Die Pretoriaanse rockgroep Wit Kasteel het pas hul debuutalbum vrygestel. Clemond Dartnall, voorman van die groep, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Clemond. Hoe's dinge?
Goeiedag LitNet-lesers en Henry, dinge gaan goed, báie goed, dankie.
Geluk met die uitreiking van Wit Kasteel se eerste album! Volgens die band se Facebook-profiel is Wit Kasteel al in 2012 gestig, maar die debuutalbum is pas eers bekendgestel. Dus het julle ’n lang tyd gehad om te besluit watter liedere kom op die album, watteres gly en watter soort debuutalbum julle wil maak. Hoe het hierdie proses binne die band verloop? Wat was die moeilikste dele daaraan, en wat was lekker daaromtrent?
Baie dankie, dit was harde werk, maar alles die moeite werd! Ja, Wit Kasteel is in 2012 gestig en drie jaar later is ons debuutalbum uit. Die rede hoekom dit so lank gevat het, is ons wou ’n vars-klank-rockgroep wees, met ander woorde, ’n "unieke klank" wat Suid-Afrika nog nie gehoor het nie. Ons moes baie fokus op ons speelstyl en hoe songs geskryf word, hoe dit klink en by mekaar pas. Daar is ook baie songs wat ons geskryf het wat ons besluit het dis nie nou die regte tyd vir die songs nie. Liedjies is maar soos reën – die wolke gaar op en dan reën dit, en almal is lief vir reën.
Ons kom bymekaar en dan skryf ons ’n liedjie. Ons luister die song oor en oor en as hy met ons praat, dan weet ons, dalk het ons iets hier beet. Dan speel ons dit vir ons vriende en hoor of hulle dieselfde gevoel kry oor die liedjie. As hulle ook dieselfde gevoel kry, dan weet ons die song kan werk.
Die proses om seker te maak jy stel unieke musiek vry, is ’n moeilike proses. Ons het eers marknavorsing gedoen oor waarvan jongmense deesdae hou en wat die ouer generasie opkikker na ’n moeilike dag. Die moeilikste vir ons was al die struikelblokke en teleurstellings, maar dit was alles ’n leerproses om vas te byt, en aanhouer wen. Die pad na jou drome is nooit maklik nie. Die lekkerste deel daarvan is as jy op daai verhoog jou hart en siel uitspeel met volle energie en jy kan sien hoe die mense die liedjie geniet, dit is vir óns die lekkerste.
Dis ’n interessante besluit wat julle geneem het om jul eerste musiekvideo (in effek dan die eerste “single”) te maak van ’n cover – jul weergawe van Laurika Rauch se "Nostalgie". Waarom wou julle spesifiek hierdie lied cover en hoekom die besluit om die eerste musiekvideo daarmee te bou? Was daar ’n gevoel onder bandlede dat die eerste video eerder vir ’n oorspronklike snit moes wees, of hoe beskou jy die saak?
Dit is ’n baie goeie vraag. Ons wou van die begin af seker maak ons sit ’n cover op die album in ons unieke styl, want ons hou daarvan om covers te vat en dit ons s’n te maak, dis wat ons op live shows ook doen. Dit was ’n lang soektog om die unieke historiese liedjie te soek, totdat een van ons vriende die voorstel gemaak het om “Die nostalgie” te doen. Ons al drie het vir mekaar gekyk en gesê, ja, dit kan werk, want al drie van ons het goeie herinneringe aan die liedjie en ek glo nie ons is die enigstes nie. Almal daar buite het ’n nostalgiese herinnering op die liedjie wat jou sommer ’n knop in die keel sal gee. Toe weet ons, om onsself voor te stel as Wit Kasteel met “Die nostalgie” sal ’n musiekvideo voldoende wees, met ander woorde, ’n goeie handdruk met die publiek. Ons tweede musiekvideo van ’n oorspronklike Wit Kasteel-liedjie kom vroeg volgende jaar uit.
