaar

John Miles
Menings

"Die titel van Van den Heever se skets maak die leser reeds bedag op die moontlikheid van ironiese afstand. ’n Werkstaking by kinders se speelplek. “Werk” teenoor “speel”, politiek by die spel!"

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Waldemar Gouws

    Baie dankie, prof Burger, en ook aan Naomi Bruwer vir haar gawe foto - mens kan sommer sien hierdie man voor die kamera is nie blind nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top