aKING: "Ons wou ’n uiteenlopende produk uitbring"

  • 0

Die rockers aKING het onlangs ’n nuwe album, Morning After, vrygestel. Laudo Liebenberg, hoofsanger en -kitaarman, beantwoord enkele vrae.

Goeiedag, Laudo. Hoe’s dinge deesdae?

Lekker dankie, bedrywig, maar sien uit om die jaar op ’n hoë noot te eindig en vakansie te vat in Januarie.

Geluk met die vrystelling van die nuwe album, Morning After. Dit is reeds met die eerste luisterslag duidelik dat baie beplanning, eksperimentering en harde werk daarin gegaan het. ’n Paar jaar het immers verbygegaan sedert die vorige vollengte-release. Hoe voel jy oor die album en die proses wat daartoe gelei het? Hoe was julle benadering anders as voorheen – beide op kreatiewe en administratiewe vlak – en hoe dink jy het die gehalte van die album daarby gebaat?

Ons het vroeg al besluit dat ons die album wil self-produce en geweet dat dit gaan tyd vat. Ons het eers ’n klomp idees neergegooi en aanbeweeg tot ons rondom 50 idees gehad het, voor ons intensief begin skryf het. Aangesien die album ook uit ons eie sakke uit moes kom, het ons dit in verskillende sessies record, wat ek dink bygedra het tot die uiteenlopende sound en songs op die album. Die song-idees en lyrics het van ons al vier af gekom en ons het baie saam gesit en alles bespreek, geskryf en herskryf tot almal gelukkig was met die rigting van die song. Ek dink die album vat saam wat ons al gedoen het in die verlede, asook wat nog gaan kom uit die aKING-kamp uit. Ons is happy met die produk en hoop mense hou daarvan.

Gepraat van die eksperimentering: sommige snitte voel of dit op die eerste album, Dutch Courage, kon wees, en ander voel byna soos ’n heel ander band – Die sterker elektronika-element, heelwat falsettogedrewe vocals, ’n klank wat aan Juluka herinner (op snitte soos “Way you move” en “All over”), en selfs ’n handeklap-en-orrel op “New start” wat aan die optimisme van ’n charismatiese tentkerk herinner. In hoe ’n mate het hierdie elemente uit invloede (oud of nuut) gevloei, en in hoe ’n mate was dit ’n geval van dinge bywerk wat die spesifieke lied die beste sal dien? Hoe werk ’n proses soos laasgenoemde onder aKING se bandlede?

Ons het die liedere individueel aangepak wat sound aanbetref en hard gewerk om die klank en mood van elke song reg te kry. Baie keer skryf mens iets op die kitaar wat eintlik op ’n klavier moet gespeel word of ’n rock song wat eintlik nie soos ’n rock song moet benader word nie. Dit was vir ons belangrik om addisionele elemente in te bring om die liedere te versterk en elke song het ’n ander reference en invloed gehad.

Soos genoem, is daar natuurlik die klipharde, kitaargedrewe liedere ook. “Mother” se chorus het ek by Oppikoppi heelnag in die tent in my kop gehad ná aKING se set. Wat is vir jou en julle makliker en lekkerder om te skryf en later uit te voer? Bedoelende, is daar verskillende uitdagings wat betref liedere skep wat meer in die ou “mould” is en dan heeltemal nuwe avenues verken? Hoe lyk hierdie uitdagings en ervarings en hoe gaan julle te werk daarmee? 

As daar heelwat ander elemente feature op ’n song, moet mens gaan dink oor hoe jy dit gaan live speel. Dan is daar ook die classic "band" songs wat gemaak is om gejol te word live. Ons probeer baie keer vir songs ’n ander lewe gee op die verhoog, veral as daar klanke is op die album wat nie live nageboots of ge-recreate kan word nie, byvoorbeeld, partykeer gebeur daar iets in die studio wat jy nooit weer so sal speel of daardie spesifieke klank kan maak nie. Ek glo mens moet live performances aanpak met ’n realistiese benadering sodat jy op die pad kan gaan sonder om te veel ekstra musikante en instrumente saam te sleep. Ons het die song geskryf en record en nou het hy lewe. As die vier van ons daai song gaan live speel, kry hy weer ’n nuwe lewe. ’n Nuwe hartklop.

aKING is bekend (en word wyd bewonder) vir die band se vermoë om dikwels singles voort te bring wat aanhangers en vreemdelinge kan stomslaan. Ervaar julle druk in die skryfproses in daardie opsig? Iets in die lyn van, “Ons moet X aantal radio-versekerde singles op hierdie album hê”? Dis immers ’n verwagting wat kom met ’n aanhangersgroep van tienduisende … of hoe ervaar julle dit? 

’n Mens kan nie anders as om soms daaraan te dink nie, maar jy kan dit ook nie forseer nie, anders klínk dit geforseer. Party songs vang jou onverwags in die skryfproses as iets wat die potensiaal het om op radio te speel, en ander wat jy glo is ’n single, maak soms geen opspraak by luisteraars nie. Hierdie keer het ons geskryf waarvan ons hou en gestick by daardie formule, “If we like it, we're happy.”


