Wolf met sy sakkie Royal Galas

  • 0

Rooikappie ennie wolf is ’n kinnerstorie wat ôs baie goed ken. Dis ’n storie van hoe die “wille dier” innie donke of innie bos ôs velei om sy eie way te kry. Of hoe mensie agte onbekende mans of vroumense moet gannie. Of hoe die onbekende man altytie “wolf” innie vehaal gan wies. Dis wattie sprokiesvehale my geleerit as kind.

Ek skryf vedag oo my storie eestens om my storie te deel, dan oek in herinnering van Courtney, Stacey en my sistas wat ek lee ken oo my tyd op die aare, wat self slagoffers was van dit. En oek vi die slagoffers van vedag en môre, wan as mensie stats lies, dan sê dit dat daa elke 13 minute ’n vrou vekrag wôd, maa hoeveel meld dittie annie? Dan oek virrie feit dat in ’n maand se tyd vier ôs wee amal Vrouedag. Maa wat is daa om oo heppie te wies vi Vrouedag wanne vroue nog steeds bestaan net virrie genot vannie en virrie “superior” geslag?

Ek ervaar elke dag mee en mee dat elke een van ôs as vroue het ’n “wolf”-storie om te vetel. ’n Storie wat ôs lat onthou hoe siek en donke die wêreld rêrig is. En soe stap ôs met daai storie, en soe sien ôs daai wolf nog, dag in en dag uit. Wan daai wolf kô mossie van buite affie. Mieste vannie tyd sit hy assie hoof byrie ietenstafel, of slaap hy langs jou ma, of hy roep jou ma Ousis, of Tietie, of hy’s jou ouma se man, of hy’s die huisvrin wat djy ken van jou geboorte af. Of hy’s ie kêkbroer wat djy moet elke Sondag in vaskyk soes hy verse lies uitie Bybel uit, of djy moet hoo hoe hy oppie hanne gedra wôd deu jou ma, of jou ouers, of jou familie, offie gemeenskap, of djy sien sy oë innie oë van jou kind, of djy moet elke dag langs hom wakke wôd, vi hom kos inpak wêk toe, tewyl djy wharrie oo jou oudste meisiekind wattie selle uitdrukking op haa gesig kry as sy hom sien as wat djy elke dag voel wanne djy hom sien.

Dis vi my hatsee om wee te moet skryf hie oo. En dit lykie offie tema van kinnermoorde of vekragting gan rus kry nie. Laasjaa wassit Courtney en dié kee issit Stacey, en môre? Wan die “houtkappe” het noggie veby ouma se huis geloep en gehoo hoe kliphard ouma snorkie, wan die houtkappe, dink ek, hettie wolf geraak.

Ek sit nou al virrie afgeloepe ses maane in Namibië, biesag met navorsing. En wat my baie vebasend is, is hoe kalm mansmense is wat ek innie strate kry. Daa is ’n sekere level van kalmte wat heers onne mansmense, diés wat ek nou al gesien het, tienoo vroumense. Wan ek was al soe gewoond om as vrou die teiken van daaglikse anlê te wies. Vannie tyd af wat ek by my huis se deu uitgestap het tot ek wee “veilig” trug in my huis was. Maa daai “veilig” is mos maa net ’n front, wan hoeveel van ôs gat slaap mettie vrees van daai man wat sal inbriek om eestens ôs te kô vekrag en dan dood te maakie. Ek bly al vi 15 jaa op my eie ennie mederheid van daai jare was ek op my eie. Sonner ’n maatjie wat my back sal het as iets moet gebeer.

Om ’n slagoffe van vekragting en anner seksuele mishandeling te wies bring mos ’n lekke dose van angs. Ek praat nou vanuit my eie storie uit. Ek kan net anniem dat dis hoe anne slagoffers van vekragting voel. En daai “veilig” wat ek moes voel in my eie spasie was maa altyd bedek met daai angs wat my lat voel het dat my spasie wat moet veilig wies, maa net ’n hok is waa ek kan vemoor of wee vekrag wôd. Wan dis waa my vekragting en molestering gebeerit. In ’n plek waa ek moes veilig gevoelit. En soesie jare angegan het, het ek maa gedeal mettie angs deu myself veilig te hou deu ’n stoel of ’n kas, of ’n biesem onnerie deu se handvatsel te sit net soedat ek daai vrees van buite af kan stop om in te kô.

Wat issit in mansmense se breine wat sê dat dit okay is om ’n vrou, ouma, meisiekind, babatjie-meisiekind te vekrag, of te molestee, te betas, of seksueel te teister oppie strate? En dis moeilik om die goed deu te wêk, wan tewyl ôs wag virrie wolf van buite af, bly hulle hoekal al binne ôs vie mure.

Op ag jaa oud was ek vekrag deu seuns innie extended family se vriend, en ommit ’n bietjie bitter te mak, het daai seuns vannie extended family my oek misbruik. Die een het my gebruik om te wiet hoe dit was om sy tong in ’n "meisiemens" se keelgat af te stiek. Die anners het kaal voo my innie rondte gejol en hulle “privaatdele” an my gewys. Dit mag klink soes dit maa net iets kleins is, en soes ek hie sit en skryf voelit, ag hoekô moet ek dan oo iets soes dié skryf. Wan hulle het mos maa net “gespeel”, reg? En miskien dis hoe hulle dit gesien het, as ek maa net oek gevoel het dat dit ’n game was. Miskien sou ek nou as grootmens dit kon lat gannit. Daa sit ’n haat binne-in my vi dit wat gebeerit, en oek oorie feit dat daai seuns innie extended family wat my gebruik het, nou self sit met meisiekinners van hulle eie. Wan ek wiet as my ma ooit moet dié ding lies, gat sy rêrig op haa rug neeval en dood. Maa ek kannitie mee vi myself hou nie, wan dit gebee mos soe in families – die meisiekinners wôd misbruik, en hulle moet maa stilbly ennie goed opvriet.

