Die huldeblyk wat nooit gelewer is nie

  • 0

“Jake*,” sê iemand links van my, “jy sit hier? Moet jy nie daar voor in die familiebanke gaan sit nie? Jy lewer mos die huldeblyk.”

Huldeblyk? Dis die eerste woord wat ek hiervan hoor. Ek kyk op die program in die begrafnisboekie wat nog die hele tyd onoopgemaak in my hand is. Ja, sowaar!

Die kerk was nog taamlik leeg toe ek sowat ’n kwartier gelede in die agterste ry banke ingeskuif het. Ek het gesien daar sit vriende van my en myself tussen hulle gaan tuismaak.

Die hele tyd het ek my verwonder aan die mense wat eers drupsgewys inkom en dan al vinniger die banke begin vul.

Totdat ’n ligte stamp in my sy my uit my mymering geruk het.

Die prosessie kom in: lykbesorger, slippedraers met die stoflike oorskot, die familie en ander begrafnisgangers – in daardie orde. Snaaks. Ek sien nie my vriend onder die familie nie. Dit is immers sy broer wat ter ruste gelê word.  

Daar is ook nou al so baie mense. Miskien is hy iewers in die massa. Die meerderheid mense is tydgenote van die oorledene – meestal mans wat al redelik grys is. Almal waarskynlik rondom sewentig.

My gedagtes dwaal terug na sowat ’n week gelede. My vriend het my gebel met die nuus: Neels* is weg. Ek kon nie verstaan nie. “Hoe bedoel jy ‘weg’? Ons het dan nog laasweek so lekker saam gekuier?” “Jake, Neels het gistermiddag op die sypaadjie in die dorp net ineengestort. Mense wat hom herken het, het die ambulans ontbied. Hy is by die hospitaal dood verklaar.” Die boodskap was koud en klinies. So finaal, so onherroeplik. Ek was verslae.  Neels was byna sewentig, maar het nooit siek of sieklik voorgekom nie.

My vriend was die naaste aan sy veel ouer broer. En deur hom het ek ook vir Neels leer ken en met hom bevriend geraak.

Saam het ons gereeld tyd by die perderesies deurgebring waar ons aan die weddenskappe deelgeneem het. Dit was ons gereelde uitstappie op ’n Woensdag. Andersins het ons uitstappies na die casino onderneem.

Neels was ’n aangename gespreksgenoot. Met sy kwinkslae en vertellinge van sy jongdae kon hy enige geselskap onderhou – ons selfs opbeur as dit nie so goed gegaan het met die weddenskappe nie.

Ek kyk weer op die program in die begrafnisboekie in my nou effens bewende hand. Daar staan dit swart op wit: Huldeblyk: Jake Strout/Dewald Simms*.

Moet ek en my vriend elkeen iets sê – ek namens die vriendekring, hy namens die famile? Of moet één van ons twee die huldeblyk lewer? In daardie geval: my naam staan eerste. Dus sal ek seker die eerste opsie wees.

My kop draai.

Die laaste gesprek rondom hierdie huldeblyk wat ek kan onthou, is dat my vriend gesê het hy sal dalk die huldeblyk moet lewer. In welke geval hy my dalk mag nader om hom te help. Sedertdien het ek egter nie weer van hom verneem nie.

Ek staan op en beweeg stadig vorentoe. Drie kerkbanke van voor af, in die regtervleuel van die kerk, neem ek stelling in tussen familie en ander naasbestaandes. Dewald is steeds nêrens te sien nie.

Die diens het begin. Ek loer van tyd tot tyd vlugtig oor my linkerskouer na agter. Steeds geen teken van Dewald nie.

Dit sal ek wees, maal dit deur my gedagtes. Ek sal iets moet bedink – ’n huldeblyk in my gedagtes begin struktureer.

Die program verloop vinnig. Die dominee het reeds laat blyk dat hy nog ’n begrafnisdiens hierna moet behartig.

Nou wens ek dit kon nog gewees het soos vroeër jare toe die huldeblyk eers ná die boodskap gelewer is. Ek sou dan ’n bietjie meer tyd gehad het. Daardie praktyk het egter verval. Die huldeblyk gaan nou die boodskap vooráf.

Die program verloop vinniger. Die dominee is duidelik haastig om by sy boodskap uit te kom.

Ek orden my gedagtes. Dink aan staaltjies wat Neels ons al vertel het. Maar wat van sy familiegeskiedenis, sy voorliefdes en afkere, sy lief en leed, sy prestasies en dies meer? Ek kom tot my konklusie: Te min! Ek weet te min van hierdie man af om reg te laat geskied aan sy nagedagtenis.

Ek kyk weer ’n slag oor my linkerskouer. Die grys koppe stuur ’n koue rilling deur my liggaam. Dit is mos mense met wie Neels saam grootgeword het, saam skoolgegaan het, saam rugby gespeel het, saam gewerk het. Hulle sal my mos nooit my gebrek aan kennis van hierdie man se lewensweë vergewe nie.

Sy familie ook nie.

Plotseling kom die dominee by die huldeblyk.

“Hier is nou twee name,” kondig die dominee aan terwyl hy na die familiebanke kyk. “Is dit nou altwee persone wat gaan optree?” Hy probeer die vraag so diplomaties moontlik stel om geen teken van ongeduld te verraai nie.

Die dominee ken my. Hy weet ek het ’n slag met woorde. Vir ’n oomblik kyk ek op en sien hoedat sy blik op my rus. Ek wend my blik weer vinnig afwaarts.

Die gediggie, Die begrafenis, van Eitemal waarmee ek my skoonma se huldeblyk enkele jare gelede hier ingelui het, kom by my op. Maar ek besef dat dit nie nou hier sal werk nie. Dit is immers ’n man wat begrawe word, nie ’n vrou nie.

Die sekondes tik verby … een … twee … drie … Daar heers ’n doodse stilte. Niemand praat nie, niemand roer nie.

Ek is bang – bang vir die dominee se stem, bang vir wat volgende van die kansel af gaan kom. My hart klop in my keel. Iets moet kan gebeur – en gou ook. ’n Deus ex machina as dit moet.

Dan voel ek ek moet maar opstaan. Aanbied wat ek kan.

Maar wat kán ek?

Net tóé, uit die hoek van my oog merk ek ’n beweging. Op die nippertjie van die oomblik kom hy vanuit die ver linkerkantse vleuel van die kerk te voorskyn.

Stadig en statig loop hy oor die vloer, nader hy die kateder – netjies geklee in ’n vlootblou pak, wit hemp en ’n lang smal das, die kop effe vooroor geboë, met twee diep kuile om sy mond. 

My vriend is hier om die huldeblyk by sy broer se begrafnis te lewer!

’n Gloed van verligting spoel oor my hele wese.

Gebaseer op ware gebeure

* Name is verander om identiteite te beskerm.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top