Wond deur Gerhard M Pietersen: ’n lesersindruk

  • 0

Omslag: Litera

Wond
Gerhard M Pietersen
Litera
ISBN: 978-1-920188-58-0

Titel

Die titel is kort en kragtig en verwys na fisieke sowel as sielkundige wonde.

Ek hou van die wyse waarop telkens na die fisiologie rondom die wond verwys word wat dan ’n metafoor word vir moontlike genesing/afstand van die grudaad, ’n wond wat op die oog af bly, maar stadig genees en vir wie weet hoe lank voortduur.

........
Die dood is onvermydelik en met die ander sterfgevalle in die boek van bejaarde mense wat rustig gesterf het, is vrede gemaak. Dis immers die gang van die natuur. In Wond word dit egter duidelik gestel dat die letsels na ’n wrede plaasaanval vir wie weet hoe lank bly. Die geliefdes moet nie net vrede maak met die dubbele moord op hul ouers nie, maar ook met die onmenslik wrede wyse waarop hulle koelbloedig vermoor is.
........

Die dood is onvermydelik en met die ander sterfgevalle in die boek van bejaarde mense wat rustig gesterf het, is vrede gemaak. Dis immers die gang van die natuur. In Wond word dit egter duidelik gestel dat die letsels na ’n wrede plaasaanval vir wie weet hoe lank bly. Die geliefdes moet nie net vrede maak met die dubbele moord op hul ouers nie, maar ook met die onmenslik wrede wyse waarop hulle koelbloedig vermoor is.

Aan die begin van ’n paar hoofstukke keer Gerhard telkens na die metafoor van die wond terug. Hy vertel dat sommige wonde net nooit toegaan nie. “Sommige wonde hou lank aan met bloei lank nadat die liggaam van hulle vergeet het,” skryf hy. Later, namate daar meer berusting kom, keer hy weer terug na die wond toe. Dis nie ontkenning van pyn nie maar bedoel om lewe om die wond te laat groei.

Hulle trek en uiteindelik voel hy weer lus vir braai. Hy bedank uit sy pos as predikant en kry ’n direkteurspos by ’n sendinggenootskap. Na jare stap hy weer met die honde. Uiteindelik, sug die leser verlig, genees die wond stadig maar seker. Baie stadig, besef mens.

Illustrasies

Die illustrasie van die bebloede hand voor in die boek vertel alles sonder om die volle grusaamheid op te teken. Dit kan ook lyk na twee figure wat weghardloop. Dis ook gepas dat foto’s geplaas word, maar nie te veel nie, anders verloor dit impak. Van die foto’s is werklik grusaam, maar dit is nodig om dit te publiseer, aangesien plaasmoorde dikwels gerieflik onder die mat in gevee word. Dis skokkend maar dis ongelukkig die waarheid.

Dis te verstane dat die skrywer eerder sy gesin se identiteit wil verswyg. Daar is wel foto’s van die skrywer, van Dorothea wat op die liggame afgekom het en die vermoorde egpaar wat soos doodgewone plat-op-die-aarde boeremense gelyk het. Dit laat jou besef dat dit met enigeen kan gebeur.

Dis goed dat die sinistere foto van die bankie waarop Steven, hul moordenaar, in rooi geskryf het: ”I love you Mr Human,” ook geplaas word. Dit skok jou na die wrede werklikheid toe.

Skryfstyl

Ek hou van die skrywer se kort sinne. Dit is toeganklik, boeiend en verteerbaar maar soms klink dit ook na poësie, sinne wat jy oor en oor wil lees. Hy het ’n natuurlike skryftalent. Hy is op die man af, maar gaan ook kreatief met taal om.

Emosies

Die skrywer deins nie terug vir die wyse waarop die bloeddorstige moord plaasgevind het nie, maar weens sy emosionele betrokkenheid by sy skoonouers, word dit veel meer as net feitelike verslaggewing. Hy en sy gesin is self diep gewond. Hy is openhartig oor sy emosies en dié van die hele gesin. ’n Plaasmoord is nie net iets wat ophou nie. Die letsels/wonde bly lewenslank. Daar is seker nie ’n erger manier om te sterf nie. Gerhard en sy gesin gaan deur suiwer, onverdunde hel en hy skroom nie om dit met die leser te deel nie.

