Wini se Krismisboks vol stories!

  • 9

Wini Esterhuizen se Die dag toe ons Krismis gaan soek het het vroeër vanjaar by Protea Boekhuis verskyn. Die boek is ’n versameling van uit-die-hart-uit vertellings, jeugherinneringe en kontreistories. Volgens die uitgewer herinner Wini se stem aan dié van Dana Snyman in die opregtheid en eenvoud daarvan en die nostalgie wat dit oproep.

Wini is onder jarelange LitNet-lesers bekend as ’n gewilde en gewaardeerde SêNet-skrywer. As skrywer het sy dan ook by Deborah Steinmair, voormalige SêNet-redakteur en deesdae uitgewer by Protea, beland.

Melt Myburgh het gedagtes met Wini oor haar boek en oor skrywerskap gewissel.

 

..........................

 

Oor SêNet en skryf

Ek leef eintlik maar soos ’n kluisenaar hier op die vlaktes duskant Koës in Namibië. LitNet het destyds vir my ’n absoluut noodsaaklike lewenslyn geword. Ek is geensins ’n bondelmens nie, maar vir die eerste keer in my lewe het ek gevoel ek pas op ’n plek in. Die SêNet-redakteurs, waarvan Deborah Steinmair een was, het my geweldig aangemoedig – sonder dat hulle dit weet.

Wini Esterhuizen (Foto: verskaf)

As kind het ek maar altyd my elmboog oor alles gehou sodat niemand kan sien wat ek doen nie. SêNet het my geleer om daardie elmboog te lig. Ek kon sê wat ek wou en dit was goed so.

Voor ek by LitNet beland het, het ek graag na Kobus Neethling se program oor kreatiwiteit op kykNET gekyk. Hy het altyd kompetisies gehou en ek het drie weke in ’n ry sy boeke gewen. Die derde keer toe ek wen, het hy my projekte op TV vir die hele wêreld gewys, en vir my ’n baie mooi kompliment gegee. Daardie enkele kompliment het my toe laat wakker skrik.

Kort daarna het ek my eerste storie vir Huisgenoot geskryf en ek het nooit ophou skryf nie. LitNet het vir my beslis meer selfvertroue gegee. LitNet was baie goed vir my, afgesien van die kis brandewyn en pakkie kondome wat ek eenkeer as prys vir ’n storie gewen het. Die brandewyn het in krismiskoeke loop lê en die kondome het lê en voos word!

Uit LitNet se argief: ’n Gedig van Wini wat haar ’n boks wyn besorg het. (Foto: LitNet)

Ek het my tipe mense op SêNet ontmoet. Die vriende wat ek by LitNet gemaak het, is mense wat steeds saam met my reis. Daar is so baie en dit sal onregverdig wees om name te noem, want ek gaan van sommige van hulle vergeet en almal is vir my ewe belangrik.

Ons neem kunsklasse by David Botha. Ons neem ons eseltjies en gaan verf huisies terwyl dit reën. Op daardie dae stap ons darem verby ’n kafee, want die klasse is by La Rochelle. Doempie loop verby Charles Flemming se huis en hoop om hom iewers in sy tuin te sien. Die seuns is gek oor Doempie. Hulle vra haar altyd na hulle funksies toe. Ek is trots op haar. Ek word nooit gevra nie. Sy is weer trots op my, want ek hardloop glo goed. Sy het ’n kêrel wat al op ’n volbladfoto in die Huisgenoot was. Hy swem vir die Bokke.
- Uit “Ek en Doempie lag”

Om boervrou in Namibië te wees

Ek wou eintlik nooit trou nie. Die dag toe ek wel trou, was my sitvlak al vol splinters van die rak waarop ek so heerlik gerieflik gesit het.

Ek het twee seuns. Ek was amper 41 jaar oud toe Jaco gebore is en amper 44 toe Kobus die lewenslig aanskou het. Laat ek iemand vang wat vertel dat my kinders uit die oude doos gebore is!

