Klaskamerklets: Onderhoud met Rina Paul

  • 0

In Klaskamerklets leer ons onderwysers in die klas ken, maak kennis met hul fortés en hul frustrasies.

Hierdie week gesels ons met Rina Paul, wiskunde-onderwyser by die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch. Sy onderrig Wiskunde van graad 9 tot 12.

Wat is die grootste uitdaging in die onderwys soos dit vandag daar uitsien?

Die Caps-leerplan is, veral in die hoër grade, besonder vol en dikwels op ’n hoë kognitiewe vlak en moeilik vir die ondergemiddelde leerder. Om alle leerinhoud behoorlik vas te lê in die beperkte tyd bly ’n uitdaging. Ouerbetrokkenheid is meestal positief en word altyd verwelkom, maar onrealistiese verwagtinge by sommige ouers skep spanning by alle partye. Dit is vir my jammer dat standaardgraad as ’n tussenfase, en goed genoeg vir die meeste tersiêre vakrigtings, afgestel is. Ek glo werklik dit is ten koste van baie leerders, wat nou sukkel en baie spanning ervaar met betrekking tot keuring vir verdere studie.

Wat is vir die leerders vandag die grootste uitdaging?

Met die samelewing wat soveel bied, dink ek die leerders se grootste uitdaging is om die regte prioriteite te hê en hulle tyd sinvol te gebruik. Dikwels word hulle deur werkloosheid, dwelms en ander negatiewe omstandighede gekonfronteer en moet in moeilike omstandighede ’n positiewe toekomsvisie hê, verantwoordelik optree, die regte besluite neem.

Watter eienskappe het ’n goeie onderwyser nodig om die uitdagings van die beroep die hoof te bied? Hoe belangrik is eienskappe soos ’n humorsin, kreatiwiteit, entoesiasme, empatie, ruimhartigheid, aanpasbaarheid, toegewydheid en grit byvoorbeeld – om maar enkeles te noem – vir iemand wat daagliks in ’n klaskamer staan?

Wedersydse respek, selfrespek , werksetiek en dissipline is die pilare vir enige suksesvolle onderrigsituasie. Erken die leerders as individue met persoonlike uitdagings, toon begrip daarvoor, gee werklik om vir hulle en probeer om ’n omgeekultuur te skep. ’n Passie vir die vak is onontbeerlik. Eienskappe soos kreatiwiteit, entoesiasme en toegewydheid sal noodwendig daaruit voortspruit. Leerders sal jou passie waardeer, dikwels saam opgewonde raak en die omgewing positief ervaar. Ligte oomblikke skep leerenergie. ’n Onderwyser moet die voorbeeld stel, met selfvertroue voor loop en inspireer met ’n holistiese benadering. Ek ervaar dat leerders in gr 12 dankie sê vir momente in die klas wat min te doen het met die vak self, maar alles met die lewe.

Hoe moedig jy jou klas aan om aktief deel te wees van dit wat in die klaskamer gebeur?

Tydens die les vra ek gedurig hoekom stappe moontlik is of wat die volgende stap is en ek rig my vraag aan ’n leerder. Die gevolg is dat hulle maar op hulle tone moet wees om te kan antwoord as hulle dalk gevra word. Hulle kry ook tyd om die tweede gedeelte van die periode reeds met huiswerk te begin. Ek stap tussen hulle deur en help waar nodig. In hierdie tyd word hulle toegelaat om gedemp en ordelik met mekaar oor die werk te gesels, idees uit te ruil en mekaar te help.

In watter mate het jy toegang tot, en maak jy gebruik van, tegnologie in jou klaskamer?

Ek is bevoorreg en dankbaar dat my skool ’n Thinkpad-tablet tot my beskikking gestel het. Dit is pen-sensitief en gevolglik skryf ek daarop soos op papier. Dit word via ’n dataprojektor intyds op ’n skerm vertoon. ’n Voordeel hiervan is die feit dat ek links voor die skerm staan en vir die leerders kyk terwyl ek klas gee en op die rekenaar werk sonder om ooit my rug na hulle te draai. Ek stoor alles en stel veral vir die gr 12's van die aantekeninge op Dropbox beskikbaar. Ek laat leerders toe om op gegewe tye met hulle selfone foto's van die skerm te neem.

Watter webtuistes en/of boeke/bronne besoek jy vir jou vaknavorsing en voorbereiding?

Naas ander handboeke gebruik ek ook vraestelboeke en werkboeke soos die Pythagoras-reeks en X-faktor vir ekstra oefeninge. Die Vereniging van Afrikaanse Wiskunde-onderwysers se webtuiste vir skoolwiskunde het toetse en werkkaarte met memorandums beskikbaar. Ek vind ook dat mathsexcellence en die provinsiale onderwysdepartemente nuttige inligting op hulle webwerwe het. Geogebra het uitstekende interaktiewe materiaal op die internet en die program is waardevol vir die maak van meetkundesketse en grafieke.

Hoe pas jy jou onderrig aan om die leerders wat onderpresteer te ondersteun?