Hy vertel in sy eie woorde dat ons party stories “vertel omdat ons wil en ander stories omdat ons moet”. Ongelukkig is hierdie storie een wat vertel móét word. Dankie hiervoor. Dis nodig. Veral omdat ons politici so lieg daaroor.

Dit help hom ook om daaroor te skryf want, soos hy sê, daar is “krag en vrymaking” in ’n vertelling. Die woord “vrymaking” is een van die min plekke waar ’n mens besef die skrywer is ’n dominee, dis so ’n regte domineewoord. Maar hy is nie hoogheilig nie. Hy is net mens. Hy is ook nie een van daardie geliefdes van vermoorde boere wat die moordenaars Bybel-in-die-hand in die tronk gaan besoek en hulle dadelik vergewe nie. Sy stryd is veel meer verwikkeld en hy erken dit.

Opvallend is sy onvoorwaardelike en nie-veroordelende liefde vir sy skoonouers – ’n huis waarheen sy vrou, wat hy “Liefde” noem, aanvanklik skrikkerig is om hom te neem. Hulle is ongekunsteld en plat op die aarde. Skoonpa bestuur ’n rioollorrie (nederiger en glansloser kan jy seker nie kry nie) en roep die Here slegs aan as daar ’n krisis is en Skoonma noem Simon Cowell ’n “doos” as hy deelnemers aan die talentprogramme so bykom, en dit nogal voor die dominee. Dit toon hoe gemaklik hulle met hom as skoonseun voel.

Die oorledenes se persoonlikhede kom duidelik na vore en dis opvallend dat Skoonma glad nie probeer om haar domineeskoonseun te beïndruk nie as sy onboetvaardig verklaar dat sy nie kerk toe gaan nie omdat “die mense tog net skinder”. Hulle veins nie ’n kerktoeganery nie en hy probeer hulle ook nie aktief bekeer nie.

Mooiskryf

Hierdie is ’n storie met hart. Dis menslik om sulke kleurryke woordeskat te gebruik onder sulke uiters stresvolle omstandighede. Die dialoog oortuig en herinner aan goeie misdaadfiksie, maar ongelukkig is dit die harde werklikheid.

........
Hierdie is ’n storie met hart. Dis menslik om sulke kleurryke woordeskat te gebruik onder sulke uiters stresvolle omstandighede. Die dialoog oortuig en herinner aan goeie misdaadfiksie, maar ongelukkig is dit die harde werklikheid.
........

Ek hou van die nie-skynheilige gesprekke met die dominee wat veronderstel is om altyd vroom te wees. Die skoonouers voel gemaklik genoeg in sy teenwoordigheid om woorde soos “fokol” en “moer” te gebruik – daardie eerlikheid. En dan Skoonpa, wat tydens teëspoed aan die skrywer vertel dat die “Ouman my seker maar delete het”. Dis so eg en eerlik.

Feite

Dis skokkend dat die plaasmoorde op Groot Brak, van alle plekke, plaasgevind het, die gewilde vakansieplek. Ekstra sout in die wonde is dat die plaasmoord net voor Vadersdag, sy skoonma se verjaarsdag en hul huweliksherdenking plaasvind. Alles lyk dan so bedrieglik rustig daar.

Dis goed dat hy, behalwe vir die wit kruise (bl 12) ter herinnering aan die vermoorde boere buite Polokwane, ook na die vermiste kinders in townships verwys want mense heg mos dikwels ’n politieke kleurtjie aan plaasmoorde. As jy ontsteld oor plaasmoorde raak, dan is jy mos ’n rassis. Plaasmoorde en kinders wat vermoor of vermis word op die Kaapse Vlakte is van ons ergste misdade. Daar moet meer oor beide berig word en aan gedoen word. Dis hartverskeurend as onskuldige kinders afgemaai word.

Die moordtoneel word in grusame besonderhede beskryf wat sommige lesers dalk sal ontstel, maar ongelukkig is dit nodig. Daar is te veel apatie teenoor hierdie gruweldaad.

Nadraai van die moorde

Op bl 22 vertel Gerhard van “die geel lint wat soos ’n grens tussen die hede en verlede span”. Dit vertel van die lewe wat hulle gehad het en die een waarmee hulle gelos is, ’n raak beskrywing.

Ek hou ook van die manier waarop hy die terugflitse beskryf. Dit bewys dat mens nie sommer die trauma van ’n plaasmoord van jou skouers kan afskud nie. So gebeur dit dan op die dag van ’n troue, wat net weereens bewys hoe erg posttraumatiese stres is.

