Zengeance: "Ons plek is om mense te inspireer"

  • 1

Die driestuk-rockgroep Zengeance se lede mag dalk almal nog op skool wees, maar hulle bring ’n harde, eerlike soort rock ’n roll na vore wat getuig van ’n diep respek vir die ou meesters. Erick Zulch, voorman, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Erick. Hoe's dinge?

Dinge lyk baie goed. Ek is egter baie besig deesdae – dit is maar moeilik om die balans te vind tussen die band se musiek skryf en oefen en al die skoolwerk. Aan die ander kant is dit ook baie opwindend om op so ’n jong ouderdom sulke goed te beleef.

zengeanceweb1

Geluk met die onlangse vrystelling van julle eerste EP, Black Pistol. Hoe het die skryf- en samestellingsproses daarvan verloop? Ek neem aan dit was jul eerste studio-ervaring as ’n band – hoe het jy en julle die druk wat daarmee saamgaan ervaar en verwerk? Hoe voel jy oor die eindproduk en hoe is die reaksie daarop van vriende en die publiek?

Baie dankie, dit was ’n baie groot eer om met daardie bekende en legendariese name in die musiekbedryf te werk. Ons het besluit dat elke lid van die band een van sy eie liedjies kon opneem om op die EP te sit, plus ons beste cover – “Catfish Blues”. Die besluit was van die begin af geneem dat “Black Pistol” die eerste lied op die EP moet wees en so ook die sentrale tema vir die ontwerp van die harde kopie en die musiekvideo. Die hantering van die stres was eintlik baie maklik – daar wás nie regtig stres nie. Ons het nie verwag dat die eindproduk so ’n goeie reaksie sal lok van die media af nie. Die groot idee was om nie noodwendig ’n perfekte en beplande EP te maak nie, maar om ons klank as band op te neem en so na as moontlik te laat klink asof ons speel voor die persoon wat daarna luister. Ons is ’n “jam” band wat hou van improviseer en nie ’n lied musikaal perfek hoef te speel nie, maar eerder emosioneel – dit verlaag die stres van ’n eerste studio-ondervinding met aansienlike proporsies. Vir ons as band was dit die belangrikste om uit hierdie ondervinding te leer vir toekomstige opnames. Met ander woorde, dit was ’n baie groot sukses. Ons was baie verbaas met die positiewe en opbouende reaksie wat ons ontvang het van die publiek en vriende.

Dit klink of julle geweldig baie inspirasie put uit die ouer rock ’n roll-konings en hul style – Led Zep, Black Sabbath en dies meer. In hoe ’n mate is die musiek wat julle nou maak ’n kopknik aan daai inspirasies, of hoe beskou jy die ontwikkeling van jul eie stem en die stempel wat julle wil afdruk? Hoe moeilik is dit om daai balans te handhaaf, en hoe benader jy en julle dit in die skryf- en opneemproses?

Ja, ons kry baie inspirasie van daardie era se bands soos Led Zeppelin, Sabbath, Beatles (ons baskitaarspeler se gunsteling-band), en dan vind ek ook baie inspirasie by plaaslike musikante soos Albert Frost, Francois van Coke en Dan Patlansky. Hulle speel ’n baie groot rol in die eindproduk van ons liedjies en ons musiekstyl. As band eksperimenteer ons ook baie met verskillende genres om sodoende ons eie, unieke styl te ontdek. My belangrikste konsep vir die band is om die genot en die lekkerte van musiekspeel en -luister terug te bring. Ek glo dat baie bands deesdae musiek so ernstig opvat en die emosionele deel daarvan verloor dat hulle soms vergeet dat hulle meestal vir hulself moet speel. Musiek is persoonlik. Musiek is emosioneel. Musiek kan selfs geestelik wees en dit is wat dit uniek en spesiaal maak. Ons is almal eintlik dieselfde en musiek is net daardie manier om vir die persoon langs jou te laat weet (of jy hom nou ken of nie) dat jy weet hoe hy voel en dat jy op daardie perfekte oomblik emosioneel deel is van hom. Al hierdie musikante en bands bevat vir my hierdie konsep en dit is wat hulle vir my so goed maak (en natuurlik die feit dat hulle briljante musiek skryf). Solank jy hierdie goed onthou en jy eg bly aan wie jy is en wat jy doen, is dit maklik om die balans te onderhou. Die liedjies wat ek skryf het baie te doen met my emosies en speel ook ’n groot rol in my improvisasie vir elke song.