Maa kô ek vetel ees vi julle hoe my wolf my gevangit.

Dit hettie eeste kee gebee in my antie se kamer waa die son se strale deurie venste my enkelbed bedek het met hitte vannie winterson. Hy’t my ’n Royal Gala gegie. Dit was my betaling. Hy’t my gesê, “Djy kannie appel kry as djy gou kô iets kyk in jou ma se kamer.” En ek wietie hoe om nie skuldig te voel oorie feit dat ek gelus het vi daai Royal Gala nie, wan eestens was daa nie altyd geld om getreat te wôd met ’n vrug, of om iets lekke te iet anner dannie bord kos wat mens daagliks gekry hettie. Maa daa lê ’n skuldgevoel in my omdat ekkie deu daai wolfgedagtes van hom kon sienie. Ek voel skuldig oorie feit dat ek daai appel gevat het by hom, wan miskien sou my liewe anners gewies het as ek onthou het van Rooikappie se storie.

Ek het na my ma se kamer toe gegan, en ek wiet oekie of die seuns innie huis die goed gesien gebeeritie, en of hulle innie ding wassie, of het hulle maa nettie gewharrie nie. My ma se kamer, haa dubbelbed was waa hy my neegelê het en met my gemaak het wat net twie instemmende volwasse mense moet doen. En terwyl hy dit gedoen het, het ek daai Royal Gala in my hanne rond gedraai. Annie einde vannie dag wassitie Eva wat vi Adam getrap hettie, maa dit was Adam, met sy rooi appel en die slang in sy broek wat sy eie praatwêk gedoenit.

Sy woore toe hy kla was, was: “Kô ek maak jou skoon, anners gat jou ma jou moer as sy my hare op jou kry.” Ek was ag jaa oud, en hy twie kee my ouderdom. Maa ek sou geslat wôd.

Hy’t die volgenne dag truggekô, ennie selle goed en êger angevang.

’n Paa maande na dit het ôs in ôs eie huis in getrek, weg van my wolf af. Ek het angegan met my liewe en vegiet van my wolf. Toe ek hom wee sien, toe is ek op hoërskool. Dit was op Bellville-treinstasie, ek was op pad huis toe vannie skool af, ennit het gelyk soes hy op pad wêk toe was. Hy was gedress in ’n blou sekuriteituniform, en swart boots. Toe ek hom sien, het ek veil gevoel en wee daai smetterige reuk van hom gekry. Ek kannit nog steeds ruik. Ek was al ampe klaa met hoërskool toe hoo ek dat hy’t sy liewe geniem. Sy geheime het siekerlik met hom doodgegan, en myne was gebêre, tot nou toe.

Hie in Namibië het my angs soe ’n bietjie rus en vriede kô kry, waa ek kans sien om te skryf oo die goed. En moenie my nie vekeerd vestaanie. Daa is somme baie vullis wat gebee hie. Ek was angerand deu ’n man ommat ek lesbies is, maa daai is ’n storie vi ’n anner koppie tie. Vroumense wôd vekrag hie, binne en buite die huis. Vroumense wôd angerand, seksueel misbruik, en mishandeling in huishoudings is maa hoeg. Maa ek is vebaas, dis al. Ek is vebaas dat ek soeveel vryheid as ’n vrou kan voel. Ek kan gan stap op my eie, innie veld, sonner om te wharrie dat daa ’n wolf vi my sit en wag agterie volgenne bos. Ek kan slaap met ’n geruste hart en die skaamte en seer binne-in my dokter. Daa is soe baie van my susters wattie daai geleentheid het om dit te doenie, om weg te trek, weg te gan om te gan dealie. Maa hoekô moet ’n mens weghaloep van jou huis af net om wee veilig te kan voel in jou eie vel?

Ek bly anmekaa myself vetel en sê dis my eie skuld, wan ek het daai Royal Gala gevat. Ek het dit gevat en saamit hom geloep. En ek het niks gesê nie. Dissie ’n niewe deuntjie daai nie. Dissie vrou se skuld, dissie meisiekind se skuld, dissie ma se skuld, dis Rooikappie se skuld – die wolf is maa net wie hy is, ’n wolf. Ek kan myselfie sien as gelukkigie, nie ommat ek nog liewe nie. Wan die molestering, of die vekrag issie veskillend dannie neks vekrag of molesteringie. Die een se geteister op ’n biesage straat issie veskillend dan ’n geteister op ’n taxi-rank ie. Die skaal van fisieke geweld mag sak en styg, maa hoe dit ’n mens antas, die emosionele geweld, issie êgste.

Ek wiet dat om sulke goed te lies mag jou miskien lat dink an jou eie wolf of iemand anners se wolf. En as djy nodig het om saamit iemand te praat, reik uit: https://rapecrisis.org.za of 021 447 9762 – die lyn is 24 uur oep – en praat saamit iemand. Ek het altyd gedink ek is allien, maa soes ek nou al wiet, ek issie, en djy is oekie. Of proebee die boek te lies geskryf deu Clara Blake, Katrienkie. Djy kan my resensie vannie boek hie lies: https://www.litnet.co.za/katrienkie-van-hawegirl-tot-lady-deur-cara-blake-n-resensie.

Ek wil dankie sê vi allie mense wat my geïnspireer het om dié stuk te skryf. Dankie!

Bly te kenne, en dankie virrie onnersteuning.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top