Wit koevert, donker boodskap

  • 0

Wanneer die universiteit vir die vierde kwartaal heropen, heers daar ʼn morbiede atmosfeer op kampus.

Dosente kyk mekaar vraend, selfs agterdogtig aan.

Die lug hang swanger van terneergedruktheid en verslaendheid. Die vrae is legio: Wie is almal geraak? Watter kriteria is gebruik? Waarom ek? Maar die dreigender vraag wat op almal se lippe huiwer, maar niemand prontuit wil vra nie, is: Wie het besluit watter dosente moet gaan en watter dosente kan bly?  

Die dosentevereniging hou vergaderings waarin die skielike afleggings hewig veroordeel word.

In die senaatsvergadering verduidelik die rektor hoe die aflegging van die veertig-plus  akademici vir hom ʼn laaste uitweg was om die universiteit van finansiële ondergang te red. Die bank soek waarborge. En die universiteitsraad het hom glo ʼn vry hand gegee om te doen wat ook al nodig is.

Op ʼn stadium word die rektor versoek om homself van die vergadering te verskoon sodat daar meer openlik delibereer kan word. Daarna word selfs besin oor ʼn mosie van wantroue in die rektor. Maar daar word egter nie so ver gegaan nie.

By ʼn geleentheid of drie na afloop van ʼn dosentevergadering demonstreer ʼn groepering ontredderde dosente op kampus en by die hoofingang met plakkate om die publiek én media se aandag op die afleggings te vestig, maar dié aksies is gou uitgewoed.

Dit ontbreek aan die drif en dryfkrag van studentebetogings teen die apartheidsregime soos geken in die sewentiger- en tagtigerjare.

Te midde van al hierdie woelinge word die universiteit een oggend geruk deur die nuus dat van een van die dosente hand aan eie lewe geslaan het. Daar word kategories ontken dat die afleggings enigiets daarmee te doen gehad het. Trouens, die betrokke dosent is nie deur die afleggings geraak nie.

Waar ek voor die rekenaar in my kantoor sit, word my gedagtes telkens in beslag geneem deur die gebeure van die afgelope paar weke … maande – voor daardie aand toe ʼn wit koevert aan my afgelewer is.

 

Dit is ʼn lieflike lenteaand aan die einde van die derde kwartaal.

Ek en my gesin verkeer gesellig rondom ʼn braaivleisvuur van ons onderdakbraai-area om sommer ook die aanskaf van my nuwe motor te vier.

ʼn Paar weke vantevore het ek ʼn ongeluk met my vorige motor gehad. Dit was ʼn kleinerige motortjie. Op die nasionale pad die aand op pad huis toe het ʼn groot trok agter my gery en vreeslik in my nek geblaas waar ek in die stadige baan gery het. Ek het na links probeer padgee, op die grys beland en die motor laat rol. Gelukkig het ek ongedeerd daarvan afgekom.

ʼn Insleepdiens wat spoedig op die toneel was, het aangebied om my huis toe te neem en die motor in te sleep. Die motor is later afgeskryf.

Ek en my vriend, ʼn kollega aan die universiteit, het in die laaste week van die derde kwartaal my splinternuwe motor gaan haal.

ˮJakes,ˮ* het hy ingenome opgemerk, ˮjy het darem gou vir jou gesin weer wiele gekry.ˮ

ˮJa, my vriend. Jy weet ek het ʼn groot gesin en ons kan nie sonder vervoer nie,ˮ het ek met die nodige beskeidenheid opgemerk.

Terug by die braaivleisvuur onderbreek die lui van die voordeurklokkie ons geselligheid.

Ek gaan maak oop.

ʼn Netjies geklede man met aktetas in die een hand en ʼn lêer in die ander het voor die deur gestaan. Hy was duidelik oorgehaal om in te stap toe ek oopmaak.

ˮGoeienaand, goeienaand,ˮ word daar oor en weer gegroet.

Ek bewaak egter die ingang sodat die besoeker nie sommer binnestap nie.

Ons het mekaar geken. Was saam op laerskool – hy ʼn jaar of wat na my. Hy het vir ʼn paar jaar skoolgehou voordat hy ʼn loopbaan in die versekeringsbedryf gaan volg het.

ˮHoe kan ek help?ˮ wil ek dadelik weet.

ˮJakes, ek kom jou net gou sien om ʼn paar van ons produkte aan jou bekend te stel.ˮ

ˮDis ʼn baie ongeleë tyd, ou maat. Ek en my gesin het ʼn geselligheidjie aan die gang.ˮ

ˮDit sal nie lank wees nie. Net ʼn paar minute. Ek belowe.ˮ

ˮNee, my vriend. Dit werk mos nie so nie. Ons is albei professionele mense. Jy behoort tog te weet dat ʼn mens eers ʼn behoorlike afspraak moet maak in ʼn geval soos hierdie.ˮ

Daarmee was die saak opgeklaar.

Ons het beleefd gegroet en die onwelkome besoeker het verdaag.

ˮDadda, wie was dit?ˮ wou een van die kinders weet.

ˮDis ʼn assuransie-agent, seun. Maar ek het hom mooi laat verstaan ʼn mens daag nie sommer so sonder afspraak op nie. Hy is toe maar weer weg.ˮ

ˮO…!ˮ het die sug van verligting uit meer as een oord feitlik gelyktydig opgeklink.

Die oudste seun wat in matriek is, het intussen na die braaiery omgesien.

ʼn Tydjie later lui die deurklokkie weer. Weer gaan ek self kyk – dié keer ʼn bietjie geïrriteerd.  

Dit is ʼn kollega in die administrasie-afdeling van die universiteit. My gesindheid verander oombliklik en ek is baie meer tegemoetkomend.

