Titel: Ystervuis uit die see: Uiters geheime seewaartse Recce-operasies (1978–1988)
Arnè Söderland en Douw Steyn
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868427796
Baie boeke is al geskryf oor die Suid-Afrikaanse magte in die Grensoorlog, maar weinig is bekend oor die rol van ons seemagte. In hierdie boek word verslag gedoen van 50 uiters geheime see-operasies deur 4 Recce, ander Spesmagte-eenhede en die SA Vloot. Die skrywers was self betrokke en het ook toegang gekry tot dokumente wat sedertdien gedeklassifiseer is. Die boek, wat oorspronklik in Engels geskryf is (met die titel Iron fist from the sea, 2014), is nou in Afrikaans verkrygbaar.
In Ystervuis word in groot besonderhede geboekstaaf hoe die seemagte en die 4 Recce-eenheid – wat van meet af op die been gebring is – die revolusionêre magte in alle opsigte ore aangesit het. Hiervoor is die verskeie aanvalsvaartuie en die drie Daphne-duikbote aangewend. Hulle is later met kajakke, Zodiacs (rubberbote) en Barracudas (vasteromptuie) toegerus.
Die boek beskryf ook hoe die maritieme doktrine uitgebrei is. Dit het die ontwikkeling van ’n reeks swem-, verkennings- en bootkursusse ingesluit, tesame met die ontwerp van spesialis platforms vir amfibiese aanvalle.
Die Recce-magte was klein – om en by 45 soldate – en het wit en swart ingesluit. Hulle was die room van die Republikeinse magte. Later is goedgesinde rebelle betrek en in die geheim na behoefte opgelei. Sommige soldate was nog bloedjonk, en almal het hulle met onderskeiding gehandhaaf en baie medaljes is vir dapperheid en leierskap toegeken.
Die Daphne’s is tot die maksimum getoets en het die vyand heeltemal onkant gevang omdat hulle getwyfel het oor die duikbote se reikafstand – van Angola tot Mosambiek en Tanzanië – en oor hul vermoë om verskuiwende sandbanke in riviermondings te navigeer. Die vyand het ook nie die vereiste sonarvermoë en gesofistikeerde radar en personeel gehad om dit effektief te gebruik nie en was oor die algemeen swak opgelei.
Die doel was altyd sabotasie en ontwrigting van vyandelike operasies en daar is nooit van swaar aanvalswapens gebruik gemaak nie, hoewel ANC-kantore in Mosambiek opgeblaas en militêre skepe – ook van Rusland – met plofstof opgeblaas is. Die agterste kanon is van die aanvalsvaartuie verwyder om meer verblyfplek vir operasionele personeel te maak.
Burgerlikes is nooit geteiken nie en operasies het met groot omsigtigheid geskied om Suid-Afrikaanse ongevalle tot die minimum te beperk. Natuurlik het operasies soms skeefgeloop, soos toe twee soldate gesneuwel het en kapt Wynand du Toit gevange geneem en voor die wêreldmedia geparadeer is.
Steyn en Söderlund se chronologiese ontledings van die operasies getuig van hul vaardighede. Die uitdagende Operasie Kerslig (1981) (met een ongeval en ’n paar beserings) op ’n olieraffinadery in Luanda is maar een van die talle ondernemings wat in besonderhede beskryf word en die hare op jou arms laat rys.
Daar word spanningsvol beskryf hoe in een van die operasies ’n aanvalsvaartuig in dolle vaart in ’n vlak gety (twee meter) met sy operateurs ontsnap om die opkomende son te ontduik.
Die leser word deurgaans beïndruk deur die Suid-Afrikaanse beplanning. Daar is altyd voorsiening gemaak vir ’n aanvals- en ontsnaproete. Operasies het in die strengste moontlike geheimhouding geskied en het onder die beskerming van die nag geskied. Selfs die baasspioen Dieter Gerhard het geen lekkasies ontvang nie.
Aanvalsvaartuie is dikwels as visserskuite gekamoefleer deur hul nagnavigasieligte te wysig. Die SAS Tafelberg, SAS Pres Steyn, SAS Protea en die SA Lugmag is ook by geleentheid ingespan.
Daar is deurgaans slegs van Suid-Afrikaanse deskundigheid gebruik gemaak.
Die boek is met talle foto's, sketse en kaarte geïllustreer. Die skryfstyl is militêr en die inligting is afkomstig uit militêre dagboeke. Redes word vir al die operasies verskaf, tot die politiese oorwegings wat vir optredes gegeld het. Volledige beskrywings word verstrek van hoe brûe, opslagplekke en toevoerlyne gesaboteer en vernietig is.
Die boek sal ook van onthullende waarde wees vir mense wat voor 1990 in die SA Vloot gedien het. Die oorspronklike Engelse publikasie is met meer geheime inligting bygewerk. Dis ook ’n moet vir enigeen met ’n belangstelling in die uitmuntende Spesmagte. Dit neem jou na die hart van die aksie, adrenalien en vrees van seewaartse operasies. (Die Engelse weergawe sal ook van waarde wees vir militêre akademies wêreldwyd.)
Die boek en sy indeks beslaan 488 bladsye. Skoutadmiraal Söderland het 40 jaar in die SA Vloot gedien en luitenant-kolonel Steyn was 19 jaar lank ’n Spesmag-operateur. Een van die kenmerke van die boek is dat die skrywers op primêre navorsing steun en ’n gebalanseerde en akkurate weergawe van die 14 Recce-eenheid bied. Onderhoude is ook met verskeie recce’s gevoer.
Kommentaar
Sal graag die genoemdeboek aanskaf en lees. Dit sal baie interessant wees. Dankie vir die kennis wat julle deel.