Pox populi ignoramus en ons beste manier van weet
’n Malariahorlosie wat, as jy dit dra, jou dadelik kan vertel of jy malaria het. ’n Armband wat jou energie balanseer en feitlik elke kwaal in die mediese handboek van jou weghou. ’n Voetbad wat al die gifstowwe uit jou liggaam verwyder. ’n Brousel tee wat jou liggaam van onsuiwerhede suiwer.
Net vier voorbeelde van hoe slim en slinkse en dikwels oneerlike bemarkers gewone mense, soms desperaat weens een of ander onverklaarbare siekte, om die bos lei.
Hoe moet Jan en Sannie Alleman en -vrou wéét wanneer die grens van geloofwaardigheid op die foutlyn tussen bewese kennis en onbewese onsin oorgesteek word? Wat is die beste manier om vas te stel of die aansprake van totale gesondheid en skielike geluk waarmee jy in die media deur adverteerders en smouse van pseudowetenskap gebombardeer word, waar is en die aantreklike sak nie ’n kat bevat nie?
Toe Anastassios Pouris van die Universiteit van Pretoria twintig jaar gelede Suid-Afrikaners se kennis oor astrologie, in die volksmond ook bekend as sterrewiggelary, getoets het, het een uit elke drie van die ondervraagdes geantwoord hulle dink astrologie staan baie sterk op ’n wetenskaplik basis. ’n Verdere een uit drie het beweer astrologie het wetenskaplike gronde. Dat twee uit drie Suid-Afrikaners se vermoë om bewese wetenskap van pseudowetenskap te onderskei so gebrekkig is, kan ’n mens net toeskryf aan die siekte pox populi ignoramus – die pes van die onkundige bevolking, soos die Pulitzerpryswenner Natalie Angier dit beskryf.
Suid-Afrikaanse kinders vaar jaar ná jaar ellendig in internasionale toetse oor hul wetenskaplike en wiskundige kennis en kan geensins met die meeste ander lande meeding nie, selfs nie met lande met ’n veel kleiner onderwysbegroting nie. G’n wonder nie, as die vyandigheid teenoor geldige wetenskap by ’n bekende skool in die Kaapse noordelike voorstede as voorbeeld van pox populi ignoramus moet dien. Hier het ’n wetenskaponderwyser wat, streng volgens die sillabus, natuurlike seleksie as die meganisme waardeur evolusie plaasvind, behandel het, bedank nadat sy trompop geloop is deur medeonderwysers, die skoolhoof en ouers omdat sy die “onsin van evolusie” verkondig.
Dit is algemene praktyk in heelwat skole dat biologie-onderwysers weier om evolusie in klasse te bespreek, ondanks die feit dat dit in 1998 die eerste keer as deel van skoolleerplanne ingesluit is ná jare se apartheidskoling wat dit as “onskriftuurlik” beskryf het. Hierdie onderwysers ignoreer die ouderdom van die Aarde en weier om bewese wetenskaplike feite soos plaattektonika en radiodatering van rotse en fossiele hul regmatige plek in die wetenskapsillabus te laat inneem – ten koste van kinders se kennis in ’n wetenskapsgedrewe eeu.
Saul Bellow, ’n wenner van die Nobelprys vir letterkunde, het hierdie soort moedswillige onkunde by pligversakende onderwysers raak beskryf. “’n Groot deel van intelligensie kan gewy word aan onkunde wanneer die behoefte aan illusie diep is.”
Wetenskaplike ongeletterdheid is nie ’n uniek Suid-Afrikaanse sindroom nie; dit kom wyd voor in alle lande, ook in die VSA, die leidende wetenskapland met sy ellelange lys van wetenskaplike prestasies en ontdekkings.
Kan ons dan verwag dat almal wetenskaplik geletterd móét wees?
Nee, maar ouers en onderwysers versaak hul plig as hulle onkunde verkies bo kennis en leerders sodoende in die steek laat omdat hulle in ’n mededingende wêreld verkies om wetenskaplike bewyse as onsin af te maak as dit nie in hul beperkte denkwêreld inpas nie.
Die Amerikaanse fisikus Robert Park beklemtoon dat dit nie eintlik kennis van die wetenskap is wat die publiek nodig het nie, maar ’n wetenskaplik ingestelde wêreldvisie – ’n begrip dat ons in ’n geordende heelal woon wat deur fisiese wette beheer word wat nie omseil kan word nie.
Dat wetenskap en wetenskaplikes beleër word, is duidelik uit ’n falanks van wetenskapontkenners wat die mens se rol in klimaatsverandering as bog afmaak, uit die doelgerigte pesbeheer wat onderwysers en ouers toepas op ’n bewese wetenskaplike teorie soos evolusie, uit anti-inentingsveldtogte deur onkundiges wat hul eie kinders en dié van ander se lewens in gevaar stel. En uit vele ander misleidende aanhangsels van pseudowetenskaplike denke.
Wetenskapontkenning het ongelukkig mode geword, maar veel erger, die media wat beter behoort te weet, neem lustig aan hierdie ontkenning deel. Radiostasies soos Cape Talk en Talk Radio 702 nooi astroloë uit om hul onsinnige raad aan liggelowige luisteraars te verkondig. Min koerante bevat nié daagliks ’n astrologierubriek nie, en aan die begin van die jaar het Suid-Afrika se grootste gesinstydskrif openlik op sy omslag ’n volledige sterrevoorspellingsgids aangekondig.
Die wetenskap het ver van al die antwoorde op die groot lewens- en ontstaansvrae, maar ons “moet die intellektuele moed aan die dag lê om met die onbeantwoorde vrae te lewe, eerder as om antwoorde uit te dink wat geen basis het behalwe in mistieke ervaring nie,” skryf die Suid-Afrikaans-gebore ontwikkelingsbioloog Lewis Wolpert van University College in Londen. “Wetenskap verskaf by verre die mees betroubare metode om te bepaal of ons geloof geldig is.”
Dit het tyd geword om bewese en beproefde wetenskaplike kennis weer sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse samelewing te gee. Verhoed nie die kinders om aan die voet van die Berg Wetenskap te sit en oor die vallei van onkunde te kyk nie.