
Skakerings van Skepping is Zorada Temmingh se orrelimprovisasies op 'n geestelike tema. Danila Liebenberg het onlangs hierdie musiekgeleentheid deur die Stellenbosse orrelis bygewoon. Hier is haar indrukke.
Die tema van die program het beslis op die gewyde dag se assosiasies ingespeel. Haar program het met “Lofsing die Here” begin, geskakeerd in ’n sagte groen verhooglig. Tesame met hierdie simboliek van lewe het sy met die orrel die saal laat ontwaak.
“Daar’s vissies in die water” het gevolg, geborduur aan donker gedeeltes wat op gevaar gedui het (vir die vissies) en trillings wat op middellangse visse (in die see se lae) gewys het. Aan die einde het ’n parmantige klein vissie die stuk afgesluit. Kobaltblou verhooglig het gepas by die seemotief aangesluit.
’n Verwerking van “Psalm 47” daarna het onstuimige water en stil riviere voorgehou deur handkabbeling en voetvernuf. Die “Onse Vader” het met meegaande rooi verhooglig rustigheid en heiligheid gebring; soos die daeraad wat deurbreek. Die dalende toonlere in hierdie stuk was aanwysend van die gawes wat die Vader “uit die hemel na die aarde laat neerdaal”. “God van yster en beton” is modern uitgevoer, soms dissonant, om die krasse chemie en wetenskap in die musiek te vergestalt. Die goedverweefde uitvoering is afgesluit met “Psalm 8”.
Leegheid van die aarde en wanorde is brokkig voorgehou; later het die maan meer rustige en wiegende klanke gebring. Mettertyd is klank opgebou om Sy Grootse Majesteit uit te beeld. ’n Herhalende en staande encore het die uitvoering rustig met “Neem my lewe, laat dit Heer …” afgesluit.
Skakerings van Skepping was gepas, geskakeerd, geïnspireerd en groots. ’n Opvolg hierop sou goed ontvang word.