ˮGoeienaand, Mr Mason.* Kom maar binne.ˮ

ˮNee dankie, Dok. Ek is bietjie haastig. Moet nog by ʼn paar ander huise ook aandoen. Ek het net gekom om die brief te oorhandig.ˮ

So vinnig soos wat hy die wit koevert afgegee en ek ontvangs geteken het, so vinnig is hy daar weg. Nog voordat ek ʼn behoorlike gesprek kon aanknoop.

ʼn Onrustigheid pak my beet. Waar kom hy vandaan? Hoekom so laat? En wat is so dringend dat dit nie kan wag tot die universiteit heropen nie?

Ek skeur sommer die koevert in die voorportaal oop en begin lees.

Die eerste paragraaf skets kortliks die universiteit se finansiële dilemma.

Die tweede paragraaf lees iets soos: ˮThis letter serves to inform you that your services are terminated as on 31st December …ˮ

Ek is geskok … stomgeslaan.

Stadig vou ek die brief toe en plaas dit in die wit koevert terug.

Vir ʼn paar oomblikke staar ek stil na die koevert in my hand: ʼn Wit koevert vir ʼn donker boodskap, flits dit deur my brein.

Terug by die gesin verraai die uitdrukking op my gelaat onmiddellik dat alles nie pluis is nie.

Dit is my tweede oudste seun in graad 10 wat onmiddellik vra: ˮDadda, wat is fout? Is Dadda afgedank?ˮ

Daarmee slaan hy sommer die spyker op die kop. Met saamgepersde lippe en die wit koevert in my liggies bewende hand kon ek net bevestigend knik.

In my wildste drome het ek nooit so iets verwag nie, verduidelik ek aan my gesin. Daar was gerugte en bespiegelinge op kampus. Maar op ʼn onlangse vergadering van die akademici met die rektor, het een van die dosente hom trompop gevra of daar ˮretrenchmentsˮ gaan wees.

Sy antwoord was ʼn emfatiese ˮNoˮ. Die drie R’e – dis nou retrenchmentearly retirement en redeployment – is geensins op die kaarte nie.

Só het hy tóé gesê – en nou dit.

Vrou en kinders is bemoedigend, gerusstellend.

Ons sal nie ondergaan nie. Daar is immers twintig jaar se pensioen – elf jaar van my vorige werkgewer, wat ek oorgedra het toe ek nege jaar gelede aan die universiteit aangestel is, plus die universiteit se pensioen.

Ek sal intussen weer aansoek doen vir poste – op die hoërskool as dit móét.

Aan aftree kan ek beslis nie nou al dink nie; ek is pas een-en-veertig, met nog ál vier kinders op skool. Wat van universiteitsopleiding?

Só gesels ek en my vrou later die aand in die bed.

Sy sou intussen die pot aan die kook hou van die geld wat sy uit haar kleuterskooltjie verdien. Daar was darem al sestien dierbare gesiggies.

 

Terug op kampus voer ek my eie sielestryd. Bring baie tyd voor die rekenaar deur waar ek nou meer as tevore my CV oproep.

Soms vervaag die skerm soos trane na willekeur in my oë opwel as ek myself opnuut vergewis van die lang en moeilike pad waarlangs ek geloop het om tot hier te kom.

En nou dit.

Met die aanvang van die vierde kwartaal het ek myself voorgeneem om so gou moontlik ons department byeen te roep. Ek is immers departementele voorsitter.

Maar ek stel uit. Hoe gaan ek my kollegas te woord staan?

Uiteindelik skraap ek die moed bymekaar. Dit kan nie anders nie.

Enersyds moet ons die jaar se werksaamhede in oënskou neem, en behoorlik afsluit; andersyds voel ek dit my plig om dankie te sê – veral ook vir die afgelegde dosente vir hul jarelange getroue diens aan en lojaliteit jeens die universiteit.

Dit is nie op senaatsvlak gedoen nie. Altans, nie in die vergaderings waar ek by was nie.

Dit sal die laaste punt op die agenda wees – die bedankings – besluit ek. Hoewel ek reeds vanuit die wandelgange ʼn goeie idee gekry het van watter dosente in ons departement geraak is, sal ek nie name noem nie.

 

Die atmosfeer rondom die lang vergadertafel is somber, stug. Saaklik en kalm word daar deur die agendapunte gewerk voordat ons by die laaste punt kom. 

Met ingehoue emosie spreek ek my bedankings uit.  Een kollega vra of ons die name kan verneem van diegene wat afgelê is, mits daar nie beswaar is nie. So versoek, so toegestaan.

Ons departement is swaar getref. Skokgolwe ruk deur die vertrek toe dit blyk dat twee vakke heeltemal uitgefaseer word.

In hierdie omstandighede moet ʼn mens kalm bly, nugter dink en sensitief optree. Derhalwe gaan ek in die algemeen praat, besluit ek. Wil nie die indruk skep dat een kollega se bydrae meer beteken het as dié van ʼn ander nie.

Ek is klaar, sê dankie.

Een van die kollegas kry ʼn spreekbeurt en wend hom spesifiek tot my. Hy bedank my vir hoe ek myself die afgelope twee jaar van my taak as departementele voorsitter gekwyt het. Maar veral ook vir die wyse waarop ek op hierdie vergadering met so ʼn sensitiewe en emosiebelaaide kwessie kon omgaan – dit nadat ek self slagoffer van die afleggings is.  

Dit voel skielik of die knop in my keel vinnig groter geraak het.

Ek buig effens my hoof. Wend my blik afwaarts.

ʼn Traan val op die papiere voor my. My neus raak nat.

Ek reik na my sakdoek. Moet afvee. My neus … my trane.

 

*Skuilname gebruik om identiteite te beskerm.

Lees ook

Die huldeblyk wat nooit gelewer is nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top