Foto: André Badenhorst

In dieselfde asem – wat live optree betref, is ’n mens natuurlik gretig om nuwe materiaal bekend te stel en gehore daaraan bloot te stel, en tog speel ’n mens nie elke dag voor dieselfde gehoor nie en mense wil die goue oues hoor. Hoe beskou jy hierdie dinamiek? Kortom: Is julle al moeg vir “Safe as houses” speel, of bly dit lekker as die mense juig daarvoor, of hoe beskryf ’n mens die gekompliseerde besluite agter ’n “set list”?

Jy moet maar die crowd lees so oor die jare en sien wat hulle live verkies. Wat nuwe songs aanbetref moet jy nie mense alienate met te veel goed wat hulle nie ken nie, so ’n balans is belangrik. Elke keer as jy ’n song perform is anders – hoe die mense reageer en saamsing gee ’n nuwe gevoel aan daai lied en dit maak ons opnuut weer opgewonde oor iets wat ons al duisende keer vantevore gespeel het.

’n Paar groot name van agter die klankborde het aan hierdie album gewerk – Theo Crous, Jurgen von Wechmar, Fred den Hartog … Wat is die waarde daarvan om verskillende engineers op een album te hê en opnames by verskillende ateljees te doen? Die opnames is ook na verneem word oor ’n lang tydperk gedoen – hoe het dit gehelp met perspektief oor wat aKING met die album wou doen en bereik, en wat was die impak van die langdurige proses en verskillende locations op die uiteindelike produk?

Ons wou ’n uiteenlopende produk uitbring en al hierdie engineers het hulle eie sterkpunte en kon ons help om nader aan daai visie te kom. Brendan “Rusty” Rossouw (Heritage Sound) se dromme klink altyd ongelooflik, so ons het omtrent al die dromme daar gedoen. By Theo Crous het ons ’n song op analogue tape record, wat ons nog nooit gedoen het nie. Jürgen von Wechmar is baie goed met mixing en engineering. In sy studio raak mens ook baie kreatief met recording en eksperimentering. Fred den Hartog is ’n baie goeie producer wat ons met post-production en laaste arrangement gehelp het. Ons het ook ’n paar liedjies daar opgeneem. Dit het alles bymekaar gekom op die einde in die mixing proses.

Morning After is as ’n “harde formaat”-album uitgegee (hoewel dit ook op iTunes en so aan is), met ’n stewige booklet en artwork van hoë gehalte. Heelwat mense kies om slegs digitaal vry te stel deesdae, ander mense gee weer special edition vinyls uit. Wat is jou gevoel oor die beste roetes in hierdie opsig vir gevestigde mense soos julself en dan jonger kunstenaars? Die aard van die bedryf is natuurlik aan die verander in hierdie opsig, en gaan nog baie verander – hoe sien jy dit ontwikkel in die volgende paar jaar en hoe aKING die veranderinge sal wil ry?

Alhoewel CD's op pad uit is, is daar nog steeds mense wat dit wil hê, so ons het besluit om ’n paar uit te sit. Dit maak nie meer sin vir jong kunstenaars om op harde formaat albums uit te sit nie – dit kos baie geld en dis nie meer nodig nie. Selfs die albumformaat is besig om te verdwyn. Mense sit weer singles en EP's uit en bou careers op ’n paar songs. Vinyls is die collector's choice, ’n fisiese fragile plaat met kunswerk en lyrics by. Jy word amper geforseer om ’n album op vinyl deur te luister, wat great is. Ons mik om Morning After op vinyl uit te sit vroeg volgende jaar, asook Dutch Courage. Ons geniet die albumformaat en gaan nog uitsit op watter manier ook al.

Beteken die nuwe album ’n meer gereelde toerskedule vir aKING in die komende jaar, of hoe voorspel of verwag julle die verloop daarvan? Wat is jou gevoel oor die moontlikhede en beperkinge van die live toneel vir rock in Suid-Afrika op die oomblik? Sommige mense het al in onderhoude genoem hulle voel daar is ’n ernstige gebrek aan groot venues, ander voel weer die unieke aard van elke venue dien die Suid-Afrikaanse scene goed. Wat is jou ervaringe (en hoop) in dié opsig?

Ons sal definitief meer shows speel as in die laaste twee jaar, noudat die produk uit is, en mik selfs om ’n paar toere oorsee te probeer doen en ons voelers uit te steek vir nuwe luisteraars. Suid-Afrika se circuit is maar beperk, so jy kan jouself maklik uitspeel. Mense sien jou te veel in hulle dorpe en dan verdwyn die nuwigheid. Daar is ’n gebrek aan kwaliteit live venues, maar daar's ook ’n tekort aan kwaliteit promoters en agente. Ek glo dit is iets wat met tyd sal verbeter, aangesien die kwaliteit van kunstenaars opgaan en meer mense local goed luister.

Laas toe ons ’n onderhoud gehad het, het jy wel gesê daar is planne om ’n paar oorsese circuits te betree, en jy’t dit nou weer genoem. Hoe lyk daardie planne deesdae? Is daar ’n langtermyn- of vyfjaarplan of so iets, of hoe benader en oorweeg julle die nabye en verre toekoms?

Ons sal eers ’n paar shows gaan speel en dan opvolg oor ’n paar maande. Mens moet jouself op ’n circuit kry en dit gereeld doen, nie te veel plekke op ’n slag nie. Nog geen langtermynplanne nie, maar wel drome en planne om ons musiek daar buite te probeer kry. 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top