Zelda Jongbloed

  • 4

Zelda Jongbloed was van die eerste Afrikaanse strugglejoernaliste wat destyds vooruit geloop het om verkenningswerk te doen en sodoende die joernalistieke bedding vir toekomstige niewit joernaliste in die Afrikaanse joernalistiek voor te berei.

Jongbloed (67), wat bekendheid verwerf het as redakteur van die destydse Rapport Ekstra wat op die bruin Afrikaanse lesersmark gerig was, is verlede week aan kanker oorlede. Ten tye van haar dood was sy ’n DA-parlementslid en was voor haar uittrede by Naspers ’n senior adjunkredakteur van sowel Rapport as Die Burger.

Jongbloed het haar joernalistieke tande in die Engelse pers – eers by die Cape Herald in die Kaap en later by die Evening Post in Port Elizabeth – geslyp.

Toe sy in 1981 by Rapport as senior joernalis aangesluit het, was die hoofstroom Afrikaanse joernalistiek vasgevang in ’n geweefde kokon van etniese en politieke fundamentalisme. Reg van die begin was sy in ’n gedurige stryd gewikkel met haar wit manlike lynhoofde (redakteurs) en die NP-/apartheidsleiers. Des te meer omdat sy ’n uitdagende perspektief op die NP en Naspers se apartheidspolitiek gestel het.

Sy moes Rapport Ekstra deur die politieke mynvelde van die 1980’s navigeer sonder om integriteit in te boet en as ’n lakei van die NP-/apartheidsregering bekend te staan. As vrou, interkulturele intellektuele pendelaar en konsekwente non-racialist het sy in die gees van geregtigheid en menswaardigheid die toets geslaag.

Sy moes joernalistiek in Afrikaans pleeg vir ’n verarmde gemeenskap waar maatskaplike en politieke mag eeue lank eensydig ingebed was wat hulle andersins nie volledig en ontledend in ’n ander taal kon artikuleer nie. Terselfdertyd het sy haar op ’n belangrike sosiopolitieke opvoedingstaak begeef wat – soos Tim du Plessis dit gestel het – geadem was op die progressiewe gees van die ou UDF voor dié nog gestig is.

Sodoende is die taak haar onbedoeld opgelê om Afrikaner-kollegas tot nuwe progressiewe politieke insigte te oorreed wat tot baie twisgesprekke en uiteindelik tot blywende vriendskappe gelei het. “Haar insigte oor die komplekse interaksie en geskiedenis van wit en bruin Afrikaans dra ek saam met my vir altyd” – aldus Du Plessis.

Binne nuusredaksies was sy ’n moederfiguur en leermeester vir ‘n menigte joernaliste en na buite het sy ’n eiesoortige visioenêre leierskap uitgestraal.

Onder haar redakteurskap het Rapport Ekstra deur hul nuusdekking doelbewus en doelgerig die profiel van bruin leiersfigure soos Jakes Gerwel, David Curry, Allan Boesak, Allan Hendrickse, Franklin Sonn, Adam Small, SV Petersen en andere tot volwaardige meningsvormers en openbare figure ontwikkel.

Tot in die doodsnikke van apartheid moes sy die witbaas-aanslae van haar manlike redakteurs soos Izak de Villiers – wat tot elke prys probeer het om bruin lesers vernuftig te werf om vir die NP te stem – probeer afweer. Die Sondag voor die 1994-verkiesing wou De Villiers ’n hoofartikel op die voorblad van Metro publiseer waarin hy bruin mense sou aanpor om vir die NP te stem. Jongbloed het vasgekop en De Villiers moes bes gee.

By Rapport in Johannesburg het sy daarop aangedring dat die verregse kommentator Dan Roodt afgedank word as rubriekskrywer nadat hy in ’n rubriek haatspraak-opmerkings teenoor swart mense gemaak het.

In Port Elizabeth, waar sy waarnemende redakteur van Die Burger Oos-Kaap was, moes sy die rubriekskrywer Annelie Botes ook afdank nadat Botes in ’n onderhoud erken het dat sy niks van swart mense hou nie. Ironies genoeg is Botes, wat bekend is as skrywer, later weer as rubriekskrywer aangestel.

In 2010 het Zelda in ’n gesprek met my die wens uitgesprek om meer bruikbaar te word as gemeenskapswerker vir haar grootworddorp, Groot-Brakrivier.

