Zimbabwe: ’n oorsig

  • 0

Harare

Zimbabwe se verlede

Zimbabwe se historiese ontwikkeling is nóú aan die geskiedenis van die voormalige koloniale staat, Rhodesië, gekoppel. Vanaf 1923 tot 1978 was ’n wit minderheidsparty aan bewind in Suid-Rhodesië, wat as ’n selfregerende kolonie onder Brittanje gestaan het. Vanaf die vroeë vyftigerjare het daar egter geleidelik druk teen dié wit minderheidsregering begin opbou vir die insluiting van die swart groeperinge in die regering.

Die politieke stryd in Rhodesië het drasties verskerp toe die voormalige kolonie op 11 November 1965 hom eensydig onafhanklik van Brittanje verklaar het. Die destydse eerste minister, Ian Smith, het na 1965 op politieke en militêre gebied vir meer as ’n dekade gepoog om ’n swart meerderheidsregering te probeer stuit. Die eskalerende politieke en militêre konflik het hom egter gedwing om in 1978 ’n interne skikkingsooreenkoms met die sogenaamde gematigde swart leiers in die land, soos Abel Muzorewa en Ndabaningi Sithole, aan te gaan. Die politieke spanning het egter verder geëskaleer en die konflik het in ’n lae-intensiteit-burgeroorlog ontaard, met die meer ekstremistiese partye wat buite die skikking gebly het. Brittanje het sterker toegetree om die konflik te besleg en uiteindelik deur bemiddeling alle partye by die Lancaster House-beraad in Londen betrek. Die konferensie was inklusief en het al die partye na die onderhandelingstafel gebring in ’n poging om die dooie punt te breek. Die Lancaster House-beraad het dié keer die meer ekstremistiese leiers, soos Robert Mugabe en Joshua Nkomo, in die onderhandelinge ingesluit. Die uiteinde van die ooreenkoms was ’n algemene verkiesing wat in 1980 vir alle partye gehou is. Die uitslag was ’n klinkende oorwinning vir Mugabe, wat 57 van die beskikbare 80 setels verower het.

Mugabe was dus vanaf 1980 aan bewind in Zimbabwe en sy politieke greep oor sy party Zanu (PF) en die regering is gedurende dié tydperk nooit ernstig uitgedaag nie. Mugabe se bewind was egter gou omstrede as gevolg van die wreedaardige wyse waarop hy met enige opposisie gehandel het. Sy vergrype, wat die massaslagting in Matabeleland insluit, waar amper 10 000 mense vermoor is, en die veldtog teen die wit boere vanaf 2000, het die land in ’n afwaartse spiraal geplaas. Die ekonomie het onder sy bewind gekrimp en in die onseker atmosfeer het die Zimbabwiese geldeenheid hiperinflasie ondergaan en spoedig waardeloos geraak. Mugabe was meedoënloos en verskeie politieke opponente het onder sy gewelddadige bewind deurgeloop. Die eens sterk Zimbabwiese ekonomie het so verswak dat in 2017 slegs een uit 10 mense werk in die land het. Die winsgewende myne het as gevolg van nasionalisering ernstige verlies begin ly. Die lewensverwagting van die gemiddelde Zimbabwiër het van oor die 60 jaar tot slegs 40 jaar gedaal. Mugabe het egter steeds Brittanje en die Weste beskuldig vir die probleme in sy land en kon sy eie tekortkominge nie raak sien nie.

Zimbabwe se hede

Mugabe se prysgawe van sy vroeëre ystergreep oor sy regerende Zanu (PF)-party en sy land het nie geleidelik plaasgevind nie. Die verlies van beheer en mag het betreklik vinnig binne die bestek van een jaar gebeur. Die invloed wat sy tweede vrou, Grace, oor hom uitgeoefen het om haar eie persoonlike politieke ambisies te dien, sou uiteindelik tot sy politieke ondergang lei.

Grace het geen bevrydingstatuur nie. Haar opgang en statuur in die party was bloot op die invloed gebaseer wat sy oor haar man uitgeoefen het. Sy het egter haar hand oorspeel deur haar rol in die afdanking van Joice Mujuru. Mujuru was een van die visepresidente en ’n politieke swaargewig uit die bevrydingstryd. Die skaal het egter verder teen Grace gekantel toe haar ambisies toegeneem het. Mugabe het op haar aandrang ook die ander visepresident, Emmerson Mnangagwa, afgedank, wat die waterskeidingsoomblik was. Dit skuif is gedoen uitsluitlik om Grace die geleentheid te gee om as visepresident in sy plek aangewys te word.

Die sterk gevoel teen die opportunistiese optrede van Grace en die skuiwe om haar te bevoordeel het verdere momentum aan die interne weerstand teen Mugabe gegee. Mnangagwa het na sy afdanking met die steun van die weermag begin om druk op Mugabe te begin uitoefen om as president te bedank. Die weermag het slim te werk gegaan deur ’n laeprofiel-staatsgreep in Harare uit die voer. Hulle het die binnekring van lojaliste wat Grace Mugabe gesteun het, óf gearresteer óf ondergronds gedwing. Die uiteinde van die proses was dat beide Mugabe en sy vrou hul posisies in die party verloor het en laasgenoemde uit die party geskop is. Mugabe het in die verslegtende situasie finaal sy politieke greep oor sy party en land verloor. Met ’n dreigende staat van beskuldiging (impeachment) in die parlement het hy geen ander keuse gehad as om as president te bedank nie.

Zimbabwe se toekoms

Mnangagwa is strydig met die Grondwet in die plek van Mugabe deur Zanu (PF) as president aangestel. Die Grondwet bepaal dat die ander visepresident, Mphoko, as president moes waargeneem het en dat ’n nuwe verkiesing binne 90 dae gehou moes word. Hierdie oortreding van die Grondwet is nie ’n goeie begin vir die nuwe bewind nie.

Dit is belangrik dat in die post-Mugabe era ’n inklusiewe proses begin moet word waarby alle party betrokke is en ook die burgerlike samelewing ingesluit is. Dit is belangrik om beleggersvertroue in Zimbabwe te herstel en ook die werkloosheidsprobleem in die land aan te spreek. Dit is belangrike eerste stappe wat dringend aandag moet geniet om die ekonomie te herstel en politieke stabiliteit te vestig.

Moontlike invloed op SA?

’n Onstabiele Zimbabwe is problematies vir Suid-Afrika as ’n buurland. Die teenwoordigheid van meer as 100 000 Zimbabwiërs in Suid-Afrika plaas reeds heelwat druk op ons plaaslike hulpbronne. Die probleem van duisende vlugtelinge na Suid-Afrika as die situasie in Zimbabwe versleg is ook voor die hand liggend. Dit is belangrik dat Zimbabwe op ’n vreedsame en stabiele koers geplaas word om die subkontinent in sy geheel voordeel te laat trek. Niemand en geen land sal by ’n atmosfeer van onstabiliteit baat nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top