Die belang van die maagdelike geboorte van die Here Jesus Christus
Chris,
Wat ’n demonstrasie van agnostiese lasterlikheid en hardvogtigheid is jou kommentaar oor Maria en die Heilige Gees van God nie – julle “ordentlikheid” is ook maar nie eens veldiep nie. Ek wens so jy had die vermoë om te besef watter oordeel en skade jy jouself berokken met jou lastering van die Heilige Gees? Jy het mos al baie die Bybel gelees en gesien daar word deur die HERE gewaarsku: Mattheus 12:32 “… maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie”.
Dan is jou sotlike lastering natuurlik ook ’n demonstrasie van die uiterste gebrek aan insig en begrip wat julle gebrek aan Spiritualiteit en gebrek aan Spirituele intelligensie julle aandoen – julle tree op soos idiote en is inderdaad spirituele analfabete en gestremdes van die ergste graad.
Maria het juis maagd gebly en die HERE Jesus Christus is uit haar stééds as maagd gebore, want die Heilige Gees het gewoon die Lewe in haar laat ontspring, juis sónder om enigsins haar rein maagdelikheid haar te laat ontneem (die Heilige Gees van God is die Allerheiligste Heilige Gees, nié ’n vleeslike mens nie!). As die maagdelike reinheid en verwekking sonder énige vorm van erotika of wellus nie allerbelangrik was nie, sou God waarskynlik vir Josef laat salf en gebruik het om die lewe te verwek – MAAR, die HERE Jesus is juis nié in sonde ontvang en gebore, nié – HY is die nuwe Adam, die Tweede Adam, wat juis nié uit die vlees verwek is nie, maar uit die Gees, rein, heilig, soos die eerste Adam was net nadat God hóm geskape het, voor die sondeval. Maria se fisiese en spirituele maagdelikheid is juis die materiële én die Spirituele simbool van die rein en heilige manier wat die HERE Jesus verwek en in die wêreld in, gebore is.
Maar julle verstaan absoluut níks.
Meer as tweeduisend jaar gelede al, het die HERE, die einste Woord Wie deur die maagd Mens geword het, verwysende na ’n profesie wat meer as 2700 oud is, gesê: “14En aan hulle (halsstarrige ongelowiges) word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie” en “10… Aan julle (die gelowiges) is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.”
Méér as tweeduisend sewehonderd jaar gelede al, word julle agnostiese selfdesepsie-sindroom én die ooglopende kenmerkende verskil tussen julle en die Spiritueel verstandige gelowiges, haarfyn beskrywe deur die HERE van die Leërskare en julle is stééds te onnosel om dit te begryp … het dit julle nog nie opgeval, dat julle allerlei boeke verslind en die inhoud uitbraak soos ’n bees wat uitbraak om dit net weer te vreet en wéér slaafs te herhaal, maar die één boek waar julle insig en begrip nodig het om dit te verwerk, die opgetekende Woord van God, dié kan julle net eenvoudig nie baasraak nie.
En, die tragiese is, dit hoef nie so te wees vir julle nie … julle is só by eie keuse. Waaragtig, hoe tragies.
Kobus de Klerk