Xinjiang – skaakmat?

  • 1

Erkenning: https://commons.wikimedia.org/wiki/File:In_Lake_Sayram_Scenic_Spot,_Xinjiang,_China_50.jpg

.......

Mediaberigte wat onlangs met die herdenking van die honderdjarige bestaan van die Kommunistiese Party in China verskyn het, getuig van ietwat ongenuanseerde sienings oor dié enigmatiese land.

.........

Mediaberigte wat onlangs met die herdenking van die honderdjarige bestaan van die Kommunistiese Party in China verskyn het, getuig van ietwat ongenuanseerde sienings oor dié enigmatiese land. Daar is Afrikaners wat China agter elke negatiewe wêreldtendens soek en vind terwyl slegs ’n paar oorrompel word deur China se indrukwekkende prestasies en groeiende mag. In die aanloop tot die Olimpiese Winterspele in China volgende jaar sal weer opnuut gefokus word op Xinjiang.

Dit is in die VSA se belang om op China se menseregtevergrype te fokus, maar China hou ook boek van Amerika s’n. Omdat die twee se verwysingsraamwerke so ver verwyderd van mekaar is, sal die sienings sekerlik bly verskil. Vir die Chinese geniet sosiale orde die hoogste prioriteit en daarom is die vrylik verkrygbare vuurwapens wat periodiek chaos in Amerika veroorsaak, vir hulle ’n onverstaanbare vergunning. Amerika (en ander Westerse lande) stel individuele vryheid voorop. Hierdie uitgangspunte is natuurlik in elkeen se geskiedenis en gevolglik volkpsiges gewortel.

........

Vir die Chinese geniet sosiale orde die hoogste prioriteit en daarom is die vrylik verkrygbare vuurwapens wat periodiek chaos in Amerika veroorsaak, vir hulle ’n onverstaanbare vergunning. Amerika (en ander Westerse lande) stel individuele vryheid voorop.

..........

Terwyl ek en my man Tienie amper ’n dekade lank in China gewerk het, het die gekompliseerde prentjie in Xinjiang toenemend na vore gekom. Soos die spreekwoordelike aap in ’n porseleinkas het ek tydens my eerste besoek aan Urumqi, die hoofstad van Xinjiang, ’n geselserige granaatsapverkoper uitgevra oor die politieke onrus in die streek. Hy was ’n Oeighoer (“Whiegger” uitgespreek) en lus om sy Engels te oefen, maar het soos ’n oester toegeklap en daarna net die nodigste gesê toe ek vir my drankie betaal.

Separatiste in Xinjiang het in die aanloop tot die Olimpiese Spele in Beijing in 2008 probeer om die wêreld se aandag 3 000 km weswaarts te verskuif na die Oeighoers se onafhanklikheidstrewe. Dit het uiting gevind in sporadiese voorvalle van stedelike terreur. China maak nou weer gereed vir die Olimpiese Winterspele van 2022, en hoewel Xinjiang nou in ’n ystergreep vasgevat word, sal daar seker weer streng sekuriteitsmaatreëls oor die hele land ingestel word.

Die prutpot van verset het ná die Spele met meer drastiese terreur begin oorkook, soos in 2009, toe etniese geweld uitgebreek het waarin 197 mense in verskillende stede dood is, gevolg deur spuitnaaldaanvalle en vrese vir aanvalle op straat in Urumqi. Die geweld tussen Han-Chinese en Oeighoers het uitgekring tot in ’n fabriek in die suidelike nywerheidstad Quanzhou.

In 2014 het ’n groep terroriste op die spoorwegstasie van Kunming, in die suidwestelike provinsie Yunnan, dosyne mense (kinders ingesluit) met messe afgemaai en meer as honderd beseer. Vuurwapens vir burgerlikes is nie alleen onwettig nie, maar ook onverkrygbaar, anders kon die slagting groter gewees het.

Groot publisiteit is verleen aan ’n vliegtuigkapingspoging wat deur passasiers gefnuik is. Die leier van die kapers, skaars meer as ’n opgeskote knaap, is ’n kans gegun om oor staatstelevisie te vertel dat hulle mense se aandag op hul politieke aspirasies wou vestig. ’n Mens kon verseker wees dat dit die laaste sien van die jongeling was.

Ná die voorvalle het inwoners van en besoekers aan Xinjiang die kapers eenparig as misdadigers veroordeel. Al die mense wat kommentaar op televisie gelewer het, het soos regeringswoordvoerders geklink; hulle het klem gelê op die “harmonieuse” saambestaan van die inwoners van Xinjiang.

Só het die lys van slagoffers van die politieke stryd, skuldig en onskuldig, gegroei. In 2015–16 het Chinese koerante berig dat die regering opdrag gegee het dat die Oeighoers met aangename kulturele aktiwiteite “opgevoed” moet word. Die paramilitêre personeel uit die Han-groep is aangespoor om die Oeighoer-kultuur, soos die taal, musiek en danse, te leer ken. Dit getuig van tipiese naïewe, onverfynde propaganda. Maar satellietfoto’s het gewys hoe Oeighoer-begraafplase met stootskrapers platgestoot word.

