Klankkas-oorsig 2014: Die gehalte, die aanklank en die bisarre

  • 0

Dit was ’n jaar van twee helftes. Dít is die gevoel wat ek kry met terugskouing oor die talle Klankkas-onderhoude wat in 2014 gevoer is. Van die kunstenaars is wêreldbekend, ander swoeg nog om gigs vas te maak. Strykdeur, egter, is die onderhoude onvoorspelbaar, vrek interessant en dikwels vrek snaaks. Vir die talle kunstenaars se weldeurdagte en soms waarlik eerlike antwoorde op die vrae wat hulle ontvang, moet ons van LitNet se kant ’n groot dankwoord uitspreek.

Maar terug by die twee helftes: Met enkele uitsonderings was die eerste helfte van 2014 relatief stil wat nuwe uitreikings op die plaaslike rock- en alternatiewe toneel betref.

Daar was Die Heuwels Fantasties se uitreiking van hul kortspeler Wens jy was hier, waaroor DHF-lid Hunter Kennedy gesê het dit was te vroeg vir ’n nuwe vollengte-album, maar hulle wou vrek graag nuwe musiek vrystel. Oor die Mandoza-collaboration het Kennedy gesê: “Vir seker is daar frustrasie en sinisme in van die lirieke. Dit is emosies wat Suid-Afrikaners daagliks voel, maar die liedjie is ’n positiewe ene.” Moontlik werp dit lig op die soms donker onderstrominge in DHF-lirieke, al is die klank deesdae grootliks “upbeat”.


Hunter Kennedy

Nog ’n groot uitreiking van vroeg vanjaar was Jack Parow se dubbele album Nag van die lang pette. Die album het ’n elektroniese en ’n akoestiese CD ingesluit en Parow het aan LitNet beken: “Dis weird, ek het originally ook half besluit, kom ons doen hierdie ding, ek wil bietjie speel met die akoestiese vibe, met die idee dat dit half ’n ekstra is, ma soos jy sê, dit het amper half oorgevat, of actually sal ek nie sê oorvat nie, ma dit het ’n lewe van sy eie gekry wat kan staan op sy eie.” Parow het ook erken hy raak soms ’n “bietjie” moeg daarvoor om sy deurbraak-snit “Cooler as ekke” te moet uitvoer, “ma ja, ek kan nooit gatvol raak van daai song nie, dit het so baie vir my gedoen en dus moet ek hom net liefhê”.

’n Groep wat nou al ’n ruk lank opslae maak met ’n opregtheid in die rock wat hul pleeg, Spoegwolf, het ook ’n kortspeler, “Elektriese kind”, vrygestel. Danie du Toit, hoofsanger, het in ’n ontspanne en humoristiese onderhoud met LitNet gesê: “Die lirieke was vir my die moeilikste deel van die EP. Daar was ’n redelik goeie ontvangs vir die lirieke van Swaartekrag, wat die druk meer gemaak het. Ek weet nie of die produk vreeslik nuut of vars was nie – dit het at best gebou op wat klaar gesê is in Swaartekrag. Ek is op soek na die hoekie in my brein waar die ander temas lê. Ek sal jou kan sê hoe ek dit benader het as die projek slaag met die volle album.”

Dan het ISO (voorheen bekend as Isochronous), veral gewild vir hul puik live-vertonings, ’n nuwe album genaamd Passages uitgereik. Richard Brokensha, voorsanger, het in die Klankkas-onderhoud uitgebrei oor die uitdagings wat musikante in Suid-Afrika ervaar wanneer dit kom by goeie venues en liggings om strykdeur groot vertonings te kan hou: “I think it's more of a problem that there isn't enough demand from the public for live music shows. If there was more support from South Africans in the live music industry I'm sure more venues would start popping up. The type of venue can definitely have a negative effect on a band and I can say we have experienced this first-hand – it's always got to do with how the room is treated for live sound. There aren't many venues where you can say ‘Damn, the sound is great in here.’”

Die relatiewe gebrek aan ander “groot” vrystellings in die eerste helfte van die jaar het die deur wawyd oopgemaak om musikante wat meer op die periferie lê, of as “opkomend” beskou kan word, of wat moontlik nie meer so in-die-mix is soos hul eens was nie, op te spoor en te nader oor hul musiek.

