Die konings van Afrikaanse metal, KOBUS!, het onlangs die nuus gedeel dat hulle aan ’n nuwe album werk. Francois Blom, die hoofsanger, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Francois. Hoe’s dinge?
Fknmain.

Foto: Kuberkoos
Eerstens, KOBUS! het onlangs op die band se Facebook-blad ’n bietjie goeie nuus meegedeel – dat daar uiteindelik ’n nuwe album gaan kom. Die vorige projek is vir eers opsy gesit weens ’n inbraak – wat is die hele storie daar? En hoe voel dit om nou amptelik die aankondiging te kon maak?
Daar was vier jaar terug ’n inbraak by my ateljee en omtrent al my toerusting is weggedra. My rekenaars met al die data vir wat ons vierde album sou wees, is in die proses daarmee heen. Al die finale arrangements van die snitte was so te sê gedaan en ons moes dit net gaan voltooi by Theo se ateljee. Dit was ’n moerse verlies, die emosionele terugslag nie die minste daarvan nie. Ons het nog die rou data, maar enigeen wat bekend is met die proses van songs aanmekaarsit, arrangements, sal jou sê dis nogal ’n storie. Dinge gebeur op die ingewing van die oomblik, jy verander en voeg by, gaan terug en haal uit, ’n deel werk befok uit pure geluk, jy sit vir ewig op een bruggedeelte of intro. Dis baie ure se werk. So, ja, dis als gesteel. Soos ek sê, ons het nog al die files, maar die arrangements is bye-bye. En soos dit maar gaan, het ek en Theo intussen aangegaan met ander dinge. Ons sal moontlik weer een of ander tyd by hierdie verlore album uitkom en weer daaraan werk, maar ons het nou begin met heeltemal nuwe opnames, ’n totaal nuwe album, die tyd is reg, ons is mentally gereed.
KOBUS! se liedere was nog altyd besonder uiteenlopend – ’n mens kan byvoorbeeld amper nie raai dis dieselfde band wat “Swaar metaal” en “Ons ry in die kar” en “Hoenderman” doen nie. Wat sal die inslag wees met die nuwe album? Met ander woorde, wat kan aanhangers verwag, of moet aanhangers eerder verwag om verras te word?
Ons bly by hard & heavy op hierdie een, maar met ’n ander aanslag – dis beslis nie Swaar Metaal Deel II nie. Ja, en verrassings, altyd, natuurlik. KOBUS! sal nooit dieselfde ding twee keer doen nie. Dis nie in ons aard nie. (En om te dink daar's mense wat ’n hele fokn career maak uit dieselfde album, net met ’n ander titel, dieselfde ding oor en oor, hehe.)
Die metal-toneel in Suid-Afrika is ’n moeilike een om te bepeins – daar is ’n magdom toegewyde metalheads en great bands, maar min tot geen blootstelling in die media nie. Hoe voel jy oor die stand van die metal-toneel in Suid-Afrika? Wat is goed daaraan, en wat is vrot daaraan?
Hmm, ja, ek moet erken ek “bepeins” nie, soos jy sê, die local metal scene te vreeslik nie, haha. Daar's mense wat die vlag wil waai en wil hê dat dit groter moet wees of meer internasionale erkenning kry ens, en daar's niks daarmee verkeerd nie, dis great. Vir my is dit maar net wat dit is. Daar's uitstekende bands en daar's patetiese bands. En vir ’n land so klein soos ons s’n is daar moerse baie ondersteuners. En metal oorleef sonder hoofstroom-mediablootstelling. Was nog altyd so gewees. Jy't nie media nodig om ’n audience te kry nie, jy moet fkn perform, jy moet uitpak en wys. As jy crap is, sal die mense jou laat weet, maak nie saak hoeveel keer jy in Huisgenoot verskyn nie. Wat is goed in die Suid-Afrikaanse metal scene? Beslis die fans. En vrot? Haha, die meerderheid van live klankingenieurs.
Fokofpolisiekar se ouens het al gesê dit was eers vir hulle net ’n grap om te dink aan ’n Afrikaanse punk band … maar die res is geskiedenis. Het julle dieselfde gevoel gehad oor ’n metal band in Afrikaans stig? Hoe het die aanvanklike reaksie julle getref, uit die verskillende oorde? Is dinge in daardie opsig nou anders as, sê maar, tien jaar terug?
Ja kyk, beslis. Die eerste goed wat ek en Theo opgeneem het, alles wat op ons debuut uitgereik is, dit was alles ’n grap, ons het onsself vermaak, haha. Onsself en ons vriende. En daar begin speel RSG die goed op die lug. En Sony bel ons, en Levi's wil ons borg, haha. Dis fkn bizarre.