........

Die paramilitêre personeel uit die Han-groep is aangespoor om die Oeighoer-kultuur, soos die taal, musiek en danse, te leer ken. Dit getuig van tipiese naïewe, onverfynde propaganda. Maar satellietfoto’s het gewys hoe Oeighoer-begraafplase met stootskrapers platgestoot word.

.........

’n Jaar later het die regering oorlog verklaar teen “drie bose magte”, naamlik terroriste, ekstremiste en separatiste. Toe het die onrus skielik opgehou. Of het dit? Onrusbarende berigte het begin verskyn van die regering se heropleidingskampe in Xinjiang. Indoktrinasie strook met die kommunistiese benadering tot afvalligheid.

Foto’s het begin verskyn van lang, hoë mure en soldate wat wagposte op die hoeke beman. Die Chinese regering het hom nie gehaas om sy strategie in Xinjiang te verduidelik nie, behalwe om dit beroepsopleidingsentra te noem.

Ons weet nou al hoe verdigsel met halwe waarhede en feite vermeng word en in die media sneeubal, en die nuus het toenemend erger geword. Op sosiale media wys emoji’s onlangs hoe Oeighoer-vroue se gesinne en harte gebreek word. Die boodskappe eindig met moeders en kinders wat alleen agterbly.

........

Ons weet nou al hoe verdigsel met halwe waarhede en feite vermeng word en in die media sneeubal, en die nuus het toenemend erger geword. Op sosiale media wys emoji’s onlangs hoe Oeighoer-vroue se gesinne en harte gebreek word. Die boodskappe eindig met moeders en kinders wat alleen agterbly.

..........

Die probleem is dat geen terreur- of enige ander pogings ’n kans het om die Chinese van Xinjiang te laat afsien nie. Die gebied grens aan Sentraal-Asië, Pakistan, Indië en Afghanistan. Onder die swart sand van die Gobi- en Taklamakanwoestyn is ryk neerslae yster- en kopererts, tin, aluminium, goud, jaspis en aardgas, sowel as die skaars minerale wat gebruik word in die vervaardiging van elektroniese kommunikasietoerusting.

China is ‘n land met geweldige diversiteit in terrein, klimaat en veral mense. Daar is 56 amptelik erkende etniese groepe, waarvan die dominante groep, die Han-Chinese, meer as 90% uitmaak. Soos op baie ander plekke in die wêreld heers dispute oor nasionale grense versus etniese grense, soos in Xinjiang en ook in Tibet. Die argumente rondom hierdie dispute is kompleks, met volksgroepe wat die geskiedenis op verskillende maniere interpreteer om hul aanspraak op onafhanklike staatstatus legitimiteit te probeer gee.

Volgens die Wêreldatlas se webwerf is die Oeighoers die vierde grootste minderheidsgroep in China en maak hulle 0,76% van die bevolking uit. Xinjiang is ‘n sogenaamde outonome gebied wat die grootste provinsie in China is en 16% van die grondgebied uitmaak. Die bevolking bestaan uit ongeveer 46% Oeighoers, 39% Han en die res behoort tot die Kazakh-, Hui- en 13 ander klein minderheidsgroepe.

As Xinjiang ’n onafhanklike land was, was dit die sestiende grootste in die wêreld, maar dis ylbevolk omdat minder as 5% van die land bewoonbaar is weens drie woestyne en ruwe bergreekse. Soos met Tibet was Amerika eers simpatiek teenoor die Oeighoers se onafhanklikheidstrewe, maar ná 9/11, met die “Oorlog teen Terreur”, het hulle ook onder verdenking gekom.

Chinese propaganda wil dit hê dat die gebied al voor die Christelike jaartelling deel van China was, maar weens die gebied se strategiese ligging het verskeie koninkryke dit oor die afgelope 2 500 jaar beurtelings beset en beheer. Dit is eers laat in die 18de eeu, met die derde probeerslag deur China se Qing-dinastie finaal verower. Die gebied was egter ver van sentrale beheer en kon taamlik onversteurd sy gang gaan.

Ná die val van die dinastie en in die chaotiese eerste helfte van die 20ste eeu het die Chinese invloed verder getaan en ’n kortstondige Oos-Turkestanse Moslemrepubliek bestaande uit Oeighoers, Mongole en Kasakke het tot stand gekom. Dit het die ideaal van ’n ononderbroke Turkse grondgebied vanaf Turkye tot by Xinjiang laat herleef, maar toe die Kommuniste in 1949 oorneem, is Xinjiang by die Volksrepubliek van China ingetrek en het die naam Oos-Turkestan en onafhanklikheid in die slag gebly. Die leiers het op pad na Beijing om met Mao te gaan beraadslaag oor toekomstige bestuur, almal in ’n agterdogwekkende vliegtuigongeluk omgekom.

