Pox populi ignoramus en ons beste manier van weet

  • 5

’n Malariahorlosie wat, as jy dit dra, jou dadelik kan vertel of jy malaria het. ’n Armband wat jou energie balanseer en feitlik elke kwaal in die mediese handboek van jou weghou. ’n Voetbad wat al die gifstowwe uit jou liggaam verwyder. ’n Brousel tee wat jou liggaam van onsuiwerhede suiwer.

Net vier voorbeelde van hoe slim en slinkse en dikwels oneerlike bemarkers gewone mense, soms desperaat weens een of ander onverklaarbare siekte, om die bos lei.

Hoe moet Jan en Sannie Alleman en -vrou wéét wanneer die grens van geloofwaardigheid op die foutlyn tussen bewese kennis en onbewese onsin oorgesteek word? Wat is die beste manier om vas te stel of die aansprake van totale gesondheid en skielike geluk waarmee jy in die media deur adverteerders en smouse van pseudowetenskap gebombardeer word, waar is en die aantreklike sak nie ’n kat bevat nie?

Toe Anastassios Pouris van die Universiteit van Pretoria twintig jaar gelede Suid-Afrikaners se kennis oor astrologie, in die volksmond ook bekend as sterrewiggelary, getoets het, het een uit elke drie van die ondervraagdes geantwoord hulle dink astrologie staan baie sterk op ’n wetenskaplik basis. ’n Verdere een uit drie het beweer astrologie het wetenskaplike gronde. Dat twee uit drie Suid-Afrikaners se vermoë om bewese wetenskap van pseudowetenskap te onderskei so gebrekkig is, kan ’n mens net toeskryf aan die siekte pox populi ignoramus – die pes van die onkundige bevolking, soos die Pulitzerpryswenner Natalie Angier dit beskryf.

Suid-Afrikaanse kinders vaar jaar ná jaar ellendig in internasionale toetse oor hul wetenskaplike en wiskundige kennis en kan geensins met die meeste ander lande meeding nie, selfs nie met lande met ’n veel kleiner onderwysbegroting nie. G’n wonder nie, as die vyandigheid teenoor geldige wetenskap by ’n bekende skool in die Kaapse noordelike voorstede as voorbeeld van pox populi ignoramus moet dien. Hier het ’n wetenskaponderwyser wat, streng volgens die sillabus, natuurlike seleksie as die meganisme waardeur evolusie plaasvind, behandel het, bedank nadat sy trompop geloop is deur medeonderwysers, die skoolhoof en ouers omdat sy die “onsin van evolusie” verkondig.

Dit is algemene praktyk in heelwat skole dat biologie-onderwysers weier om evolusie in klasse te bespreek, ondanks die feit dat dit in 1998 die eerste keer as deel van skoolleerplanne ingesluit is ná jare se apartheidskoling wat dit as “onskriftuurlik” beskryf het. Hierdie onderwysers ignoreer die ouderdom van die Aarde en weier om bewese wetenskaplike feite soos plaattektonika en radiodatering van rotse en fossiele hul regmatige plek in die wetenskapsillabus te laat inneem – ten koste van kinders se kennis in ’n wetenskapsgedrewe eeu.

Saul Bellow, ’n wenner van die Nobelprys vir letterkunde, het hierdie soort moedswillige onkunde by pligversakende onderwysers raak beskryf. “’n Groot deel van intelligensie kan gewy word aan onkunde wanneer die behoefte aan illusie diep is.”

Wetenskaplike ongeletterdheid is nie ’n uniek Suid-Afrikaanse sindroom nie; dit kom wyd voor in alle lande, ook in die VSA, die leidende wetenskapland met sy ellelange lys van wetenskaplike prestasies en ontdekkings.

Kan ons dan verwag dat almal wetenskaplik geletterd móét wees?

Nee, maar ouers en onderwysers versaak hul plig as hulle onkunde verkies bo kennis en leerders sodoende in die steek laat omdat hulle in ’n mededingende wêreld verkies om wetenskaplike bewyse as onsin af te maak as dit nie in hul beperkte denkwêreld inpas nie.