Hy beskryf hoe die hele familie getraumatiseer is – nie net diegene wat die toneel van die bloedbad besoek het nie. Twee van die drie kinders moes angsmedikasie gebruik. Hy het met Sabbatverlof gegaan, sy vrou het naweke tot tweeuur in die middag geslaap en hulle het gesukkel om die “bloedgrond” te verkoop.

Polisie

Hy beaam talle Suid-Afrikaners se ontnugtering met die Polisie, iets waarmee menigeen kan identifiseer. Polisielede is in sommige gevalle deernisvol, maar dan kry jy ook die een wat koud en klinies sê hulle moet die “lyke” gaan uitken. Dis onsensitief want in die begrafnisbedryf praat die mense meer respekvol van “liggame”. Dan is daar die polisielede wat nie met die privaatspeurder wou saamwerk nie. Die voetesleep, die arrogansie.

Gesprekke met God

Ek hou van sy onpretensieuse gesprekke met die Here. So sê hy: “Dankie God vir ’n moerse druppel genade.” Moet jy dan werklik jou woordeskat aanpas as jy bid?

Sy geloof wankel egter dikwels en hy wonder telkens waar God is. Hy beskryf sy opregte stryd met die Here. Die Here antwoord hom nie, keer op keer. Wat moet mens nou daarvan maak?

Hy vra of daar plek in God se hemel is vir mense wat nie in vergifnisterapie glo nie. Almal twyfel soms, maar niemand wil hoor dat die dominee twyfel nie. Weereens eerlik en openhartig. Hy kom in opstand. Sy vrou wil ook nie meer kerk toe gaan nie.

Dis die weg van die natuur dat sy skoonouers se pa eerste moes sterf, maar Steven het anders besluit en die goeie God het dit nie gekeer nie, wroeg hy. Gesange wat in ’n stadium so hoendervleismooi was, word nou ’n onsigbare wroeging. Sy glans vir die kerk is besig om te verdof, skryf hy. Hy vra in watter heelal was die Here toe Pa en Ma so met ’n panga afgemaai is. ’n Predikant mag mos nie twyfel en soms mens wees nie. Hy vra vrae oor die Here se “passiewe wreedheid” soos met die moord op kinders in Rwanda. Hy vra waar die Here was toe daardie visserman in die hawe versuip het.

’n Mens besef hoe moeilik ’n predikant se lewe is as hy sy eie emosies moet opsy skuif en ’n dag ná ’n groot tragedie poppespel vir die kinders in die kerk moet hou en hulle vertel hoe lief God die wêreld het. ’n Mens ervaar diepe empatie met hom. Dis geen wonder dat hy later die kansel los nie want hy is moeg daarvoor om daagliks mense se “junk yard” te wees en vra moedeloos waar sý stortingsterrein is. Angs-, slaap- en pynpille is hul gesin se voorland.

Beskrywings

Gerhard gebruik treffende beskrywings wat die verskrikking van plaasmoorde uitbeeld soos: “Hierdie keer het angs in die wind gewaai,” en “Verlies het hom gyselaar gehou.”

Skoonpa weet uit die aard van sy beroep presies van elke familie se “konstipasieprobleme” en was “die enigste ou op Groot Brak wat almal se ‘kak’ kon uitsort”. Sý woorde. Sy skoonouers het nooit probeer om hom te beïndruk nie. Sy skoonpa het hom “Gert Vuilseun” genoem nadat hy sy hondjie uit riool gered het.

Hy skryf ook beskrywend oor ’n “askieswindjie” en “vlieë met selfmoordneigings in die hitte”.

Gerhard is by tye filosofies en wys daarop dat die woord “moord” van die ander kant af “droom” gespel word. Wie sou nou daaraan kon dink?

Joernaalterapie

Dis duidelik dat die skryf van die manuskrip vir hom joernaalterapie was wat as een van die top-terapieë in die sielkunde beskryf word. Hy skryf immers: “God weet wat ek sou aanvang as ek nie kon skryf nie.”

........
Elke jaar sterf meer as 20 000 Suid-Afrikaners gewelddadig, sonder rede. “Soos slagskape,” skryf hy. “Te veel om te aanskou vir ons menslike oë, maar ons praat nie daaroor nie.” Hý praat egter daaroor. Hard en duidelik, sonder omhaal van woorde. Dis wat ons nodig het. Koppe word te veel weggedraai van plaasmoorde af.
........