Ons het van die begin af besluit dat ons sou doen net wat ons wil in enige styl wat ons wil. Aan die einde van die dag entertain ons steeds onsself, in die eerste plek. Ons dink nie aan hoe ’n song ontvang gaan word deur die publiek nie.
Om op ons derde album ’n metal-rigting in te slaan was eintlik heel natuurlik. Ek kom van ’n metal-agtergrond, dis my default, haha. Ek was voor KOBUS! vir 12 jaar in ’n metal band, Voice of Destruction. Ons het internasionaal getoer en opgeneem en al sulke kak. En Theo kom natuurlik uit die Nude Girls, wat self nie ’n te lig-in-die-broek band was nie. So, die Swaar Metaal-album het heel natuurlik die lig gesien. Ons het bloot teruggegaan na die musiek waarvan ons die meeste hou (en die beste doen) tien jaar terug. Ja, wel, ek’s trots om te kan sê dat ons die eerste regte metal-album ooit in Afrikaans uitgereik het. En ek’s nogal chuffed dat hy ’n SAMA gewen het. Die reaksie op die album, media/kritici-gewys, was in die oorgrote meerderheid baie goed – dit was regtig nogal verrassend. En fans wat tot op daardie stadium net metal in Engels geluister en live beleef het, het ons sonder enige frons of kopkrap laat inhaak in die scene.
Wat KOBUS! se internasionale blootstelling betref, het julle onder meer by die Magic Circle Festival in Duitsland gespeel in 2008. Hoe was daardie soort ervarings vir jou en die band? As ’n mens kyk na die video van “Amen” wat julle daar gespeel het, met lede van die skare wat die ou en die nuwe Suid-Afrikaanse vlag so rondswaai, moes dit interessant gewees het …
Dit was great. Ek is al van tienerjare af ’n Manowar fan, so, om ’n persoonlike foonoproep van Joey de Maio van die band te kry om ons te nooi om op te tree was ’n totale mindfuck, haha. En om op dieselfde verhoog as oa Alice Cooper en Wasp op te tree en hul boonop te ontmoet was cherries op die koek. ’n Groep Suid-Afrikaanse fans het oorgevlieg vir die fees om ons te ondersteun. Hulle het ons ’n moerse eer aangedoen – dit was baie spesiaal.
Jy het in "Kultuurfeestent" gesing: "Ons is gyselaars in een groot kultuurfeestent, word vermaak deur mense met meer selfvertroue as talent" ... Dink jy dit is steeds die geval wat die breër Afrikaanse musiektoneel betref? Of hoe beskou jy die saak deesdae? Hoe het dit verbeter en hoe het dit verswak?
Jip, dis steeds so! (Ek neem aan dis nou spesifiek die Afrikaanstalige “kunsmilieu” waarna jy verwys, hehe.) Om die waarheid te sê, ek dink dis deesdae nog meer relevant as toe ek destyds daardie liriek geskryf het. Die “supersterre” wat op YouTube hul ongoddelike tuisgemaakte oudioverkragting, met gepaardgaande visuele blitzkriegbreinbefokking, op die wêreld loslaat, het binne minder as ’n dekade met rasse skrede vermeerder. Tik maar net “Afrikaanse musiek” in die Search- venstertjie. En geniet dit. Ha! Maar ek moet sê, dis darem nie alles ’n pot @$&! nie, ek dink daar het in dieselfde tyd darem ook ’n hele klomp goeie nuwe goed die lig gesien. Heelwat. En ek moet byvoeg, die “Kultuurfeestent”-lirieke verwys nie na ’n geheel nie, maar wel na ’n spesifieke deel van die bedryf. Maar ja, haha, in my opinie is daar beslis meer crap as goeie goed.
KOBUS! is al ’n geruime tyd op die toneel – meer as tien jaar, om die waarheid te sê. Watter hoogtepunte staan vir jou uit in die band se geskiedenis? Watter gebeure of herinneringe sou jy eerder wou vergeet, of watter plekke sal die band nie sommer weer aandoen nie?
My hele KOBUS!-avontuur tot dusver is ’n hoogtepunt. Ek geniet myself gate uit, ha!
Ek's een keer deur ’n mal groupie bevlieg op die verhoog in Bloemfontein. Sy’t my gegryp en haar tande in my borsspier gesink, hande tussen my bene, haha. Ek’t ’n reuse blou kol gehad vir maande. ’n Ander keer het ons al die pad teruggery van Bethlehem, Vrystaat, want ons wou nie ná die show oorslaap in die gastehuis vol spookagtige opgestopte diere nie. Dis maar twee van die dinge wat ek sou wou vergeet!
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir KOBUS!?
Die glorie, mag en majesteit van ons nuwe komende album, Spoed van Donker. En nog albums daarna.
Wat is die sin van die lewe?
Die jirre alleen weet.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Befok!