Die vier of so "teaser"-snitte op Soundcloud getuig daarvan dat julle rock ’n roll liefhet en dit met oorgawe uitvoer. Dis natuurlik ’n toneel wat nie ’n gebrek aan bands op die oomblik het nie, en Pretoria, waar julle gebaseer is, het al ’n magdom goeie rock bands opgelewer en doen dit steeds. Op Wit Kasteel se bio-bladsye word, soos jy ook hier bo genoem het, gepraat van ’n unieke klank en vibe wat Wit Kasteel wil bring – hoe sou jy hierdie klank en vibe beskryf en wat is dit wat Wit Kasteel onderskei van ander bands? Wat is daai elemente wat Wit Kasteel se aanslag uniek maak?
Wat Wit Kasteel uniek maak, is ons old-school rock ’n roll-klank met ’n bietjie invloed van moderne rock. Die meeste terugvoer wat ons kry sê daar is nie ’n klank in Suid-Afrika wat soos Wit Kasteel klink nie. Ek, Waldemar "Nar" en Reinard het verskillende invloede in die band. Ek is ’n baie groot aanhanger van AC/DC, wat ‘70’s "old-school rock" is. Waldemar is ’n baie groot aanhanger van punkmusiek soos Greenday en Blink-182. Reinard hou weer van klassieke musiek soos Ludovico Einaudi en dan ook elektroniese musiek, wat ek sal noem tegnologiemusiek.
As ons musiek skryf, het ons elkeen ’n invloed, dis wat dit uniek maak – om old-school rock, punk en dan ’n knippie klassieke agtergrond in te sit wat vir jou die perfekte nuwe dis lewer waarvoor jy al so lank uitgehonger is!
Volgens die bio-blaaie het julle vir ’n lang tyd in Pretoria en omtrekke opgetree voor julle besluit het om die volgende stap te neem en die album te skep. Hoe waardevol was daardie lang tydperk van gig, gig en nog gig voor julle die album getakel het? Hoe anders sou die debuutalbum gelyk en geklink het as julle eers in die opnameproses ingespring het voor julle julself op die verhoë getoets het?
Om eers te gig voordat jy die album aanvat, was baie belangrik vir ons. Dit was baie waardevol – elke musikant het maar sy eie bemarkingstrategie, hoe hy dinge aanpak. Wat ons gedoen het, is ons het met ons live shows gekyk hoe mense reageer op sekere liedjies. As hulle van die liedjie gehou het, trek ons vir hom ’n jassie aan en hy gaan sit in die tas. So gaan ons aan tot ons ’n klomp liedjies het met jassies aan, dan pak ons hulle uit en werk weer met hulle, sit bietjie kleur in die liedjie en kyk of ons hom nog beter kan maak met veranderings. Volgende sit ons by kuierplekke, speel die liedjie om hulle reaksie te sien sonder dat hulle dit weet ... Daaruit kan ons besluit – ja of nee.
Om eers te gig voor jy die album doen is waardevol, want jy moet kyk waarvoor jou mark honger is. Hoe ons musiek geklink het in 2012 verskil baie van wat ons nou op die album het.
Op 12 snitte is Wit Kasteel se debuutalbum nogal ’n stewige produk. Heelwat bands verkies deesdae om met die strategie van ’n EP elke nou en dan te gaan, of om suiwer digitaal vry te stel. Wat het julle laat besluit om eerder met ’n vollengte-album te gaan? Wat is die waarde wat die band en die luisteraar kry uit ’n vollengte-album wat nie gekry word deur byvoorbeeld digitale vrystellings nie? Hoe dink jy sal Wit Kasteel die uitreikings in die toekoms benader?
Ja, 12 snitte is stewig vir ’n debuutalbum. Sommige bands doen eers ’n EP, maar ons het besluit: gaan groot of gaan huis toe. Presies wat ons ook doen met ons live shows – al is daar net drie mense, gaan ons groot en maak of ons vir ’n stadion speel.
Die waarde wat die luisteraar gaan kry op die album is ’n goeie tyd. Die album is baie divers – ’n klomp mense hou van verskillende liedjies – jy sal dit van die album kan verwag. Van ’n tranetrekker tot ’n uitspattige liedjie. Jy gaan die album luister en sonder dat jy dit weet, gaan jy die radio op sy hardste sit, want dit gaan jou blou Maandag sommer in ’n Saterdag verander. Die album is beskikbaar op iTunes ook.