Voor my troue het ek in Sunnyside in Pretoria gewoon. Om van Pretoria af te trek en hier op die vlaktes te kom woon, was vir my moeilik. Ek is nie ’n mens wat aan verenigings en sulke goed behoort nie. Baie mense dink dit is ’n idilliese lewe, maar my werklikheid is soms baie ver verwyderd van dit wat mense dink dit is. As jou kind ses jaar oud word, gaan hy koshuis toe. Jy leen van dan af jou kind net vir naweke en vakansies. Dit was vir my ongelooflik moeilik.

Waaroor ek wel gelukkig is, is dat ek my kinders vreesloos hier op die plaas kon grootmaak. Hulle kon speel en net kinders wees. Die ander voordeel is dat hulle baie keer genoodsaak was om saam met my in die kajuit van die bakkie te wees. Dit het gesorg vir van die mooiste onthoutye.

Een van die pragtige foto’s wat in Die dag toe ons Krismis gaan soek het opgeneem is (Foto: Protea Boekhuis)

Ek loop al jare deur hierdie woestynwêreld. Dis ’n harde land, maar ’n mooi land. Vader Ra draai maar selde sy breë, sonnige rug op ons. Stories om kampvure groei so geil soos blinkhaarboesmangras en knietjiesgras ná die reënseisoen. Bacchus is altyd by. Soms is hy nog babelas, maar dan is hy alweer die eregas. Gedigte is heelwat skaarser. Hoekom weet ek nie. Hier lê so baie woorde tussen duine en duwweltjies. Tussen kaiings en koolstowe. Tog is daar min mense wat die woorde tussen sewejaartjies en katsterte kan sien.
- Uit “Drome en draadkarre”

Hoe Die dag toe ons Krismis gaan soek het gebore is

Ek het altyd gesê dis nie vir my belangrik om ’n boek te skryf nie. Ek was absoluut beangs om te dink dat ek ’n boek na ’n uitgewer moet neem. Ek was natuurlik bang vir verwerping en omdat my stories so reguit uit my hart kom, was ek ook bang om my stories die heelal in te stuur. Daar is so baie van myself in die boek. Oral – in ink en ook tussen die lyne.

Só baie van my vriende het my aangemoedig om ’n boek te skryf. Daar het nie een dag verbygegaan dat Ailsa Burger my nie aangemoedig het nie. Soms het ek gewonder waarom sy nie moed verloor nie. Ek dink een van die keerpunte was toe Annemarié van Niekerk vir my ’n paar jaar gelede gevra het dat ek tog my stories vir ’n uitgewer moet stuur. Ek het haar belowe ek sal dit stuur, maar daar het ook weer ’n paar jaar verloop voordat ek dit gedoen het.

Johan Fourie, skrywer van Struisvoël, het my ook vreeslik aangemoedig. Op ’n dag het Leonie van Rensburg ook vir my ’n briefie geskryf om te sê ek moet asseblief my goed na ’n uitgewer stuur. Ook Susan Smith het aangehou. Ilse Maree het aangebied om die stories mooi vir my te tik.

Ek het egter gesien jy moet heeltemal op jou eie die besluit neem. Ek het al my flentertjies papier in ’n doos gegooi en ek het dit vir haar self Bloemfontein toe geneem. Ek het gevra dat sy dit sommer self na Protea moet stuur, want ek het geweet my moed gaan my begewe. Dis hoe die boek daar beland het!

My broer sit sy biblioteekvangs, twee dik boeke oor Rusland, op die tuinmuur neer. “Jitte, antie. Hoeveel molle het antie al in antie se lewe gevang?”
“Nege-en-negentig,” antwoord sy trots. Sy skuif haar bril met sy skilpaddopraam met haar wysvinger nader aan haar oë.
- Uit “Doodsklok nommer honderd”

Die titel en voorblad

Die titel van die boek is die naam van een van my stories – Deborah Steinmair het dit gekies en ek dink dit was ’n wyse besluit.

