Wit bevoorregting as beskerming vir swart mense?

  • 7

Bettina Wyngaard

Daar is voordele aan verbonde om ’n wit vel te hê.

Hierdie stelling word nie gemaak om ’n debat te begin oor die meriete van die inhoud daarvan nie. Dit word ook nie gemaak om sensasioneel te wees nie. Dis bloot ’n feitelike stelling wat gemaak word. Die lug is blou. Die aarde is rond. Water is nat. Wit velle is voordelig. Behalwe as jy probeer sonbrand.

In die Amerikaanse konteks is dit oor en oor bewys dat alhoewel swart mense daar ’n minderheid is, word hulle in groter getalle opgesluit vir betreklik ligte oortredings. Swart mans loop groter gevaar om doodgeskiet te word vir ’n verkeersoortreding as wit mans vir massamoord. Philando Castile, ’n gemeenskapswerker en werknemer van die plaaslike skoolbeheerraad, is afgetrek vir ’n roetine-verkeerstop om identiteit te bevestig. Toe hy op versoek van die polisiebeampte sy rybewys wou uithaal, is hy sewe keer geskiet. Hy het kort daarna aan sy wonde gesterf.

Nicholas Cruz, daarenteen, is verantwoordelik vir die dodelikste skoolskietvoorval in onlangse Amerikaanse geskiedenis. Hy het 17 kinders in die Douglas-skool afgemaai. Hy het geen beserings opgedoen toe hy deur die polisie gearresteer is binne minute daarna nie.

’n Wit vel kan die verskil tussen lewe en dood wees.

Terwyl ons nie dieselfde dramatiese voorbeelde in Suid-Afrikaanse konteks kan aanhaal nie, is dit onbetwis dat wit mense steeds op verskillende maniere bevoordeel word 24 jaar na apartheid amptelik beëindig is. Dit gaan om veel meer as ekonomiese bevoordeling. ’n Wit vel gee ’n ekstra laag beskerming in interaksie met owerhede. Wit persone kry die voordeel van die twyfel wanneer hulle ’n winkel binnestap. Daar word nie outomaties aangeneem dat hulle nie geld het om te betaal en dus daar is om te steel nie. Wanneer ’n wit persoon ’n luukse voertuig bestuur, word daar nie dadelik vermoed dat die voertuig gesteel moet wees nie. Wanneer ’n wit persoon in ’n werk aangestel word, word outomaties aangeneem dat hy of sy die werk op meriete ontvang het.

Daar is soveel ander voorbeelde.

Die teenkant is natuurlik ook waar. Negatiewe aannames word oor swart mense gemaak. Swart mense is skelm. Dié in besigheid is tenderpreneurs wat op korrupte wyse kontrakte bekom. Daar word aangeneem dat swart persone wat motors bestuur, hulle lisensies gekoop het. Enige swart persoon in ’n bestuursposisie (of deesdae in ’n rugbyspan) word verdink daarvan dat hulle regstellende-aksie-aanstellings is en nie op meriete daar kon kom nie.

Ook daardie lys is eindeloos.

Ten einde genesing te vind vir die rassekwaal waaraan ons almal ly, sal ons heel eerste ons vooropgestelde idees en aannames oor ander moet laat vaar. Niemand doen dit vrywilliglik sonder dat daar van buite een of ander ingryping kom nie. Daar moet ’n ontwrigting van die status quo gebeur voordat mense anders kan begin dink oor konsepte, en oor aannames. Die meeste sosialegeregtigheidsaktiviste verstaan dit so.

Juis daarom is dit so ontstellend wanneer daar tydens die beplanning van ’n optog met die hutsmerk #TotalShutDown ’n voorstel gemaak word wat absoluut hierteen indruis. Ter agtergrond: #TotalShutDown het ten doel om op 1 Augustus die grootste vreedsame staking van Suid-Afrikaanse vroue te bewerkstellig. Daar word ’n beroep gedoen op vroue, alle vroue, om hul arbeid te staak en in protes teen geweld teen vroue en patriargie aan optogte dwarsoor die land deel te neem.

Dis ’n lofwaardige doel, en een wat ek ten volle ondersteun. Die een voorstel wat my egter pla: ’n oorentoesiastiese, en ek sal vir die oomblik aanvaar goedbedoelende, wit vrou het gekom met die voorstel dat wit vroue aan die voorpunt van die optog moet wees, want die polisie sal hulle nie hardhandig behandel nie. Hulle is dus in effek daar om hul swart susters te “beskerm”. Toe ’n swart vrou haar ongemak met hierdie idee uitspreek, en die rasionaal daaragter bevraagteken, was daar die onmiddellike, voorspelbare seergemaakte wit gevoelens. Die vrou wat haar ongemak uitgespreek het, is heeltemal stil gemaak. Haar besware, haar geldige onrus, is gesmoor in die toestroming om wit gevoelens te beskerm.

Wat veronderstel was om ’n samekoms te wees van vroue oor alle grense heen, het ontaard in klein skermutselinge wat in die dae daarna in ’n paar ander forums weer opgevlam het.