Indien ek dit nodig vind, sal ek meer huiswerk oor ’n bepaalde tema gee en die oorsaak van die probleem probeer opspoor. Dit bly egter moeilik om ’n vol leerplan af te handel en ook nog voorkennis van jare terug wat ontbreek, te probeer bybring. Behalwe ondersteuning in klastyd is die lede van ons vakspan ingedeel in ’n rooster om elke weeksmiddag direk na skool beskikbaar te wees vir ekstra klas aan enige leerder met ’n wiskundeprobleem. Ons tree met leerders in gesprek waar nodig, en huiwer ook nie om ouers tydens oueraande of andersins oor probleme in te lig nie.

Watter ekstra voorsiening maak jy vir die buitengewoon begaafde leerder(s) in die klas?

Hulle word toegelaat om in die klas vooruit te werk en vinniger te vorder en meer uitdagende probleme aan te pak. Soms tree hulle as tutors vir ander leerders op. In dié proses kweek ons ’n omgeekultuur en hopelik ’n paar onderwysers! Gr 12's wat uitsonderlik presteer, word van tyd tot tyd van ’n klas verskoon om elders op hulle eie te werk.

Hoe sal jy ’n leerder(s) hanteer wat herhaaldelik dissiplinêre probleme gee?

In die geval van steurende gedrag sal ek die leerder uit die groep verwyder sodat die res ongehinderd kan werk. Gewoonlik sal ernstige gesprekvoering na die klas genoeg wees, maar onderwysers kan ook die leierstrukture by ons skool gebruik om herhaaldelike oortreders dissiplinêr te verhoor. Ouers word vroeg in die proses bygetrek om saam aan ’n oplossing te werk. ’n Dissiplinêre komitee hanteer uiterste gevalle.

Watter inhoud van jou vak vind leerders die moeilikste om te verstaan?

Dit verskil van graad tot graad. Grafieke is aan die begin vir baie leerders ’n moeilike konsep. Vir die seniors is euklidiese meetkunde nog maar vreemd en gevolglik sukkel hulle aanvanklik met insig en die logiese uiteensetting van bewyse.

Hoe dra jy hierdie inhoud aan hulle oor sodat hulle dit uiteindelik verstaan?

’n Mens moet hulle maar gerusstel dat dit moeiliker lyk as wat dit is; dat dit normaal is om onseker te voel oor die nuwe werk. Ek verduidelik dan maar weer stap vir stap die hele saak en doen genoeg voorbeelde saam met hulle. Daarna kry hulle genoeg huiswerk, waarmee hulle dadelik begin. Wiskunde-insig kom met baie oefen, oefen, oefen. Soms sal ek leerders vra om hulle antwoorde op die bord te doen en te verduidelik. Hulle hou daarvan; dit is voordelig vir die ander se begripvaslegging en so leer hulle uit mekaar se foute. Party leerders sien hier die lig!

Watter onderrighulp sou jy graag op LitNet wou kry?

Vraestelle met memo's, ondersoeke en tutoriale is altyd welkom. ’n Vraebank kan dalk oorweeg word.

Het jy ’n les of lesidee wat goed gewerk het en wat jy bereid is om met LitNet te deel sodat ander onderwysers daaruit kan put?

My gunstelingles is meting in graad 10, wat baie aanskoulik kan wees! Binne-in ’n oop ronde flessie word ’n papierkeël gevorm met sy skerp punt onder op die middelpunt van die flessie se bodem. Sy groot oop kant word afgesny sodat dit dieselfde radius en hoogte as die flessie het. Vul die keël binne-in die flessie met sand (of rys) tot bo. Die sand beslaan maw die volume van die keël. Trek dan die papierkeël uit die flessie terwyl die sand agterbly. Siedaar! ’n Derde van die flessie is vol sand. In die algemeen geld dit dan dat die inhoud van ’n keël altyd ’n derde van die inhoud van ’n silinder met dieselfde hoogte en radius is. Dit kan uitgebrei word na byvoorbeeld ’n vierkantige regte prisma en piramide. In ’n volgende periode het ek die volume van ’n keël met ’n halwe sfeer bo-op as oefening gegee, dit prakties gemaak met roomyshorinkies en roomys en lekker saamgeëet. ’n Deursnit loodreg op die sirkelvormige basis aan die een kant van die keël lewer ’n mooi parabool, tot almal se verbasing!

Watter boek(e) het jy in die afgelope jaar gelees en/of films het jy gesien wat ’n blywende impak op jou gemaak het?

Die Groot Storieboek – tydlose vertellings oor lewenswaardes en die waarde van die lewe; asook Deon Meyer en Karin Brynard se boeke met hulle goeie spanningslyne. Ek is ook ’n groot aanhanger van John Grisham en wag in spanning op ’n nuwe boek uit sy pen! The hundred-foot journey, Chef en Sunshine on Leith is van die films wat ek besonder geniet het, omdat dit sulke menslike goedvoelfilms is en my met ’n huppel in my stap gelaat het.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top