Die voorbladkiekie is deur my broer Flip by my ouma se huisie in Gamka geneem. Ouma Maggie en oupa Giel het twaalf kinders in daardie huisie grootgemaak. Daardie eenvoudige vakansies by hulle was vir my as kind van die wonderlikste. My ouer broer was nie by toe die foto geneem is nie, hy was daardie tyd in die weermag.

Ek het eenkeer die kiekie op my Facebook-blad gesit en Johan Fourie het my gekontak om te vra waar die huisie is. So het ons vriende geword. Hy het ook daar grootgeword.

“Sies!” het Pa gesê. “’n Meisie praat nie so nie!”
Pa, ek is nog net so lief vir dubbelsinnige grappies. Soms so ’n bietjie onder die belt, maar al die mense dra mos nie hulle belde laag nie? Pa, dis dalk nie my skuld nie. Dalk het ek hierdie sin vir humor by oupa Giel geërf. Noudat ek die woord Giel noem, ek ken ’n baie oulike grappie oor Giel, maar toemaar.
- Uit “Brief aan Pa oor al die wonders van die wêreld”

Verrassing ná die verskyning van die boek

Ek is nie ’n groepmens nie en ek praat maar redelik moeilik voor mense. Die boek bring egter elke dag vir my wonderlike verrassings. My sub B-juffrou, juffrou Kim de Waal, het my ook gekontak nadat sy die kiekie in Rapport gesien het. Watter vreugde was dit nie.

“As ek in die klas kom, staan jy op, mannetjie!” bulder hy. Ons ander staan tjoepstil en die bang is in ons oë. Peter staan daar met die yster om sy beentjie. Soos ander kinders van daardie tyd, het polio die lengte van sy been kom steel.
- Uit “Skoolbanke”

Wini Esterhuizen en Tessa Louw (Foto: Protea Boekhuis)

Die fyn kuns van humor

My broers het albei ’n wonderlike sin vir humor gehad. Al verskil was dat hulle goed op skool gevaar het, en ek nie!

My skoolhoof was ’n wonderlike dame: Miemie Small. In haar getuigskrif aan my het sy geskryf dat ek ’n wonderlike sin vir humor het en dat ek vriendelik en baie atleties is. My pa was nie in sy skik met my getuigskrif nie. Hy het gesê om snaaks te wees gaan my niks in die sak bring nie.

Dis van die min kere wat my dierbare pa verkeerd was. My humor was vir my deur moeilike tye ’n lewensredder. As ek weer kan kies, sou ek weer humor bo mooi simbole gekies het. Ek self is glad nie lief vir toilethumor nie, maar ek ken mense wat wegkom daarmee. Ek hou nogal van iets wat nie so op die man af is nie; dit moet dubbelsinnig wees.

Moet sensitiewe lesers my boek lees? Natuurlik moet hulle. Ek glo mos ’n mens moenie sonde in alles probeer sien nie. As jy ’n vurk sien lê, is daar nie noodwendig ’n duiwel naby nie!

Humor is vir my geslaagd as iemand nie te hard probeer om snaaks te wees nie. Die persoon moet op die ingewing van die oomblik iets sê wat net eenvoudig op daardie oomblik werk en humor moenie iemand seermaak nie. Banale humor is wanneer iemand iets vertel en soveel as moontlik vloekwoorde in die storie sit. Die vloekwoorde word net gebruik omdat dit vloekwoorde is en dien soms geen doel nie.

Ons twee sit plat op ons stoep. Ons teken met dik vetkryt. Die vetkryt is dieselfde kleur as die dahlias wat met hulle koppe oor die stoepmuur vir ons loer. Ek teken ’n grootmenspapierpop vir Elma. Die pop is kaal, want ek teken klere ook wat ons vir haar kan aantrek. Groot tannies het tieties, so ek teken die tieties. Elma neem die papierpop huis toe.
- Uit “Die grootmenspapierpop”

Wini die skrywer

Nog ’n foto wat in Wini se boek verskyn (Foto: Protea Boekhuis)

Vir my is skryf soms ’n poging om van my werklikheid te probeer ontsnap. Niemand se werklikheid is ooit ’n honderd persent gelukkig nie. Almal se werklikheid huisves ’n engel sowel as ’n duiwel.

