Michael le Cordeur: Die punt is | Columns

 
As 'n kind nie kan lees nie

“Dit mag mos nie wees nie. Hoe het die kind op die hoërskool gekom?” My seun, wat sy ma help met die opstelpunte van haar graad 8-leerders, is sigbaar ontsteld. My vrou, soos ek ’n Afrikaans-onderwyser in murg en been, gee een kyk na die opstelboek: “Dis Pietie,1 hy kan nie lees nie.”

Dis elke jaar se storie. Elke jaar beland daar kinders op hoërskool wat nie kan lees nie. Byna elke hoërskool waarvan ek weet. En die syfer groei steeds ...

Hoe het Suid-Afrika in hierdie situasie beland? Dit word vertel dat vier kabinetministers bespiegel het oor die swak leesvlakke van ons land se leerders. “Ons is almal produkte van Bantoe-onderwys, maar ons kan al vier baie goed lees. Wat het dan verander?” vra die een.

Die simptome is bekend. Eers het die kind allerhande verskonings oor waarom hy nie kan lees nie. Soos dat sy keel seer is, sy oë traan, ens. Dan begin hy die leesperiodes mis, of hy lê met sy kop op die bank en gee voor dat hy siek is. Uiteindelik vra Sonia hom om haar na die les te kom spreek. Oomblikke later kan die arme kind dit nie meer verduur nie, en bars hy in trane uit: “Ek kan nie lees nie, Juffrou.”

Net ’n onderwyser wat al hierdie episode deurgemaak het, sal verstaan waarom ons so ontsteld is oor wat tans met ons land in die onderwysstelsel gebeur. Volgens verslae het net 48,6 persent van alle graad 6-leerders in die Wes-Kaap en slegs 10 persent van graad 6-leerders wat landwyd die geletterdheidstoetse afgelê het, in 2008 op ’n internasionaal aanvaarbare vlak presteer. Dit geld vir leerders in voorheen bevoordeelde sowel as gemarginaliseerde gemeenskappe. Ek doen reeds sedert 1991 navorsing oor leesprobleme en het toe al daarop gewys dat leerders wat hul skoolloopbaan voltooi het, sukkel om hulle in Afrikaans uit te druk, nie die vermoë het om Afrikaans korrek te kan praat of skryf nie, en weinig begrip het van die gesproke en geskrewe woord. Hierdie gebrekkige lees word steeds waargeneem, onder meer in die feit dat die skoolstelsel al hoe meer studente lewer wat nie die mas kan opkom in hoër onderwys nie.

Die vingers wys na die laerskole: kenners glo die probleem begin in die grondslagfase, waar leerders nie in die nodige vaardighede van geletterdheid onderrig word nie. Een van die kritieke uitkomste van uitkomsgebaseerde onderwys is dat die leerder effektief moet kan kommunikeer op ’n wyse wat probleemoplossing en kritiese denke bevorder. Leerders moet onder andere betrokke raak by die leesteks, en krities daarop reageer. Dieper vlakke van begrip stel leerders in staat om kennis van een konteks na ’n ander oor te dra, maar leerders se voorafkennis is in hul taal opgesluit. As hulle nie in hierdie vaardighede onderrig word nie, en dus nie kan lees nie, is die kanse skraal dat hulle die basiese uitkomste van die kurrikulum sal bereik.

Dis al oor en oor bewys dat leerders wat nie doeltreffende leesvaardighede ontwikkel nie, akademies swakker presteer; trouens die kind se totale ontwikkeling word gestrem.