Dis ’n interessante tyd om te debuteer op die Afrikaanse musiektoneel – MK is (grootliks) afgeskakel en die grense tussen hoofstroom en alternatief bestaan maar steeds sterk. Hoe beskou jy die huidige stand van die Afrikaanse musiektoneel? Wat werk lekker, en wat suig? Wat dink jy is Wit Kasteel se plek op hierdie toneel en hoe sal jy die toneel graag wil sien verander?
Wat ek altyd vir almal sê is, “MK is nie dood nie.” Maar my siening van Afrikaanse rock ... dit het bietjie gedaal en daar buite is daar soveel goeie bands wat ook sukkel om die mark te haal. Weer eens sê ek as jy nie ’n unieke band is nie, gaan dit ’n moeilike pad wees. Jy moet iets nuuts probeer wees en nie soos iemand anders klink nie. Wees jouself, maar maak seker jou mark sal dit luister. Ons wil ook die stigma om rock ’n roll breek dat jy nie ’n spesifieke leefstyl hoef te leef om rock te waardeer nie. Ons wil graag Afrikaanse rock weer ’n hupstoot gee, sodat daar meer Afrikaans is by sekere feeste en dit sal lekker wees om meer Afrikaanse rock bands op line-ups te sien.
Dis moeilik om te sê wat suig, omdat elke persoon se musiekstyl verskillend is. Ons almal het nie dieselfde musieksmaak nie, dis hoekom ek sê in die musiekbedryf suig niks nie, dis net smaak wat verskil.
Wit Kasteel se plek op die toneel is ons het ’n baie groot mark – van die gesoute rock ’n roll-liefhebber tot Gé Korsten se grootste aanhanger sal die album geniet. Ek sal graag die toneel wil verander om by groot Afrikaanse feeste te speel. Ons is byvoorbeeld die eerste rock ’n roll band wat al ooit op Bravofees in Mosselbaai gedurende die Desembervakansie gespeel het, en die mense was mal daaroor!
Soos gemeld, is Wit Kasteel nou al ’n paar jaar aan die gig. Enige hoogtepunte tot dusver wat betref toere, optredes of vreemde agter-die-skerms-gebeure? Enige voorvalle wat jy eerder sal wil vergeet?
’n Hoogtepunt waarna ons uitsien is dat ons op 15 Desember in samewerking met kykNET Mosselbaai toe toer. As ’n musikant is mens so op haas wanneer jy op toer is omdat jy van plek tot plek reis. Dus is daar nie rêrig tyd om by die dorpe se landmerke te stop, die attraksies en geskiedenis te kan waardeer en te verken nie. Gedurende hierdie toer gaan ons by historiese landmerke stop en die geskiedenis deur middel van sosiale media met almal deel, omdat ons trots Afrikaans is. Ons gaan foto’s van bekende landmerke deel met die #WWK op Twitter en Facebook en so moet mense raai “Waar's Wit Kasteel?”
Daar is vir seker ’n hele paar voorvalle wat ons sal wil vergeet, soos toe Japan vir die Bokke geklop het ... Ek was so teleurgesteld ek het skoon my woorde vergeet!
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Wit Kasteel, in so verre julle dit kan beheer?
Ons nabye toekoms is om Wit Kasteel regoor Suid-Afrika bekend te stel en om die produk te versprei soos ’n wilde bosbrand. ’n Nuwe Afrikaanse rock ’n roll-revolusie te begin. Verder wil ons voltyds musiek maak en ’n weermag begin met Afrikaanse rock ’n roll-groepe. Ons wil graag die droom in mense wakker maak om te wys enigiemand kan sy droom volg.
Wat is die sin van die lewe?
My sin van die lewe is iets wat my pa altyd sê: “Alles gebeur met ’n rede, just stick with it.” My Ma sê altyd: "Keep your feet on the ground and reach for the stars."