Elke jaar sterf meer as 20 000 Suid-Afrikaners gewelddadig, sonder rede. “Soos slagskape,” skryf hy. “Te veel om te aanskou vir ons menslike oë, maar ons praat nie daaroor nie.” Hý praat egter daaroor. Hard en duidelik, sonder omhaal van woorde. Dis wat ons nodig het. Koppe word te veel weggedraai van plaasmoorde af.

Berou

Dis normaal om deur selfverwyt geteister te word na so ’n tragedie. Hy beskryf hoe hulle meer ag moes geslaan het op Skoonma se sesde sintuig wat hierdie tragedie voorspel het. Sy het nooit vir Steven Lekoro, die meesterbrein agter die wrede moorde, vertrou nie en wou hom ook nie met die panga in die hand sien nie. Skoonpa was egter net goed vir hom en wou niks hoor nie. Gerhard benadruk dit dat ’n mens nooit vroulike intuïsie moet onderskat nie.

Bloed en pangas

Daar is temas soos bloed en pangas wat gepas in die boek herhaal word, soos wanneer hy sê rooi is die kleur van bloed en die kleur wat sy emosies sneller. Hy beskryf hoedat hy aan bloed dink as iemand met ’n rooi hemp verbystap. “Het hierdie land se grond nie genoeg bloed gedrink nie?” Hy word deurentyd aan bloed herinner maar hy verwys dan ook as predikant na die Man op Golgotha wat vir ons gebloei het. Met gewetenlose mans om die kruis wat bloed ruik.

Nadat sy skoonpa wreed met ’n panga vermoor is, het hy weer twee toevallige ontmoetings met mense met pangas wat vir veel onskuldiger doeleindes gebruik word. Die herhalende temas van die wond wat genees en die pangas wat dan minder skrikwekkend hul verskyning met swaaiende lemme maak, benadruk die angs wat met posttraumatiese stres gepaard gaan – weereens snellers.

Vertroosting

Hy probeer homself troos dat hy minstens nie alleen is nie en dat duisende mense in Suid-Afrika hierdeur is.

Dan is daar die trooswoorde wat nie troos nie. ’n Man wat sê mens sal nooit weet wat God se bedoeling hiermee was nie. Volgens hom “’n goeie man met goeie bedoelings en woorde wat ’n netjiese teologiese pleister daarop plak”.

Dan kom die mense van Bethesda – 30 swart gesiggies – met kersliggies troos. Roerend.

Wanneer hy as predikant bedank en later as direkteur by ’n sendingorganisasie aangestel word, hoor hy egter ook van sy kollegas wat hulle al beleef het – in Suid-Afrika en elders in Afrika – en hoe hulle herhaaldelik moes vergewe: townshipgeweld, kinders wat in puttoilette omkom, iemand se broerskind wat deur Boko Haram ontvoer is, ’n man wat deur ’n boer vermoor is en ’n man wie se eie mense deur Islamitiese ekstremiste afgemaai is. Ook van ’n oorlewende wat die grudade in Rwanda moes aanskou.

Hy besef hy is nie die enigste aan die ontvangkant van geweld en trauma nie, maar dit bring nie vertroosting nie.

Steunpilaar

Dis aangrypend dat hy die selfaangestelde steunpilaar van sy gesin en uitgebreide gesin is. Dis edel van hom maar ongelukkig ook vernietigend.

Die ergste is dat hy homself in ’n situasie bevind waar hy die moordtoneel moet opruim. Maar dan daag daar ’n vloekende “engel”, Wayne, uit die bloute op om die toneel skoon te maak.

Gerhard is die een wat moet troos terwyl ander vir hom preek. Hy praat ook van die leë trooswoorde wat sy kant toe kom: “Goeie donner moet daar dan altyd ’n roeping en ’n breedgeskouerde held wees?” Hy wens eerder vir ’n dikker vel as dat “God ’n groter plan het met goddelike boodskappe”.

Dan die lomp, leë woorde: “Jy kan kies hoe jy met iets omgaan” en: “Drink jy jou medikasie?” Of: “Ons sal moet bid vir die moordenaars se siel” en: “Dink net as hierdie moordenaar tot bekering gaan kom watter getuienis dit vir die koninkryk sal wees.”