Só was die Klankkas-onderhoud met die Pretorianer Donovan Honeyborne ’n wonderlike onderhoud. Dié uiters talentvolle Pretorianer, ook lid van die groep Feed the Wolf, het nie geskroom om reguit te praat oor die uitdagings wat hy en ander jong kunstenaars moet oorkom nie, asook die dikwels minder goeie musikante wat dit wel “maak”: “Lyrics and the purpose they serve in a specific song are very important to me. It's one of the biggest issues I have with a lot of local bands. All too often I hear songs that are excellently executed musically, but with lyrics that are frankly sub-par and seem to be treated as an afterthought. It seriously pisses me off. People forget that good songwriting, specifically in terms of the lyrics, can mean the difference between mediocrity and greatness. Lanie once told me that the first and most important thing to get right in music is to write a good song. Once you've accomplished that, it's hard to fuck it up.”


Donovan Honeyborne

Aan die ander kant van die land, in die Boland, het Basson Laubscher die eerste kortspeler van sy band, The Violent Free Peace, bekendgestel. Basson, voorheen van Zinkplaat, is alombekend onder gig-gangers as ’n kitaarspeler duisend en ’n vrek gawe ou daarby. Dít is weerspieël in die ontspanne trant waarin die Klankkas-onderhoud plaasgevind het: “Ek dink blues-rock is besig met herlewing want daar's geen bullshit nie – dis rou emosie en passie en live; it's real; daar's geen tricks nie en ek dink mense soek weer dit met vandag se lewe, waar als op ’n rekenaar of selfoonskerm gebeur en als gefake kan word. Mense soek iets real – dis hoekom die live musiekscene in die geheel weer bietjie woema kry. Maar ja, die ding van blues is, you can't fake it – óf jy het dit óf jy het dit nie. Maar dis moeilik om te sê. Ek's seker ook die verkeerde ou om te vra, haha – jy moet die mense aan die ander kant van die verhoog vra!”

Die onderhoud met Liela Groenewald, ’n gesoute sanger wat grotendeels bekend is as agtergrondsanger vir kunstenaars soos Koos Kombuis, oor haar album Horison was ook werklik insiggewend en pret. Oor die feit dat sy al soveel optredes agter die rug het maar geen album van haar eie nie, het sy gesê: “Na seker 15 jaar van maar traak-my-nie-agtig musiek maak, het dit vir my na ’n groot, seer gaping begin voel om geen rekord van my musiek te hê nie, om dit nie te kan deel nie. Ek het deur ’n vriend van my, Riku Lätti, kontak gemaak met Peter Auret, ’n jazz-tromspeler met sy eie studio, wat toe die album opgeneem het. Peter het my verwagtinge oortref deur in ’n baie groot mate daarin te slaag om my visie vir my songs vas te vang. Ek was ook bevoorreg om fantastiese musikante te kon inspan. Ek self het gesing, en drie kitaarspelers, Louis Mhlanga, Anton L’amour en Jonathan Crossley, het op die album gespeel. Roland Moses het klavier gespeel, Cesare Cassarino die bas, en Peter Auret die tromme. Ek is werklik tevrede met wat ons reggekry het.”


Liela Groenewald

Nog ’n musikant wat al diep spore in die plaaslike musiektoneel getrap het, Lochner de Kock, het met LitNet gesels oor sy mees onlangse musiekprojek. In die Klankkas-onderhoud het Lochner oor sy samewerking met jonger kunstenaars gesê: “Ek sien hulle nie as jongeres nie. Hulle is almal ou siele by wie ek ontsettend baie geleer het. En dalk het iets van my ou lewe op hulle ook ingewerk. Dis ’n osmotiese proses gewees.”

