Woordfees 2013 se projekbestuurder vertel meer ...

  • 0

Jana Hattingh, projekbestuurder van die US Woordfees, vertel meer oor hoe die aanloop tot dié gewilde fees op Stellenbosch verloop.

Jy is die projekbestuurder van die Woordfees. Die tyd kruip nader – hoe vorder al die beplanning? Wat is die lekkerste deel van jou rol en wat is die moeilikste?

Sedert Januarie 2012 is ek projekbestuurder van dié opwindende projek. Ons is geruime tyd reeds volstoom aan die gang, die program is pas bekendgestel en ons sien uit na ’n fantastiese 14de Woordfees.

Die lekkerste deel is dat daar ’n groot aantal kaartjies reeds op die eerste dag van verkope van die hand gesit is. Die twee produksies wat met ’n vaart wegspring, is die twee waarin Sandra Prinsloo optree – net soos ek verwag het. Sandra is te sien in Liefde, Anna en Oskar en die pienk tannie. Die moeilikste deel is om seker te maak dat alle rolspelers, donateurs, kunstenaars, media en feesgangers ’n onvergeetlike tyd van 1 tot 10 Maart op Stellenbosch sal beleef. Om meer as 400 aanbiedings op die program onder die feespubliek se aandag te bring en die logistieke uitdagings te laat klop, is ’n enorme uitdaging. Gelukkig is ons ’n fantastiese span met koördineerders wat hulle storie ken. Om eerlik te wees, die positiewe energie en adrenalien laat berge soos molshope lyk.

’n Interessante diens wat vanjaar gelewer word, is die US Woordfees-pendeldiens. Waar het die idee vandaan gekom en wat behels die diens presies?

Omdat parkering en verkeer ’n kopseer in Stellenbosch is, ondersoek ons al ’n paar jaar lank moontlike oplossings vir die probleem. Marlise Klopper, Woordfees-organiseerder, het verlede jaar by ons span aangesluit en het werk gemaak van dié uitdaging. Saam met die US se voertuigvloot het sy die wiele aan die rol gesit en nou spog ons met ’n pendeldiens wat Woordfeesgangers se lewens aansienlik gaan vergemaklik. Vir net R5 kan feesgangers hulle motors in die veilige terrein van Hoërskool Stellenbosch parkeer en goedkoop pendeldiensbussies na verskeie Woordfees-venues neem. By Hoërskool Stellenbosch se vertrekpunt kan feesgangers die innerlike versterk met heerlike Neethlingshof-wyne, versnaperinge en Bos-ystee. Alle inligting oor vertrektye en pendelroetes verskyn op bl 47 van die Woordfeesboekie, en ook op www.woordfees.co.za. Ons hou duim vas dat dinge vlot sal verloop en verwelkom die publiek se terugvoer oor die diens na afloop van die fees.

Nog ’n nuutjie is die "gereg-geveg", waaraan tot 13 restaurante deelneem.  Wat behels dit presies?

Ek glo die gereg-geveg is iets wat in die smaak van feesgangers sal val. Vir slegs R50 kan besoekers spesiale Woordfeesdisse by top plaaslike restaurante geniet en per SMS vir hul gunstelinggeregte stem. Ons moedig hulle ook aan om in die feestyd foto’s op ons Facebook-blad (US Woordfees) te plaas van hul feestelike geregte by die betrokke restaurante. Hulle kan lekker vet pryse wen.

"’n Kontantvrye fees, ’n hemelse ervaring" is die opskrif van die advertensie vir ’n armbandjie wat aangeskaf kan word om mee by byvoorbeeld feeskroeë te betaal en in te kom. Die tegnologie laat sy merk ... Hoe sou jy dié stelsel aan minder tegnologies gedrewe feesgangers verduidelik? Vermoed jy baie feesgangers sal hiervan gebruik maak?

