Die rocklegende Piet Botha en die manne van Akkedis span weer saam as die Lyzyrd Kings. Dié groep het pas ’n nuwe album, A few grains of sand, uitgereik. Piet beantwoord ’n paar vrae.
Piet, geluk met die vrystelling van die Lyzyrd Kings se nuwe album, A few grains of sand. Hoe het die besluit gekom om nog ’n Piet-en-Akkedis-album op te neem en vry te stel, en hoe het die proses verloop van die konseptualisering tot nou?

Ons eerste album as Lyzyrds was volgens ons eie oordeel nie na wense nie. Die vervaardiging was glad nie wat ons wou gehad het nie, maar weens verskeie persoonlike en ander probleme het ons maar voortgegaan. Gelukkig is die songs darem goed, so ons kan na van hulle terugkeer in die toekoms.
Ons wou egter ’n “behoorlike” album opneem, veral na verskriklik baie myle op die pad, ook die hele maand in Duitsland, toere na Namibië, Mosambiek, Gauteng en dan ons gereelde gigs innie Kaap ... die band het sy eie klank gekry ...
Dit is die tweede vollengte-album van die Lyzyrd Kings. Waarin lê die waarde van die Lyzyrd Kings vir jou in terme daarvan dat dit ’n samewerking tussen jouself en die Akkedis-manne is? Met ander woorde, wat kan julle as die Lyzyrd Kings doen wat julle nie as Piet Botha of Akkedis kan doen nie? Wat is die mees genotlike aspek daarvan?
Aanvanklik wou ons ’n “live” album gedoen het, maar toe het ons ’n ou vriend weer raakgeloop, Peter Pearlson. Ek en Peter ken mekaar seker dertig jare of meer. Hy is ’n ongelooflike vervaardiger/ingenieur/raadgewer – en ’n wenner van omtrent 12 SAMAs. Toe het hy gereken ons neem by die Chateau op (dis nou waar ons meestal woon en uithang en so aan – lekker groot huis en tuin daar bo in Somerset-Wes). En so het dit toe als redelik vinnig gebeur. Peter het al sy gear ingebring, dit het so twee dae gevat om als op te stel en te line-check en so, en toe het ons eenvoudig die nuwe songs begin speel en speel en speel. En dan kry jy skielik die regte “take” – al die rhythm tracks is live opgeneem; selfs van die kitaarsolo's is ook live opgeneem.
Overdubs was eintlik net stemme en ’n paar solo's, ook ’n bietjie keys. Van die begin af het ons geweet ons het ons eie klank nou vasgevang.
Dit was partykeer moeilik op die pad as ander mense jou meng en die balans is nie reg nie. Byvoorbeeld, ons het drie vocals wat almal ewe belangrik is in die mix.
Reeds met die eerste snit op die album, “Up in smoke”, kom ’n mens agter hierdie album is nie juis iets wat motiveringsprekers as agtergrondmusiek sal gebruik nie. Daar is heelwat ontnugtering en ook ’n tikkie gesonde sinisme in die lirieke. Tog is daar ook, soos op “Crazy Days” ’n gelatenheid en genot hierin te vind. Hoe weerspieël dit jou (en die Akkedis-manne) se lewenservaring tot dusver, en ook jul ervaring van die plaaslike en internasionale musiekbedryf?
Dit is nou seker twee of drie jaar vandat die Lyzyrds in alle erns ontstaan het. Maar die verhaal kom baie langer as dit – seker 20 jaar gelede al. Dis toe ek vir Arthur en Rudolph die eerste keer ontmoet het. Daar is baie geskiedenis sedert dan ... Dis net asof die noodlot ons nou bymekaar gebring het, want ons lewe almal net vir die musiek, daar is nie ego's betrokke nie.
Jy het, as Piet alleen, lid van Jack Hammer en ook natuurlik lid van die Lyzyrd Kings, al ’n ontelbare getal gigs, en kilometers na gigs, agter die rug. Wat staan vir jou uit oor die jare se toere, en wat maak dit nog die moeite werd om aan te hou daarmee?
Ons toer verskriklik baie, ons speel “unplugged” of volstoom free electric band, almal wil altyd saam met ons “jam”, maar ons beweeg sekerlik in ’n ander milieu as die kommersiële acts ... amper soos die ou “underground” van die sestigs. Weens die waansin van die musiekbedryf is ons genoop om ons eie geluk te maak ... en dan word dit moer lekker, want jy hoef nie in die valsheid te deel nie.
Al wat ons nog ooit wou doen, is om musiek te maak, mense gelukkig te maak, of hartseer, of opgewonde, want musiek is vir ons ’n lewe, dit is nie ’n job nie, dis iets wat mens elke dag mee saamloop. Op hierdie pad kry mens altyd idees vir songs, veral as ’n sekere Zen ding gebeur en jy sien dinge op ’n ander manier, miskien net sekere kleure of insidente, humor, hoogmoed, onskuld, en al die menslike dinge – gewoonlik kort jy net ’n paar woorde vir die kern van ’n song.
Op die punt van die lirieke – hoe werk die skryfproses in die Lyzyrd Kings, siende dit ’n samewerking is? Skryf almal saam, of word onderskeie liedjies na die tafel gebring en geëien? Hoe het jou eie skryfstyl en -gewoontes oor die afgelope klomp jaar ontwikkel en gegroei?
Ons sal met nuwe songs gewoonlik almal net begin saamspeel en dan vind elke ou maar sy pad met die musiek. Partykeer is daar rifs en goeters wat dan lekker is om in te oefen. Partykeer vat dit ’n wyle om die song reg te kry, ander kere sommer oornag. Op die oomblik skryf ek en Arthur Dennis die songs, maar dit behels net die geraamte van die song – die hele band word betrek by die arrangements en so aan. Arthur skryf so in die geheim, en dan skielik het hy ’n paar great songs. Ek is meer soos ’n skilpad. Maar ek dink ons het great tunes op hierdie album en die vervaardiging is van de beste.
Soos altyd is geskiedenis en politiek nie ver weg in jou lirieke en stories nie. Hoe ’n groot rol speel dit nog in jou gedagtegang en protespersoonlikheid? Vind jy dit makliker om oor destydse politieke wandade te skryf, of hou jy vinger op die pols van wat deesdae aan die gang is op plaaslike en internasionale front?
Politiek en ons musiek is nou eintlik nie meer maatjies nie – dit veroorsaak net konflik. Die aardbol is onderworpe aan die gierigheid van ’n klompie ape wat blink goeters aanbid ... daar is geen moraliteit nie. Ek sien dit maar net soos ’n verlenging van die Middeleeue, behalwe dat tegnologie natuurlik gevaarlik geword het ... die aap sal homself seker nog opblaas.
Het dinge werklik verander, en help dit nog om te betoog en proteskuns te maak?
Daar is en was protesmusiek deur die geskiedenis, sekerlik nou ook. Maar jy sal dit nooit te hore kry op die “Groot Media” nie, want hulle dien ander meesters. Miskien bly daar van hierdie musiek oor in die toekoms.
Maar die internet sal steeds geweldige veranderinge bring en dalk nog die redding wees van rock ’n roll …
Wat is volgende vir Piet Botha, en ook vir die Lyzyrd Kings?
Ons is hoopvol op nuwe avonture met die Lyzyrds.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