Bogenoemde paar onderhoude is slegs ’n paar uit die begin van die jaar wat waarlik van Klankkas se lekkerste onderhoude tot nog toe was. Die res van die jaar het egter nog heelwat ingehou …

In die “oorgangstydperk”, as ’n mens dit so wil noem, tussen die twee helftes het een van die mees prettige Klankkas-onderhoude tot nog toe verskyn. Die Afrikaanse rocker Willim Welsyn het homself herdoop tot William Welfare en sy eerste Engelse album, Shunt, vrygestel. Ek het Willim gevra of hy lus sou wees om ’n onderhoud te voer in ’n styl wat getuig van twee Afrikaanse mense wat hul bes doen om gemaklik in Engels te klink, maar soort van misluk. Hy het gehou van die idee en die resultaat was meer as vermaaklik: “I didn’t change much on the front of the sound, but the sound changed how I fronted the new band because the new drummer in the new band (Kyle Gray) speaks English. And that’s good because I like him and he likes my Facebook statuses. The riffs are still Afrikaans, the words are not.”


Willim Welsyn / William Welfare

Deesdae is die tyd nie aldag meer daar aan hierdie kant om konstant op hoogte te bly van watter musikante presies waaraan werk nie. Dit is vir my nogal ’n positiewe ding, want dit beteken die verrassingselement en die kinderlike opgewondenheid wat saamgaan met ’n uitreiking van ’n bedonnerde band of kunstenaar bly lewendig.

Só het ’n terloopse Facebook-opmerking deur Francois Blom die nuus gebring dat die Afrikaanse metal-groep K.O.B.U.S.! uiteindelik aan ’n nuwe album werk. Die Klankkas-onderhoud met Francois wat gevolg het, was wonderlik en ook hartverskeurend: “Daar was vier jaar terug ’n inbraak by my ateljee en omtrent al my toerusting is weggedra. My rekenaars met al die data vir wat ons vierde album sou wees, is in die proses daarmee heen. Al die finale arrangements van die snitte was so te sê gedaan en ons moes dit net gaan voltooi by Theo se ateljee. Dit was ’n moerse verlies, die emosionele terugslag nie die minste daarvan nie. Ons het nog die rou data, maar enigeen wat bekend is met die proses van songs aanmekaarsit, arrangements, sal jou sê dis nogal ’n storie. Dinge gebeur op die ingewing van die oomblik, jy verander en voeg by, gaan terug en haal uit, ’n deel werk befok uit pure geluk, jy sit vir ewig op een bruggedeelte of intro. Dis baie ure se werk. So, ja, dis als gesteel. Soos ek sê, ons het nog al die files, maar die arrangements is bye-bye. En soos dit maar gaan, het ek en Theo intussen aangegaan met ander dinge. Ons sal moontlik weer een of ander tyd by hierdie verlore album uitkom en weer daaraan werk, maar ons het nou begin met heeltemal nuwe opnames, ’n totaal nuwe album, die tyd is reg, ons is mentally gereed.”


Francois Blom
Foto: Kuberkoos

Ewe skielik kom daar ook toe ’n rits vrystellings deur van die beste bands in Suid-Afrika, elkeen verbysterend cool op sy eie manier.

Mr. Cat & The Jackal se nuwe album, Set, het beslis ’n nuwe koers ingeslaan vergeleke met hul vorige vrystellings. Ek het die album tussen Oppikoppi en OR Tambo pap geluister en daarna vir Gertjie Besselsen daaroor uitgevra. “Daar is definitief ’n donker streep aan die outjie ... Lewe was nie noodwendig te vriendelik met ons gewees die afgelope drie jaar nie, en mens reflekteer mos maar jou omstandighede. Ek is drie jaar terug, uit die bloute, met diabetes gediagnoseer. My pankreas het net ewe skielik besluit hy gaan nou ophou insulien afskei, en ek moes leer hoe om my liggaam se tekortkominge te aanvaar, en te aanvaar hoe kwesbaar ek ewe skielik geraak het. Dit het my fyner laat kyk na dinge as voorheen. Ek dink dit het ’n persoonlike aanslag na skryf toe gebring wat ek nie regtig voorheen verken het nie. Ek dink ek speel ook selfs sagter.”

