Wraak! ’n Lesersindruk van Hunting time deur Jeffery Deaver

  • 0

Titel: Hunting time
Skrywer: Jeffery Deaver

ISBN: 9780008503826
Publisher: HarperCollins Publishers Ltd
Koop die boek by Graffiti

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

...
Die skrywer stel gewoonlik sy plot soos ’n ervare bommaker saam – booby trap op booby trap.
...

Die meeste geweldmisdadigers sweer wraak op die mense wat hulle verklik. Die tronk bied hulle genoeg tyd om aan ’n duisend maniere te dink hoe om hul wraakgedagtes suksesvol uit te voer, sonder om weer gevang te word. Van die mans voltrek die doodsvonnis sodra hulle vrygelaat word.

Jeffery Deaver delf in hierdie tema in die vierde boek in die Colter Shaw-reeks, Hunting time.

In ’n neutedop: Allison Parker is verantwoordelik daarvoor dat haar eks-man, Jon Merritt, tronk toe is. Wat sy nie weet nie, is dat geen gevangene sy hele vonnis uitdien nie. Parool is altyd vir die slagoffers onverwags. In haar geval waarsku haar regsverteenwoordiger haar dat Merritt haar wil vermoor. Dit is pak en vlug.

Shaw word gehuur om haar te beskerm. Gaan hy haar opspoor voor Merritt? Merritt is immers ’n oud-speurder wat weet hoe om mense te jaag.

Die skrywer stel gewoonlik sy plot soos ’n ervare bommaker saam – booby trap op booby trap. Dit is nie net Merritt en Shaw wat op haar spoor is nie, maar ook twee professionele huurmoordenaars.

In sy bundel kortverhale, More twisted, verduidelik Deaver hoe hy vrees in sy skryfwerk aanwend. Een van sy vyf metodes is die vrees vir die onbekende. Nie Parker of die leser weet wat volgende gaan gebeur nie.

Om die lesers se hart nog vinniger te laat klop, weef Deaver van sy ander vreesmetodes ook in. Hunting time is ’n adrenaliengedrewe kat-en-muis-spel en, kenmerkend van die skrywer, vol kitsduiwels.

Hy breek egter nie die twee goue reëls met die skryf van vrees in boeke nie. Sy karakters (daarom die leser) moet iets belangriks hê om te verloor. Nie net Parker se lewe is op die spel nie, maar ook haar tienerdogter s’n. Tweedens ryg hy nie derms uit nie.

Lesers wat van kat-en-muis-spanningsromans soos Gerald Seymour se Harry’s game en The journeyman tailor, John Grisham se The client en Loup Durand se Daddy hou, sal Hunting time geniet. Maar die spanning – myns insiens – is ligter as in sy naelbyters soos the bone collector en The devil’s teardrop. Tog verminder dit nie sy ystergreep op lesers se hart nie. Deaver weet hoe om lesers op die punt van hul stoele te laat sit.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top