Mummies wat onder die droë woestynsand bewaar gebly het, het nie kant gekies nie, en toon dat die gebied in antieke tye deur Kaukasiërs eerder as Chinese of Turke bewoon is.

Xinjiang beteken “nuwe grondgebied” en deel saam met die res van die land in die voordele van modernisasie saam met die ander minderheidsgroepsgebiede wat meestal aan die buitewyke van die land gekonsentreerd is.

..........

Xinjiang beteken “nuwe grondgebied” en deel saam met die res van die land in die voordele van modernisasie saam met die ander minderheidsgroepsgebiede wat meestal aan die buitewyke van die land gekonsentreerd is.

..........

In die stede van Xinjiang is die meerderheid inwoners Han-Chinese wat ingevoer is om ontwikkelingsprogramme te bestuur. Die Produksie-en-konstruksie-korps, bekend as Bingtuan, is in 1954 deur Mao gestig om dié onrustige gebied te stabiliseer. Dit is ’n semimiltêre organisasie wat ook boerderye bedryf en stede ontwikkel. Die Bingtuan het vandag ook sakebelange en verdien meer as die plaaslike bevolking, wat natuurlik ’n bron van ontevredenheid bly. En sou ’n volksgroep nie hul eie bouvallige mark verkies bo ’n stewige, ordelike een wat onder toesig funksioneer nie?

In Tongzhou, ’n voorstad van Beijing waar ek en my man by die vooraanstaande Lù Hé-skool gewerk het, was heelwat Oeighoer-eetplekke waar ’n mens in die buitelug sappige skaapsosaties oor ’n tafelbrander kon klaar braai en met bier afsluk. ’n Groep skrander beursstudente uit Xinjiang is ‘n kans op ’n goeie toekoms gegee, hoewel die agenda was om van hulle lojale party-ondersteuners te maak. Ek het ’n groep gevra wie die leier van die rebelle is. Rooiwang Zulphiya het agter haar hand “Rebiya Kadeer” gefluister – dit is wat die Dalai Lama van Xinjiang genoem word. Die regering beskou Kadeer as ’n uitgewekene met ’n kriminele rekord wat vanuit Amerika terreurveldtogte geloods het. Sy het elf jaar lank die Wêreld-Oeighoerkongres (WUC) bestuur en is hoof van die internasionale liggaam vir Oeighoer-menseregte en Demokrasie. Volgens Westerse bronne is haar familie in China aan onmenslike ondervragings onderwerp.

Kritici is seker dat Beijing met aggressiewe polisiëringstegnieke in Xinjiang die toon aangee vir die land se skuif na tegnologiegedrewe outoritêre beheer soos wat Etienne van Heerden in sy distopiese roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld beskryf. Sedert 2017 is daar glo meer as 7 700 snelreaksiepolisiekantore met gesofistikeerde datasiftingstegnologie om inwoners te monitor. Die polisie gebruik handskandeerders om foto’s, boodskappe en enige data wat “sensitief” kan wees, in die publiek se selfone na te gaan. ’n Oeighoer het vertel dat reis amper onmoontlik is en dat dit selfs moeilik is om ’n kombuismes te koop, behalwe as jy ’n Han is wat vir die staat werk.

........

Gewelddadige subversie teen die staat het die lyding van baie onskuldige mense veroorsaak, net soos die uiterste beperking van vryheid nou doen.

............

Dis baie seker dat die Chinese nie speel met mense wat onder verdenking kom dat hulle een van die dodelike “drie magte” is nie. Dan is indoktrinasie in ’n soort tronk sekerlik hulle voorland. In ooreenstemming hiermee moet sulke “heropgevoede” belhamels waarskynlik selfkritiek beoefen om te bewys dat hulle tot ander insigte gekom het.

Maar dat die Moslems oor hul geloof geteiken word, is ’n halwe waarheid, aangesien miljoene Moslems van die ander 54 minderheidsgroepe nie in dieselfde dwangbuis gedruk word nie.

Die sensus van 2020 wys dat die totale persentasie van etniese minderheidsgroepe sedert 2010 met 10,3% gegroei het tot 8,9% van die bevolking. Die getal Han-Chinese het met net 4,9% gegroei. Dit is omdat die eenkindbeleid wat van 1979 vir hulle gegeld het, nie op minderhede van toepassing was nie. Dit strook dus kwalik met bewerings van ’n georkestreerde program van gedwonge aborsies en selfs verkragtings as ’n soort etniese suiwering.

Gewelddadige subversie teen die staat het die lyding van baie onskuldige mense veroorsaak, net soos die uiterste beperking van vryheid nou doen.

Skaakmat!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top