Ryno Velvet het ná ’n lang stilte met ’n nuwe album, Alfabet, vorendag gekom, en myns insiens was dit die gewag werd – ’n werklik fantastiese album. In die Klankkas-onderhoud het Ryno gesê: “Baie het verander sedert Afrikaans ‘Tarantino’ gegaan het. Ek glo om eerder te bly met wat ek ken en wat natuurlik kom. Om te ontwikkel as liedjieskrywer is meer belangrik as om toeganklikheid te fasiliteer deur met ’n norm te vereenselwig.”

Die immergroen rockgroep Taxi Violence, wat al meer as 10 jaar lank van die malste live-vertonings bied wat jy ooit sal sien, het hulself oortref met hul jongste album, Tenfold – moontlik hul beste album tot nog toe! George van der Spuy, hoofsanger, het in die Klankkas-onderhoud gesê: “Met die eerste album het ons nie omgegee of mense dit gaan like of nie. Ons het net gedoen wat ons wou; selfde met die tweede album. Na dit het ons gefokus om meer ‘pop-orientated’ rock soos die Beatles te skryf met recognisable melodies en choruses. Dit was nie noodwendig ’n slegte ding nie. Ons het baie geleer daaruit en dit definitief toegepas op die nuwe album, maar met Tenfold het ons gedink: kom ons doen net wat óns wil doen – ons verdien dit en as jy ’n Taxi fan is, sal jy hou van wat ons doen. So ja, ons het meer geëksperimenteer, want ons kon. Radio play is nie alles nie.”


Taxi Violence

Nog lank was dit het einde niet. Die elektro-rappers Bittereinder, deur talle gesien as die mees opwindende verskynsel wat Afrikaanse musiek op die oomblik bied, het hul nuwe album, “Skerm, vrygestel. Die album was dalk minder oorrompelend in terme van harde bas en bonsskepping onder aanhangers as voriges, maar daar was besliste evolusie en ’n onontkenbare gehaltegedrewenheid aan die album. Jaco van der Merwe, voorman, het in die Klankkas-onderhoud gesê: “Wat’s ’n treffer? Gelukkig het ons drie in punk en metal en conscious-rap bands grootgeword, so dis vir ons eintlik onmoontlik om ooit ’n fully commercial mindset aan te neem. Dis juis hoekom ons altyd ’n medium-sized band sal bly (sien Ons Klyntji van 2011), en ons is doodgelukkig daarmee. Dit sal nooit vir ons sieldodend word om ons songs te sing nie. Ons glo (dalk heel naively) die musiek beteken nog iets.”

Heel moontlik die vrystelling van die jaar was die langverwagte nuwe album van aKING. Die album heet Morning After, en dit is bes moontlik hul beste werk tot nog toe (ja, dit gee “Dutch Courage” ’n baie sterk “go”). Laudo Liebenberg, voorman, het in die Klankkas-onderhoud oor die groep se planne vorentoe ná die lang stilte gesê: “Ons sal definitief meer shows speel as in die laaste twee jaar, noudat die produk uit is, en mik selfs om ’n paar toere oorsee te probeer doen en ons voelers uit te steek vir nuwe luisteraars. Suid-Afrika se circuit is maar beperk, so jy kan jouself maklik uitspeel. Mense sien jou te veel in hulle dorpe en dan verdwyn die nuwigheid. Daar is ’n gebrek aan kwaliteit live venues, maar daar's ook ’n tekort aan kwaliteit promoters en agente. Ek glo dit is iets wat met tyd sal verbeter, aangesien die kwaliteit van kunstenaars opgaan en meer mense local goed luister.”


Laudo Liebenberg

Die bogenoemde rits onderhoude is maar dié wat ek nou oproep as moontlike hoogtepunte van die jaar. Daar was beslis geen laagtepunte nie, en die jaar het ook lekker geëindig met onderhoude soos dié met die aweregse karakter Rufio Vegas, meer hoofstroom-musikante soos Robbie Wessels en Riana Nel en die immergroen Piet Botha, soos ons hom ken en liefhet.


Piet Botha en die Lyzyrd Kings

2015 gaan interessant wees.

Lank lewe ruk en rol. En soos een moontlik betottelde karakter in my storieboek Draalnoot vir ’n janfiskaal (2014) sê: “Mag gehoor die laaste sintuig wees wat jy verloor.”

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top