Ek ken nie een van die vroue nie. Ek aanvaar dus voorlopig die vrou wat die voorstel gemaak het, het opgetree uit ’n posisie waar sy dit goed bedoel het. Maar die reaksie op die ander vrou se ongemak was ten beste onsensitief en ten slegste arrogant. Die onmiddellike reaksie was: “Ek het dit nie so bedoel nie.” ’n Ander, algemene reaksie wat ek al in ander interaksies opgemerk het is: “Maar jy is te sensitief hieroor.” Dit is dadelik die persoon wat haar ongemak uitgespreek het, se skuld. ’n Geleentheid om ’n ernstige, openhartige gesprek te hê oor die aannames wat gelei het tot die maak van die voorstel, ’n geleentheid tot eerliker kommunikasie, het in die hek geduik omdat iemand se gevoelens seergemaak was.

Dis jammer. Dis ’n verlies wat so gereeld in soveel interaksies tussen wit en swart herhaal word. Dis ’n verlies nie net van beter kommunikasie nie, maar ook van beter verhoudinge. Dis ’n verlies wat stilswye op mense afdwing, stilswye wat mettertyd in frustrasie omsit, en frustrasie word woede.

Die oplossing is eintlik eenvoudig. Dink voor jy sulke kortsigtige voorstelle maak. Dink oor wat jy eintlik besig is om te sê. Dink oor die arrogante aannames oor wit meerderwaardigheid en die gepaardgaande swart onderdanigheid wat jy bevorder. Dink oor die maniere waarop jy die presiese goed waarteen gestry word, gebruik om jou posisie te onderskraag. Dink aan die maniere waarop jy besig is om die status quo te onderskraag in stede daarvan om dit te ontwrig.

En as jy gedink het en besluit jy wil nog steeds die stelling maak, aanvaar daar gaan mense wees wat van jou verskil. Dan luister jy na wat daai mense sê. Luister. Luister na die ongemak wat aan jou oorgedra word. Luister sonder ego. Neem in ag dat dit waarskynlik vir die spreker heelwat moed gekos het om in die eerste plek te praat. Probeer uitvind wat die ander persoon se ongemak sal verlig.

As ons as vroue nie eens onder mekaar respek kan betoon nie, hoe verwag ons om mans te oortuig om ons te respekteer?

  • 7

Kommentaar

  • "Ten einde genesing te vind vir die rassekwaal waaraan ons almal ly, sal ons heel eerste ons vooropgestelde idees en aannames oor ander moet laat vaar."

    En wanneer word jy genees?

  • Die plesier van veralgemening.
    O gaats ek is wit, daarom is ons een en almal gedoem om boos te wees.
    O ek is bruin en gedoem om altyd 'n slagoffer te wees.
    'n Mens kan nie statistiek uit die VSA gebruik om 'n hoër vlak van arrestasies tussen wit en swart te verklaar nie.
    1) Is die bron propaganda of wetenskap?
    2) Die syfers is niks werd sonder om die omstandighede van die gemeenskap in ag te neem nie. Dink maar aan misdaad op die Cape Flats.
    Ten slotte: O gaats ek is wit al vir so lank reeds dat ek skoon vergeet het om polities korrek te wees. O gaats ek is wit en nou gaan iemand 'n hele artikel skryf oor “wit bevoorregting” en nie oor 'n misverstand nie

  • Dankie hiervoor Bettina.
    Ek staan self skuldig hieraan, het nog nooit so aan my "meerderwaardigheid" gedink nie.

    Ons moet almal meer met mekaar en minder oor mekaar, gesels.

  • Bettina -
    Jou verwysing na 'wit vel' is ontsettend neerhalend. Gebruik liewer 'witheid' of 'wit wees'.
    Dankie, Jack

  • Jy het 'n interessante aanname gemaak. Almal is deesdae te bang om hul werklike menings te lug. Dit is 'n vrees om ander te na te kom of te affronteer. Elke saak het drie kante, joune myne en die waarheid/werklikheid. Mense moet ophou om gemoedsbekakkings oor ander te hê en alles en almal te wil blameer en beskuldig oor hul onderskeie onvermoë en tekortkomings. Die Ingelse gesegde lui, "get over it and move on". Jy kan nie aan die verlede bly vaskleef en wroeg oor wat gebeur het nie. Jy maak jouself net siek. Ek is as witman om die minste te sê, so gatvol dat dit kotsenswaardig is om te hoor dat apartheid en wittes se bevoordeling vir alles die skuld kry. Se moer suster, dit werk nie by my nie. Ek was agv die demokratiese bedeling deur die mense meegedeel dat ek nie vertrou kan word nie en is onder druk geplaas om my lot op 'n ander plek te gaan soek. Ons het van die "lost generation" gehoor. Pot snot. Ons wit mans is die huidige "lost generation" want ons word vir alles blameer. Die mense moet ophou kwaad stook deur emosies op te jaag. Get over it, and move on. You get born wet and cold and it gets worse.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top