Vir die eerste keer by enige kunstefees in die land kan besoekers die kontantvrye stelsel uittoets. Feesgangers kan armbandjies aanskaf waarop krediet elektronies gelaai word en by fees-venues geskandeer word in ruil vir kaartjies, drankies en piekniekmandjies. Vanaf 1 Maart kan die bandjies gekoop word by die Sasol Kunsmuseum, De Vette Mossel-seekosrestaurant en Neethlingshof. As jy jou bandjie het, kan jy geld daarop laat laai by enige van dié drie venues en toegang tot produksies in daardie venues koop, asook drankies by die kroeg. Die stelsel is baie eenvoudig; selfs tegno-idiote soos ek sal nie met sakke vol munte hoef te loop nie.

Die WOW- (Woorde Open Wêrelde-) leesbemagtigingsprojek van die Woordfees is vanjaar tien jaar oud. Hoe sou jy kortliks die groei van die projek en die impak daarvan op die gemeenskappe wat verryk word, beskryf?

Op die WOW-projek is ons baie trots. Verlede jaar het die projek meer as 160 000 mense in skoolgemeenskappe se lewens verryk. My kollega Fiona van Kerwel en haar span verander jongmense se lewens onherroeplik met byna 30 projekte wat regdeur die jaar aangebied word. Een hiervan is die WOW Spelfees, wat só vinnig gegroei het dat dit vanjaar in sewe provinsies aangebied word. Danksy die ondersteuning van ATKV, die Dagbreek Trust en die Millennium Trust besoek skrywers skole en word opvoedkundige werkswinkels vir leerders en onderwysers aangebied. In samewerking met Son en die Universiteit Stellenbosch kon ons verlede jaar nog meer studiebeurse as gewoonlik aan talentvolle skoliere toeken. Ons is verheug dat die Woordfees nie net vermaak en pitkos aan die publiek verskaf nie, maar ook mense se lewens daadwerklik help verander.

Die kunsprogram lyk vanjaar baie interessant. Waarvoor moet feesgangers uitkyk wat dit betref?

Elizabeth Günter, Ullrich Wolff en Corlia Harmsen het vanjaar ’n lieflike program saamgestel vir visuelekuns-liefhebbers. Ek sien baie uit na die teenwoordigheid van Wim Botha, ons feeskunstenaar. Hy gaan mense aan die praat hê met ’n indrukwekkende installasiekunswerk in die Sasol Kunsmuseum.

Ander kunstenaars oor wie ek opgewonde is, is Stephen Hobbs, Claire Menck, Evette Weyers, Louis Jansen van Vuuren en Hannetjie de Clercq. Die ATKV se Skilder met woorde III help verseker dat die standaard van ons kunsaanbod op hoë peil is. My kollegas Melt Myburgh en Elizabeth Gunter tree in gesprek met mekaar in verskillende mediums as deel van die uitstalling.

Zivaglo is ’n nuwe multimedia-inisiatief wat deur Linda Remke en Nina Brown na die fees gebring word. Dit beloof ’n multisensoriese ervaring waaroor feesgangers nog lank sal praat. Vir sakpas winskopies in die kunsmark kan mense die galerye wat op ons “Kunsroete” gelys is, besoek. As feesgangers wil wegbreek van die feesgewoel, kan hulle by plekke soos die PJ Olivier Kunssentrum, Oude Libertas Galery, Stellenbosch Galery, en so meer inloer.

Waarna sien jy self die meeste uit van die fees, wat die atmosfeer, items en verskeidenheid betref?

Die laataand blues-program by De Vette Mossel, kykNET Deurnagteater op 1 Maart by Klein Libertas Teater, Woord-en-wyn Paradys op 2 Maart by die Sasol Kunsmuseum, en ook wyntoere saam met verskeie kunstenaars is eerste op my lysie.

Dis altyd wonderlik om bekende gesigte te sien, soos Amanda Strydom, Athol Fugard, André P Brink, Antoinette Kellermann en Lizz Meiring.

- Klik hier vir die US Woordfees 2013-program.

- Klik hier vir ’n fotoblad van die US Woordfees 2013-programbekendstelling.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top