Die klank wat julle voortbring, is ’n heerlike fuzzy, soortvan lo-fi rock ’n roll, soos ’n mens sou verwag van ’n sielvolle three-piece. Dit klink ook of daar baie moeite in die liedskryfproses ingaan en die lirieke bly beslis nie agter nie. Hoe werk die liedskryfproses by jou, vandat die eerste woord en akkoord neergeskryf word tot jy gereed is om dit te perform? Hoe beskou jy die balans tussen musiek en lirieke? Wanneer weet jy dat ’n liedjie wérk?

My liedjies begin gewoonlik met ’n kitaar-rif wat ek op afgekom het en ons as band “jam” dan sommer net. Die woorde kom meestal maar net vanself soos ons dit “jam” en dan, as dit vir my reg klink, sal ek dit neerskryf (of moeite doen om dit te memoriseer). Musiek en lirieke moet mekaar komplementeer. Dit moet saamwerk en mekaar versier. ’n Liedjie werk nie sommer net omdat die musiek ’n X-faktor het of daar iets spesiaal aan die lirieke is nie. Ek glo dit is die musikant self wat die liedjie moet maak werk.

Volgens die inligting wat ronddryf op die web oor die EP het die legendariese Dirk Ace (ook bekend as Dagga-Dirk Uys van Voëlvry-faam) opgetree as vervaardiger van Black Pistol. Hoe was die ervaring om dié soort leiding te kry? Was dit ’n geval van luister-en-sê-ja vir iemand met so baie ervaring, of het julle soms baklei om sekere dinge te behou of te verander? Is daar ander kunstenaars en/of rolspelers in die musiekbedryf by wie julle al ’n ding of wat geleer het, of spesifiekes saam met wie julle nog sal wil werk of optree?

Dit is fantasties om met so ’n persoon te werk wat so baie weet van die musiekbedryf en wat so ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van rockmusiek in Suid-Afrika. Ons is ook baie dankbaar vir al die insig en leiding wat ons ontvang het van hom. Dirk was daar om seker te maak dat alles vlot verloop (wat gebeur het) en om vir ons wenke te gee sodat ons minder foute maak en sodoende nie tyd mors nie. Dit was vir hom belangrik dat ons nog steeds ons oorspronklike klank moet behou en as musikante leiding moet neem oor ons eie liedjies. Met ander woorde, nee, ons het sy raad ingeneem en self ’n finale besluit geneem. Ek het al verskriklik baie geleer van Albert Frost, wat eintlik die oorsaak is van my besluit om ’n kitaar te koop en te leer speel toe ek hom sien optree het in Tulbagh. My grootste rolmodelle op hierdie oomblik is Dan Patlansky en Francois van Coke en dit sal ’n massiewe eer wees om saam met hulle te kan optree.

Volgens die biografie op Zengeance se webwerf moes jy jou twee beste tjommies oortuig om ’n band te begin, waarna Lafras leer tromme speel het en Wian ’n bass guitar gekoop het. Dis nogal ’n interessante manier om ’n band te begin! Hoe het jou en die ander band members se musikale ontwikkeling tot dusver gebeur? Neem julle musiek as vak, of is dit ’n sit-en-oefen-in-die-kamer ding? Hoe sal jy persoonlik nog wil groei in terme van jou spel en sang?

