Wintermiddag met Eugène Marais

  • 0

Die legendariese digter, skrywer, wetenskaplike en morfinis Eugène N Marais se lewe en werk is op 18 Junie luisterryk in Pretoria gevier tydens die tweede Eugène Marais-gedenklesing wat by die Brooklynteater plaasgevind het.

Die program, Wintermiddag met Eugène Marais, het bestaan uit voordragte van Marais se gedigte, ’n toeganklike gedenklesing oor die ontwikkeling van Marais se statuur, ’n visuele aanbieding, en nuwe musikale toonsettings van sy gedigte.

Met hierdie program het Marais, wie se bydrae die afgelope jare soveel aandag geniet, as ’t ware teruggekom Pretoria toe waar hy die grootste deel van sy lewe gewoon en gewerk het.

Vanjaar se gedenklesing is deur die bekroonde skrywer en letterkundige Johann Lodewyk Marais gehou, en het gehandel oor Marais se statuur van 1871 tot 1936.

Die akteurspaar Carel Trichard en Petru Wessels en die sangeres, Lizanne Barnard (voorheen van die duo Marimba), tesame met ’n vyfstuk instrumentale ensemble het die gehoor met unieke visuele materiaal oor Marais se lewe en werk letterlik op hulle voete gehad. Leon Ecroignard was op bas, Thys van Deventer op tromme, Loandi Richter op marimba, Rhona van der Merwe mezzo-sopraan en Lizanne se seun, Adam Helberg, op kitaar.

Van Marais se bekende gedigte se toonsettings wat uitgevoer is, was “Winternag”, “Skoppensboer”, “Die towenares”, “Diep Rivier”, “My liefste’s soos ʼn dieprooi roos”, “Wanneer dit reën op Rietfontein” en “Êonone”.

Al die toonsettings is geskryf en verwerk deur Lizanne, wat die genoemde musikante vir die geleentheid genader het om die musiek saam met haar uit te voer.

Sy was ook grotendeels verantwoordelik vir die musiekklankbaan van die bekroonde verhoogproduksie Uit die bloute, waarin die werk van Marais vereer is en wat staande applous in teaters ontlok het.

Carel Trichardt, Petru Wessels, Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers en Elize Cawood is van die akteurs wat al saam met Lizanne in produksies betrokke was.

Vir die geleentheid, wat deur die Eugène Marais-stigting aangebied is, het Lizanne nuwe toonsettings gedoen van “Skoppensboer”, “Diep Rivier” en “Êonone” en dit by ʼn program van ses van haar bestaande komposisies ingesluit.

Volgens die teaterbestuurder, Willem Vogel, was die staande ovasie aan die einde ʼn bewys van die aand se sukses.

Lizanne, wat die afgelope vier jaar besig is om haar sololoopbaan as musikant, komponis en produksieskepper te vestig, sê haar optrede by Wintermiddag was ʼn belangrike baken in haar loopbaan.

“Ek het meer as 20 jaar gelede my hand vir die eerste keer aan die gedigte van Eugène N Marais gewaag en het ook in daardie tyd vir die eerste keer met die egpaar Carel Trichardt en Petru Wessels saamgewerk, in die produksie Raka.”

Toe die Eugène Marais-stigting haar nader om van haar toonsettings uit te voer by hulle bekendstellingsgeleentheid in Pretoria, was sy onmiddellik opgewonde, omdat dit saamgeval het met haar en Giep van Zyl se planne in Gauteng om die bekroonde verhoogstuk gebaseer op werk van Marais, Uit die bloute, te laat herleef.

“Dit is amper asof daar ʼn natuurlike oplewing van die herinnering aan hierdie besonderse man posgevat het sommer so uit die bloute, vanuit twee windrigtings,” sê Lizanne.

Trichardt en Wessels het die geleentheid bestempel as ʼn wonderlike projek wat sal groei tot ʼn helder baken vir die Eugène Marais-stigting. “‘n Baken wat, saam met die Taalmonument, ons altyd sal herinner aan die beginjare van die Afrikaanse taal, sy groeikrag, die talle hoogtepunte en ʼn nalatenskap wat nooit uitgewis sal kan word nie.”

Die Eugène Marais-stigting is in van die geboue op die terrein van die ou Paarl Public School for Boys in die Paarl gesetel. Marais was van 1884 tot 1887 ’n leerling van dié skool – voorloper van die huidige Hoër Jongenskool Paarl (HJS). Die Eugène Marais-museum word tans in die geboue van die Paarl Public School ingerig.

Die doel van die Stigting is om Marais se eie, selfstandige bydraes as temas te hervertolk en in ’n oop kommunikasie aan te bied om ruimte vir vernuwing te skep.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top