As ’n mens skryf, moet jy jou pen se punt ombuig sodat die pen soos ’n hekelpen lyk. Dis dán wanneer jy mooi patroontjies in en om jou storie hekel.

Boeke is presies soos ’n mens se lewe gaan: Die boek word gebore, almal is opgewonde, die boek kry dalk vlerke en vlieg die heelal vol. Almal praat oor die boek. Daar is verskillende emosies betrokke.

Mettertyd gaan woon boeke soms vergete in tweedehandse boekwinkels. Presies soos die mens wat ook later in ’n versorgingsoord beland.

Eendag vra tannie Du Preez vir my pa of sy maar ons motorhuis kan gebruik. Ons motorhuis is dolleeg. Ons het nog nie ’n kar nie, maar ons het ’n klavier. Sy wil Woensdae ná skool ekstra kunslesse vir kinders gee. Pa sê dis reg. Eintlik is my pa in die wolke. Hy hou van kuns en skrywers. Hy lees graag gedigte. N.P. van Wyk Louw is sy gunsteling.
- Uit “Toeka se kunswedstryd op Kuilsrivier”

Hoe lyk Wini se Krismis 2020?

Ek sal weer saam met my twee seuns Krismis gaan soek. Waar dit sal wees, sal ons maar nog net raai. Dit is wat die lewe so interessant maak; ons beplan nooit dinge nie. Ons wag dat dinge self hulle loop neem. Net solank my twee belhamels by my is!

Indien dit nie so uitwerk nie, sal ek maar wag dat Krismis mý kom soek! Ek bak in elk geval solank Krismiskoekies – vir die wis en die onwis.

Ek gaan sit by Poppie in haar huis. Poppie is ’n gul, vrolike vrou wat haar sê glad sê en maklik lag. Sy lag vir my grappies. Sy is trots op haar plante en ek kan nie glo hoe mooi hulle hier duskant die poorte van die hel is nie. Sy sê sy sien dit in iemand se oë as velle mense pla. My oë is oukei. Sy vra my nommer.
- Uit “Die dag toe ons Krismis gaan soek het”

 

  • 9

Kommentaar

  • Avatar
    Wini Esterhuizen

    Baie dankie vir die tyd wat julle aan my afgestaan het vir hierdie onderhoud. Ek waardeer dit uit my hart. Dis perfek, Melt!

  • Avatar
    Anne-Marie van Niekerk an

    Skitterend geskryf, Wini!

    Trots op my mede- Girls High, Paarl-vriendin. Sy is eg en opreg.

  • Dis net ons Wini, eg, oop en eerlik soos die wêreld waaruit sy kom! Sy kan tierlantyntjies nie spel nie. Sy skryf uit haar hart en siel, direk tot joune ‒ sy vat kortpad. Dankie Wini! Wi ni waag nie, wen nie! Mooi loop. Dawie Jacobs.

  • Weereens baie geluk Wini! Ek het vir Kersvader my briefie geskryf dat ek hierdie boek wil/moet hê. Mag dit die eerste boek van vele wees! Mooi bly!

  • Avatar
    Louise Steenkamp

    Wini skryf nie woorde nie, sy skryf prentjies. Haar stories het ook medisinale voordele... n baie goeie anti-depresant 🙂

  • Avatar
    Douwleen Bredenhann

    Dis ’n wonderlike onderhoud, Wini. Ek glo jy het met jou debuutboek ’n groot droom bewaarheid. Maar dis net die begin. Nou weet jy jy kan dit doen. Baie geluk, vlieg hoog!

  • Vra vir Melt die hele onderhoud as daar ’n langer weergawe is, groot asb.?
    Ek het so lekker gelees en toe ek weer sien is die Die Einde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top