Die sukkelende leser word gevolglik gedwing om op verskeie gebiede aanpassings te maak en ontwikkel allerlei strategieë om tred te hou met hulle eie tekortkoming,  soos daardie kind in my vrou se klas. Dikwels ontwikkel hulle ’n swak selfbeeld en begin glo dat hulle aan ’n gestremdheid ly, eerder as om te besef dat dit ’n vaardigheid is wat hulle nog kan aanleer. So ’n leerder voel soos ’n buitestander in die klaskamer. Hy verstaan dit glad nie. Hy voel slim, maar kan dit nie altyd wys nie. Hy ondervind sekere inkonsekwenthede in sy gedrag wat hy nie kan verklaar nie. Hy voel intelligent op sommige gebiede en heeltemal in die duister op ander. Hy openbaar gedragsverwante leesprobleme soos visuele steurings, swak spelling en swak verbale vermoëns, swak leesbegrip en leesspoed, luister- en handskrifprobleme en die onvermoë om aantekeninge te maak. Dikwels het hy ’n goeie begrip van ’n bepaalde aspek, maar nie die vaardigheid om dit verbaal uit te druk nie. Sy skryfpogings is dikwels ver van die aanvaarbare standaard, maar nie sonder dat hy probeer het nie. Nóg sy verbale nóg sy geskrewe antwoorde verwoord wat hy eintlik wil sê. Sy onderwyser is dronkgeslaan omdat hy iets die een dag goed doen, net om dit die volgende dag weer verkeerd te doen.

Dit alles lei tot ’n negatiewe houding teenoor lees wat manifesteer in emosionele response soos skaam vir lees, lees-angs en frustrasie.

Een van die eerste aspekte wat gevolglik aangespreek behoort te word, is die kind se houding teenoor lees. ’n Onderwyser wat elke geleentheid aangryp om sy leerders aan lees bloot te stel, en wat alles in sy vermoë doen om lees vir die leerders so aangenaam moontlik te maak, sal ’n positiewe gesindheid en ’n lewenslange liefde vir lees by hulle kweek. Hoewel die probleem nie oornag gaan verdwyn nie, kan daar met die nodige hulp wel ’n verbetering intree. Talle persone wat vroeër sukkelende lesers was, kan vandag suksesvol lees.

As ons van ons kinders verwag om in die globale kennis-ekonomie te kompeteer, moet ons toesien dat hulle die bes moontlike geletterdheidsbasis ontvang. Om ons kinders toe te rus met effektiewe vaardighede in lees en skryf is derhalwe ononderhandelbaar. Skole, onderwysers en onderwysdepartemente bly egter in gebreke om leerders met leesprobleme te help, waarskynlik weens oorvol klaskamers, onkunde oor hoe om die probleem te hanteer en ’n gebrek aan die basiese geriewe. Navorsing dui daarop dat talle leerders net aangestuur word sonder dat hulle die basiese vaardighede in geletterdheid onder die knie het – die sogenaamde worsmasjien-verskynsel. Uiteindelik kan hulle nie meer tred hou nie, en die gevolg is ’n hoë uitvalkoers en ’n hoë druipsyfer.

Die groot aantal sukkelende lesers in ons land skreeu om ’n sistemiese verandering. Lae vlakke in lees en skryf is nie iets wat oornag (soos wat sekere ministers blykbaar dink) of in isolasie opgelos kan word met ’n paar aanvullende programme hier en daar nie. Dit vereis ’n toegewyde, nasionale poging wat strek tot in die hart van elke klaskamer, elke skool, en elke distrik en behoort alle onderwysers te betrek. Die ingesteldheid van sommige leerkragte dat hulle “inhoudsvakke” onderrig en leesonderrig dus nie hul probleem is nie, is louter snert. Elke onderwyser behoort sy leerders te leer dat ’n sin met ’n hoofletter begin, sonder spelfoute moet wees en met ’n punt (of ander geapste leesteken) moet eindig ten einde ’n sin te wees.

Want alhoewel ons ’n uitkomsgebaseerde benadering tot onderwys volg, faal ons om die enigste uitkoms wat werklik saak maak, te bereik: om ons kinders te leer lees. Slegs as almal in Suid-Afrika, van die president tot elke onderwyser en ouer, hande vat en saamwerk, sal ons ’n volhoubare verandering in die lewens van sukkelende lesers bewerkstellig. In hierdie proses is dit belangrik dat elke onderwyser hom-/haarself óók ’n leesonderwyser sal herdefinieer.

Natuurlik beteken die onderrig van lees meer werk vir onderwysers, maar as ons verlang dat leerders die inhoud moet léér, moet ons hulle help om die inhoud te léés. Tyd wat so spandeer word, is ’n belegging in die toekoms van ons land.


1 Ek gebruik ’n skuilnaam om die leerder se identiteit te beskerm.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address