X+Y: "Die jong akteurs is vreesloos"

  • 1

"Kinders kan nie hul ouers kies nie en bloed is nie altyd dikker as water nie," lui ’n beskrywing op die Suidoosterfees se webblad oor die nuutgeskrewe toneelstuk X+Y, wat by die fees sal debuteer. Hugo Theart, die vervaardiger, vertel meer oor die stuk.

Daar heers opgewondenheid oor X+Y, waarvan jy die vervaardiger is en wat by die Suidoosterfees en die Woordfees te sien sal wees. Hoe het die konseptualisering van die stuk verloop?

Onderhoude en ’n bietjie van ’n werkswinkelproses is in die middel van verlede jaar gehou met die jong akteurs wat gekies was om aan die produksie deel te neem. Uit hierdie proses het die skrywer, Christiaan Olwagen, en die regisseur, Marthinus Basson, basiese idees en temas geïdentifiseer. En Christiaan het toe met die teks getiteld x+ y – ’n tragikomedie oor genetika vorendag gekom.

Die produksie is moontlik gemaak deur die Stad Kaapstad, die Suidoosterfees en die Woordfees. Hoe werk hierdie liggame se betrokkenheid by die beplanning, voorbereiding en uitvoer van die produksie?

Hierdie organisasies befonds die hele projek. Dit is wonderlik dat die Stad Kaapstad belê in teater en ook spesifiek in jeugteater. Die Suidoosterfees en die Woordfees bied ook ’n wonderlike platform vir die projek. Omdat ons op Stellenbosch gerepeteer het, was Jana Hattingh en Saartjie Botha van die Woordfees ongelooflik behulpsaam met infrastruktuur. Niel le Roux en die Suidoosterfees het alreeds tien jaar gelede betrokke geraak by die Nasionale Toneelspelkompetisie se produksies. Hul het ook in die verlede verskeie van die ander produksies aangebied. 

Die titel verwys na die verhouding tussen die sogenaamde "generasie X" en "generasie Y". Hoe het julle te werk gegaan om dié "generasies" te definieer vir die doel van die produksie en om dié eienskappe aan karakters te heg?

Die x en die y verwys ook na genetika – x- en y-chromosone. Christiaan (Olwagen) het wyd navorsing gedoen oor die definisies van die generasies, maar ook oor genetika, filosofie en die revolusionêre teorie. En as skrywer het hy ook ’n fyn aanvoeling en waarnemingsin. Die definisies is maar net ’n basiese beginpunt – die interaksie tussen die generasies is wat meer hier ter sprake is.

Jy noem dat dit ’n produksie is wat vir die jeug geskryf is en handel oor die gevoelens waarmee hulle worstel en identifiseer. Wat lê aan die kern hiervan en in hoe ’n mate kan teater daarin slaag om dit te verken? Word daar enige "oplossings" of "boodskappe" oorgedra? 

Nee, ons gee nie die oplossing nie. Dis wel ’n probleemstelling. ’n Realiteit wat aan die gehoor voorgestel word. Miskien kan dit ’n katalisator wees vir gesprek om die "probleme", of eerder situasie, aan te spreek, maar niks hiervan is nuut nie – die verhouding tussen kinders en hul ouers is kompleks en die toneelstuk krap waar dit jeuk. 

Verskeie jong akteurs wat nog op skool is, is betrek vir die produksie. Hoe het julle te werk gegaan om dié akteurs vir die rolle te kies?

Die produksie is die inisiatief van die Stad Kaapstad Nasionale Toneelspelkompetisie. Hierdie kompetisie word nou al vir 11 jaar met groot sukses deur Herman van der Westhuizen bestuur. Honderde leerders van regoor die land neem deel aan verskillende uitdunrondes. Ons het die voorreg om dan uit die leerlinge wat gekies word om aan die finale rondes deel te neem, ’n geselskap te kies. Dit is werklik ’n voorreg om die kompetisie by te woon. Die jong leerders is braaf en daar is hope talent! Ongelukkig kan mens net ’n paar van hulle kies om aan die produksie deel te neem.

Hoe ervaar jy dit om met dié jong akteurs te werk, ook wat betref hoe hulle met die bekender volwasse akteurs (Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots) omgaan en hoe hulle met die temas identifiseer?

Die jong akteurs is vreesloos. Hulle het met oorgawe ingeduik. Hulle het hul Desember-vakansie opgeoffer om aan hierdie produksie te repeteer. Onthou hulle het nog bitter min ervaring en ook beperkte opleiding. Hul is rou. Maar hierdie groep het uiters professioneel opgetree. Die vier professionele akteurs se verhouding met die jong akteurs is wonderlik. Hulle hanteer hulle met respek en hanteer hulle soos professionele akteurs. Dit was eerlikwaar ’n aangename proses. Ons het nog so ’n week se repetisie oor voor ons open en daar is nog baie werk, want dit is ’n moeilike stuk! Maar hulle werk hard en is gefokus en ek glo dat ons teen openingsdag die teater met selfvertroue sal kan oorneem.

Die "generasiegaping" is in Suid-Afrika, met ons komplekse (om die minste te sê) verlede en hede, ’n immerteenwoordige element in kommunikasie. Is dit iets wat voortdurend en onafwendbaar is? Wat behoort gedoen te word (indien enigiets) om hierdie gapings te oorbrug, en watter rol kan of moet die kunste daarin speel?

Dis nie ’n vraag met ’n maklike antwoord nie. En ek het definitief nie die antwoord nie. Mense moet oopkop met mekaar kommunikeer en gesels. Dit sal nie net kan help om dalk meer begrip te kweek tussen verskillende generasies nie, maar ordentlike kommunikasie, debat en gesprek kan baie dinge verander. Die kunste is kardinaal om debat en gesprek te stimuleer en ontketen. En dit is wonderlik wanneer ’n toneelstuk of ’n kunswerk  mense laat dink en gesels. Dis opwindend wanneer teater uitdaag en stimuleer. Dis nie noodwendig gemaklike teater nie – maar dit is lewendige teater. Kan teater help met die oorbrugging van die generasiegaping? Dit sal ek nie met sekerheid kan sê nie. Maar vir nou is dit van uiterste belang dat ons teater skep wat gemik is op die jonger generasies. Dis nie noodwendig teater of onderwerpe waarvan die ouer generasies gaan hou nie, of wat tot hulle spreek nie, maar dit is teater vir die jeug. En aan ander generasies kan dit nuwe werklikhede omtrent die jeug oopmaak, en miskien sou hul die jonger generasie se omstandighede en werklikhede beter kon verstaan?

- Klik hier vir meer inligting oor die vertonings van X+Y by die Suidoosterfees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top