Verhale van maagdelike geboortes loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis van die mensdom.
Nadat Acristus, Koning van Argo, gewaarsku is dat hy sou sterf aan die hand van sy dogter Danae se seun, het hy ’n toring gebou waarin sy gevange gehou is. Maar die God Jupiter het die maagd besoek en die Griekse held Perseus is gebore.
Toe Coatlicue in die buitelug ontspan het, het ’n bal vere van die hemel neergesweef. Sy het dit gevang en in haar boesem weggesteek waarna die Aztec god Huitzilopochtli gebore is.
Die geboorte van die god Attis het weer so verloop: Agdistis het aanvanklik manlike sowel as vroulike organe gehad. Maar die Olimpiese gode wat vir Agdistis gevrees het, het sy manlike orgaan afgesny en weggegooi waarna ’n amandelboom daaruit opgeskiet het. Die maagd Nana het van die vrugte daarvan gepluk en in haar boesem gebêre en op 25 Desember is die god Attis gebore. Die jeugdige Attis is aan ’n boom opgehang/gekruisig maar is op wonderbaarlike wyse na drie dae uit die dood opgewek.
Ook die stigter van die Manchu dinastie van China is so gebore: Terwyl ’n maagd eendag besig was om te bad het sy ’n rooi vrug op haar romp gevind. Sy het dit geëet en ’n seun gebaar.
Op soortgelyke wyse is Fo-Hi uit ‘n maagd gebore. En toe die maagd en dogter van die koning van Mongolië een nag wakker geword het, was sy omhul deur ‘n groot lig en het daarna geboorte geskenk aan drie seuns waarvan één die beroemde Genghis Khan was.
In Korea is die dogter van die Ho-rivier deur die son se strale bevrug en het geboorte geskenk aan ‘n seun.
Chrisna is gebore van die maagd Devaka; Horus is gebore van die maagd Isis;
Mercurius was gebore van die maagd Maia en Romuls van die maagd Rhea Sylvia.
Maar die bekendste verhaal van ’n maagdelike geboorte is sekerlik dié van Jesus Christus. Nadat Maria haar aan Josef verloof het en voor hulle bymekaar was, is sy deur die Heilige Gees swanger gemaak en Christus is gebore.
Nou natuurlik is nie een van hierdie verhale waar nie, behalwe die laaste een wat tog mos deur miljoene Christene as die waarheid bely word! En natuurlik — die maagdelike geboorte van Christus is in die Bybel opgeteken en nie een van die ander nie!
Edwin S Hartland, (1848-1927), voormalige president van die “Folklore Society”, se navorsing het aan die lig gebring dat daar ‘n wydverspreide geloof in die bonatuurlike geboorte van gode en volkshelde was wat die biologiese wette, geïgnoreer het.
‘n Stam inheemse inwoners van Noordwes Australië glo bv. steeds dat geboorte heeltemal onafhanklik is van geslagsgemeenskap. Dié Noord Queenslanders is oortuig dat hulle babas deur geeste verwek word en dat die rol van die man slegs is om die geeste aan te moedig om hulle werk te doen.
Talle soortgelyke gelowe kom steeds wêreldwyd voor as gevolg waarvan daar talle magiese praktyke bestaan om kinders te kry.
Panda
Bron: The Portable Atheist — Christopher Hitchens (An Old Story — Chapman Cohen, p 178 — 180)