Wink rommelstatus vir ons?

  • 0

Daar was ’n tyd toe Zimbabwe die broodmandjie van Afrika genoem is. Hulle kon spog met van die beste opvoeding in Afrika. Selfs nou nog is dit moontlik vir ’n toeris om na die mees afgeleë dele van die land te gaan met die volle verwagting dat die inwoners Engels vlot sal praat. Baie van die Zimbabwiese vlugtelinge wat in Suid-Afrika beland en as kelners werk, het grade agter hul name. Die een ding wat Mugabe konsekwent goed kon doen, was om sy mense op te voed.

Die harde les wat hulle egter moes leer, was dat opvoeding jou bitter min baat as jy nie kos op die tafel kan sit nie. Hoekom is daar nie kos nie? Kommersiële boere is van hul grond ontneem en die grond is gegee aan mense wat net bestaansboerdery bedryf. Politieke besluite het gemaak dat die ekonomie ’n insinking ervaar, een waaruit Zimbabwe kan kom net wanneer Mugabe en sy trawante hul houvas op die land prysgee.

Ek was ’n paar jaar gelede in Zimbabwe. Dit was die enigste keer in my lewe dat ek ’n miljoenêr was, al was dit dan nou in Zim-dollars. Die winkels was leeg, en die goed wat te koop was, was onbekostigbaar duur. My miljoene het my niks gebaat nie.

Die ervaring het my bygebly.

Die afgelope paar weke het dit nou al ’n paar keer gebeur dat ek by ’n winkel aankom en vind dat die spesifieke produk waarna ek soek, nie beskikbaar is nie. “Out of stock”-kennisgewings staan by leë winkelrakke. Eiers kan net in sekere hoeveelhede gekoop word. Goed, mens kan voëlgriep daarvoor blameer, maar dis tog nie die eerste keer dat ons daarmee te kampe het nie.

Dit begin ’n bietjie aan Zimbabwe herinner.

In Suid-Afrika sit ons met leunstoelekonome wat reken dat as die rand val, ons dit net weer kan optel. Dis natuurlik makliker gesê as gedoen wanneer die faktore wat die rand in die eerste plek laat val het, nie verander nie. Ten minste ’n deel van die probleem is die onwilligheid om te erken dat politieke besluite ekonomiese impak het.

Deel van die probleem is hierdie narratief dat rommelstatus ’n Westerse konsep is en dat dit gebruik word om ons te straf.

Die hele konsep van ’n ekonomie, van geld, is kunsmatig. Bitcoin bewys dit vir ons. In plaas van die stukkies papier kon ons net sowel blare gebruik het, of klippe, of denkbeeldige waardes op die internet. Die papier het geen inherente waarde nie; dis ons wat die waarde daaraan heg.

Net so is dit met byvoorbeeld die Apple-horlosie, of Ferrari-sportmotors, of enige ander luukse items. Dit is duur omdat iemand besluit het dit is meer waardevol en daardie boodskap versprei het deur middel van reklame. Dit is duur omdat daar doelbewus minder daarvan beskikbaar gestel word. Omdat dit duurder en minder geredelik bekombaar is, word dit in ons verbeelding opgebou as meer begeerlik. Hoe meer begeerlik, hoe groter die aanvraag en hoe makliker kan die prys opgestoot word. Dis hoe die siklus begin.

Net so is dit met voedsel. Wanneer aartappels of tamaties volop is, is dit goedkoop. Die oomblik dat dit effens skaarser word, skiet die prys die hoogte in. Politieke onstabiliteit in die Midde-Ooste jaag die petrolprys op in die Weste, en dit veroorsaak dat voedselpryse styg. Dis ’n beginsel wat die politieke elite weier om te erken.

Die gevaarlikste is egter die regerende party se onwilligheid om te erken dat politieke onstabiliteit hier óók ’n impak op die ekonomie het. Nie dat hulle bereid is om te erken dat daar politieke onstabiliteit is nie. Hulle weier om te erken dat daar grootskaalse korrupsie is. Hulle weier om te erken dat daar nie befondsing is vir die programme waarmee hulle hoop om stemme te koop nie. En die rede hoekom daar nie geld is nie? Korrupsie.

Ons leef in die teater van die absurde. Op die vooraand van ’n besoek deur Moody’s, wat na alle waarskynlikheid ’n afgradering na rommelstatus voorafgaan, bedank ’n senior lid van die tesourie. Verskeie boeke wat beweer dat staatskaping plaasgevind het, verskyn. ’n Verslag oor staatskaping verskyn en word as ’n bespotting afgemaak. Ernstige nalatigheid aan staatskant word in die #LifeEsidimeni ondersoek beweer, en geïgnoreer. ’n Verslag oor die haalbaarheid van gratis tersiêre onderrig word vrygestel, en skynbaar geïgnoreer omdat dit nie die politieke agenda van meer stemme vir 2019 help nie. Daar word ’n R50 miljard-tekort in belastingvordering gemeld, maar programme wat meer geld gaan kos word bekend gestel. Sassa steier al weer (of nog steeds?) onder ’n krisis oor wie volgende jaar betalings gaan doen.

Boonop is daar geen teken dat die spoed waarteen ons geld Dubai toe vertrek, afneem nie. Die hekwagters wat nog probeer keer het, is besig om handdoek in te gooi.

En ons verwag dat Moody’s ons nie tot rommelstatus moet afgradeer nie.

Die opmerking dat as die rand val, die ANC dit net weer kan optel, is nie dom nie. Dis sinies. Dit veronderstel dat die gewone kieser te dom is om van beter te weet. Maar kiesers kan aan hulle sak voel wanneer hulle skielik meer betaal vir basiese benodigdhede as voorheen. En as dit hulle sak raak, gaan hulle keuses maak wat hulle sak beter pas. By die winkels. By die huis. By die stembus.

Dit sal nie die eerste keer wees dat ’n politieke party op die harde manier leer dat kiesers nie onderskat moet word nie.

So hoop ek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top