Dit is teen die agtergrond van dié wens dat haar besluit om ’n DA-LP te word beoordeel moet word. Sy wou graag ’n raadslid/gemeenskapswerker word, maar toe word sy ’n LP, en totaal ontnugter. Sy was onskuldig en nie voorbereid op die DA se interne politiek nie.

Jongbloed was in vele opsigte ’n beter mens as die konvensionele papbek-politikus. In haar aftreejare wou sy net ’n gemeenskapswerker wees. Gemeenskapsdiens is die mees edele manier van diens aan die mens. Dit staan los van die bevordering van enige politieke ideologie – of so behoort dit te wees. Dit is ’n welkome maatskaplike oriëntasie, veral in Suid-Afrika, ’n land van uitspattige kroniese armoede.

Biografiese besonderhede oor Zelda Jongbloed (3 Oktober 1950 – 21 Julie 2018)

Zelda Jongbloed (née Erasmus) is op 3 Oktober 1950 in Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap gebore.

Sy het die graad BA (onderwys) aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf; asook die graad MA (joernalistiek) aan Rhodes-universiteit in Grahamstad.

Sy was vir 40 jaar in die joernalistiek en het in 1972 as kadetverslaggewer by die destydse Cape Herald in Kaapstad begin werk. Sy en haar gewese man het teen einde 1976 die weekblad Herald Het Suid Western in George begin. Sy het toe ook met vryskutwerk vir Rapport begin. In 1979 is sy by die destydse Evening Post in Port Elizabeth aangestel as senior joernalis met swart politiek as spesialisveld. Sy het ook onder meer vir ’n ruk lank in Namibië by ’n private maatskappy gewerk. In 1981 is sy as senior joernalis na Rapport en is in 1986 op die ouderdom van 36 as redakteur van Rapport Ekstra aangestel. Jongbloed is in 1996 tot adjunkredakteur van Rapport bevorder. Sy het in 2012 na 30 diensjare by Naspers uitgetree. Gedurende dié tydperk was sy onder meer senior adjunkredakteur van sowel Rapport as Die Burger. Sy was onder meer ook Die Burger se eerste vroulike – en bruin – politieke redakteur. In 2010 het sy vir ’n jaar lank by Die Burger Oos-Kaap in Port Elizabeth as redakteur waargeneem. Jongbloed was ook ’n politieke rubriekskrywer vir sowel Rapport as Die Burger. Sy was ook die skrywer van die verbruikersrubriek “Kampvegter” vir Die Burger.

Van die pryse wat Jongbloed as joernalis ontvang het, sluit in die Markus Viljoen-medalje vir Joernalistieke Prestasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir uitstaande langdurige, hoogstaande werk in die Afrikaanse joernalistiek. Jongbloed was een van die eerste joernaliste wat Nelson Mandela na sy vrylating in 1990 ontmoet het, asook van die eerstes wat met hom ’n onderhoud gevoer het.

In 2014 is Jongbloed tot DA-parlementslid verkies en het in die portefeuljekomitee vir Landbou, Bosbou en Visserye gedien. Sy was Kannaland, wat Ladismith, Vanwyksdorp, Zoar en Calitzdorp insluit, se kiesafdelingshoof. 

Zelda is op Saterdag 21 Julie 2018 na ’n kort siekbed aan kanker by haar huis in Mowbray in Kaapstad oorlede. Sy word oorleef deur haar drie kinders, Ulrich (43), Candice (41) en Crystal-Joy (34), vier kleinkinders en een agterkleinkind, asook drie broers en twee susters. Sy word Saterdag 28 Julie 2018 op haar geboortedorp, waar sy ’n huis het, ter ruste gelê.

  • 4

Kommentaar

  • Ek so so jammer om te hoor. Ek kon nog haar rubrieke goed onthou. My innige simpatie met haar familie en vriende.

  • Insiggewende, kundige waardering van 'n lewe wat onthou en respekteer word in die konteks van politieke storms en maatskaplike omwentelinge.

  • Avatar
    Anthony Wilson

    Dankie Jason! Skrander soos gewoonlik. Jy doen groot eer aan die nagedagtenis van een van ONS grotes! My innige simpatie aan haar familie. Soos ons Angikaanses gewoonlik sê: "May she rest in peace and rise in glory!"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top