Suidoosterfees se nuwe uitvoerende hoof aan die woord

  • 0

Niël Rademan is op 23 April 2014 aangestel as uitvoerende hoof van die Suidoosterfees. Hy vertel vir Naomi Meyer van melkskommels en hologramme. En natuurlik ook van kabaret.

Baie geluk, Niël, met die aanstelling as uitvoerende hoof van die Suidoosterfees. Hoe voel jy oor die groot nuus?

Baie dankie! Ek is soos op enige ander dag in my lewe werklik opgewonde oor nie net wat die dag kan bring nie, maar wat die toekoms inhou. Ek het wel gisternag 'n opwindende slegteslaapnag ervaar: ek het soos gewoonlik 'n magdom nuwe planne en in my gepluimde hoed uitgedink, gedroom en getoor.

Vertel vir ons lesers wat nie weet nie, meer van jou agtergrond, asseblief.

Ek is die seun wat 'n arm, maar beeldskone jong plattelandse man in die vroeë dertigerjare by 'n boere-Jodin gehad het. Ek is in die Heidelberg-omgewing (Suid-Kaap) gebore en getoë en het in die sestigerjare saam met die (wyle) groot regisseur van die Afrikaanse toneel, Jannie Gildenhuys, rondgereis en die land met kaviaarkuns bedien. Na vele verjongingskure en ontrimpelingsoperasies is ek pas verkies as die nuwe uitvoerende hoof van die unieke, soomlose en vooruitstrewende Suidoosterfees. Ek hou ook weer vanjaar my 30ste verjaardag soos soveel jare gelede en glo in dinamiese, vernuwende denke en predik kreatiwiteit, kwaliteit en konsekwensie. Terloops: die hoofbestanddele van 'n perfekte kunstekoek is kabaret, klassieke musiek en komedie. Met die nodige dramatiese flair.

Ek het reeds die antwoord op daardie vraag geken, en ek sien ook jy beoog musiek, kabaret en humor vir die Suidoosterfees. Wil jy dalk hierop uitbrei?

Hahaha! Jy lees my soos 'n boek. Ek wil jou wel daarvan vergewis dat ek 'n versteekte apokriewe hoofstuk het wat uitgelaat is ... Die uitbreiding op jou vraag sal in die praktyk 28 April – 3 Mei 2015 (nuwe feesdatum) onthul word.

Ek lees in Die Burger jy meen die Suidoosterfees is van die enkele inklusiewe feeste in die land en ek stem met jou saam. Hoe visualiseer jy die feesaanbod en waarop sal die klem val: op die genre (kabaret vs drama, byvoorbeeld), op inklusiwiteit of op kwaliteit? 

Ek glo in verskeidenheid, maar ook in inklusiwiteit met 'n sigbare bindende faktor. Eenheid in verskeidenheid is wat ek verlang. 'n Feessamestelling moet 'n allegaartjie op 'n pragtige bord wees.

Die feesaanbod is een ding, maar hoe kry mens dit reg dat mense die fees bywoon – hoe hou mens die kaartjies bekostigbaar?

Kuns, teater en musiek moet gepropageer word: onder nuwe moontlike ondersteuners hetsy dit donateurs, medewerkers of teatergangers of potensiële teatergangers is! As die kunste ons ware passie is, sal ons die massas en die menigtes infiltreer en infekteer met ons drif. Oor die bekostigbaarheid van kaartjies wil ek my nie onnodiglik uitlaat nie; ek weet wel dat 'n goeie hamburger rondom R60 kos, 'n melkskommel R30 en 'n teaterkaartjie: R80–R120. Tensy ek Maria Callas 'n hologramverskyning kan laat maak by die Kunstekaap – dan praat ons van ander bedrae geld.

Gaan die Suidoosterfees ook ander werk in die gemeenskap probeer doen, dwarsdeur die jaar, of stop dit by een fees een maal per jaar?

Daar is reeds 'n aantal projekte wat vanaf 5 Mei aangepak sal word. Ek is 'n voorstander van gehoorontwikkeling, bewusmaking en sigbaarheid – deurlopend. Een wat ek kan uitlig, is drie groot uitreikkonserte met inligtingsessies, 'n kunsuitstalling en ook 'n kunsteberoepsuitstalling (in die Suid-Kaap) wat saam met Kunstekaap Teater – spesifiek Marlene le Roux – aangebied sal word. Ek is al jare lank hierby betrokke en sien benewens hierdie inisiatief net rooskleurigheid in die toekomsverhouding tussen Kunstekaap en die Suidoosterfees.

Hoe sien jy die fees se samewerking saam met ander feeste?

Ek hou van saamspeel. Interaksie tussen kunste-organisasies is van groot belang. Die moontlikhede is net soveel meer.

Wat is jou droom vir die Suidoosterfees?

Dat dit die mees verteenwoordigende fees, met die lekkerste gees en die hoogste-kwaliteit produksies in pragtige lokale en vol teaters sal wees. 

Lees 'n indruk van 'n radioslypskool by die Suidoosterfees 2014.

Lees 'n teaterresensie van Agtervolger wat by die Suidoosterfees gespeel het.

Lees 'n kunsonderhoud van 'n uitstalling by die Suidoosterfees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top