Die Amerikaanse fisikus Robert Park beklemtoon dat dit nie eintlik kennis van die wetenskap is wat die publiek nodig het nie, maar ’n wetenskaplik ingestelde wêreldvisie – ’n begrip dat ons in ’n geordende heelal woon wat deur fisiese wette beheer word wat nie omseil kan word nie.

Dat wetenskap en wetenskaplikes beleër word, is duidelik uit ’n falanks van wetenskapontkenners wat die mens se rol in klimaatsverandering as bog afmaak, uit die doelgerigte pesbeheer wat onderwysers en ouers toepas op ’n bewese wetenskaplike teorie soos evolusie, uit anti-inentingsveldtogte deur onkundiges wat hul eie kinders en dié van ander se lewens in gevaar stel. En uit vele ander misleidende aanhangsels van pseudowetenskaplike denke.

Wetenskapontkenning het ongelukkig mode geword, maar veel erger, die media wat beter behoort te weet, neem lustig aan hierdie ontkenning deel. Radiostasies soos Cape Talk en Talk Radio 702 nooi astroloë uit om hul onsinnige raad aan liggelowige luisteraars te verkondig. Min koerante bevat nié daagliks ’n astrologierubriek nie, en aan die begin van die jaar het Suid-Afrika se grootste gesinstydskrif openlik op sy omslag ’n volledige sterrevoorspellingsgids aangekondig.

Die wetenskap het ver van al die antwoorde op die groot lewens- en ontstaansvrae, maar ons “moet die intellektuele moed aan die dag lê om met die onbeantwoorde vrae te lewe, eerder as om antwoorde uit te dink wat geen basis het behalwe in mistieke ervaring nie,” skryf die Suid-Afrikaans-gebore ontwikkelingsbioloog Lewis Wolpert van University College in Londen. “Wetenskap verskaf by verre die mees betroubare metode om te bepaal of ons geloof geldig is.”

Dit het tyd geword om bewese en beproefde wetenskaplike kennis weer sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse samelewing te gee. Verhoed nie die kinders om aan die voet van die Berg Wetenskap te sit en oor die vallei van onkunde te kyk nie.

  • 5

Kommentaar

  • Volgens onlangse meingsopnames glo ongeveer 45% van die Amerikaners dat die aarde inderdaad binne sewe dae geskep is. Hulle kan nie Bybelse beeldspraak onderskei van die wetenskaplike realiteit nie. Wat my verwonder is dat Amerikaners 'n maanlanding kan doen, en oral in die heelal hulle tentakels uitsteek, maar iets so absurd kan glo.

     

    Pouveer 

  • Ek het dit  nog nie selfervaar nie, maar indien afwysende reaksie van die Suid-Afrikaanse publiek op die evolusie-lering, in die praktyk so omvangryk is dat dit 'n hindernis is om "bewese en beproefde wetenskaplike kennis sy regmatige plek in die samelewing te gee," moet instansies wat beproefde wetenskap wil bevorder dit vermy om die wetenskap op te stel teenoor die mistieke, selfs wanneer die wetenskaplike uitgedaag word om dit te doen. Die wetenskaplike se uitgangspunt moet duidelik en herhaaldelik wees dat die wetenskap nie die bestaan van 'n Opperwese ontken nie maar die Skepping wil ondersoek met die menslike vermoens wat die Skepper genadiglik aan die mens gee. Laat die argument dan daar sonder om betrek te word in die tesisse van die mistieke geloof.

    As die vlak van "wetenskaplike ingestelde wêreldvisie' suksesvol oor 'n generasie of drie by leerders tuis gebring kan word sal die afwysende reaksie mettertyd verander in belangstellende debat.

    Dit moet ingedagte gehou word dat alle samelewings in hierdie wereld in klasse verdeel kan word en dat dit selfs in ons tyd vermoedelik 'n onbegaanbare taak is om almal altyd ewe geinteresseerd te kry in die alfabet en nommers. As mens daarom daarin kan slaag om sterk kerngroepe in die samelewing op te lei in wetenskaplike denke is dit reeds .n prestasie.