Ons speel nou net al ’n jaar saam as band, wat ek dink ’n baie kort tydjie is vir die hoeveelheid ontwikkeling wat met ons as musikante gebeur het. Lafras het ’n absolute monster geword op die tromme, terwyl Wian “slick” en “funky” op sy baskitaar geword het. Ek het baie nodige ervaring opgebou deur saam met hulle te speel en so het ons ook ’n natuurlike aanvoeling ontwikkel om mekaar se musiekstyle te komplementeer. Ek neem musiek as vak op skool omdat ek in daardie rigting wil gaan swot na skool en so ’n loopbaan daaruit maak. Ek en Lafras neem ook ekstra teorie saam, terwyl Wian op laerskool klavier en teorie gedoen het. Ons almal doen die sit-en-oefen-in-die-kamer ding terwyl ek sang- en kitaarlesse en Lafras tromlesse ontvang. Ek sal graag my kitaarspel vinniger en meer los wil kry en die sterkte van my stem verhoog.

Vir jong bands wat voltyds by die toneel in Suid-Afrika wil "inbreek" is dit reeds ’n moeilik genoeg taak – wat nog te sê van ’n band waarvan al die lede nog op skool is. Wat is jou siening van die rocktoneel in Suid-Afrika soos dit nou lyk, veral in die post-MK-tydperk? Wat suig daaraan, en wat is cool? Wat dink jy is Zengeance se plek – nou en in die nabye toekoms – in hierdie toneel?

Ek dink dat baie musikante soms vergeet dat dit eintlik moet gaan oor die kwaliteit van die musiek. Die bedryf het baie ontwikkel die afgelope paar jaar, maar ek glo dat daar nog vele verbeteringe kan plaasvind. Wat vir my egter suig is die feit dat tieners Afrikaanse pop hoor op die radio of sosiale media en dan aanneem dat alle Afrikaanse musiek so klink, terwyl hulle nog nooit vir Van Coke Kartel, Fokofpolisiekar, Valiant Swart of Piet Botha gehoor het nie. Wat is cool? Wel, die musiek is nogals uitstekend! Ek dink Zengeance se plek is om mense te inspireer. Om vir hulle te wys dat ons nie 21 en dronk op die verhoog hoef te wees om ’n lekker tyd daar te hê of om goeie musiek te maak nie. Om vir die bedryf te wys dat daar nie altyd ’n storie hoef te wees nie – daar hoef nie bloed en braak te wees nie. Wat het ooit geword van alles wat skoon en mooi en suiwer was?

Al is julle nog op skool, het julle al ’n hele paar gigs en deelnames aan kompetisies en dies meer agter die rug. Wat staan vir jou tot dusver uit as hoogtepunte wat dit betref? Enige weird agter-die-skerms stories wat jou al ’n voorsmakie gegee het van hoe die rock ’n roll-lewe lyk? Enige harde lesse geleer wat jou sal bybly of wat jy met ander jong bands sal wil deel?

Vir my was een van die grootste hoogtepunte die talentkompetisie by ons hoërskool. Die reaksie wat ons ontvang het van die skool was fantasties! Die meeste tieners van vandag ken nie rockmusiek nie. Hulle was nog nooit by ’n musiekfees nie. Ek glo dis hoekom ons so ’n positiewe reaksie gekry het. Nog ’n hoogtepunt was toe ons by Plankies gespeel het. Die Akkedis-broers was daar en soos ek ’n kitaarsolo gespeel het, het Rudi op sy knieë gegaan en sy vingers op en af beweeg voor my snare. Dit was “BONE-CHILLING”. Die belangrikste wat jong bands moet onthou is dat hulle eg en eerlik aan hulself moet bly. Jy moet musiek maak omdat dit lekker is vir jou en nie omdat jy die aandag soek nie.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Zengeance, in so ver julle dit kan beheer?

Ons wil nog graag so een of twee musiekvideo’s skiet, wat hope pret is, en dalk binne die volgende ses maande nog ’n EP vrystel.

Wat is die sin van die lewe?

Maak die beste daarvan.

coffeeweb1

  • 1

Kommentaar

  • I really enjoy your music. You guys are so young yet are so talented. I hope one day I can be in your band as a back-up singer lol. You guys are hot and rock! I love Zengeance xx. You're going to be so successful in life.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top