(Kan ’n psigopaat ooit tot bekering kom of is hy maar net ’n goeie verhoogakteur?)

Dan sekerlik die woorde: “Gaan jy hulle vergewe?” Dis die laaste ding wat hy wil hoor.

Daar is mense wat verkeerde vrae vra, ander wat hom nie kontak nie of ’n ander koers inslaan as hulle hom sien of aansitterige belangstelling toon. ’n Mens sou net graag hier wil weet wat mense in so ’n situasie moet sê of nie moet sê nie. Wat is gepas en lei nie tot verdere ontsteltenis nie? Is daar meer begrip onder diegene wat self deur plaasmoorde geraak is?

Posttraumatiese stres

Daar word min geskryf oor die posttraumatiese stres wat die geliefdes van slagoffers van plaasmoorde beleef. Hierdie skrywer verduidelik dit uitgebreid. Die skrik vir skielike geluide, sy agterdog teenoor die Malawiese tuinier by die kerk – is sy papiere in orde? Hy raak agterdogtig, verdink mense en word hiperwaaksaam. Die hele familie is jare later nog op medikasie vir angs. Ek dink nie mense besef hoe die wonde lewenslank bly nie.

Dis te verstane dat hy later nie meer van die gemeente wil weet nie en net ’n ruk lank in sy kop wil woon. Hy vertel van woedebuie en mense wat onverdiend onder sy buie deurloop. Hoe hy so obsessief met die saak geraak het dat hy van sy kinders vervreemd raak. Hy vertel openlik hoe hy te veel rook en rooiwyn drink.

Hy slaag goed daarin om die leser te laat besef presies hoe wyd trauma uitkring. Selfs die hondjie wat tydens die aanval onder sy skoonouers se bed gelê het, was getraumatiseer en kon daarna nie blaf nie.

Genesing en afsluiting

Genesing sal seker nooit volledig wees nie maar hy besef tog later as hy ’n boek oor vergifnis lees, dat mens nie die verlede kan hersien nie, maar die toekoms wel anders kan beleef.

Dit help effens met afsluiting as een van Steven se medepligtiges aangekeer en gevonnis word, maar die magteloosheid kom weer na vore as Steven weens ’n uitruilooreenkoms eers drie jaar later aangekla en gevonnis word. Hy verwoord sy frustrasie behoorlik daaroor en weereens kan die leser daarmee identifiseer omdat ons al almal onder die Polisie se slapgatgeit deurgeloop het.

Nadat hy ’n wandelgebied vir vrede om die moordhuis aangebring het en hy en ander oor die bloedgrond loop en bid, kom daar tog ’n vrede wat die verstand te bowe gaan op die kleinhoewe. Uiteindelik. Hy is ook nou weer ’n leraar.

Dis egter verontrustend dat Steven nie eers voetboeie gedra het nie. Die skelm witboordjiemisdadiger en diamantsmous wat miljarde verduister het, Louis Liebenberg, maar wat darem nie iemand vermoor het nie, is wel in boeie geslaan. Dit laat vrae ontstaan. Is geld dan belangriker as ’n lewe?

Malema en Cyril

Mense wat Malema ignoreer, of verdedig as dat sy slagspreuke “Kill the farmer, kill the Boer” net “simbolies” sou wees en nie haatspraak nie, sal hopelik met die lees van hierdie boek tot ander insigte kom. Steven was openlik ’n aanhanger van Malema.

Ek is bly die boek eindig met ’n beskrywing van die glimlaggende Pinocchio van ’n Ramaphosa wat aan die Amerikaners vertel dat “geen wit boere in Suid-Afrika vermoor word nie”. Met ’n besoek waar Trump hom met ’n video oor plaasmoorde verras het, word hy ontmasker.

Hierdie boek wat vir my nie net oor plaasmoorde gaan nie maar ook oor ’n eerlike geloofstryd in ’n man van God se binneste, kom net betyds met die uittog van Afrikaanse vlugtelinge na Amerika toe. Dalk het baie van hulle dieselfde ervarings as Gerhard gehad.

  • Gerhard het na die moorde as predikant bedank en by ’n sendingorganisasie aangesluit, maar hy is nou terug op die preekstoel.

Lees ook:

Vonnisbespreking: Konteks en bedoeling – besinning oor die Hoogste Hof van Appèl se haatspraakuitspraak

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top