    Johan-Paul Schutte.

  • Avatar
    George Claassen

    Johan-Paul, jy merk op: "Die wetenskaplike se uitgangspunt moet duidelik en herhaaldelik wees dat die wetenskap nie die bestaan van 'n Opperwese ontken nie maar die Skepping wil ondersoek met die menslike vermoens wat die Skepper genadiglik aan die mens gee. Laat die argument dan daar sonder om betrek te word in die tesisse van die mistieke geloof."

     

    Nee, die wetenskap is nie bemoeid met die bestaan van 'n opperwese nie en spreek hom ook nie uit oor die bestaan of nie-bestaan van so 'n skeppergodheid nie. Dis nie die werk van die wetenskap om na (G)od te soek nie. Wat die wetenskap egter wel deeglik doen, is om soos in 'n saak voor 'n hof na al die feite op die tafel te kyk en daarvolgens 'n oordeel te maak of daar wel die moontlikheid is dat so 'n skeppende godheid bestaan as ons al die feite tot ons beskikking in ag neem. Die wetenskap werk met bewyse: sonder bewyse vir wetenskaplike aansprake wat gemaak word,  kan daardie aansprake nie as waar beskou word nie. So beweer astrofisici daar is iets soos Donker materie en Donker energie, maar die bestaan daarvan is nog nie bewys nie. Miskien word dit wel bewys noudat die moontlikheid bestaan dat die Higgs-boson gevind is.

     

    Daar is egter nie een enkele wetenskaplike bewys vir die bestaan van 'n skeppende godheid nie, God, Yahweh, noem hom/haar wat jy wil. Deur die evolusieteorie en deur middel van gevorderde dateringstegnieke met hoogs gesofistikeerde instrumente, weet ons die heelal is 13,7 miljard jaar oud en die Aarde ongeveer 4,57 miljard jaar - nie net 6 000 tot 10 000 jaar soos aanhangers van die kreasionisme beweer nie. Ons as wetenskaplikes hoef nie enige uitspraak of erkenning oor 'n opperwese of sy/haar bestaan te maak nie. Maar die feite op die tafel dui onteenseglik dat so 'n godheid wensdenkery is en deur mense ongeveer 20 000 jaar toe religie die eerste keer begin beoefen is deur ons spesie, uitgedink is - dus 'n menslike maaksel.

  • Avatar
    Kobus de Klerk

    Dr Claassen,

    In u kommentaar hierbo vermeld u die volgende : "Maar die feite op die tafel dui onteenseglik dat so 'n godheid wensdenkery is en deur mense ongeveer 20 000 jaar toe religie die eerste keer begin beoefen is deur ons spesie, uitgedink is - dus 'n menslike maaksel."

    Elders, gee u aan studente (by monde van Richard Dawkins) die volgende raad "Betoon respek teenoor die wetenskap se metode waarvolgens waarde geheg word aan bewyse voordat enigiets geglo kan word ... Die betroubaarste manier om ons wêreld en ons kosmos te begryp, is die wetenskaplike metode, ’n sistematiese soektog na kennis oor die wêreld en om daardie kennis te organiseer en saam te vat in toetsbare wette en teorieë wat op bewyse gegrond is ... Vra altyd vir die bewyse" - U eie beklemtoning.

    Nou, na aanleiding van u eie aansprake, sal u asseblief vir ons die bewyse vir u stelling duidelik uitlig, sodat ons dit kan kontroleer aan die hand van alle beskikbare kennis. My versoek is dus vir die bewyse, nie die teorieë of hipotese nie, waarop u aansprake berus.Dit is die eerste aspek.

    Die tweede aspek, wat by die eerste hierbo aansluit, is die volgende:

    U vermeld self elders dat die mens hom sedert antieke tye besighou met die (geesteswetenskap van) Godsdiensbeoefening. Dan is daar natuurlik ook al vir net solank die aanspraak van gelowige mense dat God lewe omdat hulle in een en ander verhouding met God staan. Kan mens in 'n verhouding staan met iets wat nie bestaan nie? Kwalik, nie waar nie... Tewens, dit is ook al duisende jare gelede so opgeteken deur mense, soos die apostels wie sê dat hulle 'n persoonlike verhouding met die Godheid in die Persoon van Jesus Christus die HERE had.

