Beste WAT-vriend
Afrikaanse Handelsnaamkompetisie
Die WAT hou vanjaar weer ’n kompetisie vir die treffendste Afrikaanse handelsnaam. Inskrywings sluit op Afrikaanse Taaldag, 14 Augustus 2022. Eienaars van ondernemings of produkte met Afrikaanse name word genooi om in te skryf. As jy weet van ’n treffende Afrikaanse handelsnaam in jou omgewing, stuur die naam en, indien moontlik, ook kontakbesonderhede vir ons sodat ons hulle kan nader. Die vorige kompetisie is in 2020 aangebied. Moer Op Als (geurmiddel) het die meeste stemme getrek, terwyl Koer (afspraakklub) en Oep ve Koep (restaurant) die naaswenners was.
Die drie wenners sal groot blootstelling in die media kry, maar ons plaas alle treffende inskrywings op die Facebook-bladsy van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.
Stuur alle inskrywings na wfb@sun.ac.za.
Borg ’n Woord: Wenner van R25 000 geborg deur Sanlam
Die prystrekking van die wenner van R25 000, geborg deur Sanlam, het onlangs plaasgevind. Almal wat die afgelope jaar die WAT ondersteun het deur ’n woord te borg of te koop, het gekwalifiseer vir die gelukkige trekking.
Die wenners was Werner, Renier en Wouter Stapelberg. Hulle het die woord legende gekoop.
Jak de Priester by die WAT op 29 April 2022
Die WAT herinner graag almal wat reeds aangedui het dat hulle die Woordpret met Jak de Priester op 29 April wil bywoon aan hierdie besondere geleentheid.
De Priester was in 2002 die wenner van die ATKV se Crescendo-sangkompetisie. Van sy bekendste treffers is “Sally Williams Nougat” en “Groen Mamba”. Hy het onder andere ook die temalied van die kykNET-sepie Binnelanders geskryf en gesing.
Aletté van Vuuren van Ken Forrester Wingerde sal van hul uitsoekwyne bedien en Kobus Wiese kom Wiesenhof-koffie bekend stel. Ligte verversings deur La Coco-restaurant is vanaf 12:30 beskikbaar. Jak de Priester kom om 13:00 aan die beurt. Die program duur ongeveer 45 min. en sal dus voor 13:45 ten einde loop.
Kaartjies kos R30 en daar is sitplek vir slegs 50 persone. Kontak die WAT by wat@sun.ac.za of skakel Tanja by 021 887 3113 voor 27 April om u sitplek te bespreek. Die Buro van die WAT is in Banghoekweg 115, Stellenbosch.
Vriendelike groete.
Willem Botha