    Daardie is dus vaste bewerings op grond van persoonlike ervaring en belewenis en waarneming oor die verloop van ten minste drie jaar op 'n daaglikse basis en hulle ooggetuie getuienis is al duisende jare gelede individueel, maar op verskillende tye, geboekstaaf in wat vandag bekend staan as die versamelde Bybelgeskrifte.

    Dus, die essensie van die gesamentlike getuienis van etlike persone wie op persoonlike waarneming en ervaring aanspraak maak, is meer as net prima facie bewys - trouens, dit sal in enige hof staan as eersteklas getuienis totdat dit weerlê word - en diegene wat dit wil weerlê, dra die bewyslas daartoe. Ek bemerk uit u skryfwerk u heg waarde aan die bewysproses in howe vir doeleindes van wetenskapsbeoefening ook - in howe word met feite gewerk en is primêre ooggetuie getuienis wat so goed oor en weer gekorroboreer word soos die van die apostels, as eersteklas feitelike getuienis aangemerk.

    Nou kom u en u sê gewoon, net omdat u 'n ateïs is,  en u gevolglik die werking van Spiritualiteit (nog) nie begryp nie (hoofsaaklik weens gebrek aan belangstelling - op sigself baie onwetenskaplik want wetenskaplikes wat hul sout werd is ondersoek objektief, ongeag of hulle van die onderwerp hou of nie) dat daar nie 'n enkele wetenskaplike bewys is vir die bestaan van 'n, of die, (skeppende) Godheid, nie.

    U maak dus die bogemelde twee bewerings wat u sal moet bewys - anders, op u eie onderrig aan die studente, hoef ons gewoon nie vir ons aan u mededelings te steur nie, want dit is onbewese en spekulatief en bloot 'n refleksie van u persoonlike lewensfilosofie. Indien u agter wel met objektiewe bewyse vir u stellings vorendag kom, is dit 'n ander kwessie.

    Kan u vir ons dus bewys lewer vir u stellings waarna ek verwys? - U eie opinie sonder grondige bewyse daaroor is mos nie van nut nie, omdat u nie die vermoë  tot Spiritualiteit het, nie, (as u daartoe instaat was, was u nie 'n ateïs nie) en ook omdat niemand wat erns maak van die wetenskaplike metode, ooggetuie waarnemings, getuienis en verduidelikings sommer net so sal afmaak as onbenullig, soos wat u nou blykbaar met die apostels van destyds se getuienis wil doen, nie.

    Ek sien u antwoord tegemoet.

    Kobus de Klerk

  • Jou 'apartheidskoling'-opmerking is onwetenskaplik en ongegrond. Toe ek in standerd 8 was het 'n biologie-onnie ons al van evolusie vertel,  Sy woorde kan ek vandag nog onthou, " ... niemand kan dit betwis nie; jy kan aan die bewyse gaan vat."  Dit was egter nie deel van die leerplan nie maar kreasionisme was ook nie deel van die leerplan nie; ek het tot matriek (1963) biologie gehad en nooit was of evolusie of kreasionisme aangeval nie.  Buitendien, bestaan daar ooit so-iets soos leer soos kreasionisme?  As daar is, is dit in die domein van die godsdiens, nie biologie nie.

    Ek dink ook as jy bietjie navorsing gaan doen gaan jy vind dat skole oor die hele wêreld dalk teen evolusie geskop het.  Daar is geen korrelasie tussen sogenaamde apartheid en weersin in evolusie nie.  Ek dink in veral katolieke lande sal jy hierdie weerstand teen die evolusieleer kry (waar 'apartheid' nie 'n beleid is/was nie).

    Daardie soort van stelling verwag mens van 'n ou soos Pierre de Vos, NIE van 'n wetenskaplike soos jy wat veronderstel is om dinge logies te sien nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top